Skip to main content

Tag: Beloftes

Jeremia 23:1-8 – God belowe ‘n regverdige Koning wat ons geregtigheid sal wees

14 November

Dit is die laaste week van die 2022 kerkjaar. Die fokus in die RCL tekste hierdie week is op die betekenis van Jesus Christus as die Koning. Daarom word tekste soos Jeremia 23:1-6 gelees wat die verwagting van die belofte van die Messias beklemtoon. Ook Kolossense 1:11-20 wat op Jesus se status as die eerste in die Skepping sowel as die Herskepping fokus. Daar word selfs ‘n teks vanuit die kruisigingsverhaal in Lukas 23:33-43 gelees, veral omdat dit die verwagting van die Paradys wat deur geloof in Jesus vir die een moordenaar aan die kruis moontlik raak, beklemtoon. Die kerkjaar sluit af volgende Sondag met die loflied van Sagaria in Lukas 1:68-79 wat fokus op die wonder van die geboortes van die voorloper, Johannes die Doper, en die Verlosser, Jesus Christus, onderskeidelik. Daarmee is die tafel gedek vir die volgende kerkjaar wat begin met die Advent en Kersfees gebeure.

Ek sluit oudergewoonte hierdie week dele uit Psalm 119 en Spreuke in, en voltooi die reeks oor beloftes ‘n jaar ná ons begin het, op Maandag 21 November (52 weke plus 1 dag = 365 dae). Ek gaan daarna ‘n paar bonus beloftes gee uit Psalm 119 net om my bydraes daaroor volledig te maak. Ons sluit dus hierdie rondte in die Bybelskool met die beloftes af op 24 November. Dankie vir die saamreis!

Jeremia 23:1-8 – God belowe ‘n regverdige Koning wat ons geregtigheid sal wees

1“Wee die herders wat die kleinvee van my weiveld ten gronde laat gaan en hulle uitmekaarjaag,” is die uitspraak van die Here. 2“Daarom, so sê Ek, die Here, die God van Israel, oor die herders wat my volk moet laat wei, ‘Dit is julle wat my kleinvee uitmekaar gejaag en verdryf het. Julle het nie vir hulle verantwoordelikheid aanvaar nie. Kyk, Ek gaan julle tot verantwoording roep oor julle bose dade,’ ” is die uitspraak van die Here. 3“ ‘Maar Ek self sal dié wat oor is van my kleinvee bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het, en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld. Dan sal hulle vrugbaar wees en vermeerder. 4En Ek sal herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle laat wei. Hulle sal nie meer bang of verskrik wees of vermis word nie,’ ” is die uitspraak van die Here. 5“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek vir Dawid ‘n regverdige Loot sal laat opkom. Hy sal as koning regeer en verstandig optree; Hy sal in die land reg en geregtigheid handhaaf. 6In sy dae sal Juda verlos word, en Israel sal veilig woon. En dit sal sy naam wees wat Hy genoem word, ‘Die Here is ons geregtigheid.’ ” 7“Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer hulle nie meer sal sê, ‘So waar as die Here leef, wat die Israeliete uit Egipteland laat optrek het nie,’ 8maar, ‘So waar as die Here leef, wat die nageslag van die huis van Israel laat optrek en gebring het uit ‘n land in die noorde, en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het.’ En hulle sal weer op hulle grond woon.”

Jeremia sluit die oordeelsprofesieë teen die konings af met die belofte van ’n regverdige koning wat die Here sal voorsien.  Dit is natuurlik op sigself steeds ‘n oordeel teen die goddelose leiers wat die volk mislei en op die verkeerde koers laat beland het, maar terselfdertyd ‘n hoopvolle verwagting vir die toekoms. Hierdie profesie bestaan uit drie dele:

Jeremia 23:1-4 – ’n oordeelsprofesie oor die herders (konings) wat die kudde (volk) verwaarloos en verstrooi het en die Here wat self gaan optree, die verstrooiing gaan ophef en hulle onder sy sorg in hulle land sal terugbring met nuwe herders wat die Here sal aanstel.  Dit is vervul met die terugkoms na die land in die tyd van die Persiese koning Darius.

Jeremia 23:5-6 – ’n belofte van ’n verstandige en regverdige koning, die “regverdige loot van Dawid”, wat die soortgelyke belofte in Jesaja 11:1-9 eggo (vgl ook Jer 33:15).  Sy naam sal letterlik wees: “Jahwe ons geregtigheid.”  Hierdie belofte het duidelik Messiaanse trekke wat vervul is met die koms van die Messias, Jesus Christus.

Jeremia 23:7-8 – ’n belofte van terugkeer uit ballingskap wat die betekenis van die vorige Uittog uit Egipte sal oorskadu en hulle weer in hulle eie land sal vestig.  Dit is ná sewentig jaar ballingskap vervul met die terugkoms in die tyd van die Persiese koning Darius.

Hierdie vervulling het egter die boodskap van die profesie nie uitgeput nie, want Jesus word in die NT as ons geregtigheid beskryf. Paulus skryf in sy eerste brief aan die Korinte soos volg: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (1 Kor 1:30) Hy volg dit op in sy tweede brief aan hulle met dié boodskap: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Kor 5:21)

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-23-ellende-wag-vir-julle-leiers/

Lukas 21:5-19 – Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie

13 November

Lukas 21:5-19 – Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie

5Terwyl sommige praat oor die tempelterrein, oor die mooi stene en die gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê: 6“Dit wat julle hier sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op ‘n ander gelaat word nie; alles sal afgebreek word.” 7Hulle het Hom toe gevra: “Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur, en wat is die teken wat sal aandui wanneer dit gaan gebeur?” 8Hy het geantwoord: “Pasop dat julle nie mislei word nie, want daar sal baie mense in my Naam na vore tree en sê, ‘Dit is ek!’ of ‘Die tyd is op hande!’ Moenie agter hulle aanloop nie. 9Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie vreesbevange raak nie, want hierdie dinge moet eers gebeur; maar dit sal nie onmiddellik die einde wees nie.” 10Verder het Hy ook vir hulle gesê: “Een nasie sal teen ‘n ander nasie optrek, en een koninkryk teen ‘n ander koninkryk. 11Daar sal hewige aardbewings wees, en op een plek ná die ander sal daar hongersnood en epidemies uitbreek. Daar sal groot en skrikwekkende tekens uit die hemel kom. 12Maar voor al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle gevange neem en julle vervolg. Hulle sal julle aan die sinagoges oorlewer en in die tronke opsluit; hulle sal julle voor konings en prokurators sleep ter wille van my Naam. 13Dit sal vir julle ‘n geleentheid wees om te getuig. 14Neem julle dan voor om nie vooraf na te dink oor julle verdediging nie, 15want Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie. 16Julle sal selfs deur julle ouers, broers, familie en vriende uitgelewer word, en hulle sal sommige van julle doodmaak. 17Julle sal ook deur almal gehaat word ter wille van my Naam. 18Daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie. 19Red julle lewens deur te volhard.”

In Lukas is hierdie boodskap oor die tempel die eerste deel van die profetiese rede. Hy sal nog vyf aspekte daarvan weergee: allerlei rampe en vervolginge wat daarop sal volg (Luk 21:7-19); Jerusalem wat verwoes sal word (Luk 21:20-24); die Seun van die mens wat uiteindelik sal terugkeer (Luk 21:25-28); die koninkryk van God wat sal kom (Luk 21:29-33 – gelykenis van die vyeboom); ‘n oproep dat die dissipels waaksaam en biddend moet bly (Luk 21:34-38).

Soos Jesus wegstap van die tempel, want die mense praat duidelik van buite af oor die geheel van die tempel (vgl Mark 13:1), het sommige die mooi klippe en dankoffers (versierings wat aan die Here geoffer is) waarmee dit versier is, bewonderend opgemerk. Jesus sien egter dieper en verder. Hierdie sigbare weelde sal nie die toets van die tyd kan deurstaan nie. Daar sal dae kom waarin daar nie een klip van die tempel op ‘n ander gelaat sal word nie. Daarmee voorspel Jesus die Romeins-Joodse oorlog van 70 nC waar na ‘n vier jaar Joodse rebellie die Romeine Jerusalem in net ses maande beleër en uiteindelik verwoes het.

Die dissipels reageer op Jesus se voorspelling van die tempel deur te vra wanneer hierdie dinge sal gebeur. Hulle wil weet of daar ‘n teken is wat hulle sal help met die berekening van wanneer die verwoesting sal aanbreek. Jesus skets vir hulle ‘n prentjie van die dinge van die eindtyd, maar fokus meer op wat hulle te doen staan ín dié tyd as op die detail ván die tyd. Sy eerste opdrag aan hulle is om te sorg dat hulle nie mislei word nie. Dit sal nodig wees, omdat baie sal kom in Jesus se Naam en voorgee dat hulle Hom verteenwoordig, selfs dat hulle Hy is (dink aan die uiteindelike Antichris). Sommige sal hulle ook mislei deur te sê die tyd het naby gekom (dink aan die talle voorspellings van datums deur die eeue). Jesus beveel hulle egter ernstig om nie sulke mense te glo óf agter hulle aan te gaan nie.

Sy tweede opdrag aan hulle is dat hulle nie beangs moet raak as hulle hoor van oorloë en opstande nie (dink aan die oorloë en gewapende konflikte in 70 lande en tussen 851 groepe in die wêreld volgens Wars in the World se opname in 2021). Die rede wat Hy gee vir moedhou in uitdagende tye is dat Jesus hierdie dinge voorspel het. Dit is ‘n onafwendbare deel van die pad na die einde toe, nie die einde self nie. Die realiteit van die tyd van die einde is dat daar wydverspreide wanorde tussen mense sal wees. Nasies en koninkryke sal teen mekaar in opstand kom. Daar sal ook wydverspreide wanorde in die natuur wees met aardbewings, hongersnode (limoi) op verskeie plekke, sowel as plae (loimoi, wydverspreide aansteeklike siektes – dink aan pandemies deur die eeue, ook die huidige Covid-19 pandemie). Trouens, uiteindelik sal daar wanorde in die kosmos kom met skrikwekkende gebeure en groot tekens van die hemel af – alles teken van God se oordeel (vgl bv Deut 32:24; Eseg 6:11; Openb 6:12; 16:18). Dit is egter nie al nie. Hulle gaan volharding nodig hê (vgl vers 19). Vóór die einde deur hierdie groot tekens kom, sal hulle erge vervolging moet verduur. Jesus praat hier dus met alle gelowiges wat tussen sy eerste en tweede koms lewe. Die anti-Christelike magte sal hulle hande aan die dissipels slaan en hulle vervolg. Hulle sal oorgelewer word aan godsdienstige magte (sinagoges) en wêreldse magte (tronke). Hulle sal in die proses ter wille van sy Naam voor konings en goewerneurs gebring word. En dit is presies die wyse waarop Jesus die vervolging gaan gebruik. Die vervolging “sal vir julle uitloop op ’n getuienis.”

Dit is waarom hulle ‘n hartsbesluit moet neem – onthou “hart” is ‘n aanduiding van jou gedagtewêreld – om nie staat te maak op ‘n toespraak wat hulle ter verdediging vooraf beplan nie, want die Here Jesus (Markus sê deur die Heilige Gees wat op die eenheid tussen Jesus en die Gees dui) sal self vir hulle die woorde en wysheid gee wat al hulle teenstanders nie sal kan weerstaan of weerspreek nie. Hulle vertroue moet op God self wees, nie op hulle eie insigte nie. Dit beteken egter nie dat hulle daarom die sake sal wen nie. Die realiteit sal steeds wees dat van hulle in die proses doodgemaak sal word en dit weens die verraad van ouers, broers, familielede en vriende – só erg sal die teenstand teen hulle wees. Trouens, hulle sal gehaat word deur almal – wat nie in Jesus glo nie – ter wille van sy Naam.

Jesus se belofte is dat daar beslis nie ’n haar van hulle hoof verlore sal gaan nie wat natuurlik ‘n metafoor is om hulle ewige beskerming uit te druk, want hulle sal nog steeds doodgemaak kan word ter wille van hulle getuienis. Jesus bedoel daarmee dat hulle steeds in die hande van God sal wees, en nie uit hulle verhouding met Hom geruk sal word nie. Hulle sal dus nie geestelik deur fisiese lyding en die dood skade ly nie. Kyk ook na Luk 12:8 vir ‘n soortgelyke stelling, waar duidelik gesê word dat die fisiese dood nie ‘n ewige skade aan gelowiges kan berokken nie. Paulus gebruik ook ‘n variasie van die stelling in Hand 27:34. Daar word dit egter letterlik bedoel. Deur hierdie volharding sal hulle dus hulle lewens red vir die ewigheid.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-211-38-volhard-in-waaksaamheid-en-gebed/

Psalm 119:113-120 – Ontsag vir God se woord bring ondersteuning en onderskraging

12 November

Psalm 119:113-120 – Ontsag vir God se woord bring ondersteuning en onderskraging

ס SAMEK 113Dubbelhartige mense haat ek, maar u wet het ek lief. 114My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop. 115Gaan weg van my, julle kwaaddoeners, sodat ek by die gebooie van my God kan hou. 116Ondersteun my, volgens u woord, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie. 117Onderskraag my, sodat ek verlos kan word; ek wil voortdurend aan u voorskrifte aandag gee. 118U verwerp almal wat dwaal, weg van u voorskrifte af; want hulle bedrog is misleidend. 119Soos metaalskuim verwyder U al die goddeloses van die aarde; daarom het ek u bepalings lief. 120My lyf bewe omdat U vrees inboesem; ja, vir u beslissings is ek vol ontsag.

Die vyftiende deel van Psalm 119 onderstreep die krag van God beide om te ondersteun en onderskraag sowel as om te verwerp en verwyder. God se openbaring struktureer die werklikheid op ‘n omvattende manier. Hy bepaal wat gebeur. Hy doen wat Hy openbaar. Hy self is getrou aan wat Hy sê, soos die Psalmis dit hier uitdruk met die woorde wet, woord, bevele/gebooie, voorskrifte, bepalings/verordeninge en beslissings/bepalings – ses van die woorde wat in die Psalm daarvoor gebruik word. Om die openbaring van God met alles wat in jou is, na te volg, is dus nie net die beste pad nie. Dit is die enigste pad wat jy kan volg. Jou liefde vir God se openbaring, moet opgevolg word, en word verdiep deur, jou uitvoering en nakoming daarvan in die fynste detail. Hy is ‘n skuilplek en ‘n skild, ‘n plek van veiligheid en beskerming. Sy woorde is ‘n huis om in te woon. Dit is daarom dat die kontras tussen die gelowiges en die goddeloses geteken word in vers 117-118 deur te wys op die plek wat hulle aan God se openbaring in hulle lewe gee. Die Psalmis verklaar onomwonde dat hy voortdurend aan God se voorskrifte wil aandag gee. Die teenoorgestelde is waar van die goddeloses van die aarde wat van God se voorskrifte afdwaal.

Nog erger is mense wat dubbelhartig is, d.w.s. huigel. Mense wat op die oog af instemming betuig met die woord van God, maar hulle lewens nie daardeur laat bepaal nie. Mense wat hoor, maar nie doen nie, soos Jesus en Jakobus lank hierna uitspel.

  • Jesus som die Bergrede op met die voorbeeld van die onverstandige man wat sy huis op die sand gebou het en nie kan standhou in die reën nie versus die verstandige met sy huis op die rots wat Jesus se woorde navolg (Matt 7:24-27).
  • Jakobus spel die gevolge uit van mense wat hoor en nie doen nie met die voorbeeld van die man wat in ‘n spieël na homself kyk, maar dan vergeet hoe hy gelyk het (Jak1:19-27). Trouens, Jakobus gaan aan om hierdie ongelooflike belangrike seën uit te spreek – en let op dat hy steeds van God se wet praat wat vrymaak: “Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daarby bly, sal geseënd wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener wat sy werk doen.” (Jak. 1:25)

Sulke mense staar verwerping en verwydering in die oë, sê Psalm 119: “soos metaalskuim verwyder U al die goddelose van die aarde.” (vers 119). Jy kan nie na God se woorde luister en dit nie doen nie. Dit is die dood in die pot vir jou lewe. En, sê die Psalmis, jy moet jou afskei van mense wat kwaaddoen, sodat jy die openbaring van God kan nakom. Die Psalm ontlok in my dieselfde ontsag vir God se woord as wat ek in die Psalmis raaksien: “My lyf bewe omdat U vrees inboesem;” (vers 120). Dit ontlok ook in my dieselfde gebed: “Ondersteun my, soos U beloof het, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie. Onderskraag my, sodat ek verlos kan word” (vers 116-117). Ondersteuning en onderskraging. My gebed vir dié dag terwyl ek die wil van die Here soek en doen.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119113-120-samek-ontsag-vir-god-se-woord-bring-ondersteuning-en-onderskraging/

Spreuke 24:23-34 – Die voordele van die regte prioriteite

11 November

Spreuke 24:23-34 – Die voordele van die regte prioriteite

23Ook hierdie spreuke is van die wyses: Om partydig te wees in regspraak is nie goed nie. 24Wie vir ‘n goddelose sê, “Jy is regverdig” – volke sal hom vervloek, nasies sal hom verdoem. 25Maar dit gaan goed met dié wat ‘n goddelose skuldig vind; oor hulle kom die seën van voorspoed.

26Wie eerlike antwoorde gee, is soos ‘n soen op die lippe.

27Doen jou werk buite bestendig, en handel jou werk op jou land af; bou dan daarna jou huis.

28Moenie sonder gronde as getuie optree teen jou medemens nie! Sal jy met jou lippe mislei? 29Moet dít nie sê nie: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen; ek gaan die man vergeld ooreenkomstig sy optrede.”

30By die land van ‘n lui mens het ek verbygeloop, en by die wingerd van ‘n mens sonder verstand. 31Kyk, dit was heeltemal toegegroei onder brandnetels, die grond was oortrek met onkruid, en sy klipmuur was afgebreek. 32Ek het dit bekyk en ter harte geneem; ek het dit gesien en as ‘n vermaning aanvaar: 33‘n Bietjie slaap, ‘n bietjie insluimer, ‘n bietjie hande vou om te rus; 34dan kom, soos ‘n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos ‘n skaamtelose man.

Ná die 30 spreuke van die wyses (Spr 22:17-24:22) volg daar 5 spreuke oor die voordele van regverdigheid (1ste), eerlikheid (2de,4de), die regte prioriteite (3de) en verstandige fluksheid (5de). Die voordele daarvan is nie net vir jou persoonlik van waarde nie, maar ook vir jou vriende en die gemeenskap.

Spreuk 1 – Partydigheid is onregverdig – Spreuke 24:23-25.

Partydigheid kom eintlik in alle verhoudings voor, waarin iemand voorgetrek word bo ‘n ander. Maar die onreg daarvan is veral wreed waar dit in die regshowe gebeur, waar ‘n regter partydig is vir ‘n skuldige en onskuldiges daaronder ly. Dit is nie reg nie, soos Spreuke so sonder ophef, maar helder sê. Let op hoe só ‘n regter deur die hele bevolking verwens en vervloek word, sonder dat die impak op só ‘n persoon persoonlik uitgespel word. Die teendeel is egter waar van die seën en voorspoed wat regverdige regters sal ervaar. Dit sal vir almal sigbaar wees.  ‘n Mens kan nie anders as om aan die partydigheid van Pilatus te dink in die verhoor van Jesus, waar hy die skuldige Barabbas vrygelaat het in plaas van die onskuldige Jesus, omdat hy die Joodse raad se guns wou behou (vgl Matt 27:15-26). Daar was die skare egter aan Pilatus se kant, opgesweep deur die Joodse leiers, en is hy nie verwens en vervloek nie. Tog, die geskiedenis leer ons dat Pilatus se termyn as goewerneur waarskynlik kort na Jesus se dood beëindig is, hy in ballingskap gestuur is, en in 37 nC selfmoord gepleeg het. Dit is nou volgens die 1ste eeuse Joodse geskiedskrywer Josephus, die 4de eeuse kerkvader Eusebius, asook die 10de eeuse Arabiese geskiedskrywer Agapius van Hierapolis.

Spreuk 2 – ‘n Ware vriend is eerlik – Spreuke 24:26.

In die oorspronklike staan daar dat dié een wat eerlik antwoord, “’n soen op die lippe” is (1933/53-vertaling). Soos dit in die 1983-vertaling vertaal is: “’n ware vriend”. Die NCV vertaal: “An honest answer is as pleasing as a kiss on the lips.” Herodotos, die Griekse geskiedskrywer uit die 5de eeu vC, vertel van ’n tradisie onder die Perse dat só ’n soen ’n teken van ware vriendskap is. ‘n Mens kan daarom nie anders as om die hele gebeure in Getsemane in herinnering te roep nie, waar die Seun van die mens juis deur so ‘n soen verraai is, waar Judas doelbewus ‘n vriendskapsgebaar gebruik het om Jesus te verraai (vgl Matt 26:49). Saam met die vorige spreuk, vorm dit ‘n interessante agtergrond vir die kruisverhaal van Jesus in die NT.

Spreuk 3 – Werk volgens die regte prioriteite – Spreuke 24:27.

Die ongemaklike waarheid is dat ‘n mens se harde werk ongedaan gemaak kan word, as jy nie met die regte prioriteite werk nie. Jy kan nie beplan om êrens te woon as jy nie eers ‘n werk het om jou daar aan die lewe te hou nie. Die orde is: bewerk eers jou lande, en bou dan jou huis. Dit is ‘n metafoor vir die nakom van die regte prioriteite wat in baie lewensverbande nagevolg kan word.

Spreuk 4 – Wees eerlik selfs al word jy te na gekom – Spreuke 24:28-29.

Weer word ‘n verwysing na die lippe gebruik om oor eerlikheid kommentaar te lewer. “Mag jy met jou lippe mislei?”, soos dit in die oorspronklike Hebreeus staan. Die waarskuwing geld selfs al is ‘n mens te na gekom. Vergelding of wraakgierigheid is nie deel van die wyse manier van lewe nie. Hierdie spreuk wys dus die misleiding met jou lippe – valse getuienis – sterk af.

Spreuk 5 – Armoede volg op luiheid en onverstandigheid – Spreuke 24:30-34.

Spreuke dink redelik baie oor armoede en wyt dit aan verskeie oorsake. Hier word ‘n sterk band tussen armoede en luiheid sowel as onverstandigheid getrek. Armoede is dus nie net aan eksterne invloede te wyte nie, ook aan interne motivering (of dan juis ‘n gebrek aan motivering!) en verkeerde keuses. In samehang met spreuk 3 sien ‘n mens in die beskrywing van hierdie tipe armoede die gevolg van verkeerde prioriteite. Wanneer jy nie onkruid en bossies bestry nie, en jou wingerd verder beveilig deur ‘n klipmuur nie, dan kom jou armoede metafories aangestap, en oorval gebrek jou soos ‘n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.  Vers 33-34 moet ’n mens eintlik vaslê in jou geheue: “Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ’n gewapende man.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-241-22-oorwin-die-kwaad-met-die-goeie/ en

https://bybelskool.com/nog-woorde-van-die-wyses-ii/ en

https://bybelskool.com/spreuke-2423-34-prioriteite-bepaal-alles/

Psalm 119:105-112 – U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad

10 November

Psalm 119:105-112 – U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad

נ NUN 105U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad. 106Ek het ‘n eed afgelê – en daarby gehou – om u regverdige beslissings na te kom. 107Ek is baie terneergedruk; Here, maak my lewend volgens u woord! 108Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees, Here, en leer my u beslissings. 109My lewe is voortdurend in my hande; maar u wet vergeet ek nie. 110Goddeloses het vir my ‘n net gespan, maar van u opdragte het ek nie afgewyk nie. 111Ek het u bepalings as blywende erfporsie ontvang; ja, dit is die vreugde van my hart. 112Ek rig my hart daarop om u voorskrifte uit te voer – vir altyd, tot die einde toe.

Die eerste vers van die veertiende deel van Psalm 119 is seker een van die meer bekende verse in die hele Psalm 119: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.” (vers 105). Omdat God se woord vir hom insig bring en rigting gee in die lewe werp hy daarom alles in die stryd om daaraan gehoorsaam te wees. Hy bevestig dit met ‘n eed en hou hom daarby. Selfs al kry hy swaar in sy gehoorsaamheid aan die woord van God, kom hy dit na, terwyl hy hom ook verlaat op God se belofte en Hom smeek: “maak my lewend volgens u woord!” (vers 107). In sy smeekgebed om uitkoms, bly hy egter steeds getrou om die Here te loof: “Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees.” (vers 108).

Vers 109 is ‘n besondere getuienis van sy onwrikbare keuse om gehoorsaam te wees. Dit lui letterlik: “My siel/lewe (is) in my hande/handpalms voortdurend/gedurig, en/maar u wet vergeet ek nie.” Die NAV vertaal pragtig op dinamiese wyse: “My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie.” Die NIV vertaal dit selfs vir my nog beter: “Though I constantly take my life in my hands, I will not forget your law.” Die vers dra dus die betekenis dat die Psalmis op berekende wyse aan God se wet getrou bly, ten spyte van die feit dat dit hom in gevaar bring.

Dié gevaar is veral van die goddelose wat vir hom strikke stel, maar hulle versteur nie die verbintenis aan God wat hy gemaak het nie. Die Here se openbaring is sy “blywende erfporsie” waarop hy altyd fokus om dit sy eie te maak. Dit is die vreugde van sy hart. Hy sal altyd daaraan getrou bly: “vir altyd, tot die einde toe.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119105-112-nun-ek-gehoorsaam-u-ten-spyte-van-gevaar/

Onlangse kommentaar