Lukas 21:5-19 – Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie
Lukas 21:5-19 – Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie
5Terwyl sommige praat oor die tempelterrein, oor die mooi stene en die gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê: 6“Dit wat julle hier sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op ‘n ander gelaat word nie; alles sal afgebreek word.” 7Hulle het Hom toe gevra: “Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur, en wat is die teken wat sal aandui wanneer dit gaan gebeur?” 8Hy het geantwoord: “Pasop dat julle nie mislei word nie, want daar sal baie mense in my Naam na vore tree en sê, ‘Dit is ek!’ of ‘Die tyd is op hande!’ Moenie agter hulle aanloop nie. 9Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie vreesbevange raak nie, want hierdie dinge moet eers gebeur; maar dit sal nie onmiddellik die einde wees nie.” 10Verder het Hy ook vir hulle gesê: “Een nasie sal teen ‘n ander nasie optrek, en een koninkryk teen ‘n ander koninkryk. 11Daar sal hewige aardbewings wees, en op een plek ná die ander sal daar hongersnood en epidemies uitbreek. Daar sal groot en skrikwekkende tekens uit die hemel kom. 12Maar voor al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle gevange neem en julle vervolg. Hulle sal julle aan die sinagoges oorlewer en in die tronke opsluit; hulle sal julle voor konings en prokurators sleep ter wille van my Naam. 13Dit sal vir julle ‘n geleentheid wees om te getuig. 14Neem julle dan voor om nie vooraf na te dink oor julle verdediging nie, 15want Ek sal julle die woorde en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie. 16Julle sal selfs deur julle ouers, broers, familie en vriende uitgelewer word, en hulle sal sommige van julle doodmaak. 17Julle sal ook deur almal gehaat word ter wille van my Naam. 18Daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie. 19Red julle lewens deur te volhard.”
In Lukas is hierdie boodskap oor die tempel die eerste deel van die profetiese rede. Hy sal nog vyf aspekte daarvan weergee: allerlei rampe en vervolginge wat daarop sal volg (Luk 21:7-19); Jerusalem wat verwoes sal word (Luk 21:20-24); die Seun van die mens wat uiteindelik sal terugkeer (Luk 21:25-28); die koninkryk van God wat sal kom (Luk 21:29-33 – gelykenis van die vyeboom); ‘n oproep dat die dissipels waaksaam en biddend moet bly (Luk 21:34-38).
Soos Jesus wegstap van die tempel, want die mense praat duidelik van buite af oor die geheel van die tempel (vgl Mark 13:1), het sommige die mooi klippe en dankoffers (versierings wat aan die Here geoffer is) waarmee dit versier is, bewonderend opgemerk. Jesus sien egter dieper en verder. Hierdie sigbare weelde sal nie die toets van die tyd kan deurstaan nie. Daar sal dae kom waarin daar nie een klip van die tempel op ‘n ander gelaat sal word nie. Daarmee voorspel Jesus die Romeins-Joodse oorlog van 70 nC waar na ‘n vier jaar Joodse rebellie die Romeine Jerusalem in net ses maande beleër en uiteindelik verwoes het.
Die dissipels reageer op Jesus se voorspelling van die tempel deur te vra wanneer hierdie dinge sal gebeur. Hulle wil weet of daar ‘n teken is wat hulle sal help met die berekening van wanneer die verwoesting sal aanbreek. Jesus skets vir hulle ‘n prentjie van die dinge van die eindtyd, maar fokus meer op wat hulle te doen staan ín dié tyd as op die detail ván die tyd. Sy eerste opdrag aan hulle is om te sorg dat hulle nie mislei word nie. Dit sal nodig wees, omdat baie sal kom in Jesus se Naam en voorgee dat hulle Hom verteenwoordig, selfs dat hulle Hy is (dink aan die uiteindelike Antichris). Sommige sal hulle ook mislei deur te sê die tyd het naby gekom (dink aan die talle voorspellings van datums deur die eeue). Jesus beveel hulle egter ernstig om nie sulke mense te glo óf agter hulle aan te gaan nie.
Sy tweede opdrag aan hulle is dat hulle nie beangs moet raak as hulle hoor van oorloë en opstande nie (dink aan die oorloë en gewapende konflikte in 70 lande en tussen 851 groepe in die wêreld volgens Wars in the World se opname in 2021). Die rede wat Hy gee vir moedhou in uitdagende tye is dat Jesus hierdie dinge voorspel het. Dit is ‘n onafwendbare deel van die pad na die einde toe, nie die einde self nie. Die realiteit van die tyd van die einde is dat daar wydverspreide wanorde tussen mense sal wees. Nasies en koninkryke sal teen mekaar in opstand kom. Daar sal ook wydverspreide wanorde in die natuur wees met aardbewings, hongersnode (limoi) op verskeie plekke, sowel as plae (loimoi, wydverspreide aansteeklike siektes – dink aan pandemies deur die eeue, ook die huidige Covid-19 pandemie). Trouens, uiteindelik sal daar wanorde in die kosmos kom met skrikwekkende gebeure en groot tekens van die hemel af – alles teken van God se oordeel (vgl bv Deut 32:24; Eseg 6:11; Openb 6:12; 16:18). Dit is egter nie al nie. Hulle gaan volharding nodig hê (vgl vers 19). Vóór die einde deur hierdie groot tekens kom, sal hulle erge vervolging moet verduur. Jesus praat hier dus met alle gelowiges wat tussen sy eerste en tweede koms lewe. Die anti-Christelike magte sal hulle hande aan die dissipels slaan en hulle vervolg. Hulle sal oorgelewer word aan godsdienstige magte (sinagoges) en wêreldse magte (tronke). Hulle sal in die proses ter wille van sy Naam voor konings en goewerneurs gebring word. En dit is presies die wyse waarop Jesus die vervolging gaan gebruik. Die vervolging “sal vir julle uitloop op ’n getuienis.”
Dit is waarom hulle ‘n hartsbesluit moet neem – onthou “hart” is ‘n aanduiding van jou gedagtewêreld – om nie staat te maak op ‘n toespraak wat hulle ter verdediging vooraf beplan nie, want die Here Jesus (Markus sê deur die Heilige Gees wat op die eenheid tussen Jesus en die Gees dui) sal self vir hulle die woorde en wysheid gee wat al hulle teenstanders nie sal kan weerstaan of weerspreek nie. Hulle vertroue moet op God self wees, nie op hulle eie insigte nie. Dit beteken egter nie dat hulle daarom die sake sal wen nie. Die realiteit sal steeds wees dat van hulle in die proses doodgemaak sal word en dit weens die verraad van ouers, broers, familielede en vriende – só erg sal die teenstand teen hulle wees. Trouens, hulle sal gehaat word deur almal – wat nie in Jesus glo nie – ter wille van sy Naam.
Jesus se belofte is dat daar beslis nie ’n haar van hulle hoof verlore sal gaan nie wat natuurlik ‘n metafoor is om hulle ewige beskerming uit te druk, want hulle sal nog steeds doodgemaak kan word ter wille van hulle getuienis. Jesus bedoel daarmee dat hulle steeds in die hande van God sal wees, en nie uit hulle verhouding met Hom geruk sal word nie. Hulle sal dus nie geestelik deur fisiese lyding en die dood skade ly nie. Kyk ook na Luk 12:8 vir ‘n soortgelyke stelling, waar duidelik gesê word dat die fisiese dood nie ‘n ewige skade aan gelowiges kan berokken nie. Paulus gebruik ook ‘n variasie van die stelling in Hand 27:34. Daar word dit egter letterlik bedoel. Deur hierdie volharding sal hulle dus hulle lewens red vir die ewigheid.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-211-38-volhard-in-waaksaamheid-en-gebed/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar