Skip to main content

Psalm 119:137-144 – God se woorde is volkome gelouter. Dit is regverdig vir ewig.

25 Oktober

Psalm 119:137-144 – God se woorde is volkome gelouter. Dit is regverdig vir ewig.

צ TSADE 137Regverdig is U, Here, en u beslissings is reg. 138U het in geregtigheid u bepalings uitgevaardig, en in goeie trou. 139My ywer verteer my omdat my teenstanders u woorde vergeet. 140U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief. 141Ek is klein en word geminag, maar u opdragte vergeet ek nie. 142U geregtigheid is regverdig vir ewig en u wet is betroubaar. 143Benoudheid en angs het my oorval, maar u gebooie is my vreugde. 144U bepalings is regverdig vir ewig; gee my insig, sodat ek kan lewe.

Let op hoe vier die Psalmis die fynste detail van God se beslissings, bepalings (verordeninge), woord (‘imrâh) en woorde (dâbâr se meervoud devarîm)!, opdragte (bevele), wet, en gebooie soos dit in sy openbaring beskrywe word. Dit is in die detail van God se openbaring wat die Psalmis die lig vir sy pad ontdek. Dit is in God se beskrywing van wat regverdig is, wat hy homself verlustig, nie maar net in sy eie verwoording en interpretasie daarvan nie.

Daarom kan hy sê: “My ywer vir u woorde verteer my wanneer my teenstanders dit vergeet.” (vers 139). Hoekom? Want: “U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief.” (vers 140 – gelouter kan ook met suiwer vertaal word, soos in die NAV). Woord sowel as woorde. Daarom sal hy God se bevele nie vergeet of verontagsaam nie, want hy weet God se regverdige optrede, ook in die gee van sy openbaring, is billik en betroubaar (vers 142). Dit bly regverdig vir ewig!

Al oorval benoudheid en angs hom weens die minagting van sy teenstanders wat God se woorde in die wind slaan, sal hy daarom steeds in God se gebooie sy vreugde vind, want dít is die lewe, al word hy deur ander verguis. Dié Psalm onderstreep dus vir my wat die Nederlandse Geloofsbelydenis ook sê oor die boeke van die Bybel as die Woord van God: “Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself …” (artikel 5).

Soos Peterson sê: “He manufactures truth and justice; All his products are guaranteed to last—Never out-of-date, never obsolete, rust-proof. All that he makes and does is honest and true.” (Ps 111:8).

  • Dit is waar van die Woord en die woorde van God in die boeke van die Bybel. Die Woord het nie ‘n vervaldatum nie. God se woorde in die Bybel het ook nie ‘n vervaldatum nie. Dit is vandag nog geldig en genoegsaam vir ons geloof en ons lewe. Daarop kan jy staatmaak.
  • Dit is waar van die Gees wat ons help om die Woord reg te interpreteer. Die Gees is ook nooit van verbygaande aard nie. Soos Hy met my gepraat het as kind, só praat Hy met my as volwassene, en sal Hy by my wees, selfs as ek nie meer kan praat nie. Dit sal ook só wees vir jou.
  • Dit is waar van die kerk wat vir mekaar gegee is om saam te onderskei wat die Woord van die Here vir ons wil sê, selfs oor die moeilikste dinge waaroor ons moet en kan nadink. Die kerk sal ook nooit vergaan nie. Dit is ook waar van die geloofsgemeenskap waar jy jou ook al mag bevind. Selfs al verander ons gemeentes van gedaante, selfs al skuif ons na ‘n ander woongebied, of selfs na ‘n ander wêrelddeel, of al verander ons denominasie, die breë geloofsgemeenskap waarvan ons deel is as die liggaam van Christus, sal nooit ophou bestaan nie.

Sela.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119137-144-tsade-my-ywer-vir-u-woorde-verteer-my-wanneer-my-teenstanders-dit-vergeet/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar