Habakuk 2:1-4 – Die regverdige sal deur sy betroubaarheid lewe
Habakuk 2:1-4 – Die regverdige sal deur sy betroubaarheid lewe
1Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt. 2Die Here het my toe geantwoord; Hy het gesê: “Skryf die openbaring neer; skryf dit duidelik op kliptafels, sodat iemand dit maklik kan lees. 3Want die visioen wag nog vir die vasgestelde tyd; dit getuig van die einde en sal nie teleurstel nie. As dit talm, wag daarop, want dit kom vir seker, dit sal nie uitbly nie. 4Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe.
Die eerste twee hoofstukke van die boek Habakuk is ‘n roerende gesprek tussen Habakuk en God. Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument. Dit maak in sy oë van geregtigheid ‘n grap. Habakuk kan nie begryp hoe die Here sulke onreg kan toelaat nie. Die Here reageer daarop deur Habakuk in te lig dat dinge nog erger gaan raak as wat Habakuk selfs dink! Maar, dat God uiteindelik die reg sal handhaaf met ‘n oordeel ook oor die Galdeërs. Dit is dan wat Habakuk in hoofstuk 2 tot bedaring kom. Hy besef die oordeel is nodig. Maar, hy besef ook dat daar lig aan die einde van die tonnel is. Daarom besluit hy om die Here te vertrou. Dat dit ook sy antwoord is aan die geloofsgemeenskap wat die hele tyd vir hom vra wanneer die oordeel weer opgelig sal word. Hy sal wag vir God se antwoord en die geloofsgemeenskap bemoedig om op God te vertrou.
Die oomblik as Habakuk by daardie punt uitkom, om geduldig te bly wag op die Here, reageer die Here soos van te vore teenoor Abram (Gen 15) en sê: “Die regverdige sal deur sy betroubaarheid lewe.” Dit is die regte ding om te doen in ‘n tyd van onreg en oordeel. Om te wag op die Here. En om betroubaar te bly – gelowig en gehoorsaam. In dié twee woorde van die Here lê miskien een van die belangrikste boodskappe vir gelowiges deur die eeue opgesluit. Geen wonder dat Paulus in sy briewe aan die Galasiërs en die Romeine so baie van hierdie boodskap maak (soos ons later ook sal lees). Ook die skrywer van Hebreërs maak in sy brief-boodskap baie van dié belangrike boodskap uit Habakuk (Hebr 10:37-38 – “Nog net ‘‘n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek niks aan hom meer nie.’”).
Dit is uiters interessant hoe die Hebreërskrywer die boodskap van Habakuk aan die wederkoms van die Here Jesus Christus koppel, dié dag wat God se geregtigheid in sy volheid sal aanbreek. En dat hy die hoop en vertroue uitspreek dat die geloofsgemeenskap dié boodskap ter harte sal neem: “Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe”! Trouens, die impak van Habakuk strek ook tot in die begronding van die Reformasie deur Maarten Luther wat in hierdie woorde ‘n genadige God ontdek het. Dit het die basis gevorm vir die formulering van die sola fide belydenis, een van die kosbaarste erfenisse uit daardie tyd.
Lees meer: https://bybelskool.com/habakuk-21-20-die-here-stel-habakuk-gerus-dat-hy-die-reg-sal-handhaaf-met-oordeel-ook-oor-die-galdeers/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar