Psalm 82 – God het besitreg oor al die nasies

5 Julie

Psalm 82 – God het besitreg oor al die nasies

1‘n Psalm. Van Asaf. God gaan staan in die vergadering van die gode; in die teenwoordigheid van die gode lewer Hy uitspraak: 2“Hoe lank gaan julle nog onregverdig oordeel en vir goddeloses partydig wees? Sela 3Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses; laat reg geskied aan magteloses en armes. 4Bevry hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddeloses. 5“Hulle weet niks nie en hulle verstaan nie, hulle verkeer in die duister. Al die fondamente van die aarde wankel. 6“Ek self het gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste, julle almal. 7Maar, soos mense sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.” 8Staan op, o God, oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.

Dit is ‘n kort Psalm, maar een wat soos geen ander Psalm is nie. Wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat: “God gaan staan in die vergadering van die gode …” (vers 1-7) as aanleiding en motivering tot ’n gebed wat die Psalm afrond: “Staan op, o God! oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.” (vers 8). Soortgelyke verwysings na hierdie tipe “hemelse vergadering” kom voor in: 1) die verhalende gedeeltes van die OT (bv 1 Kon 22:19–23 – met die raaiselagtige optrede van die “gees” wat in die gedaante van ’n “leuengees” Agab in ’n ramp inlei); 2) die wysheidsliteratuur van die OT (bv Job 1:6–12; 2:1–6 – die bekende toneel waar die Satan voor God verskyn); 3) die profete van die OT (bv Jes 6:1–13 – Jesaja se troonvisie waar die serafs optree – vgl ook Jes 40:1–8 en Sag 1:7–17; 3:1–5); en natuurlik ook in die apokaliptiese literatuur van die NT (bv Openb 4 en verder).

Maar, dié vergadering in die Psalm is tog anders. Dit lyk asof God die vergadering as’t ware “gatecrash”, want Hy sit nie soos dit normaalweg in die ander hemelse visioene die geval is nie. Hy staan en vat die “gode” ernstig aan oor hulle vergrype en agterlosigheid en beëindig hulle status en invloed (vers 2-7). Dit verskaf die basis vir die Psalmis se gebed dat die Here ook op aarde sal opstaan en die nasies onder sy beheer sal bring (vers 8). Dit is immers wat sy oordeel altyd beteken, om die kaf van die koring te skei, die gelowiges en die goddeloses, maak nie saak van watter nasie hulle is nie. Die Psalmis bid basies dat God die oorgee van die nasies aan ander gode by Babel sal ophef, en sy oorhoofse besitreg sal uitoefen (vgl Deut 32:8). Die Here God het immers deurentyd betrokke gebly bv deur sy gawe aan die nasies van hulle onderskeie grondgebiede (Deut 2:9, 19). Die Psalmis vra dat God nou sy besitreg oor hulle sal opneem en orde en vrede sal bring.

Sommige geleerdes interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn. Ander interpreteer die “gode” in die Psalm as hemelse wesens in die lig van God se optrede om dié vergadering te “gatecrash”. Hulle kan dus as afgode geïnterpreteer word. Dié interpretasie maak vir my meer sin, maar dit is ook baie duidelik uit die konteks van die Psalm dat hierdie “gode” se (gebrek aan) optrede ’n bepalende effek op menslike lewens gehad het. In ’n oordragtelike sin dui die “gode” dus ook op mense wat in magsposisies is – soos in die regspraak en die regering. In ’n seker sin dui die “gode” dus op afgode en mense wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf (vgl kommentaar van Tate).

Of dié Psalm nou oor mense praat in magsposisies, of afgode, of van beide mense en afgode, die boodskap is duidelik: God tree op namens hulpeloses, vaderloses, magteloses, verarmdes, hulpeloses en behoeftiges. Hoekom? Want Hy het besitreg oor die aarde en al die nasies. Hy is nie onregverdig en partydig nie. Hy handhaaf die reg en Hy laat reg geskied. Hy wil hê dat hulpeloses en behoeftiges bevry word en uit die mag van goddelose mense gered word. En almal wat aan Hom verbind is, moet met Hom daarin saamwerk. Anders wankel die fondamente van die aarde – ’n metafoor vir die gemeenskap wat in anargie en wetteloosheid verval en van die wêreld ’n onveilige onbarmhartige plek maak. Dít moet dus ons gebed word – dat God sy besitreg inderdaad sal uitoefen tot bevryding en redding van hulpeloses en behoeftiges. “Staan op, o God …” Stel dinge reg. En as kerk moet ons self opstaan en ons daarvoor beywer in gehoorsaamheid aan God.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-82-staan-op-o-god-oordeel-die-aarde/

Amos 7:1-17 – God se beloftes van genade en voorsiening sluit nie sy oordeel uit nie

4 Julie

Amos 7:1-17 – God se beloftes van genade en voorsiening sluit nie sy oordeel uit nie

1Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, Hy was besig om sprinkaanswerms te vorm net toe die saad in die lente begin opkom. En onthou, dit kom net ná die koning se hooi gemaak is. 2Toe hulle die groenigheid van die land afgevreet het, sê ek: “My Heer, Here – vergeef tog! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” 3Die Here het berou daaroor gehad. “Dit sal nie gebeur nie,” het die Here gesê. 4Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, my Heer, die Here, was gereed om ‘n regstryd deur vuur aan te kondig. Dit het die groot oerwater laat opdroog, en sou die bewerkbare grond verteer. 5Ek sê toe: “My Heer, Here – hou tog op! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” 6Die Here het berou daaroor gehad. “Ook dit sal nie gebeur nie,” het my Heer, die Here, gesê. 7Dit het Hy my laat sien: Kyk, my Heer het gestaan by ‘n loodregte muur. In sy hand was daar ‘n skietlood. 8Toe sê die Here vir my: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Skietlood.” My Heer sê toe vir my: “Kyk, Ek gaan die skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie. 9“Die offerhoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees. Ek gaan teen die huis van Jerobeam optree met die swaard.” 10Amasia, die priester van Bet-El, het toe vir Jerobeam, die koning van Israel, laat weet: “Amos het teen u ‘n komplot gesmee binne die huis van Israel. Die land sal dit nie kan uithou onder al sy woorde nie; 11want dit is wat Amos sê, ‘Deur die swaard sal Jerobeam sterf, en Israel sal beslis in ballingskap gaan, weg van sy grondgebied af.’ ” 12Amasia sê toe vir Amos: “Siener, trap! Vlug vir jou eie beswil na die land van Juda; gaan verdien daar jou brood en profeteer daar. 13In Bet-El mag jy nie meer verder profeteer nie, want dit is die koning se heiligdom; dit is ‘n tempel van die koninkryk.” 14Amos het geantwoord en vir Amasia gesê: “Ek is nie ‘n beroepsprofeet nie en ook nie lid van ‘n profetegroep nie; maar ek is ‘n veewagter en ek prik wildevye. 15Die Here het my agter die kleinvee weggevat en die Here het vir my gesê, ‘Gaan profeteer vir my volk Israel!’ 16Hoor dan nou die woord van die Here: “Jy sê, “ ‘Jy mag nie teen Israel profeteer nie, en jy mag nie teen die huis van Isak driftig preek nie.’ 17“Daarom, so sê die Here, “ ‘Jou vrou sal in die stad hoereer, en deur die swaard sal jou seuns en dogters val. Jou grond sal met ‘n maatlyn opgedeel word, en jy self sal op onrein grond sterf. En Israel sal beslis in ballingskap gaan, weg van sy grondgebied af.’ ”

Amos was die eerste van die Skrifprofete en tree op in die tyd van koning Ussia van Juda, en Jerobeam II van Israel, twee jaar voor die aardbewing van 760 vC (Amos 1:1). Ons weet min van Amos as persoon af, maar weet dat hy, volgens eie getuienis, nie ‘n profeet van beroep of deel van ‘n profeteskool was nie (Amos 7:14). Hy was ‘n veewagter uit Tekoa, suid van Jerusalem (Amos 1:1-2), en het ook omgesien na vyebome, ‘n seisoenswerk waarin vye geprik is om vinniger ryp te word (Amos 7:14). Dáár het die Here hierdie veewagter geroep om as profeet op te tree en veral die noordelike ryk aan te spreek (Amos 7:15), hoewel dit ook die nasies en Juda ingesluit het. Sy boek begin met ‘n tekening van God as ‘n Leeu wat brul uit Sion: “Die HERE brul uit Sion, uit Jerusalem laat Hy sy stem hoor. Die weivelde van die herders verdroog, die top van Karmel verdor.” (Amos 1:2). Elkeen wat al ‘n leeu hoor brul het, sal weet hoe ver dit gehoor kan word, en hoe ‘n impak dit op die omgewing het. Alles raak stil as ‘n leeu brul. ‘n Leeu brul om sy heerskappy oor ‘n gebied aan te kondig en niemand is onder enige illusies dat ‘n leeu dit kan afdwing nie! Dié metafoor is dus baie gepas vir Wie God is en dra die boodskap dat ‘n mens met Hom moet rekening hou. Die Here brul uit Sion en laat sy gramskap hoor oor dié wat Hom in hulle aanbidding versaak en daarby nie hulle naaste liefhet nie, maar onregverdiglik op allerhande maniere uitbuit. Amos 3:1-9:10 bevat profesieë veral gemik teen die noordelike tienstammeryk van Israel, met hulle hoofstad Samaria en die heiligdomme by Bet-El, Gilgal en Berseba, afgerond met vyf visioene in Amos 7-9:10. Die boek sluit in Amos 9:11-15 af met ‘n heilsprofesie rondom die belofte van ‘n verenigde Dawidiese ryk wat Israel weer sal insluit in die herstelde Godsvolk.

Amos 7:1-17 gee vir ons insig in die wyse waarop die oordeel van God inpas binne die groter skema van God se beloftes van genade en voorsienigheid. Dit is juis deur God se oordeel wat sy belofte van ‘n oorblyfsel gestalte kry. Ons lees hier van drie gesigte van oordeel: ‘n sprinkaanswerm, ‘n groot vuur, en ‘n skietlood (tou waaraan ’n stukkie lood hang wat gebruik word om die loodregte rigting aan te dui). Die plaag van sprinkane is God se oordeel oor die sondige koning, Jerobeam II, want dit is sy landerye wat afgevreet word. Amos se gebed laat God sy oordeel oor die hele volk egter terugtrek. Die groot vuur dui waarskynlik op ‘n versengende droogte wat God teen die ongehoorsame volk stuur. Weereens luister die Here egter na Amos se dringende gebed en wend die droogte af. Met die eerste twee gesigte is daar dus nog die hoop op herstel – die Here trek sy oordeel terug.

Maar, dit is nie die geval met die laaste visioen nie. Die laaste oordeel is gemik op die priester Amasia, as die verteenwoordiger van die geestelike elite, wat Amos probeer keer om sy roeping uit te voer. Die Here trek hierdie oordeel nie terug nie, as straf vir die wyse waarop Amasia, die amptelike verteenwoordiger van die staatsgodsdiens, God se profete en hulle boodskap dwarsboom. In plaas daarvan om tot inkeer te kom, om te sorg dat hulle godsdiens met geregtigheid gepaard gaan, probeer hierdie leier die res van die koninklike en geestelike gesag vernedering spaar deur die boodskap sowel as die boodskapper te ignoreer. Om iemand stil te maak omdat die boodskap ongemaklik is, óf omdat die boodskapper nie aan die amptelike kriteria beantwoord nie, help natuurlik niks, as God inderdaad die bron van dié boodskap en die opdraggewer van die boodskapper is nie. Iets wat alle institusionele gesagsdraers in gedagte moet hou. Amasia ontbeer deur sy aktiewe teenstand God se genade wat hier nog sigbaar is in die tydelie terugtrekking van die oordeel oor Jerobeam en die volk.

Lees meer: https://bybelskool.com/amos-71-17-drie-gesigte-van-oordeel-sprinkane-vuur-en-n-swaard/

Psalm 52 – God is goed en sorg vir my

12 Julie

Psalm 52 – God is goed en sorg vir my

1Vir die musiekleier. ‘n Maskiel. Van Dawid. 2Toe Doëg, die Edomiet, gegaan en vir Saul berig gebring het. Hy het vir hom gesê: “Dawid het by die huis van Agimeleg aangekom.” 3Waarom spog jy oor ‘n bose daad, krygsheld? God se troue liefde is die hele dag daar. 4Jou tong beplan vernietiging, soos ‘n skerp skeermes, jy wat bedrog pleeg. 5Jy hou meer van die slegte as van die goeie, van leuens meer as om te sê wat reg is. Sela 6Jy hou van allerhande lasterlike woorde, van ‘n tong wat bedrieg. 7God sal jou daarom vir goed afbreek Hy sal jou wegruk, jou wegskeur uit die tent; Hy sal jou uitpluk uit die land van die lewendes. Sela 8Regverdiges sal dit sien en ontsag hê, oor hom sal hulle die spot dryf: 9“Kyk die sterk man! Hy het God nie sy toevlug gemaak nie, maar op sy groot rykdom vertrou. Hy soek toevlug in wat hom vernietig.” 10Maar ek is soos ‘n welige olyfboom in God se huis; ek stel my vertroue in God se troue liefde, vir altyd en altyd. 11Ek sal U vir altyd prys omdat U opgetree het. In die teenwoordigheid van u getroue volgelinge vestig ek my hoop op u Naam, want dit is goed.

Dit is ’n unieke Psalm waarin die boodskap eintlik op ’n vyand van Dawid, Doëg, gemik is, ’n soort stryd Psalm wat nie maklik inpas in die normale kategorisering van Psalms in lof en klag nie. Tate gee die volgende titel aan die Psalm wat ook die boodskap daarvan opsom: ”The Divine Judgment of a Mean and Powerful Person” (Psalm 51-100 – Word Biblical Commentary). Lees meer oor hulle stryd by die skakel wat ek hieronder verskaf.

Die Psalm kan in drie dele verdeel word:

  1. Die slegte dade van Doëg word veroordeel – vers 3-6. Dawid kontrasteer die aksies van Doëg om homself en sy invloed- en magsfeer uit te brei deur ander se ondergang te bewerk en met bedrog en leuens om te gaan, met dié van God wat sorg vir dié wat Hom daarvoor vertrou. Doëg word nie net veroordeel daarvoor nie, maar ook herinner daaraan dat sy pogings uiteindelik verniet is.
  2. Die vernietiging wat God oor hom gaan bring, word verwelkom – vers 7-9. In baie skerp taal word God se optrede geskets. Basies word die ruimte wat God vir Doëg gegee het om te woon, weggeneem en sy lewe beëindig. Dié aksie sal dien as hoopgewende getuienis aan die regverdiges wat hulle uitnooi om God te bly vertrou. Die poging om onafhanklik van God ryk en sterk te word, slaag nie in die finale instansie nie.
  3. Die sorg en goedheid van God word verheerlik – vers 10-11. Dawid kontrasteer ook sy eie lewe met dié van Doëg. Dawid kan altyd op God se sorg en goedheid staatmaak. Daarvoor sal hy God altyd bly loof in die vergadering van gelowiges.

Die Psalm herinner dus elkeen van ons wat onder die gemeenheid van ander moes deurloop, dat die laaste sê oor enigiemand se lewe van God af kom. God se sorg en goedheid hou ’n mens in stand selfs wanneer dit lyk asof die boosheid wil-wil seëvier.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-52-god-is-goed-en-sorg-vir-my/

%d bloggers like this: