22 Augustus
Psalm 81 – Maak jou mond wyd oop, sodat Ek dit kan vul
1Vir die musiekleier. Op Haghittiet. Van Asaf. 2Jubel tot eer van God, ons krag, juig tot eer van die God van Jakob. 3Begin die begeleiding, speel op tamboeryne, op lieflike liere en op harpe. 4Blaas ramshorings met nuwemaan, met volmaan vir ons feesdag; 5want dit is ‘n vaste instelling vir Israel, ‘n beslissing van die God van Jakob. 6As ‘n bepaling het Hy dit neergelê vir Josef toe Hy uitgetrek het teen Egipteland. In ‘n taal wat ek nie ken nie, hoor ek: 7“Ek het die las van sy skouer verwyder; sy hande is vry van die dramandjie. 8Toe daar nood was, het jy geroep, en Ek het jou uitgered. Ek het jou geantwoord uit die beskutting van die donderwolk; Ek het jou getoets by die water van Meriba. Sela 9“Luister, my volk, Ek wil jou waarsku, Israel; as jy maar net na My sal luister: 10Daar mag by jou nie ‘n vreemde god wees nie, jy mag nie voor ‘n uitlandse god in aanbidding buig nie. 11Ek, die Here, is jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het. Maak jou mond wyd oop, sodat Ek dit kan vul. 12“Maar my volk het nie na My geluister nie, Israel wou My nie gehoorsaam nie. 13Ek het hulle aan die verstoktheid van hulle harte oorgelaat; hulle het hulle eie raad gevolg. 14As my volk maar net na My wou luister, as Israel maar my paaie wou volg! 15Ek sou hulle vyande summier verneder, teen hulle teenstanders sou Ek my hand draai.” 16Hulle wat die Here haat, sal voor Hom onderdanigheid veins; dit is hulle lot vir altyd. 17Maar Hy sal Israel met die beste koring voed. “Uit ‘n rots sal Ek jou met heuning versadig.”
Dis interessant dat lof meermale die eerste oproep aan die volk van God is, selfs wanneer daar spesifieke dinge is wat aangespreek moet word. Lofprysing kom voor skuldbelydenis, soos dit ook in die verhaal van die teruggekeerde ballinge in Nehemia 8 die geval was. Hulle moes hulle hartseer bedwing nadat die Woord hulle aangespreek het en eers die Here loof en prys, vóór hulle in skuldbelydenis en boetedoening voor Hom vergader het. Dit is trouens hoe Paulus sy briewe aan die gemeentes in die NT begin, deur eers die Here te leef, ook waardering uit te spreek vir die gemeentes se geloof, liefde en hoop, vóórdat hy hulle begin leer en ook oor dinge aangespreek het. Die enigste uitsondering was die brief aan die Galasiërs waar die evangelie só op die spel was, dat hy dadelik met die deur in die huis geval het en sy kommer oor hulle afvalligheid uitgespreek het. Israel word hier tot feestelike lofprysing aangemoedig met sang, tamboeryne, liere en harpe op hulle onderskeie feeste. Die ramshoring moet geblaas word om die verskillende feeste aan te kondig: nuwemaan, volmaan en so meer (vgl. Paulus wat sê dat dít in die nuwe bedeling tot ’n einde gekom het – Kol. 2:16). Dit is God se instelling wat as dure plig op hulle gelê is reeds van die begin van hulle roeping as Godsvolk af.
Vers 6b is eintlik baie interessant. Dit lui letterlik soos volg: “In ’n taal wat ek nie ken nie, hoor ek …” (2014 vertaling). Dit wil lyk asof die liturg (profeet/priester) ’n openbaring van God ontvang het wat hy as boodskap aan die volk meedeel as gesaghebbende woord van God. God se boodskap word dan in drie dele gelewer: God se oorvloedige voorsiening in die verlede (vers 7-8), die volk se koppigheid om na Hom te luister (vers 9-13) en God se gereedheid om te help as hulle sou luister (vers 14-15). Let op hoe die swaar tyd in Egipte in herinnering geroep word met die metafoor van die las op hulle skouers wat hulle kon neersit, waarmee God se verlossing uit Egipte geteken word. Die gawe van die wet in die woestyn word met die stem uit die donderwolk geskets, die teenstand van die volk met die versoeking by Meriba. Die wet self word in herinnering geroep met die verwysing na die eerste twee gebooie (vers 10). Dié voorbeeld van Meriba uit die verlede verwys na die volk wat die Here teleurgestel het in die woestyn by Meriba (en Massa) en fout gevind het met God se pad van “waterskaarste” met hulle en die realiteit van sy teenwoordigheid by hulle bevraagteken het en Hom getoets het met die woorde: “Is die Here by ons of nie?” (Eks. 17:7 en Num. 20:13). Die boodskap is duidelik. Dieselfde lot kan die aanbidders in die tempel tref as hulle nie luister na die Here nie en sy teenwoordigheid by hulle bevraagteken.
Luister daarom na My, sê die Here, Ek wil jou waarsku, “as jy maar net na My sal luister.” By jou mag geen vreemde gode wees nie en jy mag hulle nie aanbid nie, ’n verbod wat regdeur die hele Bybel loop, tot in Openbaring. Afgodery is ’n “no-no”, ’n deurbreking van die Godsverhouding, ’n afgrond wat voor jou oopmaak waarin jy jou te pletter kan val. Maar, die interessante is, dat die Psalmis midde in dié waarskuwing ‘n ongelooflike belofte gee, ‘n belofte wat steeds geld: “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit.” Die uitnodiging is dus vir elkeen wat na dié woord luister en daarop reageer, ook vandag nog. Die openbaring van God is dus tweeledig. Die Here waarsku die gelowiges aan die een kant met die geskiedenis van Israel se koppigheid wat nie na God wou luister nie en daarom deur die Here gelos is om hulle eie kop te volg, al was dit tot hulle skade. Aan die ander kant nooi die Here ook die gelowiges uit. Die Here is onmiddellik gereed om te help as hulle maar net wou luister. Hy sal dan verseker ingryp en hulle vyande verslaan. Hy sal hulle monde oopmaak en dit volmaak sy goedheid: “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit.” Die belofte laat my dink aan ‘n klein babavoëltjie op ‘n nessie met die pa- en ma-voël wat die oop bekkie volmaak. Dit is in wese wat die Here hier belowe. En dit in ‘n Psalm wat geassosieer word met die vyfde dag van die Skepping waarop die Here onder andere voëls gemaak het, die voëls en die visse. En as jy ‘n visdam het weet jy dat jy dieselfde vir jou visse doen. Hulle maak hulle monde oop en jy maak dit vol. Dít is die belofte van die Here. “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit.”
Bonus: Dit is ‘n uitnodiging wat George Müller ter harte geneem het wat nie net sy lewe nie, maar die lewe van 10 000 weeskinders verander het: “1835 was ’n slegte jaar vir die Müllers. George se vrou, Mary, se pa is oorlede en hulle vyftien maande oue babaseun het siek geraak en gesterf. Mary was depressief en George het erge maagprobleme ontwikkel. Die ergste was dat hulle geen geld oor gehad het nie. In hierdie tyd het hy en sy vrou ’n sagte hart ontwikkel vir al die weeskinders in Engeland, maar hoe begin jy ’n kinderhuis sonder geld? Toe lees George Psalm 81:11. Hy het op God alleen vertrou en nooit in al sy jare vir iemand geld gevra nie. Die Here het gesorg dat hy in sy leeftyd vir 10 000 weeskinders kon omgee.” (aangehaal uit die Bybel vir die Lewe)
Die liturg sluit af met die appèl aan die volk, en dit is daarom ook ‘n appèl aan ons, om te kies om na God te luister (vers 16-17). “Hulle wat die HERE haat (wat net voorgee dat hulle die Here dien soos die NAV dit het), sal nog voor Hom kruip; dit is hulle lot vir altyd (hulle straf sal vir altyd duur, soos die NAV dit vertaal).” Daarteenoor: “Maar Hy sal Israel met die beste koring voed, ‘Uit ‘n rots sal Ek jou met heuning versadig.’” (met verwysing na die beloftes in Deut. 32:13-14).
Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/psalm-81-om-van-god-se-oorvloedige-sorg-bewus-te-word-05/
Onlangse kommentaar