Skip to main content

Tag: Beloftes

2 Petrus 3:1-18 – Ons verwag nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waar geregtigheid woon

15 September

2 Petrus 3:1-18 – Ons verwag nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waar geregtigheid woon

1Hierdie brief, geliefdes, is reeds die tweede een wat ek aan julle skryf. In beide probeer ek om, deur middel van herinnering, julle helder denke aan te wakker, 2sodat julle die woorde kan onthou wat voorheen deur die heilige profete uitgespreek is, en ook die opdrag van ons Here en Verlosser wat julle apostels deurgegee het. 3Julle moet veral dit weet: In die laaste dae sal spotters met hulle gespot opdaag – mense wat hulle lewens volgens hulle eie drange inrig, 4en vra: “Wat het geword van die belofte van sy koms? Sedert die vaders ontslaap het, bly alles steeds soos dit van die begin van die skepping af was.” 5Hulle ignoreer dit willens en wetens dat daar lank reeds hemele bestaan, en ook ‘n aarde, wat deur die woord van God uit water en deur water tot stand gekom het. 6En deur hierdie dinge is die antieke wêreld deur water oorstroom, en het dit vergaan, 7maar die huidige hemele en die aarde word deur dieselfde woord vir vuur opsy gesit; dit word bewaar vir die oordeelsdag en die vernietiging van die goddeloses. 8Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. 10Die dag van die Here sal egter kom soos ‘n dief, ‘n dag waarop die hemele met ‘n gedruis tot ‘n einde sal kom, en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word. 11As al hierdie dinge so sal vergaan, watter besondere mense moet julle dan nie wees nie – mense wat ‘n heilige lewe lei en godvresend leef, 12wat na die aanbreek van die dag van God uitsien, en dit probeer bespoedig. Dit is die dag waarop die hemele, deurdat dit verbrand word, sal vergaan, en die elemente sal uitbrand en wegsmelt. 13Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, waar geregtigheid woon. 14Daarom, geliefdes, omdat julle hierdie dinge verwag, streef ernstig daarna om deur Hom in vrede, vlekkeloos en onberispelik bevind te word. 15En beskou die lankmoedigheid van ons Here as ‘n geleentheid tot verlossing, soos ook ons geliefde broer Paulus, volgens die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, 16soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai – soos hulle ook met die ander geskrifte maak. 17Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet – wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie. 18Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. Amen.

Die vorige hoofstuk het nou al reeds uitvoerig gehandel oor die gevare van die leer en lewe van die dwaalleraars. Hulle kan uitgeken word aan hulle verloëning van die Here Jesus Christus, hulle losbandigheid en onsedelikheid, hulle gierigheid en hebsug, asook hulle gebrek aan respek vir die gesag van God se Woord. In hierdie hoofstuk fokus Petrus op ‘n verdere aspek van hulle leer en lewe – hulle lering oor die wederkoms van die Here Jesus Christus en hulle lewenshouding daaroor. Hy wil die geloofsgemeenskap daarteen waarsku, hulle nie net help om reg daaroor te dink nie aan die hand van die geskrifte van die OT profete en die prediking van die NT apostels nie, maar hulle ook motiveer tot ‘n lewende verwagting daarvan.

Die klem op die Skrif en die prediking in dié laaste hoofstuk van Petrus val mens op. Die klem op die gesag van die mense wat daaragter sit, die profete van die OT en die apostels van die NT, val ook op. Dít is immers waarom ons vandag ‘n kanon het wat saam met die OT ook die NT insluit, die evangelies, briewe en geskrifte van die apostels, want hulle skriftelike nalatenskap is versamel en het die outentieke uitdrukking van God se Woord in mensetaal vir ons geword. Daarom is die Woord van God só belangrik, die skriftuurlike neerslag van sy woorde aan ons. Dít is die bron wat ons help om te onderskei tussen waarheid en dwaling, wat ons help om ‘n lewe te bou op die genade en kennis van die Here Jesus Christus. Daaraan moet ons vasklou sodat ons nie weggeskeur word en ons geloof in God verloor

Petrus vervolg dan om die belofte van hoop te onderstreep, dié hoop wat die gelowiges moet vertroetel, en waaraan hulle moet vashou. Die hemel en aarde sal van gedaante verander om ‘n plek te wees “waar geregtigheid woon.” Dit is waarop hulle hulle gedagtes moet rig. Dit sluit in dat hulle ernstig daarna moet streef om in vrede met God te lewe (NIV se vertaling is “at peace with Him“). Dit sluit ook in dat hulle hulle: “vlekkeloos en onberispelik” in leer en lewe sal gedra, sodat hulle saam met Hom dié nuwe hemel en aarde van geregtigheid kan betree. God se geduld is dus ‘n geleentheid tot verlossing, ‘n aanbod aan alle mense, maar veral aan die geloofsgemeenskap. Petrus som sy brief op met die oproep dat hulle dus nie moet toelaat dat hulle meegesleur word deur die dwaalleraars se leringe nie. Hy het hulle in sy brief goeie raad gegee waarmee hulle die dwaasheid van die dwaalleraars kan troef. Daaraan moet hulle vasklou sodat hulle nie meegesleur word en hulle eie standvastigheid verloor nie. Hulle moet sorg dat hulle aanhou groei in die genade en kennis van die Here en Verlosser, Jesus Christus.

Lees meer: https://bybelskool.com/2-petrus-3-sorg-dat-julle-aanhou-groei-in-die-genade-en-kennis-van-jesus-christus/

Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdom

14 September

Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdom

1Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Daar was ‘n ryk man wat ‘n bestuurder gehad het, en dié is by hom daarvan aangekla dat hy sy besittings verkwis. 2Hy het hom toe ingeroep en vir hom gesê, ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Doen verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer my bestuurder wees nie.’ 3Die bestuurder het by homself gedink: Wat moet ek doen, noudat my eienaar my bestuurderskap van my wegneem? Spit kan ek nie, en ek is te skaam om te bedel. 4Ek weet wat ek gaan doen, sodat die mense my in hulle huise sal ontvang wanneer ek as bestuurder ontslaan is. 5Hy het toe sy eienaar se skuldenaars een vir een ingeroep. Vir die eerste een het hy gevra, ‘Hoeveel skuld jy my eienaar?’ 6En hy het geantwoord, ‘Honderd bat olyfolie.’ Hy sê toe vir hom, ‘Vat jou skuldbrief en gaan sit en skryf gou vyftig.’ 7Hierna het hy vir ‘n ander een gevra, ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord, ‘Honderd kor koring.’ Vir hom sê hy, ‘Vat jou skuldbrief en skryf tagtig.’ 8Die eienaar het die oneerlike bestuurder toe geprys, omdat hy verstandig opgetree het, want die kinders van hierdie wêreld tree verstandiger teenoor mekaar op as die kinders van die lig. 9Ek sê vir julle, ‘Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot ‘n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.’ 10Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan. 11As julle dan nie betroubaar was wat die oneerlike Mammon betref nie, wie sal julle met die ware rykdom vertrou? 12En as julle nie betroubaar was met ‘n ander se goed nie, wie sal vir julle gee wat julle toekom? 13Geen huiskneg kan twee base dien nie, want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Jesus gebruik hier in vers 1-8 regtig ’n baie vreemde gelykenis. Hy vertel van die oneerlike bestuurder wat nie net aanvanklik sy baas se goed verkwis het nie, maar met sy afdanking verdere toegewings maak aan mense wat sy baas geld skuld ter wille van die voordeel wat hy daaruit sal kan kry. Dit kon hy doen, omdat die sosiale netwerk waarin Jode geleef het, gewerk het met die beginsel van wederkerigheid. Hy het dus verseker dat hulle nou by hom in skuld was. Sy (afsienbare) toekoms was dus verseker. Sy baas gee daarom toe dat hy slim opgetree het met die inisiatief wat hy geneem het, maar lewer nie kommentaar op sy oneerlikheid nie. Dit is nie iets wat ooit goedgepraat kan word nie. Jesus doen dit dus ook nie.

Wat Jesus met die gelykenis wys is dat Hy geen illusies gehad het oor hoe dit baie keer in die (besigheids)wêreld gaan nie. (Besigheids)mense – dit is nou dié wat nie aan God gehoorsaam is en volgens sy standaarde lewe nie – kry dit reg om te oorleef in ’n vyandige omgewing deur alles moontlik te gebruik tot hulle eie voordeel, selfs deur oneerlik te wees. Sonder om dit natuurlik goed te keur, weet Jesus hoe dit werk, en volgens watter reëls daar opgetree word (of juis waarsonder daar opgetree word).

Die betekenis van die gelykenis word dan in vers 9-13 uitgespel om ‘n baie belangrike belofte aan ons te onderstreep. Jesus tref eers ’n vergelyking tussen die mense van die wêreld en die mense van die lig (Christene). Die punt wat Hy maak, is dat mense van die lig moet leer om met dieselfde inisiatief en voorsorg te lewe as wêreldlinge. Maar, nie ter wille van hulleself en hulle eie oorlewing nie, maar ter wille van die koninkryk en die ewige lewe. Dit is dan dat ‘n mens die belofte in die teks vir jouself kan toeëien: God beloon dié wat betroubaar is met die aardse rykdom – wat dit gebruik om die koninkryk te bou – met die ware rykdom – rykdom in God in hierdie lewe, en rykdom in God in die ewige lewe.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-161-1737-dissipels-leef-met-integriteit-en-genade/

1 Timoteus 2:1-7 – God wil hê dat alle mense verlos word deur Christus Jesus

13 September

1 Timoteus 2:1-7 – God wil hê dat alle mense verlos word deur Christus Jesus

1Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, 2vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons ‘n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. 3Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, 4wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. 5Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus, 6wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd. 7Hiervoor is ek aangestel as prediker en apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig.

Gebed neem die eerste plek in die geestelike lewe in. Gebed kom voor struktuur. Gebed kom voor aksie. Gebed kom voor enigiets anders in die geestelike lewe van ‘n gemeente en ‘n gelowige. Hierdie gebed is egter nie net vir die persoonlike behoeftes van jou eie kring van mense nie, of selfs vir die gemeente nie, maar in die eerste plek vir alle mense. Die kring word nie net in jou gebed getrek om dié wat naby jou is in te sluit nie, maar juis wyer en wyer totdat dit regtig vir alle mense is, selfs mense wat jy nie persoonlik ken nie. Want, God wil hê dat alle mense tot kennis van die waarheid sal kom, dié waarheid wat daar in die enigste Middelaar tussen God en mens is, die Here Jesus Christus. Hoewel regeerders in die tweede plek uitgesonder word, veral met die oog op ‘n rustige en stil lewe in volkome vroomheid aan God en in alle waardigheid, bly die fokus alle mense. Op grond van die belofte van verlossing wat aan alle mense gebied word.

Dit is ons doel as gelowiges. Ons tree in vir en getuig teenoor alle mense sodat hulle verlos kan word en tot kennis van die waarheid kan kom. God wil hê dat die goeie nuus van die evangelie – dat Jesus Christus ons aan God voorstel en ons aan Hom verbind – dat dié boodskap aan die heidennasies gebring moet word. Almal moet weet dat Jesus Christus die Middelaar tussen God en ons is. En ons doen dit met smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede:

  • Smekinge is diep versugtinge oor dinge en situasies wat verkeerd is, bv dinge in ons land, dinge in die wêreld, vir die onderwys, vir die ekonomie, vir harmonie, vir geregtigheid. Dit is soos om te droom vir ‘n ander werklikheid, vir ‘n nuwe wêreld.
  • Gebede is spesifieke versoeke wat jy op die Here se hart lê, beloftes waaraan jy God herinner, uitkomste wat jy graag wil hê vir mense om die pad met die Here te begin loop. Dit behels natuurlik intieme kennis van wat aangaan en ‘n betrokkenheid by die mense vir wie jy bid.
  • Voorbidding is nog meer spesifiek dinge waarvoor jy voortdurend intree, amper soos met ‘n petisie – en daarom is dit so belangrik om dit ook saam met ander gelowiges te doen – waarin jy vra dat die Here omstandighede só sal verander dat mense die waarheid kan insien en hulle lewens in lyn kan bring met God se Woord.
  • En laastens dankgebede vir wanneer die Here antwoord en gebede verhoor. Dit moet net so belangrik wees in jou gebedslewe, want dit veronderstel dat jy bid en kyk, vra en aandag gee aan wat gebeur, pleit en betrokke raak by ‘n moontlike antwoord op jou gebede.

Lees meer: https://bybelskool.com/1-timoteus-21-15-n-lewe-in-gebed-deur-mans-en-vrouens/

Psalm 79 – Roep die Here aan wat verlos ter wille van die eer van sy Naam

12 September

Die Psalm vir vandag is interessant genoeg eintlik ’n samevoeging van frase uit ander bekende Palms. Dit is asof die skrywer (deel van die groep van Asaf) hulle gebed om redding saamgestel het uit hulle geheue, uit dele van ander Psalms wat vir hulle betekenis gehad het: vgl bv vers 4 se beskrywing van die vyande met Ps 44:15; ook vers 9 se pleidooi op grond van God se naam met die soortgelyke frase in die bekende Ps 23:3 en verskeie ander plekke. Tate (Word kommentaar) noem amper 30 verwysings wat met Psalm 79 verbind kan word. Dit is net vers 3-4 en vers 13 wat waarskynlik eie formulerings is. Psalm 79 is dus ’n soort verpersoonliking van Psalmfrases om ’n eie gebed tot God te bid, in ’n ander situasie as dié waarin die Psalms in die eerste plek geskryf is. Dit is amper soos ons ’n spontane gebed sou bid waarin ons sekere Bybelfrases wat vir ons van betekenis is, sal gebruik.

Psalm 79 – Roep die Here aan wat verlos ter wille van die eer van sy Naam

1‘n Psalm. Van Asaf. O God, nasies het in u eiendom ingegaan, hulle het u heilige tempel verontreinig; hulle het Jerusalem tot puinhope gemaak. 2Hulle het die lyke van u diensknegte vir die voëls van die hemel as kos gegee, die vleis van u getroue volgelinge vir die wilde diere van die aarde. 3Hulle het hulle bloed soos water uitgestort om Jerusalem, en daar was niemand wat hulle begrawe het nie. 4Ons het die bespotting van ons bure geword, die hoon en spot van hulle rondom ons. 5Hoe lank nog, Here? Gaan U vir ewig toornig bly; sal u heilige jaloesie soos ‘n vuur bly brand? 6Stort u gramskap uit oor die nasies wat U nie ken nie, oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie; 7want hulle het Jakob verteer, sy weiding verwoes. 8Moet tog nie ons vroeëre sondeskuld teen ons hou nie; laat u ontferming ons gou bereik, want ons het baie min geword. 9Help ons, o God wat ons verlos, ter wille van die eer van u Naam. Red ons en bedek ons sondes, ter wille van u Naam. 10Waarom moet die nasies sê: “Waar is julle God?” Laat dit voor ons oë onder die nasies bekend word: die wraak oor die bloed van u diensknegte wat vergiet is. 11Laat die gesug van gevangenes U bereik; laat hulle, gedoem tot die dood, deur u groot mag gespaar bly. 12Vergeld ons bure sewevoudig waar dit hulle erg raak vir die bespotting waarmee hulle U bespot het, my Heer! 13Ons is u volk en die skape van u weiding; ons sal U vir altyd prys. Van geslag tot geslag sal ons vertel van die lof wat U toekom.

Psalm 79 bring die haglike toestand van die volk wat agtergebly het in die land, na die meeste van hulle in ballingskap weggevoer is, onder God se aandag. Die tempel is ontheilig, die stad is vernietig en baie min van hulle het oorgebly. Daarom pleit Asaf by God dat Hy hulle situasie sal omkeer. Op roerende wyse word die effek van die beleg en verwoesting van Jerusalem en die tempel beskryf. Lyke het oral rondgelê en is deur voëls en wilde diere gevreet. Die bloed het rondom Jerusalem gevloei soos water. Niemand is begrawe nie, wat die toppunt van skande vir ’n Oosterling was. Dit het hulle ’n bespotting gemaak in die oë van almal rondom hulle. Hoe lank sal dit nog aanhou Here? Is dit vir altyd klaar met ons? Sal u woede vir ewig teen ons bly brand?

Die Psalmis bring Psalm 1 se paradigmatiese stelling dat die Here die regverdiges seën en die goddeloses soos kaf laat vergaan voor die Here. Hy bid dat dít nou hier sal gebeur, dít wat Psalm 1 beskrywe: dat die heidene wat nie met God in ’n verhouding is nie, wat Hom nie ken nie, Hom nie dien nie, dit sal ontgeld; en dat die Here Hom oor die volk van God sal ontferm en hulle lot sal verander. Let op dat sy pleidooi gekoppel is aan ’n gebed om vergifnis vir hulle sonde en gegrond is op die eer van God se Naam wat in diskrediet gebring word weens die haglike situasie van die volk in die land. Verlos ons ter wille van die eer van u Naam!

Daarmee het hierdie Psalm ‘n gebed om verlossing geword geword vir enigiemand wat ’n uitmergelende verlies ervaar het en smag na uitkoms en ommekeer. Jy kan dié Psalm as basis vir jou eie gebed tot God gebruik. En jou smeking voor God bring op grond van die belofte dat Hy sy Naam eer. Dit beteken dat jy jou eie nood aan die hand van dié Psalm kan beskryf in jou gebed, jou skuld aan die toedrag van sake bely (indien dit in jou geval só is), en ’n beroep doen op die Here se “onverdiende” vergifnis en vra vir ’n lotsverandering. Ter wille van sy Naam wat Hy altyd sal eer. Jy kan dit ook namens ander doen.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-79-ontferm-u-tog-gou-oor-ons-want-ons-kragte-is-gedaan/

Jeremia 3:14-18 – Keer terug en Ek sal julle terugneem

11 September

Die RCL teks vir vandag is Jeremia 4:11-12, 22-28. Dit bevat egter nie ‘n belofte nie. Jy kan wel lees wat ek oor die hoofstuk waarin dié verse voorkom, geskrywe het (https://bybelskool.com/jeremia-45-31-my-volk-tree-dwaas-op/), maar ek kies om eerder op die belofte in hoofstuk 3:14-18 van Jeremia te fokus.

Jeremia 3:14-18 – Keer terug en Ek sal julle terugneem

14“Keer terug, afvallige kinders!” is die uitspraak van die Here, “want dit is Ek wat heer is oor julle. Ek sal julle terugneem, een uit ‘n stad en twee uit ‘n familiegroep; en Ek sal julle na Sion bring. 15Ek sal herders na my hart vir julle gee. Hulle sal met kennis en insig aan julle weiding verskaf. 16En wanneer julle vermeerder en vrugbaar is in die land in daardie dae,” is die uitspraak van die Here, “sal hulle nie meer sê, ‘Die ark van die Here se verbond!’ nie. Dit sal trouens nie eers in hulle gedagte opkom nie. Hulle sal nie daaraan dink of dit mis nie. Dit sal ook nie weer gemaak word nie. 17In daardie tyd sal hulle Jerusalem “die troon van die Here” noem. By haar sal al die nasies byeenkom ter wille van die Naam van die Here, ter wille van Jerusalem. Hulle sal nie langer die verstoktheid van hulle bose harte volg nie. 18In daardie dae sal die huis van Juda by die huis van Israel aansluit, en saam sal hulle uit ‘n land in die noorde aankom in die land wat Ek vir hulle voorouers as erfenis gegee het.

Ons hoor regdeur hoofstuk 3 ’n oproep tot bekering. In vers 1-5 waarsku die Here die volk van Israel – wat teen hierdie tyd alreeds ‘n eeu lank in ballingskap sit – dat ‘n halfhartige bekering nie die verhouding met God herstel nie. Dit help nie jy noem die Here “Vader” en gaan steeds voort om verkeerde dinge te bly doen “net waar jy kan” nie. In vers 6-10 wys die Here op vorige halfhartige hervormings wat sy punt verder illustreer (dit herinner aan die soortgelyke boodskap aan die gemeente van Laodisea in Openbaring 3:14-22). Hulle moet hulle skuld voor die Here erken, dan sal die Here hulle lot verander – vers 11-18.

Hierdie aanbod tot ‘n lotsverandering word op God se getrouheid gebaseer. As hulle na Hom toe terugkeer, en dit regtig bedoel, sal God hulle terugneem uit ballingskap en weer sy eiendom maak. Hy sal hulle terugbring, al is hulle ook min – een uit ’n stad, twee uit ’n familie – en hulle in die Godstad, Jerusalem, versorg, vermeerder en begelei met leiers na God se hart. ’n Pragtige prentjie van God se teenwoordigheid word geteken deurdat die sentrum van hulle Godsverhouding nie meer die verbondsark sal wees nie, maar die hele Jerusalem as die “troon van die Here” (weereens ’n beeld wat weerklank gevind het in Openbaring – vgl veral hfst 21-22). Dié belofte sluit uiteindelik albei ryke van Israel in – die noordryk sowel as die suidryk – asook die nasies wat die Here saam met die Godsvolk sal vereer.

Ons word dus hier ’n kykie gegee in die hart van God vir sy mense. Trouens, vir alle mense. Hy wil só graag vir almal goed wees en ’n ruimte gee om in te floreer. Al wat Hy vra, is dat hulle met hulle hele hart vir Hom “Vader” sê en Hom nie verlaat vir ander nie. In die verhouding met God werk halfhartigheid egter net nooit nie. Dit is iets wat regdeur albei dele van die Bybel, die OT en die NT, beklemtoon word. En die volle oorgawe het met bekering te make, ’n terugdraai na die Here, wat beide Godsliefde en naasteliefde beteken.

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-31-44-kom-terug-na-my-toe/

Onlangse kommentaar