Skip to main content

Tag: Beloftes

2 Tessalonisense 3:1-18 – Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar

9 November

2 Tessalonisense 3:1-18 – Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar

1Ten slotte, broers, bid vir ons, dat die woord van die Here vinnig sy loop sal neem, en net soos by julle, geprys sal word, 2en dat ons gered sal word van die kwaadwillige en bose mense; want nie almal het geloof nie. 3Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar. 4Deur die Here vertrou ons dat julle ook dit doen, en sal aanhou doen, wat ons julle beveel het. 5Mag die Here julle harte rig op die liefde van God en die volharding van Christus. 6Maar ons beveel julle in die Naam van ons Here Jesus Christus, broers, dat julle elke broer moet vermy wat hom onordelik gedra, en nie optree volgens die oorlewering wat hulle van ons ontvang het nie. 7Julle weet tog self hoe nodig dit is dat julle ons voorbeeld volg. Ons het ons immers nie onordelik onder julle gedra nie; 8ons het niemand se brood sonder betaling geëet nie, maar met swoeg en sweet, bedags en snags gewerk, sodat ons vir niemand van julle ‘n las sou wees nie – 9nie dat ons nie die reg daartoe gehad het nie, maar sodat ons onsself vir julle as voorbeeld kon stel om na te volg. 10Want juis toe ons by julle was, het ons julle steeds beveel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie behoort te eet nie. 11Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. 12Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien. 13Maar julle, broers, julle moenie moeg word om goed te doen nie. 14As iemand egter nie ons opdrag in hierdie brief gehoorsaam nie, merk hom, en vermy hom, sodat hy skaam kry. 15Julle moet hom egter nie as ‘n vyand beskou nie, maar vermaan hom as ‘n broer. 16Mag die Here van vrede self, te alle tye en op elke manier, vir julle vrede gee. Die Here bly met julle almal. 17Dié groetwoord in my eie handskrif: Van Paulus. Dit is my waarmerk in elke brief. Só skryf ek. 18Die genade van ons Here Jesus Christus bly met julle almal!

Die Bose is natuurlik nie net beperk tot die persoon van die Satan self of die wetteloosheid wat aan die werk is in die wêreld nie. Verkeerde (letterlik: mense wat uit plek uit is!) en slegte mense kom ook in die geledere van die gemeente voor: “nie almal is gelowiges nie.” Interessant is Paulus se voorskrif nie dat sulke mense uitgesnuffel moet word en uit die gemeente geban moet word nie. ’n Mens kan natuurlik lelike foute op dié manier begaan. Hy skryf gebed voor die gemeente en vir die werkers in die wingerd van die Here. Dit is na alles God wat ons van die Bose bewaar. Dit is sy belofte aan ons ( vgl Matt 6:13).

Paulus se voorskrif tot gebed ook vir die werkers herinner aan Jesus se opdrag in Lukas 10:2: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.” Maar die Woord word nie net deur die volgehoue arbeid van geestelike werkers versprei nie, maar spesifiek ook deur die gebede van die gemeente vir die bestaande werkers, in dié geval Paulus-hulle. Vers 5 spoor die gemeente aan om aan die een kant God se liefde vir hulle te onthou. Dit sal hulle versterk. Maar Hy hou ook die voorbeeld van Christus voor, spesifiek sy volharding. Dit sal hulle moed gee om hulle eie geloofswedloop te voltooi.

Paulus moedig dan die Tessalonisense aan om nie leeg te lê nie, maar hulle eie brood te verdien, soos Spreuke 14:23 ook sê: “Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.” Dit bring natuurlik nie net voordeel vir hulleself nie, maar ook vir die koninkryk. Hierin kan hulle Paulus se voorbeeld volg, wat self vir sy eie brood gewerk het in Tessalonika, al kon hy eintlik sy reg as apostel uitgeoefen het om van hulle voorsiening gebruik te maak. Sy opdrag aan die gemeente om hulle aan leeglêers te onttrek kan moontlik die eerste vorm van sensuur in die Christelike kerk wees. Dit is ook interessant dat die doel is om die oortreder terug te wen deur hom skaam te maak. Dit moet egter nie in ’n vyandige gesindheid geskied nie, omdat dit die saak van die evangelie sou skaad. Hy sluit die brief af met ’n bemoediging tot volharding in goed doen, sowel as ’n seënbede, in sy eie handskrif.

Lees meer (‘n preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/2-tessalonisense-36-13-moenie-moeg-word-om-goed-te-doen-nie/

Psalm 12 – Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring

8 November

Psalm 12 – Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring

1Vir die musiekleier. Op “Die agtste”. ‘n Psalm. Van Dawid. 2Verlos tog, Here! Want daar is nie meer getroue volgelinge nie; die betroubares onder die mense het verdwyn. 3Die een mens belieg die ander; met vleiende lippe praat hulle uit twee monde. 4Mag die Here al die vleiende lippe uitroei, die tonge wat grootpraat, 5hulle wat sê: “Danksy ons tonge is ons sterk; ons lippe is onder ons beheer. Wie is heer oor ons?” 6“Vanweë die geweld teen die magteloses, die gesug van die behoeftiges, gaan Ek nóú opstaan,” sê die Here. “Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring.” 7Die Here se woorde is suiwer woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltoond in die grond, dit is sewe maal gesuiwer. 8U, Here, moet hulle beskerm; U moet elkeen altyd veilig hou teen hierdie geslag. 9Oral loop goddeloses rond, terwyl die gemeenheid van mensekinders hoogty vier.

Die Psalmis worstel met die gebrek aan betroubaarheid in die gemeenskap wat van die wêreld ’n onveilige plek maak. En dit is die armes wat die meeste daaronder ly. Daarom maak hy staat op die Here se beskerming en hulp midde in die goddeloosheid en onreg wat hoogty vier.

Let op hoe die Psalm menslike vleitaal (12:2-5) met Goddelike betroubare woorde (12:6-9) kontrasteer. Die vleitaal kom uit ‘n dubbele hart – die Hebreeus in vers 3 sê letterlik: “met vleiende lippe spreek hulle uit ’n dubbele hart”. Dit beteken, hulle weet in hulle hart (hart as die setel van die gedagtes in die Jode se verstaan – die niere was as die setel van emosies gereken) wat die regte ding is, maar kies om anders te praat of vanuit ‘n ander hart te leef. Nog dieper as hierdie onbetroubaarheid is hulle hoogmoed, wat na vore kom in hulle grootpratery, en boonop om te dink hulle sal wegkom daarmee. Hulle buig voor niemand nie. Hierdie gebrek aan betroubaarheid bring egter die lewe self in gedrang.

Maar … die vertrapping van die swakkes en armes bring God in beweging en laat Hom belowe om hulle te hulp te kom! “Vanweë die geweld teen die magteloses, die gesug van die behoeftiges, gaan Ek nóú opstaan,” sê die Here. ‘Ek sal hulle wat daarna smag na veiligheid bring.’” (vers 6). Dit is die belofte wat die Psalmis aangryp en waaraan hy die Here herinner, eintlik meer in ’n stelling as in ’n vraag of gebed: “U, Here, moet hulle beskerm; U moet elkeen altyd veilig hou teen hierdie geslag. Oral loop goddeloses rond, terwyl die gemeenheid van mensekinders hoogty vier” (vers 8-9).

Craigie sê hiervan: ”The danger experienced in mortal speech was to be repelled by the power inherent in divine speech. For those who experience the assault of evil speech, the solution is not to be found in the return of evil speech to enemies, but in confidence in the Word of God, which is firm and cannot be moved.” (Psalms)

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-12-vertrou-op-die-beloftes-van-die-here/

Jesaja 65:17-25 – Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord

7 November

Dit is binnekort die laaste van ons reeks van 365 belofte. Ons maak hierdie projek die 24ste November klaar.

  • Ek sal graag wil hoor wat hierdie jaar se reis vir jou beteken het.
  • Ek sal ook graag wil hoor watter behoeftes Bybelskool verder kan aanspreek.
  • E-pos of Whatsapp my. Dit sal my help in my beplanning vorentoe.

Jesaja 65:17-25 – Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord

17“Ja, Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Aan die vroeëres sal nie meer gedink word nie; dit sal nie in mense se gedagtes opkom nie. 18Maar wees bly en juig vir altyd oor wat Ek gaan skep. Ja, kyk, Ek gaan Jerusalem skep as iets om oor te juig, en haar volk tot ‘n vreugde. 19Ek sal oor Jerusalem juig en oor my volk bly wees. In haar sal die klank van gehuil nie weer gehoor word nie, ook nie die klank van ‘n geroep om hulp nie. 20Daar sal nie meer ‘n suigeling wees van net enkele dae, of ‘n bejaarde wat nie sy lewensdae voltooi nie. Want die jongste sal op honderd jaar sterf, en wie nie honderd jaar bereik nie, sal as ‘n vervloekte beskou word. 21Hulle sal huise bou en bewoon; hulle sal wingerde plant en die vrugte daarvan eet. 22Hulle sal nie bou, sodat ‘n ander dit bewoon nie, of plant, sodat ‘n ander dit eet nie. Want soos die lewensdae van ‘n boom, sal die lewensdae van my volk wees. Die arbeid van hulle hande sal my uitverkorenes self geniet. 23Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie; hulle sal nie kinders verwek vir ‘n verskriklike lot nie; want hulle sal ‘n geslag geseëndes van die Here wees, en hulle nakomelinge saam met hulle. 24Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord; hulle sal nog besig wees om te praat, dan verhoor Ek hulle al. 25‘n Wolf en ‘n lam sal saam wei, ‘n leeu sal soos ‘n bees hooi eet; maar ‘n slang – stof sal sy kos wees. Mense sal nie kwaad aanrig of hulle wangedra nie – nêrens op my hele heilige berg nie,” sê die Here.

God gee in sy antwoord op Jesaja se gebed vir die volk ‘n perspektief op die heerlike toekoms wat vir hulle wag. Hy beklemtoon wel eerstens dat daar steeds oordeel sal wees vir dié wat aanhou om te sondig (Jes 65:1-16), maar vir dié wat na sy wil vra, sal ‘n heerlike toekoms aanbreek, ‘n nuwe hemel en aarde (Jes 65:17-25).

Let op dat God ‘n nuwe hemel en aarde skep om opnuut bly te kan wees oor sy mense en saam met hulle te leef sonder dat daar rampe of ‘n einde weens ouderdom sal wees. Hierdie nuwe toekoms belowe verandering op alle vlakke:

  • LEWENSVREUGDE: vreugde onder alle inwoners, geen smart of nood, geen kindersterftes, ‘n lang lewe vir almal (100-jariges is jonk!),
  • ARBEIDSVREUGDE: eie druiwe eet, self die vrug van handewerk geniet, nie tevergeefs vermoei nie;
  • VEILIGHEID: veilige huise, veiligheid van rampe, veiligheid as volk, veiligheid tussen diere in die natuur, niks verkeerds word gedoen nie, niks word vernietig nie;

Vreugde en veiligheid – dít is die substansie van die nuwe hemel en nuwe aarde!

Let verder op:

  • God wil goed doen, selfs aan dié mense wat Hom nie soek nie. Hy sal uit sy pad gaan om hulle te bereik. Ons kan ook daarvoor bid. Selfs in God se oordeel kan daar uitkoms wees, en ons kan mense daartoe uitnooi. God is nie ’n ontoeganklike afsydige wese nie.
  • God oordeel diegene wat Hom ken, maar Hom nie langer wil erken en na Hom luister nie. Vir ‘n Jeremia het die Here nie verniet eenmaal net voor die ballingskap van die 6de eeu vC gesê nie, selfs al sal die groot Intersessors, Moses en Samuel, vra dat Hy sy oordeel afwend, sal Hy dit nie doen nie (Jer 15:1). Daar kom ‘n tyd wat ‘n positiewe antwoord op gebed nie meer gegee kan of sal word nie. God is nie ‘n onaktiewe wese nie. Hy tree op waar sy eer in gedrang kom.
  • God doen goed aan mense wat na Hom luister en Hom dien. Hy antwoord hul gebede. Trouens, Hy antwoord voordat hulle roep! Daarvan getuig Jesaja hier, en vele ander gedeeltes in die Bybel. Dit is ook die ervaring van gelowiges regdeur die eeue. Dit beteken nie dat ‘n mens alles kry presies soos jy dit vra nie, al gebeur dit meer as wat die meeste ongelowiges wil erken. Dit beteken ook nie dat jy alle leed en pyn en lyding gespaar word nie. Dit sou ‘n tipiese voorspoedsteologie jou belowe, wat egter nie deur Christene se ervarings deur die eeue bevestig word nie. Lees maar net Hebreërs 11 daaroor. God is nie ‘n outomatiese slotmasjien wat jou gee net wat jy vra nie. Hy is soos ‘n pa of ‘n ma wat binne ‘n verhouding vir ons gee wat ons nodig het binne die groter plan wat Hy met die wêreld het.

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-65-terwyl-hulle-nog-praat-sal-ek-hulle-gebed-verhoor/

Lukas 20:27-38 – Die opstanding uit die dood is vir dié wat waardig geag word vir die toekomstige bedeling

6 November

Lukas 20:27-38 – Die opstanding uit die dood is vir dié wat waardig geag word vir die toekomstige bedeling

27Sommige van die Sadduseërs, wat sê dat daar nie ‘n opstanding is nie, kom toe en vra Hom: 28“Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer getroud is en kinderloos sterf, sy broer die vrou moet neem en vir sy broer ‘n nageslag verwek.’ 29So was daar eenmaal sewe broers. Die eerste een het ‘n vrou geneem, maar kinderloos gesterf. 30Ook die tweede 31en die derde broer het met haar getrou. En net so, sonder dat hulle kinders nagelaat het, het al sewe broers gesterf. 32Ten laaste het ook die vrou gesterf. 33Hierdie vrou, wie van hulle se vrou is sy dan met die opstanding? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” 34Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, 35maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. 36Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding deel het. 37Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. 38Hy is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes.” 39Sommige van die skrifkenners het hierop gereageer met die woorde: “Meester, u het ‘n goeie antwoord gegee.” 40Hierna het hulle dit nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.

Die briljante antwoorde van Jesus aan die leierpriesters en skrifkenners bring die Sadduseërs in spel – self intellektueles wat op heel moderne skeptiese wyse die geesteswêreld ontken het, bv deur die opstanding uit die dode te ontken. Hulle was boonop deel van die ryker elite. Hulle kom met ‘n skynheilige vraag oor die opstanding, want dit is iets waarin hulleself nie geglo het nie. Kan jy nou meer! Daar is regtig niks nuuts onder die son nie. En onthou dat Annas en Kajafas, die twee hoëpriesters wat Jesus se lot in die skynverhoor ‘n paar dae later bepaal, ook Sadduseërs was!

Die Sadduseërs haal die Bybel aan – amper soos die duiwel in sy tweede en derde versoeking in die woestyn ook die Bybel begin gebruik het – in Deuteronomium (25:5-6) en verwys na die leviraatgebruik, die sogenaamde swaershuwelik, waar ‘n broer ‘n nageslag vir sy kinderlose oorlede broer moet verseker deur met die weduwee te trou. Hulle problematiseer dit egter deur ‘n amper onmoontlike situasie te skets dat sewe broers gesterf het sonder ‘n nageslag en dat die vrou met wie hulle almal getrou het op die ou end kinderloos sterf. En dan vra hulle heel skepties wie se vrou sy sou wees in die opstanding.

Jesus antwoord nie net hulle vraag nie – deur te wys op hulle onkunde oor wat in die lewe na die dood aangaan – maar Hy daag eintlik ook hulle hele verstaan van hierdie lewe uit. Mense in hierdie lewe word in huwelik bevestig, maar nie in die lewe hierna nie. Let op na die gordyn wat Jesus oopskuif oor die lewe hierna. Eerstens moet ‘n mens waardig geag word om aan die hiernamaals deel te kry. Die ewige lewe is die deel van dié wat in Jesus glo en Hom gehoorsaam. Waardigheid lê dus in ‘n geloofsverhouding met Hom. Tweedens word die gawe van onsterflikheid aan “kinders van die opstanding” gegee. Hulle is soos die engele, maar eintlik nog verhewe bó die engele, omdat hulle kinders van God is (vgl Joh 1:12; Rom 8:23).

Dan wy Jesus uit oor die opstanding as sodanig en wys hulle uit Eksodus 3:6 op die feit dat die Skrif self die bestaan na die dood bevestig, dié Skrif wat vir hulle kwansuis so kosbaar was, maar waarin hulle tog nie geglo het nie en veral nie aan gehoorsaam was nie: “Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes, want vir Hom lewe hulle almal.”  Hierdie is ‘n tydige woord ook vir OT teoloë wat selfs vandag nog sê dat die OT nie direkte uitsprake maak oor die opstanding van die dooies nie (vgl egter Job 19:25-27; Jes 26:19; 53:10-11; Ps 16:10; 49:15; 71:20; Dan 12:2). Geen wonder dat van die skrifgeleerdes Jesus prys oor sy goeie antwoorde nie, want hulle het ’n groot waardering vir ’n groot intellek gehad. As hulle Hom maar net as God ook kon erken.

Dit tref my dat Jesus aan die een kant só vernuftig kringe kan loop rondom die skynheiligheid en bose bedoelings van skeptiese en siniese mense, maar aan die ander kant die geleentheid gebruik om nie net die waarheid te verkondig nie, maar selfs vir sy dissipels die skrefie op die hiernamaals ‘n bietjie groter oop te trek. My gedagtes loop dus van ‘n bewondering vir Jesus se vernuftige antwoorde na ‘n verwondering van wat vir ons as “kinders van die opstanding” wag. Dit vul my met verwagting!

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-1945-2047-jesus-het-nie-net-n-groot-intellek-nie-maar-veral-diep-wysheid/

Psalm 119:89-96 – Vir ewig staan u woord vas

5 November

Psalm 119:89-96 – Vir ewig staan u woord vas

ל LAMED 89Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel. 90Van geslag tot geslag duur u trou; U het die aarde gevestig en dit hou stand. 91Volgens u beslissings hou dit vandag nog stand, want alles is u diensknegte. 92As u wet nie my vreugde was nie, sou ek in my ellende vergaan het. 93Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak. 94Aan U behoort ek; verlos my, want na u opdragte streef ek. 95Goddeloses wag my in om my te vernietig; op u bepalings slaan ek ag. 96Ek het gesien aan alle volmaaktheid kom daar ‘n einde, maar u gebod is besonder ruim.

Die Psalmis verwonder hom in die twaalfde deel van Psalm 119 oor die blywende waarde van die openbaring van God: “Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel.” Daar is ‘n permanensie en betroubaarheid aan God se woorde wat nie net in die geskape werklikheid van die hemel en die aarde raakgesien kan word nie (vers 89), maar ook in die durende en blywende effek wat sy woord – geskrewe en ongeskrewe – in die geskiedenis het, van geslag tot geslag (vers 91). God se skeppingswoord bevestig die blywende waarde van sy openbaringswoord.

God se woorde gaan daarom nooit uit die mode nie, die vreugde daarvan bly van krag selfs in die grootste ellende en swaarkry wat ons kan beleef. Dit hoef nooit opgedateer te word nie. Dit is genoeg vir elke situasie wat mag ontstaan. Daarom kan ‘n mens daarop staatmaak. Dit maak jou nie net lewend nie (vers 93), maar dit hou jou in die lewe, anders sou ‘n mens se ellende vir jou te veel geword het. Soos Peterson vertaal: “If your revelation hadn’t delighted me so, I would have given up when the hard times came.” (The Message)

Daarom is dit só belangrik om jou hele lewe om God se woorde te laat draai. Trouens, die Psalmis sê: “Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie.” Hy weet sy eie voortbestaan hang van dié woorde van God af. In die permanensie van God se woorde vind die Psalmis sy eie permanensie! Want dit is die realiteit van God se openbaring. Soos die laaste reël van vers 96 sê: “u gebod is sonder grense”. Dit bedoel dat die diepte en wydte van God se openbaring nooit volledig ondersoek en begryp kan word nie. Dit is dieselfde as wat van sy liefde gesê word, dat dit onbegrens is. Daar is altyd nóg ‘n kant daarvan wat vir die Psalmis oopgaan en sy vreugde in en verbintenis aan God se woorde verdiep.

Jeremia het dieselfde gedagtes in sy Klaagliedere opgeteken oor God se liefde. Juis toe hy in die ballingskap gedink het dit is klaar met hulle en met hulle hoop op die Here, het die besef gekom: “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.” God se gramskap het hulle nie totaal vernietig nie. Daar het ’n oorblyfsel gebly. Wat vir Jeremia beteken het: “daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.” Dié woorde het Robert Davidson geïnspireer tot die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases. His mercies never come to an end. They are new every morning, new every morning. Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.”

Daarteenoor staan al die ander dinge op aarde, selfs waar dié dinge wonderlik is, selfs volmaak is. Alles het ‘n grens, net God se openbaring nie. Trouens, al dié dinge in hemel en op aarde is God se diensknegte. Hulle voer sy besluite en bepalings uit, bring sy openbaring tot hulle volle verwerkliking. Daarom kan ‘n mens op God se woorde staatmaak, al kan ons nie dieselfde sê van enige ander ding wat bestaan nie, hoe volmaak ook al.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11989-96-lamed-vir-ewig-staan-u-woord-vas/

Onlangse kommentaar