Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 119:129-136 – As u woorde oopgaan, gee dit lig

19 November

Psalm 119:129-136 – As u woorde oopgaan, gee dit lig

פ PE 129U bepalings is wonderlik; daarom hou ek daarby. 130As u woorde oopgaan, gee dit lig; dit gee insig aan onkundiges. 131Met ‘n oop mond hyg ek, want ek hunker na u gebooie. 132Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet. 133Maak my treë ferm met u woord en laat geen onreg oor my heers nie. 134Bevry my van onderdrukking deur mense, sodat ek u opdragte kan nakom. 135Laat die lig van u aangesig oor u dienskneg skyn, en leer my u voorskrifte. 136Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet nakom nie.

Ná die pynlike insig wat in die vorige deel van die Psalm verwoord is, verwonder die Psalmis hom in die sewentiende deel van Psalm 119 oor die lig wat God se woorde in sy lewe aansteek: “As u woorde oopgaan, gee dit lig.” (vers 130). Dit is waarom die Psalmis nie omgee om God se bepalings na te kom nie, want dit is – ten spyte van die pyn van gehoorsaamheid – uiteindelik “wonderlik” (vers 29), want dit gee vir eenvoudiges (onervarenes) insig (vers 130). Daarom bly hy met sy hele wese smag na God se gebooie, want dit is vol van genade. Dit getuig van God se omarming van ons. Hoor net hoe pragtig sê hy dit in sy gebed: “Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet.” (vers 132). Genade is God se Gewoonte teenoor Gelowiges! ‘n Mens kan ‘n lewe lank oor die betekenis van hierdie vers nadink!

God se woord doen nog meer as net om genade uit te deel. God se woorde maak ‘n mens se treë ferm, sê die Psalmis, sodat geen onreg oor ons kan heers nie (2020-vertaling), of die kwaad oor ons die oorhand kry nie (1983-vertaling), sodat ons uiteindelik van onderdrukking of verontregting deur mense verlos kan word, en enduit aan God se opdragte kan vashou (vers 133-134). Gehoorsaamheid aan die woord is dus God se manier om ons pad in die lewe te beveilig, soos Psalm 1 ook sê: “die Here sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddelose mense loop dood.” (vers 6). Dit laat die lig van God se teenwoordigheid oor sy diensknegte skyn sodat God se voorskrifte in sy lig geleer kan word (vers 135).

Die donker kant in hierdie deel van die Psalm is dat daar egter steeds mense is wat – al is die lig in God se voorskrifte te vinde – God se wet nie onderhou nie, tot groot verdriet van die Psalmis: “Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet onderhou nie.” (vers 136). Die openbaring van God gee die Psalmis dus beide vreugde as verdriet – vreugde oor die betekenis daarvan vir hom; verdriet omdat daar mense is wat die betekenis mis, omdat hulle hulle nie daaraan hou nie.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119129-136-pe-as-u-woorde-oopgaan-gee-dit-lig/

Spreuke 25:21-22 – Wees goed vir jou vyand, die Here sal jou beloon

18 November

Die tweede bundel van spreuke van Salomo in die boek – Spreuke 25-29 – is lank ná sy tyd versamel en geredigeer deur koning Hiskia se amptenare in die 8ste eeu vC. Hiskia het geregeer van 716-687 vC. Ek hanteer net een belofte daarin wat ‘n deel van die begronding vir Paulus se skrywe hieroor aan die Romeine gevorm het.

Spreuke 25:21-22 – Wees goed vir jou vyand, die Here sal jou beloon

21As jou vyand honger is, gee hom brood om te eet, en as hy dors is, gee hom water om te drink; 22want jy stapel vurige kole op sy kop, en die Here sal jou beloon.

Die opdrag om jou vyand kos en water te gee, al haat hy jou, val ’n mens op. En let op hoe konkreet dit uitgespel word. Brood vir die honger vyand. Water vir die dors vyand (vgl Spr 24:17-18). Dié lewenshouding gee ’n ander perspektief op die gangbare moraal van ’n oog-vir-’n-oog, soos dit op ’n hele paar plekke in die OT beskryf word. Dit neem selfs die opdrag in die OT om jou naaste lief te hê, soos Levitikus 19:17-18 dit van ons vra, ’n bietjie verder, en maak naasteliefde van toepassing nie net op mense van jou eie (volks-)gemeenskap nie, of die vreemdelinge in jou gemeenskap nie (Lev 19:34), maar van toepassing selfs op jou vyande.

Dat die Here jou daarvoor sal vergoed, teken ook ’n kant van God waarin sy regverdigheid nie net sy geliefdes insluit nie, maar ook dié wat teenoor Hom staan. Waarskynlik lê hieragter die hoop op versoening, waarin God hoop dat deur só ’n optrede die vyand juis tot inkeer sal kom, vuurrooi van skaamte sal word (letterlik: “gloeiende kole op sy kop” wat waarskynlik metafories vir bloos gebruik word), wanneer hulle onverdiende genade ervaar in nood.

Dié perspektief op die lewe bereik natuurlik eers volle wasdom in die lewe van Jesus, waar Hy die verhaal van die Barmhartige Samaritaan vertel om dié punt verder in te skerp (Luk 10:25-37). En Paulus haal uit dié spreuk aan as hy oor die Christelike lewenswandel praat (Rom 12:20-21). Oorwin die kwaad deur die goeie!

Lees meer: https://bybelskool.com/die-spreuke-van-salomo-ii/ en

https://bybelskool.com/spreuke-251-28-dink-voordat-jy-doen/

Psalm 119:121-128 – Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid

17 November

Psalm 119:121-128 – Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid

ע AJIN 121Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie. 122Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie. 123My oë smag na u verlossing, na u belofte van geregtigheid. 124Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. 125Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken. 126Dit is tyd vir die Here om op te tree – hulle maak u wet kragteloos. 127Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud. 128Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek.

Die kumulatiewe gewig van die getuienis van Psalm 119 dat God se openbaring saak maak, begin in hierdie sestiende deel van die Psalm my bewussyn só diepsinnig binnedring dat dit vir my voel asof die Psalmis se ervarings en gebede my eie raak.

  • Aan die een kant oorrompel die geheelboodskap van die Psalm my dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here. “Hoe strelend is u woorde teen my verhemelte, selfs strelender as heuning vir my mond … U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.” (Ps 119:103,105).
  • Aan die ander kant is ek net so intens bewus van die pyn en verguising wat saamgaan daarmee om die openbaring van die Here onwrikbaar en sorgvuldig na te kom (119:128). En bid ek ook die gebed van die Psalmis: “Ek doen wat reg en billik is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie.” (Ps 119:121).

En kan ek vandag elkeen van hierdie verse van harte bid: “Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie.” (Ps 119:122). As dit dan só is dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here, soos die Psalm sê, waarborg dit dan vir my; sorg dat dit vir my in vervulling laat gaan; sorg dat die goeie my nie verbygaan nie …

  • “My oë smag na u verlossing, na u belofte van geregtigheid.” (Ps 119:123).
  • “Handel met u dienskneg volgens u troue liefde.” (Ps 119:124a).

Die oplossing vir die pyn van dissipelskap lê egter nie in die vermyding van die pyn van gehoorsaamheid nie, maar in die omhelsing daarvan, om IN die pyn te leer wat God se voorskrifte is. Want, dit is dié wat ly wat gehoorsaamheid leer ken, wat deur God geleer word, hoe nou verder. Dit is die punt van dié Psalm. Ons is God se diensknegte beide in die ervaring van sy troue liefde as in die ervaring van die pyn van gehoorsaamheid. Daarom, steeds die versugting, selfs en veral in die pyn van navolging: “en leer my u voorskrifte …” (119:124b).

Daarom is my behoefte vandag dieselfde as die Psalmis s’n: “gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken.” (119:125). Want, ek leer hier dat kennis nie net met verklaring te make het nie, hoe belangrik dit ook al is. Kennis het met insig te make, en dié insig kom baie keer eers tot jou as jy pyn in jou gehoorsaamheid van God se openbaring ervaar. Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid. Daarmee saam bid ek ook dat die Here in sy regverdigheid sal optree, omdat dit net só duidelik is vir my vandag dat mense rondom ons die openbaring (wet) van God kragteloos maak met hulle oortredings daarvan. (119:126). Soos dit in die Psalmis se tyd was, só is dit ook vandag. Daarteenoor moet die Psalmis natuurlik homself aan God se bevele en opdragte oorgee om dit sorgvuldig na te kom, soos dit ook gevra word van elkeen van ons (119:128a). Daarom sê die Psalmis, het hy God se bevele lief: “ja, meer as goud, as suiwer goud.” (119:127). En die omgekeerde is net so waar: “En elke pad van bedrog haat ek.” (119:128b).

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119121-128-ajin-insig-le-anderkant-die-pyn-van-gehoorsaamheid/

Lukas 23:33-43 – Vandag sal jy saam met my in die paradys wees

16 November

Lukas 23:33-43 – Vandag sal jy saam met my in die paradys wees

33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. 35Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” 36Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle naderstaan en vir Hom suur wyn aanbied, 37met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” 38Bokant Hom was daar ook ‘n opskrif: “Hy is die koning van die Jode.” 39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” 40Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! 41In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” 43Jesus het hom geantwoord: “Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Twee misdadigers – waarskynlik rowers of diewe (vgl Mrk 15:27; Mat 27:44) – word saam met Jesus na die plek wat Skedel genoem is – Golgota (in Latyn Calvaria, in Engels Calvary)– gelei om gekruisig te word. Jesus word in die middel van dié twee gekruisig, een aan sy regterkant, en een aan sy linkerkant. Jesus gee met die kruisiging sy eerste van sewe kruiswoorde. Dit is ‘n gebed tot sy Vader dat Hy die Jode sal vergewe, omdat hulle nie weet wat hulle doen nie – soos Stefanus Hom later sal navolg toe hy self die hoogste prys vir sy getuienis moes betaal (Hand 7:60). Jesus se klere word deur die lot verdeel, sodat dit nie in stukke gesny hoef te word nie. Die verdeling van sy klere is ’n vervulling van Psalm 22:19 wat ook ander ooreenkomste met die kruisiging toon.

Die volk se instemming met die kruisiging word uitgebeeld deur die feit dat hulle net gestaan en kyk het. Die leiers was meer spraaksaam en het Jesus uitgelag vir sy swakheid in hulle oë. Hy wat bekend gestaan het as die Messias van God, die Uitverkorene, wie se missie dit wat om ander te red, kon nou Homself nie red van die dood nie. Ook die soldate het hulle spottery voortgesit deur Hom aan te por om sy Koningskap te bewys – soos die opskrif op die kruis bokant Hom verklaar het – deur Homself te red. Hulle het ook vir Hom suur wyn aangebied as deel van die spottery, ‘n vervulling van Psalm 69:21 (vgl Matt 27:48). Dit moet onderskei word van die wyn met mirre (Mrk 15:23) of gal (Matt 27:34) wat Hom ook aangebied is. Die dubbele ironie van al die Jode se gespot is dat hulle eerstens Hom uitlag omdat Hy Homself nie kan red nie, terwyl dit hulle is wat Hom gekruisig het, en tweedens dat dit presies die manier is waarop Hy ons verlos, deur sy oorgawe aan hulle verraderlike optrede. Deur onskuldig vir ons aan die kruis te hang, bewerk Hy vir ons vergifnis van sonde.

Dan verskuif Lukas ons aandag na die eerste misdadiger. Dié het Jesus ook soos die soldate beledig. As Hy dan die Christus, die Messias, is, laat Hy Homself dan red, en sommer op die koop toe ook die ander wat saam met Hom daar gehang het. Die tweede misdadiger het egter die eerste een tereggewys vir sy oneerbiedigheid teenoor God. Dit is dwaas om sonder ‘n vrees vir God te sterf, want dan kan jy slegs sy oordeel verwag. Hy brei dan uit oor hulle vonnis wat geregverdig is. Hulle het gekry wat hulle verdien het. Dit was egter nie die geval met Jesus nie. Hy het niks sleg gedoen nie. Dan draai die tweede misdadiger na Jesus toe en sê daardie beroemde woorde: “Jesus, onthou my wanneer U in u koninkryk kom.” Waarop Jesus Hom met sy tweede kruiswoord verseker dat hy vandag reeds saam met Jesus in die paradys sal wees (Openb 2:7).

Dit ruk ‘n mens aan die hart dat die Jode so blind kan wees dat hulle nie insien dat hulle verwerping van hierdie onskuldige man, die Seun van God, tot hulle eie verwerping deur sy Vader sal lei nie. ‘n Mens sien ook hier dat ‘n mens Jesus se stilswye in sy verhoor nie moet misverstaan asof Hy nie presies weet wat die gevolge vir die Jode se bespotting van geregtigheid vir hulle inhou nie. Asof Hy niks daaroor te sê het nie. Of dat Hy doodgewoon hulle sonde oorsien asof niks gebeur het nie. Inteendeel, Hy is helder oor die oordeel wat kom vir almal wat nie die genadetyd gebruik wat Hy vir hulle deur sy onskuldige lyding bied nie. Jesus se kruisdood is beide God se straf vir die sonde sowel as sy vryspraak vir elkeen wat in Jesus glo. As die Jode dit maar net wou raaksien. Die eerste kruiswoord oor vergifnis is ook betekenisvol, want dit verklaar dat die kruisdood die hand van vergifnis is wat Jesus uitreik na ‘n wêreld wat Hom verwerp. Elkeen wat dié vergifnis aanvaar, spring die straf van die sonde vry. Elkeen wat dié vergifnis verwerp, skryf daardeur sy eie doodvonnis. In albei gevalle bevestig die gelowige en die ongelowige die regverdigheid van God se straf oor die sonde.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-231-56-die-onskuldige-sterf-vir-ons-die-skuldiges/

Kolossense 1:3-23 – God het ons uit die duisternis gered en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun

15 November

Kolossense 1:3-23 – God het ons uit die duisternis gered en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun

3Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus. 4Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die heiliges het, 5op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, 6julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. 7Dit het julle geleer by Epafras, ons geliefde medewerker, wat ter wille van julle ‘n getroue dienskneg van Christus is. 8Dit was ook hy wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. 9Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, 10om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, 11en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap 12moet julle die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig. 13God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun – 14deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het. 15Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene oor die hele skepping; 16want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. 17Hy het voor alles bestaan, en in Hom hou alles stand. 18Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk. Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem; 19want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, 20en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis. 21Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; 22maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – 23mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.

Hierdie brief word gerig aan die gelowiges in Kolosse, ‘n groterige dorp geleë aan die Likusrivier in Klein-Asië, nie ver van Laodisea en Hiërapolis af nie. Die gemeente in Kolosse is nie deur Paulus gestig nie, maar heel moontlik deur Epafras. Hierdie omgewing is in 61 nC deur ‘n vernietigende aardbewing getref. Hierna het Kolosse feitlik heeltemal uit die geskiedenis verdwyn. Paulus het deur Epafras van die gelowiges in Kolosse se geloof en liefde gehoor, maar ook dat hulle aan dwaalleer blootgestel word. Hy skryf aan hierdie gemeente om die dwaalleer deur die ware evangelie van Jesus Christus te weerlê. Die apostel se aanslag is om aan te spoor, op te voed en te bemoedig. Want, ons verloor baie keer perspektief op wat op die spel is in die evangelie van Jesus Christus. Ons vergeet onder andere so maklik dat ons “uit die mag van die duisternis gered” is en “verplaas” is “na die koninkryk” van God se “geliefde Seun”. Dit is hierdie goeie nuus wat vir ons ‘n werklikheid geword het midde in die duisternis van hierdie sondige wêreld.

Dit is waaroor Paulus skryf in die eerste deel van hierdie hoofstuk. Hy onderstreep sy blydskap oor die feit dat die gelowiges in Kolosse glo in die Here Jesus Christus, dat hulle lief is vir al die ander heiliges, dat hulle groei in die genade deur die waarheid wat aan hulle verkondig is, na te streef. Maar hy is ook helder daaroor dat hulle geloof, liefde en groei nie beteken dat hulle nie steeds blootgestel is aan die suigkrag van die duisternis waaruit hulle geruk is nie. Dit is waarom Paulus bid vir hulle sodat hulle nie net vervul sal word met die volle kennis van God se wil deur die wysheid en insig wat die Gees gee nie, maar dat hulle tot eer van die Here sal lewe en Hom in alles tevrede sal stel deur goeie werke.

Hoekom? Want dit is die hele punt van die bevryding uit die duisternis. “Sodat Hy deur sy dood julle heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel.” Jesus, die Eersgeborene van die hele skepping (Kol 1:15-17), die Eersgeborene vanuit die dood (Kol 1:18-20) – dws van die herskepping – wil alles met God versoen, wil vrede bring tussen God en mens, sodat alles op aarde en in die hemel met God versoen kan lewe. Hy wil deur sy kruisdood ons só fundamenteel verander dat ons “heilig, sonder foute en onberispelik” voor God gestel kan word. Dit is dus waarheen ons op pad is. Om aan die einde van die tyd in ‘n groot kosmiese skouspel, as “heiliges”, mense wat sonder foute is, mense wat onberispelik is, voor God gestel te word, sodat God Homself in ons kan verlustig, en kan sê, sien julle, daar is my mense, dié mense wat ek nou vir ewig in gemeenskap met My intrek en vir ewig met hulle sal lewe. Hulle is my volk, en Ek is hulle God. Ons hoort nou bymekaar vir ewig.

Maar, dan moet julle in die geloof bly, sê Paulus. Dan moet julle in Hom gegrondves bly. Dan moet julle onwrikbaar in die waarheid van die Here Jesus Christus leef. Volgens die woord wat die apostels in die NT vir ons deurgegee het. Niks mag ons verhinder om dié waarheid te gehoorsaam nie. Niks. Want, in die woorde van die NT, in die woorde van die Bybel, hoor ons die stem van God self soos die Gees dit in ons harte getuig. En daardie woord moet ons gehoorsaam. Niks minder nie. Niks meer nie.

Lees meer: https://bybelskool.com/kolossense-11-14-om-god-te-ken-en-vir-hom-te-lewe/ en https://bybelskool.com/kolossense-115-23-jesus-die-here-van-die-skepping-en-die-herskepping/ en twee preke: https://ngkerksomerstrand.co.za/jou-onsigbare-vriend-kolossense-1/ en https://ngkerksomerstrand.co.za/kolossense-113-26-heilig-sonder-foute-en-onberispelik-voor-god/

Onlangse kommentaar