Skip to main content

Tag: Beloftes

Spreuke 22:17-21; 23:17-18 – Verseker jou toekoms deur vreugde te vind in die ontsag vir die Here

4 November

Ná die eerste bundel van 375 Salomo spreuke is daar 2 bundels van die gesegdes van die wyses in Spreuke opgeneem (Spr 22:17-24:22; 24:23-34). Die eerste bundel het ‘n inleiding (Spr 22:17-21) en dan 30 spreuke van wisselende lengte, afhangende van hoe jy die spreuke indeel. Die tweede bundel is ‘n kort addendum tot die eerste een met ‘n inleiding (Spr 24:23) en bevat 5 spreuke.

Ek hanteer die inleiding en spreuk 15 (Spr 23:17-18).

Spreuke 22:17-21; 23:17-18 – Verseker jou toekoms deur vreugde te vind in die ontsag vir die Here

17Spits jou oor en luister na die woorde van wyses! En jou hart, stel dit in op my kennis! 18Want dit is aangenaam as jy dit in jou binneste bewaar, as dit alles gereed lê op jou lippe. 19Met die oog daarop dat jou vertroue op die Here sal wees, maak ek dit vandag aan jou bekend, ja, aan jou. 20Het ek nie vir jou dertig spreuke opgeskryf met raad en kennis 21om aan jou die waarheid, betroubare woorde, bekend te maak, sodat jy betroubare antwoorde kan gee aan dié wat jou gestuur het nie?

17Jou hart moet nie opgewonde raak oor sondaars nie, maar wees die hele tyd opgewonde oor ontsag vir die Here. 18Daar is beslis ‘n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.

Inleiding: Dit is noodsaaklik om jou ore vir wysheid te spits, want dit help jou om self wyse woorde kwyt te raak in geselskap. Dit is ook die primêre manier waarop ‘n mens leer om op die Here te vertrou. Dit is sekerlik die belangrikste funksie van die wysheid. Die bevestiging van die wysheid lê in die vrug wat dit oplewer.

 

Spreuk 15: Verseker jou toekoms deur vreugde te vind in die ontsag vir die Here. Daar is altyd die verleiding en versoeking om afgunstig te wees op die gemak waarmee sondaars hulle eie belange dien (vgl Ps 73 wat op die uiteinde van die goddelose dui). Spreuke waarsku egter dat ‘n mens se heil nie daarin lê nie, maar in ‘n lewe in ontsag vir die Here. Trouens, om nie net jou vreugde daarin te vind nie, maar opgewonde te wees daaroor. Dan het ‘n mens ‘n ware hoopvolle toekoms wat jou nie ontneem kan word nie. Soos Kidner sê oor ‘n mens se versoeking om na die sukses van goddeloses te kyk: “The remedy is to look up and look ahead.” (Proverbs)

Lees meer: https://bybelskool.com/die-woorde-van-die-wyses-i/ en https://bybelskool.com/spreuke-2217-29-wysheid-leer-jou-om-god-te-vertrou/ en https://bybelskool.com/spreuke-231-35-werk-aan-jou-netwerk-van-verhoudings/

2 Tessalonisense 2:1-17 – Die Here Jesus versterk ons vir elke goeie daad en woord

3 November

2 Tessalonisense 2:1-17 – Die Here Jesus versterk ons vir elke goeie daad en woord

1Wat die koms van ons Here Jesus Christus en ons ontmoeting met Hom betref, vra ons julle, broers, 2om nie skielik kop te verloor en verontrus te word deur ‘n geestesuitspraak of ‘n woord of ‘n brief, wat skynbaar van ons af sou kom, en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie. 3Laat niemand julle op enige manier op ‘n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, 4die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die tempel gaan sit en hom as God voordoen. 5Onthou julle nie dat ek herhaaldelik met julle oor hierdie dinge gepraat het toe ek nog by julle was nie? 6En nou weet julle wat dit is wat hom terughou, om op sy eie tyd geopenbaar te word. 7Want die wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk, maar net totdat hy wat hom nog terughou, uit die weg geruim is. 8En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig. 9Deur die werking van Satan, sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met volle magsvertoon, met bedrieglike tekens en wonders, 10en met elke vorm van goddelose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. 11En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, 12en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word. 13Ons, egter, broers, behoort God altyd vir julle te dank, julle vir wie die Here liefhet, omdat God julle as eerstelinge gekies het om verlos te word, deurdat die Gees julle heilig, en deurdat julle die waarheid glo. 14Hy het julle ook daartoe geroep om deur ons verkondiging van die evangelie die heerlikheid van ons Here Jesus Christus te verkry. 15Daarom dan, broers, wees standvastig, en hou vas aan die oorlewerings waarin julle onderrig is deur ‘n woord of ‘n brief van ons af. 16En mag ons Here Jesus Christus self, en God, ons Vader, wat ons liefhet en uit genade aan ons blywende bemoediging en goeie hoop gee, 17julle harte bemoedig, en vir elke goeie daad en woord versterk.

Dit is duidelik dat die gemeente in Tessalonika Paulus verkeerd verstaan het. Sy boodskap in sy eerste brief (hfst 5) dat Jesus onverwags sou kom, is deur hulle geïnterpreteer dat Jesus moontlik reeds gekom het óf binnekort sou kom. Dit kan ook moontlik wees dat daar iemand was wat valslik in sy naam ’n brief geskryf het (2 Tess 2:2) en sommige verwar het met ’n verkeerde interpretasie van sy vorige boodskap oor die wederkoms. Paulus versoek hulle egter om nie so gou van stryk gebring te word deur misleidende interpretasies oor die wederkoms nie, maak nie saak of dit in ’n profetiese uitspraak gedoen word of deur ’n brief nie.

Die wettelose mens waarvan Paulus hier praat kan óf met ’n demoniese mag óf ’n despotiese leier verbind word. As dit ’n despotiese leier sou wees, kan dit miskien dui op keiser Titus wat in 70 nC Jerusalem ingeneem het en die tempel ontheilig het (vgl Jesus se opmerkings oor die gruwel van die verwoesting in Mrk 13:14). As dit ’n demoniese mag sou wees, verwys Paulus se uitsprake na die Antichris in die eindtyd net voor die wederkoms van die Here Jesus (dit kan met die “dier uit die aarde” verbind word – Openb 13:11). Dit is ook moontlik om albei betekenisse te aanvaar, en ’n eerste vervulling met keiser Titus en ’n tweede vervulling aan die einde van die tyd hierin raak te sien (vgl 1 Joh 2:18 – daar is eintlik sprake van ’n hele paar antichriste).

Hoe dit ook al sy, die Tessalonisense het die lering verstaan, want hy het dit blykbaar die vorige keer met hulle deurgepraat. Dit bly egter vir ons onseker presies wat hy bedoel, omdat die NT nie baie meer detail hieroor gee nie. Dit geld ook die betekenis van die “geheime krag wat hom teëhou”. Dit is al met die Romeinse ryk, wat op plekke die evangelie goedgesind was, verbind; ook met die evangelie verkondiging, dws dat deur die verspreiding van geloof, die wettelose teruggedryf word; ook met engele of met die Heilige Gees of God self, hoewel dit nie sin maak dat die Gees eers “uit die weg (moet) wees” nie (vers 7). Selfs die grote Augustinus het hieroor gesê dat dit vir hom ’n onopgeloste raaisel is (City of God) … en ek dink hy het ’n punt beet! Miskien is William Hendriksen egter reg wat sê dat ons hier met ’n beskrywing van die algemene handhawing van reg en orde deur regerings en ander instansies te make het. Wanneer dit verdwyn, sal die wetteloosheid oorneem, en is dit die einde.

Terloops, dan was daar al tye wat dit byna gebeur het: dink maar net aan die twee Wêreldoorloë van die vorige eeu, en wat tans in soveel dele van die wêreld gebeur: Afganistan, Pakistan, Iran, Irak, en baie dele van Asië en Afrika, selfs in die Amerikas en Europa … Is daar ’n plek waar wetteloosheid nie dreig om oor te neem nie, wonder ek skielik?! Wat wel seker is, is dat dit die Satan is wat agter die wettelose en die wetteloosheid sit. Let egter op dat hy dit net regkry om dié te mislei wat reeds nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. Die veroordeling kom dus nadat hulle reeds hulle keuse teen God se boodskap in Jesus Christus gemaak en Hom verwerp het.

Die Satan se werk, in die lig van wat die res van die Bybel ook daaroor skrywe, kan in 4 woorde opgesom word: versoeking (Matt 4), misleiding (1 Kon 22:21-22; Ef 6), teenspoed (Open 2:10) en aanklag (Job 1; Open 12:10). Sy werk word daarom ook nie uitgewis deur “duiwel-uitdrywing” in die eerste plek nie, maar deur die waarheid te soek en te leef (Joh 8:31 vv; Ef 6:14,17 – hier word dit met die Woord van God verbind), getuienis te lewer (2 Kor 10:4-5; Ef 6:15,16) en biddend te lewe (Matt 6:13; Ef 6:18).

As ‘n mens al die inligting hierbo so beskou, is dit maklik om benoud te raak. Hoe meer jy weet van wat in die wêreld aangaan, hoe meer weet jy van die mag van wetteloosheid. Dan is die woorde waarmee Paulus hierdie perikoop begin en eindig ‘n belofte wat ook vir my en jou bedoel is: Jesus kom weer en Hy sal ons met Hom herenig na Hy die wetteloosheid uit die weg geruim het! Dit beteken ook dat ek moet waak teen wetteloosheid in my eie lewe – ek kan nie ’n norm vir myself word nie, dat wat ek dink goed en sleg is, my lewe bepaal nie. Dié voorreg behoort net aan die Here. En sy belofte is dat Hy self ons versterk vir elke goeie daad en word, selfs al is dit in die konteks van wetteloosheid.

Lees meer: https://bybelskool.com/2-tessalonisense-21-12-wetteloosheid-se-mag-sal-gebreek-word/ en https://bybelskool.com/2-tessalonisense-213-17-god-sterk-ons-in-die-goeie/

Psalm 98 – God onthou sy troue liefde, sy getrouheid, teenoor sy mense

2 November

Psalm 98 – God onthou sy troue liefde, sy getrouheid, teenoor sy mense

1‘n Psalm. Sing vir die Here ‘n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen. Sy regterhand, sy heilige arm, het Hom bygestaan. 2Die Here het sy verlossing bekend gemaak; voor die oë van die nasies het Hy sy geregtigheid geopenbaar. 3Hy het sy troue liefde, sy getrouheid teenoor die huis van Israel, onthou. Al die uithoeke van die aarde het die verlossing deur ons God gesien. 4Juig tot eer van die Here, o ganse aarde; wees vrolik, jubel en besing Hom, 5besing die Here met begeleiding van liere, op die lier saam met die klank van sang, 6op trompette saam met die klank van ramshorings. Juig voor die Koning, die Here. 7Laat die see en alles daarin dit uitbasuin, die aarde en dié wat daarop woon. 8Laat die riviere hande klap en saam met die berge jubel 9voor die Here; want Hy kom om die wêreld te oordeel, Hy sal die aarde oordeel in geregtigheid en die volke in billikheid.

God se krag en Goddelike mag staan voorop in dié Psalm. Wat interessant is, is dat Hy ook voorop staan in die bekendmaking van sy oorwinnings en dat Hy sy reddingsdade openbaar maak. Dié reddingsdade is ’n bewys van sy liefde en trou wat Hy telkens aan sy mense bevestig as ’n getuienis aan die hele wêreld. Dit is ’n baie belangrike insig. Getuienis is primêr die werk van God self. Hy is die een wat Homself aan mense openbaar. Ons is altyd sekondêre getuies wat praat oor wat God alreeds besig was om te doen. Daarom is ons getuienis altyd ’n proses van aansluit by wat God alreeds gedoen het of besig is om te doen. Dit beteken natuurlik dat lofprysing ook getuienis is.

Dit beteken verder dat ons primêre taak eintlik is om bewus te word van wat God doen, Hom daarvoor te loof, en daarby aan te sluit deur ander daarvan te vertel. Lofprysing moet dus met oorgawe gedoen word, met die begeleiding van die lier, met sang, en met die blaas van trompette en die ramshoring (die shophar– gebruik as aankondiging van God se teenwoordigheid – vgl. Eks 19:16). Kortom, enige instrument wat ons kan help om die Here te loof. By hierdie lofprysing moet die stemme van die hele skepping gevoeg word om die Here te loof en prys, om saam voor die Here te juig, Hoekom?  Want, Hy is op pad om sy heerskappy te vestig sodat daar regverdigheid en billikheid op aarde sal wees vir almal.

Onthou dat hierdie 4de Psalmboek geassosieer word met die tyd van die ballingskap. Dit kan dus wees dat die ballinge reeds in Babel hierdie Psalm gesing het TERWYL hulle in ballingskap sit. Die Psalm het hulle dus herinner aan hoe dinge in die toekoms sal wees: “Hy kom om oor die aarde te heers, Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.” (vers 9). Die Psalm het dus ’n verlange in hulle wakker gemaak dat God inderdaad sal doen waarvan die Psalm getuig: verlossing en vrede, regverdigheid en billikheid. Die boodskap aan ons is dat dit dus nie saak maak in watter omstandighede jy jou bevind nie. Sing dié Psalm en laat dit jou gemoed lig, jou geloof versterk en die verwagting in jou laat groei dat verandering kom, dat dit net om die draai is! “Hy kom om oor die aarde te heers, Hy sal oor die wêreld heers.” My teks vir dié dag.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-98-hy-kom-om-oor-die-aarde-te-heers/

Psalm 145 – Die Here is goed vir almal

1 November

Psalm 145 – Die Here is goed vir almal

1‘n Loflied. Van Dawid. א ALEF Ek wil U verheerlik, o Koning, my God; ek wil u Naam prys vir altyd en altyd. ב BET 2Elke dag wil ek U prys, ek wil u Naam loof vir altyd en altyd. ג GIMEL 3Groot is die Here en besonder lofwaardig; sy grootheid is ondeurgrondelik. ד DALET 4Geslag ná geslag roem u werke; u magtige dade maak hulle bekend. ה HE 5Oor die heerlike majesteit van u luister en u wonderdade wil ek nadink. ו WAW 6Oor die krag van u  ontsagwekkende dade praat mense; van u grootheid wil ek vertel. ז ZAJIN 7Oor herinneringe aan u groot goedheid sal hulle uitwei; oor u regverdige optrede sal hulle jubel. ח GET 8Genadig en barmhartig is die Here, geduldig en groot in troue liefde. ט TET 9Die Here is goed vir almal, en sy barmhartigheid strek oor al sy werke. י JOD 10Here, al u werke loof U, en u troue volgelinge prys U. כ KAF 11Oor die heerlikheid van u koningskap praat hulle en u mag verkondig hulle, ל LAMED 12sodat die mensdom kan kennis neem van u magtige dade, van die heerlike majesteit van u koningskap. מ MEM 13U koningskap is ‘n koningskap vir alle ewighede, u heerskappy duur deur al die komende geslagte. ס SAMEK 14Die Here ondersteun almal wat val, en help almal regop wat neergeboë is. ע AJIN 15Almal se oë is vol verwagting op U gerig, en U gee vir hulle hulle kos op tyd. פ PE 16Wanneer U u hand  oopmaak, versadig U al wat lewe met wat hulle wil hê. צ TSADE 17Regverdig is die Here in al sy weë, en trou aan alles wat Hy gemaak het. ק KOF 18Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep. ר RESJ 19Hy vervul die wens van dié wat vir Hom ontsag het; hulle hulpgeroep hoor Hy, en Hy verlos hulle. שׁ SJIN 20Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses delg Hy uit. ת TAW 21My mond sal die lof van die Here verkondig; alle mense moet sy heilige Naam prys vir altyd en altyd.

Psalm 145 is die afsluiting van die groepie Dawid Psalms – Ps 138-145 – wat God se betroubaarheid deur die eeue bevestig sowel as die goeie bedoelings wat Hy van altyd af het vir sy mense, trouens vir alle mense: “Die Here is goed vir almal.” (vers 9).  Daarom, sê Dawid: “My mond sal die lof van die Here verkondig; alle mense moet sy heilige Naam prys vir altyd en ewig.” (vers 21).

Die eerste deel van die Psalm is eintlik ‘n bron van aanhalings oor wie en wat God is.  ‘n Mens kan enige vers neem as ‘n “koringkorrel” vir jou dag om jou oor God te verwonder!

Let op die beskrywing van die twaalf kwaliteite en karakter van God self:

  1. sy lofwaardigheid wat vir altyd geprys moet word,
  2. sy grootheid wat ondeurgrondelik is,
  3. sy luisterryke majesteit wat alles verlig,
  4. sy wonders wat ‘n mens uitnooi om vir altyd daaroor na te dink,
  5. sy ontsagwekkende magtige dade waaroor jy nie kan stil bly nie,
  6. sy groot goedheid wat mens verstom,
  7. sy regverdige optrede waaroor ‘n mens net wil juig,
  8. sy genade,
  9. sy barmhartigheid,
  10. sy geduldigheid,
  11. sy groot troue liefde, en
  12. sy glansryke koningskap wat mense oral met ontsag vervul.

Trouens: “U koningskap strek oor alle ewighede … deur al die komende geslagte” (vers 13)!

Die tweede deel van die Psalm is eintlik ‘n bron van beloftes van wat God doen waarmee ‘n mens jou gebede kan verryk.  Let op die beskrywing van sy groot werk en magtige dade, want elkeen daarvan is ‘n belofte wat in gebed aangegryp kan word, nie net deur die geloofsgemeenskap nie, maar deur die hele mensdom!

Lees dié elf beskrywings as beloftes en maak dit deel van jou gebede:

  1. Die Here is goed vir almal,
  2. Die Here ondersteun almal wat val,
  3. Die Here help almal op wat terneergedruk is,
  4. Die Here gee almal kos op hulle tyd,
  5. Die Here versadig al wat lewe met wat hulle wil hê,
  6. Die Here is regverdig in al sy weë,
  7. Die Here is getrou aan alles wat Hy gemaak het,
  8. Die Here is naby almal wat Hom aanroep in waarheid,
  9. Die Here vervul die wens van dié wat vir Hom ontsag het,
  10. Die Here hoor die hulpgeroep van dié wat vir Hom ontsag het, en verlos hulle,
  11. Die Here beskerm almal wat Hom liefhet (maar al die goddelose mense vernietig Hy).

Dít is die Here wat ons aanbid!  Dít is die dinge waarop jy kan staatmaak.  Dít is die dinge waarvoor jy kan intree en die Here se seën op alles en almal kan afbid.  Ook vir jouself.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-145-die-here-is-goed-vir-almal/

Haggai 2:1-9 – Werk, want Ek is by julle

31 Oktober

Haggai eggo ná die ballingskap die boodskap van hoop in Sefanja wat vóór die ballingskap gelewer is. Hy bemoedig die volk met die herbou van die tempel ná die ballingskap. Hy bemoedig die volk dat hulle kan volhard met hulle werk, want die Here het belowe dat Hy met hulle is. Hy sal dinge laat uitwerk as hulle net naby Hom bly en aan Hom gehoorsaam bly, presies dít wat Sefanja reeds in sy hoofstuk 3 belowe het.

Hy lewer vier profesieë. Die eerste profesie was aan die twee leiers, die aangewese goewerneur van Juda, Serubbabel, en die hoëpriester Jesua gerig (Hag 1:1). Dit was bedoel om te verduidelik dat hulle slegte situasie aan hulle ongehoorsaamheid tov die herbou van die tempel verbind is. Almal, ook die volk, het begeesterd daarop gereageer. Die tweede profesie, ‘n maand later, was steeds aan die twee leiers, sowel as aan almal wat van die volk oorgebly het, gerig (Hag 2:1). Dit was bedoel om hulle te bemoedig in hulle werk. Hulle reaksie is egter nie aangeteken nie. Die derde profesie, twee maande daarna, was gerig aan die priesterkorps (Hag 2:11). Dit word in die vorm van ‘n gesprek tussen Haggai en die priesters aangebied, waarop die Here sy belofte van reiniging en seën aan hulle rig. Die vierde profesie, nog op dieselfde dag, was aan Serubbabel, die goewerneur, gerig om hom van God se omvattende beskerming vir hom as uitverkore seëlring te oortuig (Hag 2:22). Sy reaksie word nie aangetoon nie. Gesamentlik dien die vier profesieë dus as bemoediging van die hele teruggekeerde geloofsgemeenskap van Juda om God hulle prioriteit te maak, soos Hy inderdaad dit met hulle gedoen het.

Ons lees net die tweede profesie.

Haggai 2:1-9 – Werk, want Ek is by julle

1Op die een-en-twintigste dag van die sewende maand het die woord van die Here gekom by monde van die profeet Haggai: 2“Sê vir Serubbabel, seun van Sealtiël en streekgoewerneur van Juda, en vir Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en vir dié wat oorgebly het van die volk, 3‘Wie onder julle het oorgebly wat hierdie huis van die Here in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En wat sien julle nou daarvan? Lyk dit nie na niks teen die vorige een nie? 4Daarom, hou moed, Serubbabel,’ is die uitspraak van die Here. ‘Hou moed Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester! Hou moed, volk van die land, is die uitspraak van die Here. Werk, want Ek is by julle, is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. 5Dit is die belofte wat Ek teenoor julle afgelê het toe julle uit Egipte getrek het: My Gees sal altyd in julle midde bly. Moenie bang wees nie.’ ” 6“Die Here, Heerser oor alle magte het immers gesê, ‘Nog een keer, binnekort, sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. 7Ek sal al die nasies laat bewe en hulle sal kom met al hulle skatte en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vul,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. 8‘Aan My behoort die silwer en aan My behoort die goud,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. 9‘Die heerlikheid van hierdie huis sal groot wees, nog groter as tevore,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. ‘En op hierdie plek sal Ek vrede gee,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.”

Op die 21ste dag van die sewende maand, die Joodse maand Tishri (‘n mens kan dit presies dateer, in ons terme, as 17 Oktober 520 vC), kom die woord van die Here weer tot Haggai. Dit is vier weke ná hulle met die werk begin het, waarin hulle waarskynlik die meeste van die tyd aan die opruim van die rommel van die vorige ruïnes spandeer het. Dit is ook aan die einde van die Loofhutte fees wat aan die einde van die oestyd gehou is. Hulle het dus weereens tyd gehad om op die Here te fokus ná al die harde werk tot dusver. Weereens word die woord van die Here deur ‘n paar vrae ingelei, maar dié keer gerig aan al die mense: “Wie onder julle het oorgebly wat hierdie huis van die Here in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En wat sien julle nou daarvan? Lyk dit nie na niks teen die vorige een nie?”

Die Here is dus baie bewus van die gesprekke wat onder die volk gevoer is en waarin die moedeloosheid wou-wou oorneem. God se plek sou volgens hulle nooit weer wees soos dit vroeër was nie. En onthou, Salomo se tempel, wat ironies genoeg ook in die sewende maand in gebruik geneem is (1 Kon 8), was ‘n verstommende luukse gebou. Die Here praat hulle deur sy profeet egter moed in: “Werk, want Ek is by julle, is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.” Die bouwerk kan en móét nou in alle erns begin.

Let op hoe die Here hulle met twee sleutelboodskappe bemoedig. Die eerste is ‘n belofte wat van altyd af vir hulle geld en ook nou in hulle lewe bevestig sal word: “My Gees sal altyd in julle midde bly. Moenie bang wees nie.” Sagaria sou ‘n bietjie later hierby aansluit en vir Serubbabel met dieselfde woorde bemoedig: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.” (Sag 3:6). Die tweede is ‘n toekomsvisie wat die bou van die tempel in ‘n heel ander en heerliker lig stel: “Die heerlikheid van hierdie huis sal groot wees, nog groter as tevore… En op hierdie plek sal Ek vrede gee.” Dié visie word in ‘n konteks van eskatologiese tekens beskryf – hemel en aarde, see en land bewe, nasies bring geskenke – wat die eindtyd wat met Jesus aangebreek het en met sy wederkoms voleindig sal word, in die visier van dié profesie bring. Hoewel die volk van 520 v.C. dié visie beswaarlik volledig kon verstaan, het dit hulle bemoedig. Hulle is uitgenooi om hulle oë te vestig op wat kom, nie net op wat was met Salomo se tempel nie. God se Gees sou hulle na sy toekoms met hulle begelei. Watter bemoediging!

Lees meer: https://bybelskool.com/haggai-21-9-god-bemoedig-almal-om-moed-te-hou-want-hy-is-by-hulle/

Onlangse kommentaar