Skip to main content

Habakuk 3:1-19 – God maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat hy my loop

24 Oktober

Ek het vroeër dié jaar reeds na die belofte in Habakuk 2:1-4 gekyk. Jy kan dit hier lees: https://bybelskool.com/habakuk-21-4-die-regverdige-sal-deur-sy-betroubaarheid-lewe/ Ek hanteer dus hier die wonderlike beloftes van Habakuk 3.

Habakuk 3:1-19 – God maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat hy my loop

1‘n Gebed van Habakuk, die profeet. Op Sjighjonoot. 2 Here, toe ek van u roem gehoor het, is ek met ontsag vervul. U dade, Here, maak dit ‘n werklikheid in hierdie tye; laat dit in hierdie tye bekend word. Onthou om barmhartig te wees te midde van ontsteltenis.

3Toe God uit Teman kom, die Heilige van die Paranberge, Sela het sy luister die hemelruim bedek, sy lof die aarde gevul. 4Skitterend soos sonlig was die ligstrale uit sy hand; daarin het krag geskuil. 5Voor Hom loop pessiektes, op sy spore volg plae. 6Hy het gaan staan, en die aarde laat  bewe; Hy het net gekyk, en die nasies laat opspring. Die oeroue berge het verbrokkel, die ewige heuwels het laag gebuk. Die ewige wentelbane van die sterre behoort immers aan Hom. 7Ek het gesien die tente van Kusan verkeer in nood, die tentdoeke van die land Midian sidder. 8 Here, het u toorn teen die riviere ontbrand? Is u toorn teen die riviere, of is u gramskap teen die see gerig, dat U met u perde op u strydwaens ry vir verlossing? 9U boog is heeltemal ontbloot, “sewe knuppels!” was die bevel; Sela vir strome kloof U die aarde oop. 10-11Berge het U gesien, hulle het ineengekrimp; ‘n donderende wolkbreuk het verbygetrek; die oerwater het sy stem laat hoor. Hoog het die son sy hande gelig; die maan het stilgestaan in sy hoë woning, vir die lig van u pyle wat verbyvlieg, vir die glans van u blitsende spies. 12In verontwaardiging stap U oor die aarde, in toorn trap U nasies plat. 13U trek op tot die redding van u volk, U kom tot die redding van u gesalfde. U verpletter koppe; U ontbloot die binneste van die goddelose van die heup tot die nek. Sela 14U splyt met sy knuppels die koppe van sy magtiges wanneer hulle aanstorm om my te verstrooi, wanneer dit hulle vreugde is om die weerlose in ‘n skuilplek te verslind. 15U het met u perde die see getrap, daardie skuimende watermassa.

16Toe ek dit hoor, het my ingewande geril, vir die geluid daarvan het my lippe gebewe, ‘n lamheid het in my gebeente gekom; ja, ek het daar gestaan en bewe, want ek moes wag vir die dag van benoudheid om aan te breek vir die volk wat ons aanval.

17Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; 18nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. 19Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop. Vir die musiekleier. Met snarespel.

Die eerste twee hoofstukke van die boek Habakuk is ‘n roerende gesprek tussen die profeet Habakuk en God. Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument. Hy wonder hoe God sulke onreg kan verdra en vra of God dan nie sal ingryp nie. Die Here stel vir Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf, onder andere met sy oordeel ook oor sy oordeelsinstrument, die Galdeërs. Dit is immers dié wat reg doen, wat sal lewe weens hulle getrouheid, verseker die Here vir Habakuk (Hab 2:4). Ellende daarenteen wag op almal wat plunder, knoei en onreg pleeg. En dit is hierdie antwoord wat Habakuk tot rus bring en sy gebed laat skryf wat ons in hoofstuk 3 opgeteken het.

Habakuk begin sy gebed met ‘n smeking dat die Here weer kragtig sal optree soos in die verlede. Hy spel in vers 3-15 dié dinge uit wat hy van God uit die geskiedenis leer ken het. Soos hy die dinge een na die ander opnoem, oortuig dit hom dat die Here die volk sál red en die goddelose Galdeërs sál verpletter. Daarom sluit hy in vers 16-19 af met die besef dat hy maar kán wag vir die uitkoms van die Here. Die uitkoms kom verseker al sien hy nog niks daarvan nie. Hy kan dus geduldig wag daarop al beleef hy nou niks daarvan nie. Al lyk dit asof alles verkeerd is, kan hy nógtans nou reeds die Here loof vir wat Hy sál doen om dit reg te stel. Die Here is in beheer van beide die oordeel as die redding.

Hy sê daarom op daardie onvergelyklike inspirerende manier van hom: “Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos.” (Hab 3:18-19). Hoekom? Want hy het die uitkoms gesien – die volk se redding en die vyand se nederlaag. Hy weet dus dat God nie dié versaak wat hulle toevlug tot Hom neem nie. Trouens, dit gee hom krag in die hoop dat hy self deel van die verandering kan wees wat die Here sal bring. “Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop” (en let op die “my” hoë plekke – dws dit is op die plekke wat hom bang maak!)

Die gebed van Habakuk gee vir ons as geloofsgemeenskap drie liturgiese bewegings wat ons in negatiewe omstandighede kan gebruik om tot die Here te nader:

  1. In die eerste plek kan ons ons behoefte aan redding en uitkoms eerlik aan die Here bekend maak. Ons kan die Here herinner aan die kragtige dade wat Hy in die verlede in die geloofsgemeenskap deur die eeue gedoen het. Dit bly die plek wat ons eerste opsoek in ons verhouding met die Here, die geestelike merkers van die pad wat ons met Hom tot hier geloop het.
  2. In die tweede plek kan ons die prentjies van redding en uitkoms wat die Here vir ons gee in ons gebed gebruik, veral dié wat begrond is in sy beloftes in die Bybel. God se skeppingsmag, die ontsag waarmee mense deur die eeue Hom bejeën, en die ingrype in die wel en wee van die nasies, is alles dinge wat ons in ons gebede kan gebruik, totdat die begrip van wat die Here nóú wil doen, vir ons oopgaan. Die Bybel en die verhale van God se verlossende oordeel speel hierin ‘n belangrike rol. Dit stimuleer ons verbeelding in ons gesamentlike gebed tot die Here.
  3. In die derde plek kan ons dieselfde geduld van Habakuk aan die dag lê. Verandering kom van die Here af. Daarop kan ons ons hoop stel. Daarin kan ons ons verbly: “Nogtans sal ek in die Here jubel.” Geduld bring ook verandering in ons eie gemoed en gedrag. Geduld help ons om vas te gryp aan die Here en Hom te vertrou en aktief op Hom te wag. Wanneer ons dit reg kry om geduldig op Hom te wag, begin ons ook ervaar dat Hy ons krag gee en ons voete soos dié van ‘n ribbok maak. Dán kry ons dit reg om op hoë plekke veilig te loop. Dán raak ons baie kere self katalisators in die verandering wat die Here bring.

Lees meer: https://bybelskool.com/habakuk-31-19-habakuk-jubel-in-die-god-wat-tot-die-redding-van-sy-mense-sal-kom/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar