Skip to main content

2 Tessalonisense 2:1-17 – Die Here Jesus versterk ons vir elke goeie daad en woord

3 November

2 Tessalonisense 2:1-17 – Die Here Jesus versterk ons vir elke goeie daad en woord

1Wat die koms van ons Here Jesus Christus en ons ontmoeting met Hom betref, vra ons julle, broers, 2om nie skielik kop te verloor en verontrus te word deur ‘n geestesuitspraak of ‘n woord of ‘n brief, wat skynbaar van ons af sou kom, en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie. 3Laat niemand julle op enige manier op ‘n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, 4die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die tempel gaan sit en hom as God voordoen. 5Onthou julle nie dat ek herhaaldelik met julle oor hierdie dinge gepraat het toe ek nog by julle was nie? 6En nou weet julle wat dit is wat hom terughou, om op sy eie tyd geopenbaar te word. 7Want die wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk, maar net totdat hy wat hom nog terughou, uit die weg geruim is. 8En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig. 9Deur die werking van Satan, sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met volle magsvertoon, met bedrieglike tekens en wonders, 10en met elke vorm van goddelose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. 11En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, 12en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word. 13Ons, egter, broers, behoort God altyd vir julle te dank, julle vir wie die Here liefhet, omdat God julle as eerstelinge gekies het om verlos te word, deurdat die Gees julle heilig, en deurdat julle die waarheid glo. 14Hy het julle ook daartoe geroep om deur ons verkondiging van die evangelie die heerlikheid van ons Here Jesus Christus te verkry. 15Daarom dan, broers, wees standvastig, en hou vas aan die oorlewerings waarin julle onderrig is deur ‘n woord of ‘n brief van ons af. 16En mag ons Here Jesus Christus self, en God, ons Vader, wat ons liefhet en uit genade aan ons blywende bemoediging en goeie hoop gee, 17julle harte bemoedig, en vir elke goeie daad en woord versterk.

Dit is duidelik dat die gemeente in Tessalonika Paulus verkeerd verstaan het. Sy boodskap in sy eerste brief (hfst 5) dat Jesus onverwags sou kom, is deur hulle geïnterpreteer dat Jesus moontlik reeds gekom het óf binnekort sou kom. Dit kan ook moontlik wees dat daar iemand was wat valslik in sy naam ’n brief geskryf het (2 Tess 2:2) en sommige verwar het met ’n verkeerde interpretasie van sy vorige boodskap oor die wederkoms. Paulus versoek hulle egter om nie so gou van stryk gebring te word deur misleidende interpretasies oor die wederkoms nie, maak nie saak of dit in ’n profetiese uitspraak gedoen word of deur ’n brief nie.

Die wettelose mens waarvan Paulus hier praat kan óf met ’n demoniese mag óf ’n despotiese leier verbind word. As dit ’n despotiese leier sou wees, kan dit miskien dui op keiser Titus wat in 70 nC Jerusalem ingeneem het en die tempel ontheilig het (vgl Jesus se opmerkings oor die gruwel van die verwoesting in Mrk 13:14). As dit ’n demoniese mag sou wees, verwys Paulus se uitsprake na die Antichris in die eindtyd net voor die wederkoms van die Here Jesus (dit kan met die “dier uit die aarde” verbind word – Openb 13:11). Dit is ook moontlik om albei betekenisse te aanvaar, en ’n eerste vervulling met keiser Titus en ’n tweede vervulling aan die einde van die tyd hierin raak te sien (vgl 1 Joh 2:18 – daar is eintlik sprake van ’n hele paar antichriste).

Hoe dit ook al sy, die Tessalonisense het die lering verstaan, want hy het dit blykbaar die vorige keer met hulle deurgepraat. Dit bly egter vir ons onseker presies wat hy bedoel, omdat die NT nie baie meer detail hieroor gee nie. Dit geld ook die betekenis van die “geheime krag wat hom teëhou”. Dit is al met die Romeinse ryk, wat op plekke die evangelie goedgesind was, verbind; ook met die evangelie verkondiging, dws dat deur die verspreiding van geloof, die wettelose teruggedryf word; ook met engele of met die Heilige Gees of God self, hoewel dit nie sin maak dat die Gees eers “uit die weg (moet) wees” nie (vers 7). Selfs die grote Augustinus het hieroor gesê dat dit vir hom ’n onopgeloste raaisel is (City of God) … en ek dink hy het ’n punt beet! Miskien is William Hendriksen egter reg wat sê dat ons hier met ’n beskrywing van die algemene handhawing van reg en orde deur regerings en ander instansies te make het. Wanneer dit verdwyn, sal die wetteloosheid oorneem, en is dit die einde.

Terloops, dan was daar al tye wat dit byna gebeur het: dink maar net aan die twee Wêreldoorloë van die vorige eeu, en wat tans in soveel dele van die wêreld gebeur: Afganistan, Pakistan, Iran, Irak, en baie dele van Asië en Afrika, selfs in die Amerikas en Europa … Is daar ’n plek waar wetteloosheid nie dreig om oor te neem nie, wonder ek skielik?! Wat wel seker is, is dat dit die Satan is wat agter die wettelose en die wetteloosheid sit. Let egter op dat hy dit net regkry om dié te mislei wat reeds nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. Die veroordeling kom dus nadat hulle reeds hulle keuse teen God se boodskap in Jesus Christus gemaak en Hom verwerp het.

Die Satan se werk, in die lig van wat die res van die Bybel ook daaroor skrywe, kan in 4 woorde opgesom word: versoeking (Matt 4), misleiding (1 Kon 22:21-22; Ef 6), teenspoed (Open 2:10) en aanklag (Job 1; Open 12:10). Sy werk word daarom ook nie uitgewis deur “duiwel-uitdrywing” in die eerste plek nie, maar deur die waarheid te soek en te leef (Joh 8:31 vv; Ef 6:14,17 – hier word dit met die Woord van God verbind), getuienis te lewer (2 Kor 10:4-5; Ef 6:15,16) en biddend te lewe (Matt 6:13; Ef 6:18).

As ‘n mens al die inligting hierbo so beskou, is dit maklik om benoud te raak. Hoe meer jy weet van wat in die wêreld aangaan, hoe meer weet jy van die mag van wetteloosheid. Dan is die woorde waarmee Paulus hierdie perikoop begin en eindig ‘n belofte wat ook vir my en jou bedoel is: Jesus kom weer en Hy sal ons met Hom herenig na Hy die wetteloosheid uit die weg geruim het! Dit beteken ook dat ek moet waak teen wetteloosheid in my eie lewe – ek kan nie ’n norm vir myself word nie, dat wat ek dink goed en sleg is, my lewe bepaal nie. Dié voorreg behoort net aan die Here. En sy belofte is dat Hy self ons versterk vir elke goeie daad en word, selfs al is dit in die konteks van wetteloosheid.

Lees meer: https://bybelskool.com/2-tessalonisense-21-12-wetteloosheid-se-mag-sal-gebreek-word/ en https://bybelskool.com/2-tessalonisense-213-17-god-sterk-ons-in-die-goeie/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.