Psalm 65 – God is groot en goed en sorg vir alles en almal
Psalm 65 – God is groot en goed en sorg vir alles en almal
1Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid. ‘n Lied. 2Aan U kom ‘n lofsang toe, o God wat in Sion is; aan U moet geloftes betaal word. 3U wat gebede hoor – na U moet alle mense kom. 4Al sou sondeskuld my oorweldig, U bedek ons oortredings. 5Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom – hy mag woon in u voorhowe. Ons wil graag versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u tempel. 6U antwoord ons in geregtigheid met ontsagwekkende dade, o God wat ons verlos – U, die vertroude tot aan al die eindes van die aarde en die verste seë, 7die Een wat die berge vestig deur sy krag, wat omgord is met mag, 8wat die gedreun van die seë stilmaak, die gedreun van hulle golwe, die rumoer van volke. 9Daarom het die bewoners van die eindes van die aarde ontsag vir u tekens. U laat ‘n gejubel opklink waar die son opkom en waar dit ondergaan. 10U het na die land omgesien, dit deurdrenk, dit besonder verryk. God se leivoor is vol water. U sorg vir hulle koring, want so berei U die grond voor: 11U maak die vore nat, die ploegbanke gelyk; met reënbuie maak U die aarde sag, U seën dit wat daar opkom. 12U kroon u goeie jaar; u spore drup van vettigheid. 13Die weivelde van die woestyn drup, die heuwels omgord hulle met ‘n gejuig. 14Die weivelde klee hulle met kleinvee; die valleie tooi hulle met graan; hulle roep uit van vreugde, ja, hulle sing.
Die Psalm is ’n lofsang aan God vir al sy oorvloedige gawes. Dit sluit sy gebedsverhoring en vryspraak van skuld vir alle mense in (vers 2-3), ook die oorvloed van die goeie dinge wat Hy gee vir die geloofsgemeenskap, dié wat Hy uitkies om nader te kom om sy teenwoordigheid by die tempel te geniet (vers 5-6a) asook die kragtige dade wat Hy regoor die wêreld vir almal (vers 6b-9) en alles doen ( vers 10-14). Hy is nie net God ons Verlosser nie (vers 6a), maar die God van alle mense selfs in afgeleë lande (vers 6b), trouens die God van die hele bewerkte en onbewerkte aarde.
Let op hoe die teenwoordigheid en betrokkenheid van God in konsentriese geografiese sirkels beskryf word, wat ook die wyse is waarop die Psalm opgebou is.
- God seën die geloofsgemeenskap in Sion – vers 2-6a. Die hart van God se seën word eerstens persoonlik en in die geloofsgemeenskap in Sion by die tempel in Jerusalem ervaar (vers 2-6a). God verhoor gebede, spreek vry van skuld en laat sy mense die goeie dinge in sy huis in oorvloed geniet. In Sy trou antwoord Hy met kragtige dade. Hy is immers God, ons Verlosser. Aan dié God kom ’n lofsang toe in Sion. Maar let ook op dat dié vergifnis vir alle mense bedoel is, soos vers 3-4 aandui. Dit is ’n baie belangrike stuk hoop in die Psalm.
- God seën die mense in afgeleë plekke en op verre seë – vers 6b-9. Tweedens het God se seën ook ’n uitkringende kragtige uitwerking op alle mense en nasies selfs op afgeleë plekke en op verre seë. Die God en sy mag dwing ontsag af, want Hy kan vir gebedsverhoring in alle situasies vertrou word. Hy laat selfs die rumoer van die nasies bedaar. Mense in die ooste en in die weste juig oor God.
- God seën die hele aarde – vers 10-14. Derdens bring God se sorg oorvloed en vrugbaarheid vir die hele aarde – die land, die riviere, die ploeglande, die woestyn, die bulte, die velde en die vlaktes (vers 10-14). Daar is volop water, welige koring, genoeg reën, welige groei, volop weiding selfs in die woestyn en wemelende kleinvee. God se leivoor is immers vol water! God kroon daarom die jaar, elke jaar, met sy goeie gawes. Waar God ook al gaan, is daar oorvloed! Dit is die evangelie van dié Psalm. Trouens, alles is Sy werk!
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-65-waar-u-ook-gaan-is-daar-oorvloed/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar