Skip to main content

Tag: Beloftes

Spreuke 18:10-12 – Die Naam van die Here is ‘n onbereikbare sterk toring

30 September

Spreuke 18:10-12 – Die Naam van die Here is ‘n onbereikbare sterk toring

10‘n Sterk toring is die Naam van die Here; die regverdige hardloop dit binne, en is onbereikbaar. 11Die besittings van ‘n ryke is sy sterk stad; soos ‘n ontoeganklike stadsmuur is dit in sy verbeelding. 12Voor ineenstorting is ‘n mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan eer vooraf.

Vers 10 is ‘n baie bekende teks met die boodskap dat God die regverdige beskerm wat by Hom skuil. Die “Naam van die Here” dui hier op sy vermoë om te beskerm (In Eks 34:5-7 bv word sy “Naam” ook aan die kenmerke van liefde en trou verbind). Sy beskerming word met ‘n “sterk toring” vergelyk wat ‘n veilige skuilplek (refuge) verskaf aan elke “regverdige” wat “dit binne hardloop” en daarmee ‘n heelhartige en onwankelbare vertroue in God se beskerming illustreer (vgl Jes 40:31 – dié wat op die Here vertrou raak nie moeg nie!). God maak hulle onbereikbaar (“inaccessible”)! Dit is hierdie boodskap wat jy verkondig met die lied Blessed be the Name of the Lord van Clinton Utterbach: “The Name of the Lord is a strong tower, the righteous run into it, and they are saved.”

Vers 11 is duidelik in kontras met vers 10. Ryk mense dink hulle welvaart beskerm hulle soos ’n sterk stad of ’n ontoeganklike stadsmuur, maar dit is ’n lugkasteel. Daardie bestaan net in hulle verbeelding. Die enigste ware beskerming is van die Here.

Vers 12 sluit ook hierby aan deur die diep waarheid te onderstreep dat hoogmoed voor die val kom. Nederigheid kom egter voor die eer (vgl Spr 11:12; 15:33; 16:18). In die konteks van vers 10 is nederigheid hier die keuse om eerder die beskerming van die Here te geniet as dié wat jyself deur jou besittings kan verskaf.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-181-24-kommunikasie-maak-saak/

Lukas 17:5-10 – Vir dié wat in God glo, raak die onmoontlike moontlik

29 September

Lukas 17:5-10 – Vir dié wat in God glo, raak die onmoontlike moontlik

1Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar struikelblokke kom, maar wee die een deur wie dit kom. 2Dit is beter vir hom dat ‘n maalklip om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie geringes laat struikel. 3Wees dus op julle hoede. As jou broer sondig, wys hom tereg, en as hy berou het, vergewe hom. 4En as hy sewe maal op een dag teen jou sondig, en sewe maal na jou terugkom en sê, ‘Ek het berou’, moet jy hom vergewe.” 5Toe sê die apostels vir die Here: “Gee ons meer geloof!” 6En die Here antwoord: “As julle geloof soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het. 7“Wie van julle sal, as hy ‘n slaaf het wat besig is om te ploeg of skape op te pas, vir hom sê, wanneer hy van die veld af kom, ‘Kom leun dadelik aan om te eet.’ 8Sal hy nie eerder vir hom sê, ‘Maak vir my iets gereed om te eet, omgord jou heupe en bedien my, totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink!’ nie? 9Hy bedank tog nie die slaaf net omdat hy sy opdragte uitgevoer het nie! 10Dieselfde geld vir julle: Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’ ”

Jesus moedig die dissipels aan tot ’n onberispelike lewe wat nie vir ander tot struikeling aanleiding sal gee nie – vers 1-3a. Hy wil hê dat ons niks sal doen wat ander mense sal laat struikel nie. Maar, ons weet ook dat dit ‘n tall order is. Dit is iets wat net so moeilik is om reg te kry. Want ons belange bots so maklik. Ons kom so maklik in mekaar se pad. Ons doen so maklik dinge wat ander seermaak. Of ons dit nou doelbewus doen, of ons dit onbewus doen, ons pootjie mekaar so maklik en so gereeld. Daarom moedig Jesus ons dus ook aan tot ’n genadige lewenstyl wat telkens bereid is om berouvolles te vergewe – vers 3b-4. Dit is die logiese pasmaat van die vorige opdrag.

Nou dít kry ons nog moeiliker reg. Ons vertroue in mekaar word so maklik geskaad. Ons sukkel spesifiek hiermee. En as ons nie vergewe nie, dan raak dit deel van die bagasie wat ons met ons ronddra. Dan hou ons dinge teen mekaar, nie net vir ‘n dag lank nie, soms weke, maande lank, soms jare lank. Daar is vetes wat eintlik eeue teruggaan tussen families en mensegroepe. Ons sukkel hiermee! Dit is waarom die apostels só reageer in die gedeelte. Hulle besef dat hulle sukkel om in hulle verhoudinge met ander mense, onberispelik te wees. Hulle sukkel om nie ander te laat struikel nie. Hulle sukkel om self nie te struikel nie. En dit is ‘n groot probleem om mekaar te vergewe, want jou sin vir reg en regverdigheid, jou gevoel vir wat billik is, staan só in die pad van ‘n lewe waar jy ander en soms jouself ook kan vergewe. Daarom vra hulle: Méér geloof, Here.

Hoe antwoord Jesus? Hy wys hulle in sy derde uitspraak op twee goed: 1) dit is net nodig om ‘n bietjie geloof te hê – net so groot soos ‘n mosterdsaadjie. Jy moet dit eintlik darem net kan sien. Dit moet net daar wees. Want, 2) vir dié wat in God glo, raak die onmoontlike moontlik. Die vraag is nie hoe hoog die volume van jou geloof gestel is nie. Die afmetings en omvang is nie belangrik nie, die inhoud wel. Jesus is die inhoud van ons geloof. Die vraag is dus op Wie jou geloof gerig is. Wanneer die uitdagings om struikeling te vermy, en die risiko van vergifnis te loop, ondraaglik blyk te wees, is dit die Here op wie jou geloof gerig is, wat jou bystaan en jou dra. Jesus antwoord hulle dus dat dit nie soveel saak maak hoe groot jou geloof is nie, maar eerder wat jy daarmee doen. Waar jy aan God vasgryp, al is dit net met geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie, kan die onmoontlike gebeur. ‘n Moerbeiboom met sy ingewikkelde komplekse wortelstelsel sal in die see kan groei, as jy maar net geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie het. Die onmoontlike word moontlik vir dié wat in God glo.

Jesus sluit af met ‘n vierde en laaste opmerking oor geloof en moedig ons aan tot ’n nederige lewenstyl waarin ons nie arrogant sal raak oor wat ons bereik in die koninkryk nie, want uiteindelik behoort die lof aan God self – vers 7-10. Waar mens die oorsaak van verleiding en struikeling word vir ander, en wanneer jy teen ander oortree, word dit gewoonlik gebore uit ‘n oormatige fokus op jouself. Dit gaan oor jou belange, jou vooruitsigte, wat jy uit die lewe wil haal, hoe jy ander wil gebruik om jouself te bevoordeel. Dit laat jou ander se belange geringskat. Dit laat jou op korttermyn en kortsigtige voordeel fokus, sonder om die belange van ander in ag te neem. Daarom sê Jesus: As julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen. Ons is onverdienstelike diensknegte. Ons geloof gee aan God alleen al die eer. Mag dit so wees, vandag en altyd.

Lees meer (‘n preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/meer-geloof-here-lukas-171-10/

2 Timoteus 1:1-14 – God het ons ‘n gees van krag, liefde en selfbeheersing gegee

28 September

2 Timoteus 1:1-14 – God het ons ‘n gees van krag, liefde en selfbeheersing gegee

1Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus, deur die wil van God, in ooreenstemming met die belofte van die lewe in Christus Jesus, 2aan Timoteus, my geliefde kind: Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en Christus Jesus, ons Here. 3Ek is dankbaar teenoor God, wat ek, soos my voorouers, met ‘n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik, bedags en snags, in my gebede aan jou dink. 4As ek aan jou trane terugdink, verlang ek daarna om jou te sien, sodat ek met blydskap vervul kan word. 5Ek dink steeds aan jou opregte geloof, daardie geloof wat eers in jou ouma Loïs, en in jou moeder Eunice was – en ek is oortuig dat dit ook in jou is. 6Om hierdie rede herinner ek jou om die genadegawe van God, wat in jou is, deurdat ek jou die hande opgelê het, opnuut aan te vuur. 7God het ons tog nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. 8Moet jou dus nie skaam vir die getuienis van ons Here nie, ook nie vir my, sy gevangene, nie. Maar dra jou deel van die lyding vir die evangelie deur middel van die krag van God. 9Hy het ons verlos en geroep met ‘n heilige roeping – nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en genade. Reeds van ewigheid af is dit in Christus Jesus aan ons geskenk, 10en nou is dit geopenbaar deur die verskyning van ons Verlosser, Christus Jesus, wat die dood vernietig het, en die lewe en die onverganklikheid deur die evangelie aan die lig gebring het. 11Hiervoor is ek as prediker, apostel en leraar aangestel. 12Daarom ly ek ook hierdie dinge, maar ek skaam my nie; want ek weet in wie ek nog altyd my vertroue stel, en ek is oortuig dat Hy magtig is om die pand wat aan my toevertrou is, tot op daardie dag te bewaar. 13Hou, as voorbeeld van die suiwer leer, vas aan dit wat jy van my gehoor het; doen dit in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is. 14Bewaar die kosbare pand wat aan jou toevertrou is deur die Heilige Gees wat in ons woon.

Paulus begin sy tweede brief aan Timoteus deur sy eie roeping as apostel as in ooreenstemming met die belofte van lewe in Christus Jesus uit te lê. Hy is dankbaar dat Timoteus vasstaan in dieselfde geloof wat in sy ouma en moeder was, want dit laat hom in dieselfde lewe deel wat ook in hulle was. Die geheim van ‘n oorvloedige geestelike lewe lê immers in die genadegawe van die Heilige Gees wat ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar ‘n gees van krag en liefde en selfbeheersing. Dit is die wonder van die Gees wat ook in Timoteus werksaam is.

Daarom, sê Paulus, moet Timoteus die genadegawe van die Gees aanblaas soos jy ‘n vuur se kole blaas sodat die vlamme van krag en liefde en selfbeheersing in sy lewe die oorhand kan kry. Dit is veral belangrik, omdat daar lyding op die pad van die evangelie is. Dit beteken aan die een kant – sê vers 7 – dat hy weer bewus moet raak van die Gees wat in hom woon. Dit is die Gees wat werk in Timoteus. Die Gees wil hom aktiveer om staande te bly in die versoekings en vervolgings. Dit beteken aan die ander kant – sê vers 6 – dat Timoteus ‘n eie verantwoordelikheid het om die genadegawe van God wat in hom is, aan te vuur, soos jy ‘n vuurtjie aan die gang kry, sodat die hitte die krag, liefde en selfbeheersing wat die Gees gee, tot sy volle werking kan kom.

Een van die dinge wat Timoteus kan doen om die genadegawe van die Gees in hom aan te vuur, sê Paulus, is deur ‘n keuse te maak om hom nie te skaam vir die evangelie nie – vers 8 – maar sy deel van die lyding vir die evangelie deur middel van die krag van God, te dra. Dit beteken dat jy sy verbintenis aan die boodskap van die evangelie vas moet maak. Hy moet hom nie daarvoor skaam nie – dit is dus sy keuse – nie vir ‘n enkele deel daarvan nie, selfs al bring dit hom in botsing met die kulturele en samelewingswaardes van sy gemeenskap. Kortom, hy moet nie terugdeins vir die lyding wat saam gaan met gehoorsaamheid nie. Dan sal hy die krag van die evangelie in hom ervaar, sal hy die krag en die liefde en die selfbeheersing kry wat die Gees in hom sal aktiveer om aan God getrou en gehoorsaam te lewe.

Lees meer (‘n preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/2-timoteus-16-14-resilience-veerkragtige-geloof/

Psalm 137 – God sal nooit vergeet om reg en geregtigheid te laat geskied nie

27 September

Psalm 137 – God sal nooit vergeet om reg en geregtigheid te laat geskied nie

1Aan die riviere van Babel, daar het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink. 2Aan die rivierwilgers in daardie land het ons ons liere opgehang; 3want daar het dié wat ons gevange geneem het vir ons die woorde van ‘n lied gevra; hulle wat ons weggevoer het, het van ons vreugde verwag: “Sing vir ons een van die Sionsliedere!” 4Hoe kan ons ‘n lied van die Here sing op vreemde grond? 5As ek jou vergeet, Jerusalem, mag my regterhand dan vergeet hoe om te speel. 6Mag my tong aan my verhemelte kleef, as ek jou nie onthou nie, as ek Jerusalem nie my heel grootste vreugde maak nie. 7Here, onthou die Edomiete oor die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: “Stroop, stroop haar tot op die fondamente!” 8Dogter van Babel, gedoem tot verwoesting, gelukkig die een wat jou jou dade vergeld wat jy ons aangedoen het! 9Gelukkig die een wat jou kinders gryp en verpletter teen ‘n rotswand!

Hierdie Psalm is ‘n roerende herinnering aan die pyn en ontworteling van die ballingskap. Die Psalmis is waarskynlik in Jerusalem ná die terugkeer uit ballingskap en skryf die Psalm om die geloofsgemeenskap te help om die verlede te verwerk, sowel as om die nuwe situasie in Jerusalem te omarm en skouer aan die wiel te sit om die geloofsgemeenskap te herbou. Die Psalm is daarom meer as ‘n klag oor die verlede. Dit gebruik die herinnering aan die pyn as die basis vir ‘n nuwe verbintenis in die hede en sluit twee bedes aan God in om reg en geregtigheid te laat geskied ten opsigte van beide Edom, wat hulle in die steek gelaat het, en Babel, wat hulle weggevoer het in ballingskap. Want, die belofte van die hele Skrif is dat God nooit sal vergeet om reg en geregtigheid te laat geskied nie (vgl bv Rom 12).

Dit leer ons dat die verlede, selfs in die grusame pyn wat dit vir ‘n mens kan inhou, hetsy weens persoonlike skuld of weens omstandighede buite jou beheer, steeds die basis kan bly om in die hede jouself aan God te verbind en van Hom ‘n herstelde toekoms af te bid. Aan God se liefde is daar immers geen einde nie, soos Psalm 136 so oorvloedig beklemtoon het. Hulle het dus vrymoedigheid om God om reg en geregtigheid te vra. Die smart wat Edom (Jakob, die stamvader van Israel, en Esau, die stamvader van Edom, was broers) hulle aangedoen het met die wegvoering in ballingskap roep by hulle die gebed om vergelding op (vgl veral die profeet Obadja vir meer detail hieroor). Die Edomiete se houding van “breek af, breek af” moet die Here se optrede teenoor hulle bepaal. Op dieselfde wyse vra die Psalmis dat die Here sal optree teenoor die Babiloniërs wat fisies die stad afgebreek en hulle in ballingskap weggevoer het. Op grusame wyse word die vergelding wat gevra word, uitgespel, selfs teenoor die kinders wat teen ‘n rotswand verpletter moet word. Let op dat die Psalmis nie vra dat hulle dit persoonlik moet uitvoer nie, maar dat die Here daarvoor sal sorg. Wat ons hier in gedagte moet hou, is dat dié gebede om vergelding ‘n belangrike manier was (en is) om die emosies wat steeds lewendig was vir die teruggekeerde ballinge te hanteer. Wat vir ons as kinders van die Here egter belangrik is, is om te weet dat vergelding in die NT aan die Here behoort. Van ons word gevra om nie te vervloek nie, maar te seën (Luk. 9:54) en selfs ons vyande lief te hê (Matt. 5:44). Die Here wil van vyande vriende maak, ook deur ons optrede en opoffering. Maar, die helder belofte is steeds dat God uiteindelik reg en geregtigheid sal laat geskied. Dit is ook sy belofte aan ons.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-137-jerusalem-bly-my-grootste-vreugde/

Efesiërs 6:10-20 – Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly

26 September

Efesiërs 6:10-20 – Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly

10Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag. 11Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. 12Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. 13Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly. 14Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van geregtigheid, 15en deur die bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene aan julle voete aan te trek, 16en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus. 17Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God. 18By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die heiliges. 19Bid ook vir my sodat, wanneer ek my mond oopmaak, die gepaste woord vir my gegee mag word, om met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie bekend te maak – 20hiervoor is ek ‘n gesant in kettings – sodat ek vrymoedig daaroor kan praat soos ek moet.

Paulus sluit sy brief aan die Efesiërs af met ‘n fokus op wat ‘n mens krag gee in die publieke stryd om standvastig te bly in en vir die evangelie van Jesus Christus. Hy verduidelik dit met die beeld van die wapenrusting van God wat ons moet aantrek om staande te kan bly in die stryd. Elke deel daarvan is belangrik. Dit is immers net deur God se krag wat ons in staat sal wees om op ons pos te kan bly en mee te werk aan die vestiging en uitbreiding van die evangelie!  Ons voer gelukkig die stryd nie alleen nie! Die stryd word gevoer met:

  1. Waarheid – in ons toewyding aan die waarheid, ervaar ons God se krag wat ons vol maak van Homself.  Die waarheid is soos ‘n gordel waarmee ‘n soldaat sy jurk opgebind het, sodat hy makliker kon beweeg.  Dit maak ons vry in ons binneste van verslawing en weerbaar teen versoeking in die publiek.
  2. Vryspraak (geregtigheid) – dit het te make met die feit dat in Christus ons in die regte verhouding met God gekom het, en dat ons nou vrye toegang tot die Vader het.  In ons blydskap oor God wat ons aangeneem het, volledig uit genade, ervaar ons die krag om standvastig te bly in die wêreld.
  3. Getuienis – die bereidheid om die evangelie na mense te neem, is ‘n kragtige bevestiging van God se werk in jou eie lewe.  Dit is soos die skoene aan die voete van die soldaat wat sorg dat hy oor ruwe terrein kan beweeg, met die getuienis van die goeie nuus van die evangelie vir alle mense.
  4. Geloof – die vertroue op God en die afhanklikheid van wat Hy doen, is die enigste manier om die aanslag van die bose af te weer.  Dit is soos ‘n skild wat jou beskerm teen die brandpyle van die vyand.  Let op dat daar nie ‘n pyl en boog in die hand van die gelowige is nie, net ‘n skild om weerbaar te wees.
  5. Verlossing (redding) – as vryspraak die objektiewe werk van Christus in ons lewe is om ons in die regte verhouding met God te bring, is verlossing die subjektiewe diep oortuiging in ons binneste dat God dit inderdaad goed bedoel met ons en ons vir Homself as kinders aangeneem het.  Dié oortuiging funksioneer soos ‘n helm op ons kop wat die sentrum van ons lewe, ons brein, beskerm.
  6. God se Woord – die enigste aanvalswapen is die Woord van die Gees, soos Paulus dit stel.  En let op dat die Heilige Gees en die Woord direk aan mekaar gekoppel word.  Die een kan nie sonder die ander nie – albei is nodig om regtig in God se wil vir jou lewe te kan wandel.
  7. Gebed – dit is die aspek waarop die meeste uitgebrei word.  Let op dat gebed allesomvattend is – by elke geleentheid, gedurig, vir alle gelowiges, vir die evangelie.

Lees meer: https://bybelskool.com/efesiers-610-24-soek-julle-krag-in-die-here-en-in-sy-groot-mag/

Onlangse kommentaar