Skip to main content

Psalm 144 – Gelukkig is die volk wie se God die Here is!

30 Augustus

Die RCL teks vir vandag is Filemon 1-21. Jy kan my bydrae daaroor hier lees: https://bybelskool.com/filemon-versoening-tussen-werkgewers-en-werknemers/ Die enigste raakpunt met beloftes in Filemon is Paulus se versoek in vers 22 dat Filemon vir hom die gastekamer gereed maak, want Paulus verwag om deur hulle gebede aan hulle geskenk te word. Hy maak dus staat op die belofte van gebedsverhoring! Ek kies egter ‘n ander teks vir vandag, Psalm 144.

Psalm 144 – Gelukkig is die volk wie se God die Here is!

1Van Dawid. Die Here, my rots, moet geprys word, Hy maak my hande bedrewe vir die geveg, my vingers vir die oorlog. 2Hy is my vertroueling, my bergskuiling, my beskutting, my bevryder, my skild, en by Hom skuil ek, Hy wat my volk aan my onderwerp. 3Here, wat is ‘n mens dat U hom versorg, ‘n sterfling dat U hom in ag neem? 4‘n Mens is soos ‘n asemteug, sy lewensdae soos ‘n vlugtige skaduwee. 5Here, buig u hemel af en daal neer; raak die berge aan, sodat hulle rook. 6Laat weerligte flits en dryf hulle uitmekaar; stuur u pyle en bring hulle in verwarring. 7Reik met u hand uit die hoogte, bevry my en red my uit die watermassa, uit die hand van vreemdes 8wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is. 9O God, ‘n nuwe lied wil ek vir U sing, met begeleiding van die tiensnarige harp wil ek U besing – 10U wat aan konings die oorwinning gee, wat Dawid, u dienskneg, bevry van ‘n dodelike swaard. 11Bevry my en red my uit die hand van vreemdes wie se monde onsin verkondig, en wie se regterhande bedrieglik is, 12sodat ons seuns soos volgroeide plante kan wees in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgekerf, geskik vir ‘n paleis, 13sodat ons graanskure vol kan wees, alle soorte kos kan lewer, ons kleinvee met duisende, met tienduisende, kan vermeerder in ons oop weivelde, 14en ons beeste swaar dragtig kan wees; met geen bres in ons mure nie, geen veldtogte en geen gejammer op ons pleine nie. 15Gelukkig is die volk met wie dit so gaan; gelukkig is die volk wie se God die Here is!

Die Psalm val duidelik in twee dele uiteen.  Die eerste deel – vers 1-11 – beskryf in die eerste persoon enkelvoud die gebed van die koning om bevryding.  Die tweede deel – vers 12-15 – beskryf in die eerste persoon meervoud die gebed van die koning vir en namens die geloofsgemeenskap dat die Here hulle op omvattende wyse sal seën. Die 2020-vertaling verbind dié twee dele met ‘n “sodat” in vers 12 om die implisiete verband tussen die bevryding van konflik en die seën van ‘n florerende gemeenskap te beklemtoon.  Daarmee word twee van die grootste teologiese lyne in die OT aan mekaar verbind – die Abrahamitiese tradisie van seën en die Mosaïese tradisie van bevryding.  En dit is betekenisvol dat dit in die gebed van Dawid gekombineer word, want hy is dan ook die voorafskaduwing van die Messias, Jesus Christus, die een wat ons verlos en die een wat ons seën.

Dit wil voorkom asof die konteks in die eerste gedeelte ‘n dreigende oorlog is – vgl. vers 1 wat praat van oorlog en vers 10 wat praat van die oorwinning wat God aan konings gee, ook aan Dawid sy dienskneg wat Hy: “bevry van ‘n dodelike swaard.” Eksegeties is daar ‘n baie belangrike woordspeling wat in die 1983-vertaling verlore raak. Dit is die verwysing na Dawid se hande wat deur die Here geleer word om oorlog te maak (vers 2), die Here se hand wat uit die hoogte hom red van gevaar (vers 7), in die konteks van die vreemdelinge: “wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is.” (vers 8 en 11 – 1983-vertaling: “wie se woorde en dade leuens en bedrog is.”) Die laaste verwysing na die vreemdelinge se “regterhande” dui waarskynlik op valse eedswering, want, soos vandag, is die regterhand opgehou as teken van ‘n eed van waarheid.  Dawid se teenstanders se regterhande is egter bedrieglik en dui eintlik op die teendeel, dws dat hulle nie hulle woord kan hou nie.

Daarom prys hy die Here dat dié standvastig bly midde in die konflik.  Hy druk dit in die eerste twee verse uit met ses beskrywings van God wat almal as beloftes aangegryp kan word: my Rots, Vertroueling, Bergskuiling, Toevlugsoord, Bevryder, en Skild by wie hy skuil.  Dít betuig die Here aan hom deurdat die Here hom in staat stel om die konflik die hoof te bied – “Hy wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak.” Maar, let op dat dié vaardigheid uiteindelik aangevul moet word – eintlik afhanklik is daarvan – dat God se hand hom nie net versorg en in ag neem (vgl. die eksplisiete verwysing na Ps. 8 se loflied op God se sorg vir die mens) al is hy soos ‘n asemteug en sy lewensdae soos ‘n vlugtige skaduwee.

Nee, God se hand reik uit die hemel soos van ouds by die berg Sinai – terwyl die berge rook en die weerligte flits – en bring verwarring by die vyande en bevry Dawid van die konflik (watermassa) ten spyte van die onsin wat die vreemdelinge verkondig en die bedrog van hulle gedrag. Daarom, wil Dawid die Here loof op sy tiensnarige harp, omdat God Hom telkens bewys as die een wat in konflik Self ingryp en klaarheid en oorwinning bring.  Let op hoe Dawid aan dié loflied weereens die gebed koppel teen die vreemdelinge se onsin en bedrog, ‘n baie belangrike herhaling, wat die erns van die situasie waarin hy verkeer, beklemtoon.

Dawid skets dan die voorsienige seën van die Here wat hulle almal se deel sal wees, as God hom bystaan in die oorlog.  Hulle seuns sal nie in hulle jeug sneuwel nie, maar volgroeide plante word.  Hulle dogters sal nie weggevoer word in slawerny nie, maar soos hoekpilare die familie se voortbestaan nie net bevestig nie, maar ook versier met hulle skoonheid: “uitgekerf, geskik vir ‘n paleis.” Dit sal ook sorg dat die graanskure vol van kos kan word, en die weivelde vol vee, en die beeste vrugbaar en hulle gemeenskapslewe kan floreer: “met geen bres in ons mure nie, en geen gejammer op ons pleine nie.” Die dood sal nie meer die volk se bestaan kenmerk nie. ‘n Droom?!  Moenie glo nie: “Hoe gelukkig is die volk wie se God die Here is!” Waar Hy hulle lei en hulle Hom volg, is dít hulle voorland – bevryding en seën!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-144-hoe-gelukkig-is-die-volk-wie-se-god-die-here-is/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar