Jeremia 23:1-8 – God belowe ‘n regverdige Koning wat ons geregtigheid sal wees
Dit is die laaste week van die 2022 kerkjaar. Die fokus in die RCL tekste hierdie week is op die betekenis van Jesus Christus as die Koning. Daarom word tekste soos Jeremia 23:1-6 gelees wat die verwagting van die belofte van die Messias beklemtoon. Ook Kolossense 1:11-20 wat op Jesus se status as die eerste in die Skepping sowel as die Herskepping fokus. Daar word selfs ‘n teks vanuit die kruisigingsverhaal in Lukas 23:33-43 gelees, veral omdat dit die verwagting van die Paradys wat deur geloof in Jesus vir die een moordenaar aan die kruis moontlik raak, beklemtoon. Die kerkjaar sluit af volgende Sondag met die loflied van Sagaria in Lukas 1:68-79 wat fokus op die wonder van die geboortes van die voorloper, Johannes die Doper, en die Verlosser, Jesus Christus, onderskeidelik. Daarmee is die tafel gedek vir die volgende kerkjaar wat begin met die Advent en Kersfees gebeure.
Ek sluit oudergewoonte hierdie week dele uit Psalm 119 en Spreuke in, en voltooi die reeks oor beloftes ‘n jaar ná ons begin het, op Maandag 21 November (52 weke plus 1 dag = 365 dae). Ek gaan daarna ‘n paar bonus beloftes gee uit Psalm 119 net om my bydraes daaroor volledig te maak. Ons sluit dus hierdie rondte in die Bybelskool met die beloftes af op 24 November. Dankie vir die saamreis!
Jeremia 23:1-8 – God belowe ‘n regverdige Koning wat ons geregtigheid sal wees
1“Wee die herders wat die kleinvee van my weiveld ten gronde laat gaan en hulle uitmekaarjaag,” is die uitspraak van die Here. 2“Daarom, so sê Ek, die Here, die God van Israel, oor die herders wat my volk moet laat wei, ‘Dit is julle wat my kleinvee uitmekaar gejaag en verdryf het. Julle het nie vir hulle verantwoordelikheid aanvaar nie. Kyk, Ek gaan julle tot verantwoording roep oor julle bose dade,’ ” is die uitspraak van die Here. 3“ ‘Maar Ek self sal dié wat oor is van my kleinvee bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het, en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld. Dan sal hulle vrugbaar wees en vermeerder. 4En Ek sal herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle laat wei. Hulle sal nie meer bang of verskrik wees of vermis word nie,’ ” is die uitspraak van die Here. 5“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek vir Dawid ‘n regverdige Loot sal laat opkom. Hy sal as koning regeer en verstandig optree; Hy sal in die land reg en geregtigheid handhaaf. 6In sy dae sal Juda verlos word, en Israel sal veilig woon. En dit sal sy naam wees wat Hy genoem word, ‘Die Here is ons geregtigheid.’ ” 7“Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer hulle nie meer sal sê, ‘So waar as die Here leef, wat die Israeliete uit Egipteland laat optrek het nie,’ 8maar, ‘So waar as die Here leef, wat die nageslag van die huis van Israel laat optrek en gebring het uit ‘n land in die noorde, en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het.’ En hulle sal weer op hulle grond woon.”
Jeremia sluit die oordeelsprofesieë teen die konings af met die belofte van ’n regverdige koning wat die Here sal voorsien. Dit is natuurlik op sigself steeds ‘n oordeel teen die goddelose leiers wat die volk mislei en op die verkeerde koers laat beland het, maar terselfdertyd ‘n hoopvolle verwagting vir die toekoms. Hierdie profesie bestaan uit drie dele:
Jeremia 23:1-4 – ’n oordeelsprofesie oor die herders (konings) wat die kudde (volk) verwaarloos en verstrooi het en die Here wat self gaan optree, die verstrooiing gaan ophef en hulle onder sy sorg in hulle land sal terugbring met nuwe herders wat die Here sal aanstel. Dit is vervul met die terugkoms na die land in die tyd van die Persiese koning Darius.
Jeremia 23:5-6 – ’n belofte van ’n verstandige en regverdige koning, die “regverdige loot van Dawid”, wat die soortgelyke belofte in Jesaja 11:1-9 eggo (vgl ook Jer 33:15). Sy naam sal letterlik wees: “Jahwe ons geregtigheid.” Hierdie belofte het duidelik Messiaanse trekke wat vervul is met die koms van die Messias, Jesus Christus.
Jeremia 23:7-8 – ’n belofte van terugkeer uit ballingskap wat die betekenis van die vorige Uittog uit Egipte sal oorskadu en hulle weer in hulle eie land sal vestig. Dit is ná sewentig jaar ballingskap vervul met die terugkoms in die tyd van die Persiese koning Darius.
Hierdie vervulling het egter die boodskap van die profesie nie uitgeput nie, want Jesus word in die NT as ons geregtigheid beskryf. Paulus skryf in sy eerste brief aan die Korinte soos volg: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (1 Kor 1:30) Hy volg dit op in sy tweede brief aan hulle met dié boodskap: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Kor 5:21)
Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-23-ellende-wag-vir-julle-leiers/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ansie Lessing
‘n Baie verrykynde reis. Baie dankie.
Chris van Wyk
👍