Spreuke 22:17-21; 23:17-18 – Verseker jou toekoms deur vreugde te vind in die ontsag vir die Here
Ná die eerste bundel van 375 Salomo spreuke is daar 2 bundels van die gesegdes van die wyses in Spreuke opgeneem (Spr 22:17-24:22; 24:23-34). Die eerste bundel het ‘n inleiding (Spr 22:17-21) en dan 30 spreuke van wisselende lengte, afhangende van hoe jy die spreuke indeel. Die tweede bundel is ‘n kort addendum tot die eerste een met ‘n inleiding (Spr 24:23) en bevat 5 spreuke.
Ek hanteer die inleiding en spreuk 15 (Spr 23:17-18).
Spreuke 22:17-21; 23:17-18 – Verseker jou toekoms deur vreugde te vind in die ontsag vir die Here
17Spits jou oor en luister na die woorde van wyses! En jou hart, stel dit in op my kennis! 18Want dit is aangenaam as jy dit in jou binneste bewaar, as dit alles gereed lê op jou lippe. 19Met die oog daarop dat jou vertroue op die Here sal wees, maak ek dit vandag aan jou bekend, ja, aan jou. 20Het ek nie vir jou dertig spreuke opgeskryf met raad en kennis 21om aan jou die waarheid, betroubare woorde, bekend te maak, sodat jy betroubare antwoorde kan gee aan dié wat jou gestuur het nie?
17Jou hart moet nie opgewonde raak oor sondaars nie, maar wees die hele tyd opgewonde oor ontsag vir die Here. 18Daar is beslis ‘n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
Inleiding: Dit is noodsaaklik om jou ore vir wysheid te spits, want dit help jou om self wyse woorde kwyt te raak in geselskap. Dit is ook die primêre manier waarop ‘n mens leer om op die Here te vertrou. Dit is sekerlik die belangrikste funksie van die wysheid. Die bevestiging van die wysheid lê in die vrug wat dit oplewer.
Spreuk 15: Verseker jou toekoms deur vreugde te vind in die ontsag vir die Here. Daar is altyd die verleiding en versoeking om afgunstig te wees op die gemak waarmee sondaars hulle eie belange dien (vgl Ps 73 wat op die uiteinde van die goddelose dui). Spreuke waarsku egter dat ‘n mens se heil nie daarin lê nie, maar in ‘n lewe in ontsag vir die Here. Trouens, om nie net jou vreugde daarin te vind nie, maar opgewonde te wees daaroor. Dan het ‘n mens ‘n ware hoopvolle toekoms wat jou nie ontneem kan word nie. Soos Kidner sê oor ‘n mens se versoeking om na die sukses van goddeloses te kyk: “The remedy is to look up and look ahead.” (Proverbs)
Lees meer: https://bybelskool.com/die-woorde-van-die-wyses-i/ en https://bybelskool.com/spreuke-2217-29-wysheid-leer-jou-om-god-te-vertrou/ en https://bybelskool.com/spreuke-231-35-werk-aan-jou-netwerk-van-verhoudings/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar