Skip to main content

Tag: Beloftes

Lukas 19:1-10 – Die Seun van die Mens het gekom om verlorenes te soek en te verlos

30 Oktober

Lukas 19:1-10 – Die Seun van die Mens het gekom om verlorenes te soek en te verlos

1Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. 2En kyk, daar was ‘n man met die naam Saggeus. Hy was ‘n hooftollenaar en ‘n ryk man. 3Hy het probeer om te sien wie Jesus is, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis oorbly.” 6Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus met blydskap in sy huis ontvang. 7Almal wat dit gesien het, het gemor en gesê: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis.” 8Maar Saggeus het gaan staan en vir die Here gesê: “Kyk, Here, ek gee die helfte van my besittings aan die armes, en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit viervoudig terug.” 9Jesus het vir hom gesê: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, want ook hy is ‘n seun van Abraham. 10Die Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos.”

Jesus het só pas ‘n blinde man genees op pad deur die stad Jerigo. Hy stap verder deur die stad waar Saggeus, die ryk hooftollenaar, ernstige pogings aangewend het om te sien wie Jesus is. Sy lengte het hom egter gekortwiek in die skare om Jesus te siene te kry. Saggeus het egter ‘n plan beraam om vanuit ‘n wildevyeboom ‘n beter uitsig op Jesus te kry. Dit werk toe beter as wat hy beplan het, want Jesus het onder die boom gaan staan en gevra dat Saggeus Hom in sy huis ontvang. Saggeus was maar te bly om Jesus in sy huis te ontvang, hoewel dit lyk asof die hele stad daaroor gemor het, omdat Jesus só ‘n gas van ‘n sondige man geword het. Al het Jesus telkens uitgereik na sondaars en tollenaars het die skares dit nog nie verstaan nie (vgl Luk 5:31-32).

Saggeus staan egter op – waarskynlik by ‘n ete in sy huis – en lewer getuienis van die verandering wat Jesus in hom teweeg gebring het. Jesus se aanvaarding van hom het sy hele lewe verander. Saggeus het daarom vir Jesus gesê – let op dat hy Hom Here noem – dat hy die helfte van sy besittings – wat hy waarskynlik wederregtelik verkry het – tollenaars was berugte bedrieërs – vir die armes gaan gee om sy onregverdige selfverryking reg te stel. En as hy bewustelik iemand afgepers het, sal hy dit viervoudig teruggee as ‘n grootmoedige blyk van restitusie.

Jesus gee dan vir ons meer insig in wat hier gebeur het. Saggeus se optrede wat van ‘n hartsverandering getuig het – regstelling en restitusie – wys dat daar redding vir sy huis gekom het. Jesus noem hom ook ‘n “seun van Abraham” waarmee Hy sy identiteit as Jood bevestig in ‘n omgewing waar mense hom waarskynlik as ‘n volksverraaier verteken het. Jesus gaan verder en gebruik die verhaal van Saggeus om die skare te leer dat die Seun van die mens gekom het om te soek en te red wat verlore is. Dié belofte het dus nou vir Saggeus in vervulling gegaan.

Lees meer (‘n preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/lukas-191-10-erediens-leef-inklusief-son-31-oktober-2010/

Psalm 119:81-88 – God se beloftes bring verlossing vir dié wat daarop wag

29 Oktober

Psalm 119:81-88 – God se beloftes bring verlossing vir dié wat daarop wag

כ KAF 81My siel smag na u verlossing; op u woord wag ek. 82My oë smag na u belofte en vra: “Wanneer sal U my troos?” 83Want ek het geword soos ‘n stuk vel vol rook, maar u voorskrifte het ek nie vergeet nie. 84Hoeveel dae is daar nog vir u dienskneg? Wanneer gaan u die oordeel voltrek oor my vervolgers? 85Vermeteles het vir my vangkuile gegrawe, hulle wat nie volgens u wet optree nie. 86Al u bevele is betroubaar, maar hulle vervolg my sonder rede. Help my! 87Byna het hulle my vernietig hier op aarde, maar ek, ek het u opdragte nie verontagsaam nie. 88Maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde, sodat ek die bepalings uit u mond kan nakom.

Die elfde deel van Psalm 119 fokus op die dilemma van gelowiges wat in ‘n situasie van vervolging wag op ‘n woord van die Here of die vervulling daarvan. Hy beskryf die inhoud van die verlange op verskillende wyses: ‘n woord van verlossing (vers 81), ‘n woord van troos (vers 82), ‘n woord van regstelling (vers 84), ‘n woord van hulp (vers 86 –“Help my!”), en ‘n woord van lewe (vers 88).

‘n Mens kan sy verlange met een woord opsom: “Wanneer?!” Sy hele wese smag na die verlossende en vertroostende woord van die Here. “Hoeveel dae is daar nog vir u dienskneg?” Hy druk sy stryd uit met die ongelooflike sprekende metafoor van ‘n velsak in die rook. Dit het verskrompel van die lang blootstelling aan rook. Dit kan selfs wees dat hy hier eintlik van ‘n skoorsteen van dierevel praat wat amper onbruikbaar begin raak van al die blootstelling aan die rook en hitte van die vuur. Tóg het hy die voorskrifte van die Here nie vergeet nie. Tóg het hy die Here se opdragte nie verontagsaam nie. Daarom het hy die vrymoedigheid om met verwagting die Here te smeek om uitkoms, want dit is uiteindelik al wat hy met sy lewe wil doen: om die getuienisse (‘edût­ – onderwysing in 1983-vertaling; bepalings in 2020-vertaling) uit God se mond na te kom.

Let op hoe sy verwagting en verlange na verlossing nie soseer gemik is op die een of ander voordeel wat hyself daaruit sal put nie, maar om in staat gestel te word om al meer te kan beantwoord aan sy lewensdoel, om absoluut nougeset te doen wat die Here hom wys. Dit laat ‘n mens diep dink oor jou eie gehegtheid aan die woord van die Here. Nie net om jou gedrag daardeur te laat bepaal in die algemeen nie (bv die dubbele liefdesgebod, en die vrug van die Gees), maar om baie meer te fokus op die daaglikse woorde van die Here in jou stiltetyd, en dit met alles in jou na te kom.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11981-88-kaf-op-u-woord-wag-ek-sodat-ek-dit-kan-nakom/

Spreuke 22 – Die Here sorg self vir die behoud van kennis

28 Oktober

Ons kom by die laaste 16 verse van Salomo se eerste bundel spreuke. Interessant genoeg is die aantal spreuke in hierdie versameling van hom gelyk aan die numeriese waarde van Salomo se naam: 375. Hy skryf in hierdie paar verse veral oor rykdom en armoede en die invloed wat dit op verhoudings het. Hy lê ook klem op die gevolge wat volg op ‘n mens se gedrag – luiheid stomp jou waagmoed af; mededeelsaamheid is tot jou eie voordeel. Ek hanteer die eerste 12 verse as konteks vir die grootse belofte in vers 12.

Spreuke 22 – Die Here sorg self vir die behoud van kennis

1‘n Goeie naam is verkieslik bo groot rykdom, egte innemendheid bo silwer en goud. 2Rykes en armes het dít gemeen: Die Here het hulle almal gemaak. 3‘n Slim mens sien gevaar en skuil, maar onverstandiges gaan voort en betaal die prys. 4Die beloning vir nederigheid en ontsag vir die Here is rykdom, eer en lewe. 5Dorings en wippe is op die pad van ‘n vals persoon; wie sy lewe wil beskerm, bly ver daarvan weg. 6Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie. 7‘n Ryke heers oor armes, en wie leen, is ‘n slaaf van die man wat uitleen. 8Wie onreg saai, sal boosheid oes, en die lat van sy woedebui sal tot niet gaan. 9Wie ruimhartig is, sal geseën word, want hy gee van sy brood aan die hulpelose. 10Dryf ‘n spotter weg, dan is stryd by die deur uit, en eise en skandalige optrede hou op. 11Wie ‘n rein hart liefhet, wie innemend praat, sal ‘n koning as sy vriend hê. 12Die oë van die Here bewaak kennis, en die sake van ‘n bedrieër werp Hy omver.

Vers 1. ’n Goeie naam of reputasie is meer werd as groot rykdom. Ander se goedgesindheid is meer werd as silwer en goud.

Vers 2. Hierdie vers stel die fundamentele beginsel van die gelykheid voor God van alle mense, ryk en arm. Almal het dié status in gemeen. Dat God hulle gemaak het. Interessant is dat Spreuke in die eerste frase sê: “rykes en armes ontmoet mekaar” wat beide beteken “rykes en armes het dít in gemeen” (dat die Here hulle gemaak het), en dat hulle gelykheid voor God die basis is waarop hulle in gemeenskap met mekaar kan tree. ‘n Mens kan nie die betekenis van hierdie beginsel oorskat nie! Vers 3. Een van die redes vir die ongelykheid in die samelewing is dat verstandiges onheil kan vermy, omdat hulle dit beter raaksien as onervarenes. Vers 4. Die belangrikste rede is egter dat rykdom ‘n geskenk is van God aan die nederiges wat in ontsag vir Hom lewe. Hy deel rykdom, eer en lewe uit. Ons sal goed doen om in alles vir Hom te eer en ons naaste soos onsself.

Vers 5. ’n Vals persoon – pervers, moreel krom en skeef, oneerlik, onopreg, skynheilig – se pad is besaai met uitdagings. Dit is vol dorings en wippe (vangnette). As jy jou lewe wil beskerm, moet jy wegbly van valsheid. Vers 6. Rig ’n jongmens af in die weë van die Here – “die pad wat hy moet loop” beteken die pad van die regverdige – en dit sal gewoontes skep wat tot in sy oudag sal hou.

Vers 7. Die harde ekonomiese werklikheid is dat rykdom mag gee oor armes. Dieselfde geld ‘n lening. Die lener is die slaaf van die een van wie hy leen. Dit is aan die een kant ’n waarskuwing. Moenie lui wees nie. Moenie leen nie. Dit is aan die ander kant ’n aanmoediging. Verlig armoede. Red mense wat vasgevang is in ’n situasie van uitbuiting. Ons almal is immers gelyk voor die Here (Spr 22:2).

Vers 8. Wie onreg saai, sal boosheid oes, en die lat van sy woedebui sal tot niet gaan. Die “lat van sy woedebui” dui op die straf wat hy uitdeel. Dit sal tot niks kom nie. (Die woord koning kom nie in die Hebreeuse teks voor nie. Ek sal dus eerder nie die 1983-vertaling hier gebruik nie.)

Vers 9. Wie arm mense met ’n “goeie oog” bejeën – dws mededeelsaam is deur hulle kos te gee – word geseën.

Vers 10. Harmonie word herstel wanneer respekloses – ligsinnige spotters – in die pad gesteek word. Dit bring die getwis en beledigings tot ’n end.

Vers 11. Hy wat reinheid van hart liefhet en sorg dat sy woorde vriendelik is – die koning is sy vriend. Die punt is, selfs konings hou van opregte aangename mense. Skynheiligheid is vir hulle ’n bedreiging.

Vers 12. Die Here hou sy oë oor die behoud van kennis, en dwarsboom die woorde van verraaiers. Dit wil sê, die alwetende God sorg self vir die behoud van kennis, wanneer onbetroubare mense dit bedreig. Hy sorg dus aan die een kant dat die regte insig behoue bly. Aan die ander kant sorg Hy dat die woorde van ’n onbetroubare mens geen uitwerking het nie. Dit is ‘n groot belofte om aan vas te klou! Soos Peterson vertaal: “GOD guards knowledge with a passion, but he’ll have nothing to do with deception. (The Message)

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-221-16-die-invloed-van-rykdom-en-armoede-op-verhoudings/

Psalm 119:73-80 – God se troue liefde is ons troos

27 Oktober

Psalm 119:73-80 – God se troue liefde is ons troos

י JOD 73U hande het my gemaak, my gevestig; maak my verstandig, ek wil u bevele leer. 74Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek. 75Ek weet, Here, dat u beslissings regverdig is, en dat U my in getrouheid verneder het. 76Laat u troue liefde tog vir my tot troos wees volgens u woord aan u dienskneg. 77Laat u ontferming my deel word, sodat ek kan lewe; want u wet is my vreugde. 78Laat vermeteles beskaamd staan, want sonder rede veronreg hulle my; maar ek sal bly nadink oor u opdragte. 79Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken. 80Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou, sodat ek nie beskaamd staan nie.

Die tiende deel van Psalm 119 is ryk aan betekenis. Om die waarheid te sê, daar is verskillende vertalings moontlik by ‘n hele paar woorde wat verskillende dimensies van die betekenis van die Psalm na vore bring.

Die eerste interessante veelvlakkige betekenis is in vers 73 waar die Psalmis sê: “Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm.” (1983-vertaling – “toeberei” in 1933/53-vertaling). Die laaste woord (kûn in Hebreeus) kan egter ook vertaal word in die betekenis van: “aan my ‘n plek gee” (2020-vertaling) of in die sin van “vestig” of “bevestig” (“establish” – LEB). Dit beteken dat die eerste deel van dié vers God se skeppende werk in ons geboorte bevestig, sowel as sy voortgaande werk in terme van ons “vorming”, “bevestiging” en selfs die “plek” wat Hy vir ons in die lewe gee.

Maar, dit is nie al nie. Ná dié belydenis van God se skeppende en vormende werk in sy lewe, bid die Psalmis dan in die tweede plek: “maak my verstandig, dat ek u bevele kan leer.” (2020-vertaling). Hy wil as’t ware voltooi word, meer insig in God se wil bekom, sodat sy lewe op alle vlakke aan God se visie vir hom kan beantwoord. Soos die 2983-vertaling vertaal: “Gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan.” En soos Peterson dit effens anders vertaal: “now breathe your wisdom over me so I can understand you.” (The Message).

God se kreatiewe werk in ons word dus voortgesit deur ‘n al hoe beter begrip en bemeestering van sy wil, soos uitgedruk in sy bevele (mizwôt – “commandments”). En die effek daarvan is nie net ‘n al hoe meer volwasse moreel-etiese persoonlike lewe vir die Psalmis nie, maar ook ‘n publieke getuienis aan die geloofsgemeenskap: “Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek.” (2020-vertaling). Elkeen wat die Here dien, kan moed skep uit die feit dat ook die Psalmis se insig deur God self gevorm word, dat dit sigbaar is, en dat dit van groei getuig. Die sigbare groei steek die hoop by hulle aan dat dit ook vir hulle waar kan wees. Soos Paulus veel later vir Timoteus sou sê: “Lê jou toe op hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vordering vir almal duidelik kan wees … Want sodoende sal jy jouself red en ook hulle wat na jou luister.” (1 Tim 4:15-16).

Die getuieniskrag van sy lewe laat die Psalmis dus anders kyk na die Here se beslissings. Dit hou vier aspekte in:

  1. Hy erken God se beslissings omdat dit sy getuienis vorm. Hy weet God is regverdig, en as daar vir hom vernedering langs die pad is, gebeur dit nie buite-om God se getrouheid nie. Om die waarheid te sê, swaarkry is deel van God se getrouheid. Nie net bewaar Hy ons daarin nie – of dit nou weens ons eie skuld of die skuld van ander is. God gebruik dit as deel van ons getuienis aan die geloofsgemeenskap wat ander laat moed skep om hulle eie pad na volwassenheid met die Here te loop. Dié erkenning is lewensnoodsaaklik vir groei in jou lewe.
  2. Hy bid vir konkrete bewyse van God se troue liefde. Hy bid dat die troue liefde van die Here steeds vir hom tot ‘n troos sal wees, in antwoord op die beloftes van die Here in dié verband. Trouens hy wil God se ontferming konkreet in sy lewe ervaar, sodat sy vreugde in die wet geëggo kan word in sy lewensvreugde, veral omdat die vermeteles en hovaardiges hom veronreg met leuens terwyl hy probeer om sy lewe in te rig volgens sy verdieping in God se woorde. Ons mag dus hiervoor vra.
  3. Hy bid ook dat die Here vir hom mense sal gee om hom te ondersteun. “Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken.” Die geloofsgemeenskap is van onskatbare waarde in ‘n volhardende geestelike lewe.
  4. Hy bid dat die Here self in sy lewe, veral sy hart, sal werk. Dit is die belangrikste van alles. Hy bid dat die Here self sal keer dat hy beskaam word in sy lojaliteit aan God: “Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou.”

Inderdaad – my gebed ook vir myself vir hierdie dag.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11973-80-jod-u-hande-het-my-gemaak-en-aan-my-n-plek-gegee/

2 Tessalonisense 1:1-12 – God is regverdig en betroubaar

26 Oktober

2 Tessalonisense 1:1-12 – God is regverdig en betroubaar

1Paulus en Silvanus en Timoteus, aan die gemeente van Tessalonika in God, ons Vader, en die Here Jesus Christus: 2Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. 3Soos dit gepas is, moet ons God altyd oor julle dank, broers, omdat julle geloof uitermate groei, en een en almal van julle se liefde vir mekaar toeneem. 4Daarom spog ons op ons beurt onder die gemeentes van God oor julle volharding en geloofsvertroue, te midde van al die vervolging en verdrukking wat julle verduur. 5Dit is ‘n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly. 6Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld, 7en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word. Hy sal dit doen deur die openbaring van die Here Jesus uit die hemel saam met sy magtige engele, 8in ‘n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen op hulle wat God nie erken, en die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Hulle sal gestraf word met ewige vernietiging, weg van die aangesig van die Here en sy magtige heerlikheid. 10Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy kom om deur sy heiliges verheerlik te word – ja, om deur alle gelowiges bewonder te word – omdat ons getuienis teenoor julle geglo is. 11Met die oog hierop bid ons ook altyd vir julle, dat ons God julle vir hierdie roeping waardig sal ag, en dat Hy deur sy krag al julle goeie begeertes en geloofsdade ten volle sal verwesenlik, 12sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word, op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus.

Paulus is dankbaar om te hoor van die gemeente in Tessalonika dat hulle geloof en liefde sterk toeneem, “uitermate groei” (‘n skaars Griekse woord huperauxano wat supergroei beteken!), ten spyte van vervolging en lyding. Paulus dank God daarvoor, en praat met trots daarvan in al die ander gemeentes. En dan bemoedig hy hulle om te volhard daarin deur na twee eienskappe van God te verwys:

  1. God se regverdigheid, wat nie sal toelaat dat die lyding wat hulle verduur ongestraf sal verbygaan nie. Die mense wat hulle nou laat ly, sal gestraf word met die ewige verdoemenis. Let op dat vers 8 nie soseer praat oor twee groepe mense nie, maar oor een. Die tweede frase: “die wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” verduidelik die eerste frase: “die mense … wat nie vir God ken nie”. En dit dui hier op die vervolgers van die gelowiges in Tessalonika. Let op hoe die verdoemenis geteken word as “altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here” (vers 9). Calvyn het gepraat van ’n straf met ‘n “onsterflike dood”.
  2. God se betroubaarheid, wat nie net sal straf nie, maar ook sal sorg dat hulle daar sal wees om te deel in die verheerliking wat kom. Let op dat Gód verheerlik sal word deur hulle standvastige geloof EN dat húlle deur Hom verheerlik sal word (vers 12).

Paulus sluit dié hoofstuk met ’n gebed dat God hulle waardig sal maak vir dié lewe waartoe Hy hulle geroep het, dat Hy hulle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome sal maak – woorde wat herinner aan die eerste brief (vgl 1 Tes 1:3; 5:8). Die boodskap bevredig my eie sin vir regverdigheid – lyding is nie maar toevallig of verniet nie – en gee my hoop – God sal my waardig maak vir die lewe waartoe Hy my geroep het. Ek kan op sy regverdigheid en betroubaarheid staatmaak, in my bediening en lewe.

Lees meer: https://bybelskool.com/2-tessalonisense-1-god-is-regverdig-en-betroubaar/

Onlangse kommentaar