Skip to main content

Spreuke 21:1-3, 12, 15, 21, 30-31 – Niks kan God troef om geregtigheid te laat geskied nie

21 Oktober

Spreuke 21:1-3, 12, 15, 21, 30-31 – Niks kan God troef om geregtigheid te laat geskied nie

1Die koning se hart is waterstrome in die hand van die Here: Hy lei dit waarheen Hy wil. 2Elke pad van ‘n mens is reg in sy eie oë, maar die Here toets harte. 3Om te doen wat reg en billik is, is vir die Here verkieslik bo offers.

7Die gewelddade van goddeloses sleep hulle weg, want hulle weier om te doen wat reg is.

12Die Regverdige hou ‘n goddelose se huis dop; Hy stort goddeloses in die ongeluk.

15Dit is ‘n vreugde vir die regverdige wanneer reg geskied, maar ‘n verskrikking vir boosdoeners.

18‘n Goddelose word ‘n losprys vir die regverdige, en ‘n verraderlike mens neem die plek in van opregtes.

21Wie geregtigheid en troue liefde najaag, vind lewe, geregtigheid en eer.

30Geen wysheid, geen verstandigheid, ja, geen raad hou stand teen die Here nie. 31‘n Perd kan afgerig word vir die dag van ‘n geveg, maar die oorwinning is van die Here

Spreuke 21 toon van meet af aan meer van ‘n eenheid as van die ander hoofstukke in hierdie versameling van Salomo se spreuke. Dit begin en eindig met ‘n verwoording van God se aktiewe betrokkenheid in alles wat gebeur, van die koning af regdeur tot by gewone mense (vgl Spr 21:1-3; 21:30-31). Vyf keer word die woord “reg” en twee keer die woord “geregtigheid” gebruik om die lewenstyl wat God se guns wegdra, uit te druk, veral in die sin van ‘n hoë premie te stel om goeie verhoudings oor die spektrum van die lewe te handhaaf (vgl Spr 21:2, 3, 7, 15, 18, 21). Dit verskaf die goue draad wat die spreuke by mekaar laat pas. Die kersie op die koek – die sleutel om die hoofstuk se boodskap te verstaan – is die spreuk wat die herstel van verhoudings in God se regverdigheid sien – die “Regverdige Een” soos die “regverdige” daar vertaal kan word (Spr 21:12). God se reg en geregtigheid motiveer ons om goeie verhoudinge te handhaaf. Ons kan Hom immers vertrou om dinge reg te stel. Dit is dan ook die verse wat ek hieronder hanteer.

Vers 1. Die Here bepaal ‘n koning se koers. Sy wil en hart (besluite) is in God se hand. Hy lei dit soos ‘n stroom water in God se rigting. Dit gee ‘n mens moed om God se hand aktief te soek in alles wat gebeur, selfs wanneer jy geen direkte invloed daarop kan uitoefen nie. Soos Richard Niebuhr so raak gesê het: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to his action.” (The Responsible Self).  Dit geld ook die invloed van die konings van hierdie wêreld.

Vers 2. Jy kan die Here nie flous met jou planne nie, want Hy toets of weeg die hart – jou karakter, jou gesindheid en motiverings, jou besluite (vgl Spr 16:2). Spreuke 17:3 sluit hierby aan en spel uit hoe God “harte” toets: Hy louter dit soos ‘n mens goud in ‘n oond hanteer, dws onder buitengewone “warm” omstandighede!

Vers 3. Reg en geregtigheid (billikheid) – gehoorsaamheid aan God se bevele in die Skrif – is vir God beter as offerandes. So leer onder andere die profete Samuel (“gehoorsaamheid is beter as offerande” – 1 Sam 15:22), Jesaja (“Ek verdra nie feesviering saam met onreg nie” – Jes 1:13), Jeremia (“julle moet leef soos Ek julle beveel” – Jer 7:22-23), en Hosea (“Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied” – Hos 6:8) ons ook. Daarmee word offerandes nie afgeskiet nie, maar hulle waardeloosheid uitgewys as dit nie gepaard gaan met ’n regverdige lewe nie. God se guns kan nie “gekoop” word met offerandes nie. Hy soek absolute gehoorsaamheid aan sy geopenbaarde wil in die Skrif.

Vers 7. Die geweld van goddeloses wreek hom op hulleself weens hulle onvermoë om verhoudings (reg doen) in stand te hou. Hulle is soos kaf wat wegwaai in die wind.

Vers 15. Wanneer reg geskied, gee dit regverdiges moed, en ontkrag dit onregverdiges.

Vers 18. Bykans alle mense verkies eerlike en betroubare persone. Hulle “ruil” maklik ’n goddelose vir ’n regverdige, en ’n onbetroubare vir ’n betroubare een.

Vers 21 spel weer die twee dinge uit waarop ’n mens moet fokus: om reg te doen (dié dinge wat die Here vra), en om troue liefde in al jou verhoudings te bewys. Dit bring lewe, oorvloed en eer.

Vers 30-31 is ’n eenheid. God se wil gee in alles die deurslag, nie ons wysheid, insig of besluite nie. “Nothing clever, nothing conceived, nothing contrived, can get the better of God.” (The Message). Jy kan die beste planne maak – perde afrig vir die oorlog – maar dit is die Here wat die oorwinning gee (vgl Job 5:12-13). Positief gestel: “Do your best, prepare for the worst – then trust God to bring victory.” (The Message)

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-211-31-god-se-geregtigheid-motiveer-ons-tot-goeie-verhoudinge/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar