Psalm 98 – God onthou sy troue liefde, sy getrouheid, teenoor sy mense
Psalm 98 – God onthou sy troue liefde, sy getrouheid, teenoor sy mense
1‘n Psalm. Sing vir die Here ‘n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen. Sy regterhand, sy heilige arm, het Hom bygestaan. 2Die Here het sy verlossing bekend gemaak; voor die oë van die nasies het Hy sy geregtigheid geopenbaar. 3Hy het sy troue liefde, sy getrouheid teenoor die huis van Israel, onthou. Al die uithoeke van die aarde het die verlossing deur ons God gesien. 4Juig tot eer van die Here, o ganse aarde; wees vrolik, jubel en besing Hom, 5besing die Here met begeleiding van liere, op die lier saam met die klank van sang, 6op trompette saam met die klank van ramshorings. Juig voor die Koning, die Here. 7Laat die see en alles daarin dit uitbasuin, die aarde en dié wat daarop woon. 8Laat die riviere hande klap en saam met die berge jubel 9voor die Here; want Hy kom om die wêreld te oordeel, Hy sal die aarde oordeel in geregtigheid en die volke in billikheid.
God se krag en Goddelike mag staan voorop in dié Psalm. Wat interessant is, is dat Hy ook voorop staan in die bekendmaking van sy oorwinnings en dat Hy sy reddingsdade openbaar maak. Dié reddingsdade is ’n bewys van sy liefde en trou wat Hy telkens aan sy mense bevestig as ’n getuienis aan die hele wêreld. Dit is ’n baie belangrike insig. Getuienis is primêr die werk van God self. Hy is die een wat Homself aan mense openbaar. Ons is altyd sekondêre getuies wat praat oor wat God alreeds besig was om te doen. Daarom is ons getuienis altyd ’n proses van aansluit by wat God alreeds gedoen het of besig is om te doen. Dit beteken natuurlik dat lofprysing ook getuienis is.
Dit beteken verder dat ons primêre taak eintlik is om bewus te word van wat God doen, Hom daarvoor te loof, en daarby aan te sluit deur ander daarvan te vertel. Lofprysing moet dus met oorgawe gedoen word, met die begeleiding van die lier, met sang, en met die blaas van trompette en die ramshoring (die shophar– gebruik as aankondiging van God se teenwoordigheid – vgl. Eks 19:16). Kortom, enige instrument wat ons kan help om die Here te loof. By hierdie lofprysing moet die stemme van die hele skepping gevoeg word om die Here te loof en prys, om saam voor die Here te juig, Hoekom? Want, Hy is op pad om sy heerskappy te vestig sodat daar regverdigheid en billikheid op aarde sal wees vir almal.
Onthou dat hierdie 4de Psalmboek geassosieer word met die tyd van die ballingskap. Dit kan dus wees dat die ballinge reeds in Babel hierdie Psalm gesing het TERWYL hulle in ballingskap sit. Die Psalm het hulle dus herinner aan hoe dinge in die toekoms sal wees: “Hy kom om oor die aarde te heers, Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.” (vers 9). Die Psalm het dus ’n verlange in hulle wakker gemaak dat God inderdaad sal doen waarvan die Psalm getuig: verlossing en vrede, regverdigheid en billikheid. Die boodskap aan ons is dat dit dus nie saak maak in watter omstandighede jy jou bevind nie. Sing dié Psalm en laat dit jou gemoed lig, jou geloof versterk en die verwagting in jou laat groei dat verandering kom, dat dit net om die draai is! “Hy kom om oor die aarde te heers, Hy sal oor die wêreld heers.” My teks vir dié dag.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-98-hy-kom-om-oor-die-aarde-te-heers/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar