Skip to main content

Tag: Beloftes

2 Petrus 1:5-9 – Geloofsgroei bring groot vrug voort

31 Augustus

Die RCL teks vir vandag is Lukas 14:25-33. Dit is ‘n baie belangrike aanmoediging tot dissipelskap van Jesus. Jy kan ‘n bydrae uit Prontuit die Waarheid hier lees: https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/06/LUKAS14_25-33.docx. Ek hanteer egter 2 Petrus 1:5-9 vandag wat óók op dissipelskap fokus, maar ‘n spesifieke belofte daaraan koppel.

2 Petrus 1:5-9 – Geloofsgroei bring groot vrug voort

5Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, 6by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, 7by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense. 8Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik, en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is, wat julle kennis van ons Here Jesus Christus betref nie. 9Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig, en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is.

Omdat God nie net deur sy goddelike krag vir ons alles gegee het wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe nie, maar daarby deel gegee het aan die goddelike natuur, moet ons ons toelê daarop om óns geloof – dws ons subjektiewe vasgryp aan die Here – te verryk met ‘n sewetal geestelike aspekte – Petrus se weergawe van Paulus se vrug van die Gees (Gal 5:22) – sodat daardie geloofsgroei vrug kan dra in ons lewe. Anders is nie net die geloof nutteloos nie, maar ook ons kennis. Iets om regtig ter harte te neem.

Dié sewe aspekte waarop ons dus moet fokus dra veral ‘n etiese karakter. Dit is: deug (uitnemendheid of verantwoordelikheid), insig (kennis in die sin van begrip, soos ook in Fil 1:10), selfbeheersing, volharding, godvresendheid (‘n toegewyde lewe), broederliefde (in Grieks filadelphia – liefde onder mekaar) en liefde vir alle mense (in Grieks agape – onselfsugtige ten-spyte-van liefde).

Die belofte is dat dié geloofsgroei ons in staat sal stel om nuttig te wees in die koninkryk deur die vrug wat ons dra. As dié dinge egter ontbreek in ons geestelike lewe, is ons blind en kortsigtig oor God se doel met ons lewe en het ons vergeet dat die Here ons juis skoongemaak het om vir Hom te lewe. Hy het ons gekies en geroep om saam met Hom die ewigheid binne te gaan. Geestelike groei sal verseker dat ons dié doel nie mis nie.

Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/bou-jou-geloof-2-petrus-11-11/

Psalm 144 – Gelukkig is die volk wie se God die Here is!

30 Augustus

Die RCL teks vir vandag is Filemon 1-21. Jy kan my bydrae daaroor hier lees: https://bybelskool.com/filemon-versoening-tussen-werkgewers-en-werknemers/ Die enigste raakpunt met beloftes in Filemon is Paulus se versoek in vers 22 dat Filemon vir hom die gastekamer gereed maak, want Paulus verwag om deur hulle gebede aan hulle geskenk te word. Hy maak dus staat op die belofte van gebedsverhoring! Ek kies egter ‘n ander teks vir vandag, Psalm 144.

Psalm 144 – Gelukkig is die volk wie se God die Here is!

1Van Dawid. Die Here, my rots, moet geprys word, Hy maak my hande bedrewe vir die geveg, my vingers vir die oorlog. 2Hy is my vertroueling, my bergskuiling, my beskutting, my bevryder, my skild, en by Hom skuil ek, Hy wat my volk aan my onderwerp. 3Here, wat is ‘n mens dat U hom versorg, ‘n sterfling dat U hom in ag neem? 4‘n Mens is soos ‘n asemteug, sy lewensdae soos ‘n vlugtige skaduwee. 5Here, buig u hemel af en daal neer; raak die berge aan, sodat hulle rook. 6Laat weerligte flits en dryf hulle uitmekaar; stuur u pyle en bring hulle in verwarring. 7Reik met u hand uit die hoogte, bevry my en red my uit die watermassa, uit die hand van vreemdes 8wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is. 9O God, ‘n nuwe lied wil ek vir U sing, met begeleiding van die tiensnarige harp wil ek U besing – 10U wat aan konings die oorwinning gee, wat Dawid, u dienskneg, bevry van ‘n dodelike swaard. 11Bevry my en red my uit die hand van vreemdes wie se monde onsin verkondig, en wie se regterhande bedrieglik is, 12sodat ons seuns soos volgroeide plante kan wees in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgekerf, geskik vir ‘n paleis, 13sodat ons graanskure vol kan wees, alle soorte kos kan lewer, ons kleinvee met duisende, met tienduisende, kan vermeerder in ons oop weivelde, 14en ons beeste swaar dragtig kan wees; met geen bres in ons mure nie, geen veldtogte en geen gejammer op ons pleine nie. 15Gelukkig is die volk met wie dit so gaan; gelukkig is die volk wie se God die Here is!

Die Psalm val duidelik in twee dele uiteen.  Die eerste deel – vers 1-11 – beskryf in die eerste persoon enkelvoud die gebed van die koning om bevryding.  Die tweede deel – vers 12-15 – beskryf in die eerste persoon meervoud die gebed van die koning vir en namens die geloofsgemeenskap dat die Here hulle op omvattende wyse sal seën. Die 2020-vertaling verbind dié twee dele met ‘n “sodat” in vers 12 om die implisiete verband tussen die bevryding van konflik en die seën van ‘n florerende gemeenskap te beklemtoon.  Daarmee word twee van die grootste teologiese lyne in die OT aan mekaar verbind – die Abrahamitiese tradisie van seën en die Mosaïese tradisie van bevryding.  En dit is betekenisvol dat dit in die gebed van Dawid gekombineer word, want hy is dan ook die voorafskaduwing van die Messias, Jesus Christus, die een wat ons verlos en die een wat ons seën.

Dit wil voorkom asof die konteks in die eerste gedeelte ‘n dreigende oorlog is – vgl. vers 1 wat praat van oorlog en vers 10 wat praat van die oorwinning wat God aan konings gee, ook aan Dawid sy dienskneg wat Hy: “bevry van ‘n dodelike swaard.” Eksegeties is daar ‘n baie belangrike woordspeling wat in die 1983-vertaling verlore raak. Dit is die verwysing na Dawid se hande wat deur die Here geleer word om oorlog te maak (vers 2), die Here se hand wat uit die hoogte hom red van gevaar (vers 7), in die konteks van die vreemdelinge: “wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is.” (vers 8 en 11 – 1983-vertaling: “wie se woorde en dade leuens en bedrog is.”) Die laaste verwysing na die vreemdelinge se “regterhande” dui waarskynlik op valse eedswering, want, soos vandag, is die regterhand opgehou as teken van ‘n eed van waarheid.  Dawid se teenstanders se regterhande is egter bedrieglik en dui eintlik op die teendeel, dws dat hulle nie hulle woord kan hou nie.

Daarom prys hy die Here dat dié standvastig bly midde in die konflik.  Hy druk dit in die eerste twee verse uit met ses beskrywings van God wat almal as beloftes aangegryp kan word: my Rots, Vertroueling, Bergskuiling, Toevlugsoord, Bevryder, en Skild by wie hy skuil.  Dít betuig die Here aan hom deurdat die Here hom in staat stel om die konflik die hoof te bied – “Hy wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak.” Maar, let op dat dié vaardigheid uiteindelik aangevul moet word – eintlik afhanklik is daarvan – dat God se hand hom nie net versorg en in ag neem (vgl. die eksplisiete verwysing na Ps. 8 se loflied op God se sorg vir die mens) al is hy soos ‘n asemteug en sy lewensdae soos ‘n vlugtige skaduwee.

Nee, God se hand reik uit die hemel soos van ouds by die berg Sinai – terwyl die berge rook en die weerligte flits – en bring verwarring by die vyande en bevry Dawid van die konflik (watermassa) ten spyte van die onsin wat die vreemdelinge verkondig en die bedrog van hulle gedrag. Daarom, wil Dawid die Here loof op sy tiensnarige harp, omdat God Hom telkens bewys as die een wat in konflik Self ingryp en klaarheid en oorwinning bring.  Let op hoe Dawid aan dié loflied weereens die gebed koppel teen die vreemdelinge se onsin en bedrog, ‘n baie belangrike herhaling, wat die erns van die situasie waarin hy verkeer, beklemtoon.

Dawid skets dan die voorsienige seën van die Here wat hulle almal se deel sal wees, as God hom bystaan in die oorlog.  Hulle seuns sal nie in hulle jeug sneuwel nie, maar volgroeide plante word.  Hulle dogters sal nie weggevoer word in slawerny nie, maar soos hoekpilare die familie se voortbestaan nie net bevestig nie, maar ook versier met hulle skoonheid: “uitgekerf, geskik vir ‘n paleis.” Dit sal ook sorg dat die graanskure vol van kos kan word, en die weivelde vol vee, en die beeste vrugbaar en hulle gemeenskapslewe kan floreer: “met geen bres in ons mure nie, en geen gejammer op ons pleine nie.” Die dood sal nie meer die volk se bestaan kenmerk nie. ‘n Droom?!  Moenie glo nie: “Hoe gelukkig is die volk wie se God die Here is!” Waar Hy hulle lei en hulle Hom volg, is dít hulle voorland – bevryding en seën!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-144-hoe-gelukkig-is-die-volk-wie-se-god-die-here-is/

Psalm 139:14-16 – God bepaal al die dae van ons lewe

29 Augustus

Psalm 139:14-16 – God bepaal al die dae van ons lewe

14Ek prys U omdat ek op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. 15My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. 16U oë het my vormloosheid gesien. En in u boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.

God se beloftes omvat ons hele bestaan. Sy betrokkenheid by ons kom van voor ons geboorte af en strek tot aan die einde van ons lewe, “dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.” God se beplanning van ons ontstaan en ontwikkeling is dus omvattend. Uit die NT weet ons nog helderder dat hierdie betrokkenheid die dae insluit selfs ná ons aardse dood. God se belofte is dat ons lewe sal voortgaan tot in die ewige lewe.

Hierdie betrokkenheid begin by God wat ons gevorm het in die moederskoot. Dit sluit ons skelet in, die deel van ons liggaam wat struktuur aan die tapisserie van menswees gee. Dit sluit uiteindelik ook al ons lewensdae in wat in God se boek opgeskryf is – nie soseer alles wat sal gebeur nie, maar die tydsduur daarvan.

‘n Mens kan hier iets raaksien van die feit dat elkeen van ons ons oorsprong in God se gedagtes het. God het ‘n prentjie van ons gehad, vóór ons nog daar was, en ons toe geskep daarvolgens. Dit is eintlik net ‘n ontsagwekkende oorweldigende bewussyn. Of ons slaap en of ons wakker is, ons is altyd in God se gedagtes. Daarom moet ons God toelaat om ook altyd in ons gedagtes te wees.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-139-die-wonder-van-god-en-van-menswees/

Sagaria 14:1-9 – Die Here sal koning word oor die hele aarde

28 Augustus

Die RCL skryf Jeremia 2:4-13 voor vir vandag. Jy kan hier lees wat ek daaroor geskryf het: https://bybelskool.com/jeremia-2-my-volk-het-my-vergeet/. Ek kies ‘n teks uit Sagaria 14 wat verband hou met Jeremia se boodskap oor God as die fontein van lewende water (vgl ook Jer 17:13).

Sagaria 14:1-9 – Die Here sal koning word oor die hele aarde

1“Kyk, daar kom ‘n dag van die Here! Jou buit, Jerusalem, sal in jou midde verdeel word. 2Ek sal al die nasies vir die oorlog teen Jerusalem byeenbring. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue verkrag word. Die helfte van die stad sal in ballingskap weggaan, maar die res van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie.” 3Daarna sal die Here optrek en teen daardie nasies oorlog voer soos wanneer Hy veg op die dag van stryd. 4Op daardie dag sal sy voete staan op die Olyfberg, wat voor Jerusalem aan die oostekant lê. Die Olyfberg sal middeldeur skeur van oos na wes, ‘n baie groot vallei sal ontstaan. Die een helfte van die berg sal verskuif na die noorde en die ander helfte na die suide. 5Julle sal vlug na die vallei tussen my berge, want die vallei tussen die berge sal tot by Asal strek. Julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom en al die heiliges sal saam met Hom wees. 6Op daardie dag sal daar nie lig wees nie, ook nie koue of ryp nie. 7Dit sal ‘n uitsonderlike tyd wees wat net aan die Here bekend is, sonder dag of nag. Teen die aand sal dit lig word. 8In daardie tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei, die een helfte na die oostelike see en die ander helfte na die westelike see. In die somer en in die winter sal dit so wees. 9Die Here sal koning word oor die hele aarde. In daardie tyd sal die Here die enigste wees, en sy Naam die enigste.

Sagaria word afgesluit met profesieë wat die boodskap herhaal dat God sy finale koninkryk vestig deur die Lydende Messiaanse Koning – Sagaria 12-14. God sal sy koninkryk op aarde vestig op só ‘n wyse dat sy teenwoordigheid die sentrum van alles raak, ook die sentrum van die nasies. Sagaria 14 fokus op die koninkryk van God wat in Jerusalem gevestig sal word sodat sy teenwoordigheid die hele aarde kan transformeer. Dit word in die konteks van ‘n eskatologiese oorlog van die nasies teen Jerusalem geplaas, waarin dit aanvanklik lyk asof die nasies die oorhand kry. Die Here self sal egter beskerming bring vir sy mense en die oorwinning namens die volk oor die nasies behaal.

Hy sal op die Olyfberg – die plek waar Jesus die aande van die Heilige Week deurgebring het en die worsteling in Getsemane gehad het – uitkoms gee vir die mense van die stad, om die vyand te kan trotseer. Onthou dit is metaforiese taal wat nie in elke detail met iets konkreets verbind kan word nie. ‘n Mens wonder wel in watter mate dié beskerming wat die Here Jesus aan sy mense op die Olyfberg gebied het – Hy het namens hulle daar doodsmarte gely en op Golgota daar naby die vyand aan die kruis oorwin – nie met dié gedeelte verbind kan word nie. Terloops: die plek Asal is onbekend. Die res van die beskrywing fokus egter op die eindtyd met God wat met sy hemelwesens sal opdaag. Op dié besondere dag – waarvan niemand weet presies wanneer dit sal wees nie (onthou Jesus self gesê het dat Hy nie weet wanneer die Wederkoms sal wees nie) – sal alles verander. God sal die lig wees en die bron van alles wat lewe gee, ‘n soortgelyke prentjie as wat Openbaring teken.

Een besondere kenmerk van dié tyd sal wees die totale reiniging wat God sal bewerk. Die beeld van die fontein word uitgebrei en as ‘n vars rivier geteken wat die hele wêreld sal reinig – voorgestel deur ontsouting van die see in die weste en die Dooie See in die ooste – en onder God se heerskappy sal bring. Ten spyte van verdere grusame skermutselings sal die Here sy mag en gesag handhaaf. Jerusalem sal uittroon bó alles en almal, presies die tipe prentjie wat met die nuwe Jerusalem in Openbaring geteken word. Alle nasies sal God moet aanbid in Jerusalem, omdat hulle volledig afhanklik van Hom sal lewe. Hemel het op aarde aangebreek.

Wat my besonderlik tref, is aan die een kant die wyse waarop dié dinge deur groot stryd en ontwrigting tot stand gebring word. Daar is nie kortpaaie na die vestiging van God se koninkryk nie. Aan die ander kant tref dit my hoe volledig God sy koninkryk in alles en vir almal wil bring. Hy wil alles reinig, voorgestel met die ontsouting van die Mediterreense- en die Dooie See. Hy wil die sonde uitwis, sodat almal Hom sal aanbid en in afhanklikheid van Hom sal lewe. Mag jou lewe weer opnuut vlam vat met dié boodskap, en mag ons die boodskap van die evangelie regoor die wêreld verkondig totdat die Here Jesus inderdaad weer kom. Sela.

Lees meer: https://bybelskool.com/sagaria-121-1421-die-messiaanse-koning-vestig-god-se-finale-koninkryk/

Psalm 131 – Ons kan ons siel tot kalmte en bedaring bring by die Here

27 Augustus

Psalm 131 – Ons kan ons siel tot kalmte en bedaring bring by die Here

1‘n Pelgrimslied. Van Dawid. Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie. Ek hou my nie besig met groot dade of wat te wonderbaar is vir my nie. 2Maar ek het my siel tot kalmte en bedaring gebring. Soos ‘n kindjie by sy moeder, soos ‘n kindjie, is my siel in my. 3Israel, vestig jou hoop op die Here, nou en vir altyd.

Hierdie kort pelgrimslied bring ons terug aarde toe na die rus wat daar is in die wete dat God daar is vir ons: “nou en vir altyd.” Alles hang nie van ons af nie. Inteendeel.  Alles hang van God af.  Die groot dade en die wonderwerke is sy domein. Nie dat dit altyd so maklik is nie!  Ons weet mos daar is altyd dinge wat ons gedagtes vashou en besighou, groot dinge, belangrike dinge, kritiese dinge.  Maar, ons weet ook uit ervaring dat dié dinge ons só kan vasvang dat ons óf hoogmoedig en verwaand raak en as’t ware bó ons vermoë met groot dade of wonderwerke probeer besig raak.  Óf dat ons só onrustig raak dat ons geen kalmte meer ken nie en selfs in ‘n donker gat van depressie kan wegsink.

Die Psalmis herinner ons dus aan twee goed.  Een, dat ons ons nie bó ons vermoë hoef te presteer nie.  God verwag nie meer van ons as wat ons kan gee nie.  Twee, die feit dat God ons hoop is, niemand minder, niemand meer, en niemand anders nie.  Daarom die oproep: “Israel, vestig jou hoop op die Here, nou en vir altyd.”

Natuurlik neem die gedagtes nie die kompleksiteit van die lewe weg nie.  Dit beteken ook nie dat ons die komplekse vrae van die lewe kan of mag vermy nie.  Die Psalm: “pictures the simplicity on the yonder side of complexity, not on this side of complexity” (Shoemaker, aangehaal in Allen se Word kommentaar). Maar vir die antwoorde op die kompleksiteite van die lewe, kan ons God vertrou.  Soos ‘n “gespeende” kindjie by sy ma – gewoonlik só op drie jaar oud – kan ons dus ons gemoed tot kalmte en bedaring bring.  Ons kan soos peuters, wat moeg gehardloop is, ons plek inneem by God, soos by ons ma, en op sy werk vertrou as dinge vir ons te veel raak.  Die groot dade en die wonderwerke kom in elk geval van Hom af.  Nou en vir altyd.  Soli Deo Gloria.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-131-groot-dade-en-wonderwerke-kom-van-god-af/

Onlangse kommentaar