Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 119:137-144 – God se woorde is volkome gelouter. Dit is regverdig vir ewig.

25 Oktober

Psalm 119:137-144 – God se woorde is volkome gelouter. Dit is regverdig vir ewig.

צ TSADE 137Regverdig is U, Here, en u beslissings is reg. 138U het in geregtigheid u bepalings uitgevaardig, en in goeie trou. 139My ywer verteer my omdat my teenstanders u woorde vergeet. 140U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief. 141Ek is klein en word geminag, maar u opdragte vergeet ek nie. 142U geregtigheid is regverdig vir ewig en u wet is betroubaar. 143Benoudheid en angs het my oorval, maar u gebooie is my vreugde. 144U bepalings is regverdig vir ewig; gee my insig, sodat ek kan lewe.

Let op hoe vier die Psalmis die fynste detail van God se beslissings, bepalings (verordeninge), woord (‘imrâh) en woorde (dâbâr se meervoud devarîm)!, opdragte (bevele), wet, en gebooie soos dit in sy openbaring beskrywe word. Dit is in die detail van God se openbaring wat die Psalmis die lig vir sy pad ontdek. Dit is in God se beskrywing van wat regverdig is, wat hy homself verlustig, nie maar net in sy eie verwoording en interpretasie daarvan nie.

Daarom kan hy sê: “My ywer vir u woorde verteer my wanneer my teenstanders dit vergeet.” (vers 139). Hoekom? Want: “U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief.” (vers 140 – gelouter kan ook met suiwer vertaal word, soos in die NAV). Woord sowel as woorde. Daarom sal hy God se bevele nie vergeet of verontagsaam nie, want hy weet God se regverdige optrede, ook in die gee van sy openbaring, is billik en betroubaar (vers 142). Dit bly regverdig vir ewig!

Al oorval benoudheid en angs hom weens die minagting van sy teenstanders wat God se woorde in die wind slaan, sal hy daarom steeds in God se gebooie sy vreugde vind, want dít is die lewe, al word hy deur ander verguis. Dié Psalm onderstreep dus vir my wat die Nederlandse Geloofsbelydenis ook sê oor die boeke van die Bybel as die Woord van God: “Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself …” (artikel 5).

Soos Peterson sê: “He manufactures truth and justice; All his products are guaranteed to last—Never out-of-date, never obsolete, rust-proof. All that he makes and does is honest and true.” (Ps 111:8).

  • Dit is waar van die Woord en die woorde van God in die boeke van die Bybel. Die Woord het nie ‘n vervaldatum nie. God se woorde in die Bybel het ook nie ‘n vervaldatum nie. Dit is vandag nog geldig en genoegsaam vir ons geloof en ons lewe. Daarop kan jy staatmaak.
  • Dit is waar van die Gees wat ons help om die Woord reg te interpreteer. Die Gees is ook nooit van verbygaande aard nie. Soos Hy met my gepraat het as kind, só praat Hy met my as volwassene, en sal Hy by my wees, selfs as ek nie meer kan praat nie. Dit sal ook só wees vir jou.
  • Dit is waar van die kerk wat vir mekaar gegee is om saam te onderskei wat die Woord van die Here vir ons wil sê, selfs oor die moeilikste dinge waaroor ons moet en kan nadink. Die kerk sal ook nooit vergaan nie. Dit is ook waar van die geloofsgemeenskap waar jy jou ook al mag bevind. Selfs al verander ons gemeentes van gedaante, selfs al skuif ons na ‘n ander woongebied, of selfs na ‘n ander wêrelddeel, of al verander ons denominasie, die breë geloofsgemeenskap waarvan ons deel is as die liggaam van Christus, sal nooit ophou bestaan nie.

Sela.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119137-144-tsade-my-ywer-vir-u-woorde-verteer-my-wanneer-my-teenstanders-dit-vergeet/

Habakuk 3:1-19 – God maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat hy my loop

24 Oktober

Ek het vroeër dié jaar reeds na die belofte in Habakuk 2:1-4 gekyk. Jy kan dit hier lees: https://bybelskool.com/habakuk-21-4-die-regverdige-sal-deur-sy-betroubaarheid-lewe/ Ek hanteer dus hier die wonderlike beloftes van Habakuk 3.

Habakuk 3:1-19 – God maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat hy my loop

1‘n Gebed van Habakuk, die profeet. Op Sjighjonoot. 2 Here, toe ek van u roem gehoor het, is ek met ontsag vervul. U dade, Here, maak dit ‘n werklikheid in hierdie tye; laat dit in hierdie tye bekend word. Onthou om barmhartig te wees te midde van ontsteltenis.

3Toe God uit Teman kom, die Heilige van die Paranberge, Sela het sy luister die hemelruim bedek, sy lof die aarde gevul. 4Skitterend soos sonlig was die ligstrale uit sy hand; daarin het krag geskuil. 5Voor Hom loop pessiektes, op sy spore volg plae. 6Hy het gaan staan, en die aarde laat  bewe; Hy het net gekyk, en die nasies laat opspring. Die oeroue berge het verbrokkel, die ewige heuwels het laag gebuk. Die ewige wentelbane van die sterre behoort immers aan Hom. 7Ek het gesien die tente van Kusan verkeer in nood, die tentdoeke van die land Midian sidder. 8 Here, het u toorn teen die riviere ontbrand? Is u toorn teen die riviere, of is u gramskap teen die see gerig, dat U met u perde op u strydwaens ry vir verlossing? 9U boog is heeltemal ontbloot, “sewe knuppels!” was die bevel; Sela vir strome kloof U die aarde oop. 10-11Berge het U gesien, hulle het ineengekrimp; ‘n donderende wolkbreuk het verbygetrek; die oerwater het sy stem laat hoor. Hoog het die son sy hande gelig; die maan het stilgestaan in sy hoë woning, vir die lig van u pyle wat verbyvlieg, vir die glans van u blitsende spies. 12In verontwaardiging stap U oor die aarde, in toorn trap U nasies plat. 13U trek op tot die redding van u volk, U kom tot die redding van u gesalfde. U verpletter koppe; U ontbloot die binneste van die goddelose van die heup tot die nek. Sela 14U splyt met sy knuppels die koppe van sy magtiges wanneer hulle aanstorm om my te verstrooi, wanneer dit hulle vreugde is om die weerlose in ‘n skuilplek te verslind. 15U het met u perde die see getrap, daardie skuimende watermassa.

16Toe ek dit hoor, het my ingewande geril, vir die geluid daarvan het my lippe gebewe, ‘n lamheid het in my gebeente gekom; ja, ek het daar gestaan en bewe, want ek moes wag vir die dag van benoudheid om aan te breek vir die volk wat ons aanval.

17Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; 18nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. 19Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop. Vir die musiekleier. Met snarespel.

Die eerste twee hoofstukke van die boek Habakuk is ‘n roerende gesprek tussen die profeet Habakuk en God. Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument. Hy wonder hoe God sulke onreg kan verdra en vra of God dan nie sal ingryp nie. Die Here stel vir Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf, onder andere met sy oordeel ook oor sy oordeelsinstrument, die Galdeërs. Dit is immers dié wat reg doen, wat sal lewe weens hulle getrouheid, verseker die Here vir Habakuk (Hab 2:4). Ellende daarenteen wag op almal wat plunder, knoei en onreg pleeg. En dit is hierdie antwoord wat Habakuk tot rus bring en sy gebed laat skryf wat ons in hoofstuk 3 opgeteken het.

Habakuk begin sy gebed met ‘n smeking dat die Here weer kragtig sal optree soos in die verlede. Hy spel in vers 3-15 dié dinge uit wat hy van God uit die geskiedenis leer ken het. Soos hy die dinge een na die ander opnoem, oortuig dit hom dat die Here die volk sál red en die goddelose Galdeërs sál verpletter. Daarom sluit hy in vers 16-19 af met die besef dat hy maar kán wag vir die uitkoms van die Here. Die uitkoms kom verseker al sien hy nog niks daarvan nie. Hy kan dus geduldig wag daarop al beleef hy nou niks daarvan nie. Al lyk dit asof alles verkeerd is, kan hy nógtans nou reeds die Here loof vir wat Hy sál doen om dit reg te stel. Die Here is in beheer van beide die oordeel as die redding.

Hy sê daarom op daardie onvergelyklike inspirerende manier van hom: “Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos.” (Hab 3:18-19). Hoekom? Want hy het die uitkoms gesien – die volk se redding en die vyand se nederlaag. Hy weet dus dat God nie dié versaak wat hulle toevlug tot Hom neem nie. Trouens, dit gee hom krag in die hoop dat hy self deel van die verandering kan wees wat die Here sal bring. “Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop” (en let op die “my” hoë plekke – dws dit is op die plekke wat hom bang maak!)

Die gebed van Habakuk gee vir ons as geloofsgemeenskap drie liturgiese bewegings wat ons in negatiewe omstandighede kan gebruik om tot die Here te nader:

  1. In die eerste plek kan ons ons behoefte aan redding en uitkoms eerlik aan die Here bekend maak. Ons kan die Here herinner aan die kragtige dade wat Hy in die verlede in die geloofsgemeenskap deur die eeue gedoen het. Dit bly die plek wat ons eerste opsoek in ons verhouding met die Here, die geestelike merkers van die pad wat ons met Hom tot hier geloop het.
  2. In die tweede plek kan ons die prentjies van redding en uitkoms wat die Here vir ons gee in ons gebed gebruik, veral dié wat begrond is in sy beloftes in die Bybel. God se skeppingsmag, die ontsag waarmee mense deur die eeue Hom bejeën, en die ingrype in die wel en wee van die nasies, is alles dinge wat ons in ons gebede kan gebruik, totdat die begrip van wat die Here nóú wil doen, vir ons oopgaan. Die Bybel en die verhale van God se verlossende oordeel speel hierin ‘n belangrike rol. Dit stimuleer ons verbeelding in ons gesamentlike gebed tot die Here.
  3. In die derde plek kan ons dieselfde geduld van Habakuk aan die dag lê. Verandering kom van die Here af. Daarop kan ons ons hoop stel. Daarin kan ons ons verbly: “Nogtans sal ek in die Here jubel.” Geduld bring ook verandering in ons eie gemoed en gedrag. Geduld help ons om vas te gryp aan die Here en Hom te vertrou en aktief op Hom te wag. Wanneer ons dit reg kry om geduldig op Hom te wag, begin ons ook ervaar dat Hy ons krag gee en ons voete soos dié van ‘n ribbok maak. Dán kry ons dit reg om op hoë plekke veilig te loop. Dán raak ons baie kere self katalisators in die verandering wat die Here bring.

Lees meer: https://bybelskool.com/habakuk-31-19-habakuk-jubel-in-die-god-wat-tot-die-redding-van-sy-mense-sal-kom/

Psalm 65 – God is groot en goed en sorg vir alles en almal

23 Oktober

Psalm 65 – God is groot en goed en sorg vir alles en almal

1Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid. ‘n Lied. 2Aan U kom ‘n lofsang toe, o God wat in Sion is; aan U moet geloftes betaal word. 3U wat gebede hoor – na U moet alle mense kom. 4Al sou sondeskuld my oorweldig, U bedek ons oortredings. 5Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom – hy mag woon in u voorhowe. Ons wil graag versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u tempel. 6U antwoord ons in geregtigheid met ontsagwekkende dade, o God wat ons verlos – U, die vertroude tot aan al die eindes van die aarde en die verste seë, 7die Een wat die berge vestig deur sy krag, wat omgord is met mag, 8wat die gedreun van die seë stilmaak, die gedreun van hulle golwe, die rumoer van volke. 9Daarom het die bewoners van die eindes van die aarde ontsag vir u tekens. U laat ‘n gejubel opklink waar die son opkom en waar dit ondergaan. 10U het na die land omgesien, dit deurdrenk, dit besonder verryk. God se leivoor is vol water. U sorg vir hulle koring, want so berei U die grond voor: 11U maak die vore nat, die ploegbanke gelyk; met reënbuie maak U die aarde sag, U seën dit wat daar opkom. 12U kroon u goeie jaar; u spore drup van vettigheid. 13Die weivelde van die woestyn drup, die heuwels omgord hulle met ‘n gejuig. 14Die weivelde klee hulle met kleinvee; die valleie tooi hulle met graan; hulle roep uit van vreugde, ja, hulle sing.

Die Psalm is ’n lofsang aan God vir al sy oorvloedige gawes. Dit sluit sy gebedsverhoring en vryspraak van skuld vir alle mense in (vers 2-3), ook die oorvloed van die goeie dinge wat Hy gee vir die geloofsgemeenskap, dié wat Hy uitkies om nader te kom om sy teenwoordigheid by die tempel te geniet (vers 5-6a) asook die kragtige dade wat Hy regoor die wêreld vir almal (vers 6b-9) en alles doen ( vers 10-14). Hy is nie net God ons Verlosser nie (vers 6a), maar die God van alle mense selfs in afgeleë lande (vers 6b), trouens die God van die hele bewerkte en onbewerkte aarde.

Let op hoe die teenwoordigheid en betrokkenheid van God in konsentriese geografiese sirkels beskryf word, wat ook die wyse is waarop die Psalm opgebou is.

  • God seën die geloofsgemeenskap in Sion – vers 2-6a. Die hart van God se seën word eerstens persoonlik en in die geloofsgemeenskap in Sion by die tempel in Jerusalem ervaar (vers 2-6a). God verhoor gebede, spreek vry van skuld en laat sy mense die goeie dinge in sy huis in oorvloed geniet. In Sy trou antwoord Hy met kragtige dade. Hy is immers God, ons Verlosser. Aan dié God kom ’n lofsang toe in Sion. Maar let ook op dat dié vergifnis vir alle mense bedoel is, soos vers 3-4 aandui. Dit is ’n baie belangrike stuk hoop in die Psalm.
  • God seën die mense in afgeleë plekke en op verre seë – vers 6b-9. Tweedens het God se seën ook ’n uitkringende kragtige uitwerking op alle mense en nasies selfs op afgeleë plekke en op verre seë. Die God en sy mag dwing ontsag af, want Hy kan vir gebedsverhoring in alle situasies vertrou word. Hy laat selfs die rumoer van die nasies bedaar. Mense in die ooste en in die weste juig oor God.
  • God seën die hele aarde – vers 10-14. Derdens bring God se sorg oorvloed en vrugbaarheid vir die hele aarde – die land, die riviere, die ploeglande, die woestyn, die bulte, die velde en die vlaktes (vers 10-14). Daar is volop water, welige koring, genoeg reën, welige groei, volop weiding selfs in die woestyn en wemelende kleinvee. God se leivoor is immers vol water! God kroon daarom die jaar, elke jaar, met sy goeie gawes. Waar God ook al gaan, is daar oorvloed! Dit is die evangelie van dié Psalm. Trouens, alles is Sy werk!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-65-waar-u-ook-gaan-is-daar-oorvloed/

Psalm 119:65-72 – U is goed en doen goed

22 Oktober

Psalm 119:65-72 – U is goed en doen goed

ט TET 65U het goed gedoen aan u dienskneg, Here, volgens u woord. 66Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u bevele. 67Voordat ek swaar beproef is, was ek aan die dwaal, maar nou kom ek u woord na. 68U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte. 69Vermeteles het my met leuens beswadder; maar ek, met my hele hart hou ek by u opdragte. 70Hulle harte is so gevoelloos soos vet, maar ek vind vreugde in u wet. 71Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer. 72Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.

Die negende deel van Psalm 119 fokus op God se goedheid (tôv). Nie net IS God goed nie, maar Hy DOEN goed. En dit is van dié God wat die Psalmis onderrig wil ontvang, omdat God se woord, bevele, voorskrifte, opdragte, wet, en onderrig soortgelyk goed sal wees – weereens ses van die agt woorde vir God se openbaring in die Psalm. Na alles, dit is dinge wat van God self af kom: “Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.”

Die Psalmis fokus op twee funksies van God se onderrig. Die een is te vinde in God se woorde, die ander in ervarings in die lewe wat deur God gebruik word. Aan die een kant prys hy die Here vir die positiewe funksie van God se “goeie woorde”. Dit leer hom onderskei wat die pad van die Here is, en wat nie. Die frase in vers 66: “Goeie oordeel” (2020-vertaling) of: “goeie insig” (1983-vertaling) vertaal die letterlike Hebreeuse frase: “goeie smaak” wat hier figuurlik gebruik word in ‘n moreel-etiese sin. In Engels word dit weergegee as “proper discernment” (NET Bible) of “good judgement” (NIV). Dit is wat God se woord hom leer, om goeie moreel-etiese besluite te kan neem.

Maar daar is aan die ander kant ook ‘n tweede funksie van God se onderrig in sy lewe, ‘n negatiewe dissiplinêre funksie wat in ervarings van: “vernedering, swaarkry of verdrukking” geleer word. Die Psalmis gebruik die Hebreeuse woord ânâh (Ps 119:67,71) om sy ervaring te beskryf. Dié woord kan op verskillende wyses vertaal word, soos ‘n vergelyking in net ‘n paar van die Afrikaanse vertalings wys: “verdruk” (1933/53-vertaling), “swaarkry” (1983-vertaling), en “verneder” (2020-vertaling). In Engels word dit gewoonlik vertaal met: “afflicted” (NET Bible, NIV, KJV), asook ‘n keer of wat met “humbled” (NRSV) wat ooreenkom met die 2020-vertaling. Wat die negatiewe ervaring presies in die Psalmis se geval beteken het, word nie uitgespel nie. Dit is egter duidelik dat die ervaring van vernedering, swaarkry of verdrukking hom van sy dwaalweë teruggebring het om God se woorde en beloftes na waarde te skat. Hy kan daarom sê: “Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer.” Die pynlike situasie waaraan hy blootgestel is, het dus die funksie van ‘n dissiplinêre aksie in sy lewe gehad. Hy kon daaruit leer, en tot inkeer kom.

Dit laat ‘n mens besef dat elke woord uit God se mond belangrik is in ons onderskeiding van wat goed is en wat nie. Netso is elke ervaring waaraan ons blootgestel is belangrik om in die praktyk van die lewe te leer hoe ons die pad met God moet loop. En dit lyk asof dit veral die negatiewe en swaarkry ervarings is wat die Here in ons lewe gebruik. Wat ons motiveer en inspireer op dié pad is die feit dat God goed is en goed doen! Paulus sê nie verniet in Romeine 8:28: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.” Lees gerus die verdere verse in Romeine 8 wat die implikasies hiervan uitspel.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11965-72-tet-u-is-goed-en-doen-goed-leer-my-u-voorskrifte/

Spreuke 21:1-3, 12, 15, 21, 30-31 – Niks kan God troef om geregtigheid te laat geskied nie

21 Oktober

Spreuke 21:1-3, 12, 15, 21, 30-31 – Niks kan God troef om geregtigheid te laat geskied nie

1Die koning se hart is waterstrome in die hand van die Here: Hy lei dit waarheen Hy wil. 2Elke pad van ‘n mens is reg in sy eie oë, maar die Here toets harte. 3Om te doen wat reg en billik is, is vir die Here verkieslik bo offers.

7Die gewelddade van goddeloses sleep hulle weg, want hulle weier om te doen wat reg is.

12Die Regverdige hou ‘n goddelose se huis dop; Hy stort goddeloses in die ongeluk.

15Dit is ‘n vreugde vir die regverdige wanneer reg geskied, maar ‘n verskrikking vir boosdoeners.

18‘n Goddelose word ‘n losprys vir die regverdige, en ‘n verraderlike mens neem die plek in van opregtes.

21Wie geregtigheid en troue liefde najaag, vind lewe, geregtigheid en eer.

30Geen wysheid, geen verstandigheid, ja, geen raad hou stand teen die Here nie. 31‘n Perd kan afgerig word vir die dag van ‘n geveg, maar die oorwinning is van die Here

Spreuke 21 toon van meet af aan meer van ‘n eenheid as van die ander hoofstukke in hierdie versameling van Salomo se spreuke. Dit begin en eindig met ‘n verwoording van God se aktiewe betrokkenheid in alles wat gebeur, van die koning af regdeur tot by gewone mense (vgl Spr 21:1-3; 21:30-31). Vyf keer word die woord “reg” en twee keer die woord “geregtigheid” gebruik om die lewenstyl wat God se guns wegdra, uit te druk, veral in die sin van ‘n hoë premie te stel om goeie verhoudings oor die spektrum van die lewe te handhaaf (vgl Spr 21:2, 3, 7, 15, 18, 21). Dit verskaf die goue draad wat die spreuke by mekaar laat pas. Die kersie op die koek – die sleutel om die hoofstuk se boodskap te verstaan – is die spreuk wat die herstel van verhoudings in God se regverdigheid sien – die “Regverdige Een” soos die “regverdige” daar vertaal kan word (Spr 21:12). God se reg en geregtigheid motiveer ons om goeie verhoudinge te handhaaf. Ons kan Hom immers vertrou om dinge reg te stel. Dit is dan ook die verse wat ek hieronder hanteer.

Vers 1. Die Here bepaal ‘n koning se koers. Sy wil en hart (besluite) is in God se hand. Hy lei dit soos ‘n stroom water in God se rigting. Dit gee ‘n mens moed om God se hand aktief te soek in alles wat gebeur, selfs wanneer jy geen direkte invloed daarop kan uitoefen nie. Soos Richard Niebuhr so raak gesê het: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to his action.” (The Responsible Self).  Dit geld ook die invloed van die konings van hierdie wêreld.

Vers 2. Jy kan die Here nie flous met jou planne nie, want Hy toets of weeg die hart – jou karakter, jou gesindheid en motiverings, jou besluite (vgl Spr 16:2). Spreuke 17:3 sluit hierby aan en spel uit hoe God “harte” toets: Hy louter dit soos ‘n mens goud in ‘n oond hanteer, dws onder buitengewone “warm” omstandighede!

Vers 3. Reg en geregtigheid (billikheid) – gehoorsaamheid aan God se bevele in die Skrif – is vir God beter as offerandes. So leer onder andere die profete Samuel (“gehoorsaamheid is beter as offerande” – 1 Sam 15:22), Jesaja (“Ek verdra nie feesviering saam met onreg nie” – Jes 1:13), Jeremia (“julle moet leef soos Ek julle beveel” – Jer 7:22-23), en Hosea (“Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied” – Hos 6:8) ons ook. Daarmee word offerandes nie afgeskiet nie, maar hulle waardeloosheid uitgewys as dit nie gepaard gaan met ’n regverdige lewe nie. God se guns kan nie “gekoop” word met offerandes nie. Hy soek absolute gehoorsaamheid aan sy geopenbaarde wil in die Skrif.

Vers 7. Die geweld van goddeloses wreek hom op hulleself weens hulle onvermoë om verhoudings (reg doen) in stand te hou. Hulle is soos kaf wat wegwaai in die wind.

Vers 15. Wanneer reg geskied, gee dit regverdiges moed, en ontkrag dit onregverdiges.

Vers 18. Bykans alle mense verkies eerlike en betroubare persone. Hulle “ruil” maklik ’n goddelose vir ’n regverdige, en ’n onbetroubare vir ’n betroubare een.

Vers 21 spel weer die twee dinge uit waarop ’n mens moet fokus: om reg te doen (dié dinge wat die Here vra), en om troue liefde in al jou verhoudings te bewys. Dit bring lewe, oorvloed en eer.

Vers 30-31 is ’n eenheid. God se wil gee in alles die deurslag, nie ons wysheid, insig of besluite nie. “Nothing clever, nothing conceived, nothing contrived, can get the better of God.” (The Message). Jy kan die beste planne maak – perde afrig vir die oorlog – maar dit is die Here wat die oorwinning gee (vgl Job 5:12-13). Positief gestel: “Do your best, prepare for the worst – then trust God to bring victory.” (The Message)

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-211-31-god-se-geregtigheid-motiveer-ons-tot-goeie-verhoudinge/

Onlangse kommentaar