Spreuke 20 – Wag op die Here, sodat Hy jou help
Spreuke 20 – Wag op die Here, sodat Hy jou help
20Wie sy vader en moeder vloek – sy lamp word uitgedoof in diepe duisternis. 21‘n Erfenis aanvanklik oorhaastig verkry, sal uiteindelik nie geseënd wees nie. 22Moenie sê, “Ek wil die kwaad vergeld” nie; wag op die Here, sodat Hy jou help. 23Twee soorte gewigte is vir die Here afstootlik, en ‘n vals weegskaal is nie goed nie. 24Die Here bepaal ‘n man se treë; en ‘n mens, hoe sal hy dan sy eie pad verstaan? 25Dit is ‘n valstrik vir ‘n mens as hy onnadenkend sê, “Heilig!” om dan eers ná die geloftes daaroor na te dink. 26‘n Wyse koning sif goddeloses uit en laat die dorswiel oor hulle loop. 27Die asem van die mens is die Here se lamp; daarmee deursoek Hy al die kamers van die binneste. 28Troue liefde en waarheid beveilig ‘n koning; ja, met troue liefde stut hy sy troon.
Die spreuke van hoofstuk 20 is weereens woordprentjies van die wyse lewe teenoor die dwase een. In elkeen word ‘n lewensituasie op ‘n baie bondige, maar ook boeiende manier geskilder, waarin die lewenswysheid van die Spreukedigter, Salomo, weergegee word. Die onderwerpe word uit alle lewensfere geneem: die ekonomie, die politiek, die regbank, die geestelike lewe, die gesinslewe, en die sosiale lewe. Hier is ‘n paar uit Spreuke 20:20-28.
Vers 20 is begrond in die vyfde gebod, om jou pa en ma te eer (vgl Eks 20:12). Dit is ook die enigste gebod waaraan ’n belofte gekoppel is: “dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.” Wie dus sy pa of sy ma (ver)vloek – dit sluit in om hulle “lig te skat, te ignoreer, as waardeloos te reken, of met minagting te hanteer” – sy (lewens)lamp gaan in pikdonker dood. Dit is om soos in ’n swart gat ingesluk te word waaruit geen ontsnapping moontlik is nie. Onthou ook dat Bybels gesproke gegeld het of jy nou van hulle gehou het of nie. Só word dit ook in die NT geleer (vgl Ef 6:1-9). Trouens, hierdie respek word aan alle gesagsinstansies gegee: “omdat die Here dit wil” (vgl 1 Pet 2:13-18). Spreuke sal nog twee keer soortgelyke uitsprake maak (vgl Spr 30:11, 17).
Vers 21 sluit aan by die vorige spreuk in Spreuke 13:11 se waarneming van die inherente onstabiliteit van rykdom en waarsku dat ’n besit wat haastig – dit kan ook oneerlik wees – bymekaar gemaak word, nie kan hou nie (vgl Spr 21:5-6; 28:20, 22). Dink aan die seun in die gelykenis van die Verlore Seun wat sy erfporsie voortydig ingepalm het, en dit tot die laaste sent verkwis het (vgl Luk 15:12).
Vers 22 beklemtoon dat vergelding vir die kwaad die Here se domein is. Dit berus op die uitspraak in die wet: “My kom die wraak toe en die vergelding.” (Deut 32:35). Paulus baseer sy lering hierop: “Oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rom 12:17-21). As ’n mens die Here vertrou om geregtigheid te laat geskied, kan jy dit waag om goed te doen selfs al doen ander kwaad aan jou. Kan jy wag dat Hy jou help.
Vers 23 beklemtoon weereens dat die Here bedrog haat. Hy gril vir onregverdige besigheid (vgl vers 10 vir dieselfde gedagte).
Vers 24 formuleer ’n diep waarheid. God bepaal ’n mens se koers, want Hy ken ons pad van begin tot end. Wysheid is dus om baie naby aan Hom te leef, maak nie saak hoe daardie pad ontvou nie. Dié spreuk is daarom beide ‘n waarskuwing dat ons nie moet dink dat ons op ons eie kan regkom nie, maar ook ‘n vertroosting, dat in ons soeke na sy wil, ons op Sy betrokkenheid kan reken.
Vers 25 waarsku tereg dat jy vir jouself ’n strik stel as jy oorhaastig iets aan die Here belowe en eers agterna besef wat jy regtig belowe het. Bereken die koste voor jy belowe! Vergelyk Prediker 5:4: “Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.”
Vers 26.’ n Wyse koning oordeel met integriteit en ontbloot en straf goddelose mense. Spreuke gebruik die metafoor van ’n klipwiel wat op ’n dorsvloer oor die koring gerol word om die koring se dop te breek. Só maak die koning met bose mense. Daarvoor het hy natuurlik self integriteit nodig (Spr 20:8) sowel as liefde en trou aan sy lojale onderdane (Spr 20:28).
Vers 27 verwys na die skepping van die mens waar God die “asem van die lewe” in Adam ingeblaas het (nišmat – Gen 2:7). Daarom word dit hier vertaal met “gees”. Dit is daardie geestelike dimensie van ons wese waarmee ons met God in kontak kom. Dit is die setel van ons morele, intellektuele en geestelike vermoëns. Sommige vertaal dit daarom ook met “gewete”. Die metafoor waarmee hier gewerk word is dat die “gees” van die mens soos ’n lamp van die Here is wat van kamer tot kamer in die innerlike mens gaan om God se lig daarop te laat skyn. Spreuke sê hiermee dat ons in ons gees weet wat God wil hê. Dit is die deel waar die Gees met ons werk, soos Paulus ons in die NT leer (Rom 9:1).
Vers 28. Troue liefde (ḥeseḏ) en waarheid (ʾěměṯ) bevestig die heerskappy van ‘n koning op ’n volhoubare manier. Die eerste reël van die vers verwys na die troue liefde en betroubaarheid van die koning. Die tweede reël van die vers na God se troue liefde vir die koning, die verbond met Dawid wat die basis van koningskap vorm (vgl 2 Sam 7).
Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-201-30-erken-god-in-alles/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar