Skip to main content

Spreuke 24:23-34 – Die voordele van die regte prioriteite

11 November

Spreuke 24:23-34 – Die voordele van die regte prioriteite

23Ook hierdie spreuke is van die wyses: Om partydig te wees in regspraak is nie goed nie. 24Wie vir ‘n goddelose sê, “Jy is regverdig” – volke sal hom vervloek, nasies sal hom verdoem. 25Maar dit gaan goed met dié wat ‘n goddelose skuldig vind; oor hulle kom die seën van voorspoed.

26Wie eerlike antwoorde gee, is soos ‘n soen op die lippe.

27Doen jou werk buite bestendig, en handel jou werk op jou land af; bou dan daarna jou huis.

28Moenie sonder gronde as getuie optree teen jou medemens nie! Sal jy met jou lippe mislei? 29Moet dít nie sê nie: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen; ek gaan die man vergeld ooreenkomstig sy optrede.”

30By die land van ‘n lui mens het ek verbygeloop, en by die wingerd van ‘n mens sonder verstand. 31Kyk, dit was heeltemal toegegroei onder brandnetels, die grond was oortrek met onkruid, en sy klipmuur was afgebreek. 32Ek het dit bekyk en ter harte geneem; ek het dit gesien en as ‘n vermaning aanvaar: 33‘n Bietjie slaap, ‘n bietjie insluimer, ‘n bietjie hande vou om te rus; 34dan kom, soos ‘n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos ‘n skaamtelose man.

Ná die 30 spreuke van die wyses (Spr 22:17-24:22) volg daar 5 spreuke oor die voordele van regverdigheid (1ste), eerlikheid (2de,4de), die regte prioriteite (3de) en verstandige fluksheid (5de). Die voordele daarvan is nie net vir jou persoonlik van waarde nie, maar ook vir jou vriende en die gemeenskap.

Spreuk 1 – Partydigheid is onregverdig – Spreuke 24:23-25.

Partydigheid kom eintlik in alle verhoudings voor, waarin iemand voorgetrek word bo ‘n ander. Maar die onreg daarvan is veral wreed waar dit in die regshowe gebeur, waar ‘n regter partydig is vir ‘n skuldige en onskuldiges daaronder ly. Dit is nie reg nie, soos Spreuke so sonder ophef, maar helder sê. Let op hoe só ‘n regter deur die hele bevolking verwens en vervloek word, sonder dat die impak op só ‘n persoon persoonlik uitgespel word. Die teendeel is egter waar van die seën en voorspoed wat regverdige regters sal ervaar. Dit sal vir almal sigbaar wees.  ‘n Mens kan nie anders as om aan die partydigheid van Pilatus te dink in die verhoor van Jesus, waar hy die skuldige Barabbas vrygelaat het in plaas van die onskuldige Jesus, omdat hy die Joodse raad se guns wou behou (vgl Matt 27:15-26). Daar was die skare egter aan Pilatus se kant, opgesweep deur die Joodse leiers, en is hy nie verwens en vervloek nie. Tog, die geskiedenis leer ons dat Pilatus se termyn as goewerneur waarskynlik kort na Jesus se dood beëindig is, hy in ballingskap gestuur is, en in 37 nC selfmoord gepleeg het. Dit is nou volgens die 1ste eeuse Joodse geskiedskrywer Josephus, die 4de eeuse kerkvader Eusebius, asook die 10de eeuse Arabiese geskiedskrywer Agapius van Hierapolis.

Spreuk 2 – ‘n Ware vriend is eerlik – Spreuke 24:26.

In die oorspronklike staan daar dat dié een wat eerlik antwoord, “’n soen op die lippe” is (1933/53-vertaling). Soos dit in die 1983-vertaling vertaal is: “’n ware vriend”. Die NCV vertaal: “An honest answer is as pleasing as a kiss on the lips.” Herodotos, die Griekse geskiedskrywer uit die 5de eeu vC, vertel van ’n tradisie onder die Perse dat só ’n soen ’n teken van ware vriendskap is. ‘n Mens kan daarom nie anders as om die hele gebeure in Getsemane in herinnering te roep nie, waar die Seun van die mens juis deur so ‘n soen verraai is, waar Judas doelbewus ‘n vriendskapsgebaar gebruik het om Jesus te verraai (vgl Matt 26:49). Saam met die vorige spreuk, vorm dit ‘n interessante agtergrond vir die kruisverhaal van Jesus in die NT.

Spreuk 3 – Werk volgens die regte prioriteite – Spreuke 24:27.

Die ongemaklike waarheid is dat ‘n mens se harde werk ongedaan gemaak kan word, as jy nie met die regte prioriteite werk nie. Jy kan nie beplan om êrens te woon as jy nie eers ‘n werk het om jou daar aan die lewe te hou nie. Die orde is: bewerk eers jou lande, en bou dan jou huis. Dit is ‘n metafoor vir die nakom van die regte prioriteite wat in baie lewensverbande nagevolg kan word.

Spreuk 4 – Wees eerlik selfs al word jy te na gekom – Spreuke 24:28-29.

Weer word ‘n verwysing na die lippe gebruik om oor eerlikheid kommentaar te lewer. “Mag jy met jou lippe mislei?”, soos dit in die oorspronklike Hebreeus staan. Die waarskuwing geld selfs al is ‘n mens te na gekom. Vergelding of wraakgierigheid is nie deel van die wyse manier van lewe nie. Hierdie spreuk wys dus die misleiding met jou lippe – valse getuienis – sterk af.

Spreuk 5 – Armoede volg op luiheid en onverstandigheid – Spreuke 24:30-34.

Spreuke dink redelik baie oor armoede en wyt dit aan verskeie oorsake. Hier word ‘n sterk band tussen armoede en luiheid sowel as onverstandigheid getrek. Armoede is dus nie net aan eksterne invloede te wyte nie, ook aan interne motivering (of dan juis ‘n gebrek aan motivering!) en verkeerde keuses. In samehang met spreuk 3 sien ‘n mens in die beskrywing van hierdie tipe armoede die gevolg van verkeerde prioriteite. Wanneer jy nie onkruid en bossies bestry nie, en jou wingerd verder beveilig deur ‘n klipmuur nie, dan kom jou armoede metafories aangestap, en oorval gebrek jou soos ‘n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.  Vers 33-34 moet ’n mens eintlik vaslê in jou geheue: “Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ’n gewapende man.”

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-241-22-oorwin-die-kwaad-met-die-goeie/ en

https://bybelskool.com/nog-woorde-van-die-wyses-ii/ en

https://bybelskool.com/spreuke-2423-34-prioriteite-bepaal-alles/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar