Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 14 – God is met die regverdige geslag

5 September

Psalm 14 – God is met die regverdige geslag

1Vir die musiekleier. Van Dawid. Dwase sê in hulle harte: Daar is geen God nie. Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goed doen nie. 2Die Here kyk vanuit die hemel na die mense om te sien of daar iemand is wat verstandig is, iemand wat God soek. 3Almal het afgedwaal, saam het hulle ontaard; daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. 4Is almal wat onreg pleeg dan sonder insig, hulle wat my volk eet soos ‘n mens brood eet? Hulle roep die Here nie aan nie. 5Dan oorweldig skrik hulle, want God is met die regverdige geslag. 6Julle wil die planne van die magtelose bespotlik maak, maar die Here is sy skuilplek. 7Mag daar uit Sion redding kom vir Israel! Wanneer die Here die lot van sy volk omkeer, moet Jakob juig, moet Israel bly wees.

Die kontras in die Psalm is nie tussen ryk en arm nie, maar tussen goddeloses en regverdiges, hoewel dit wel wil lyk asof die regverdiges hier ook arm is (magteloos) – vers 5. Dis ‘n kontras tussen dwases en wyses, tussen onverstandiges en verstandiges. Tussen mense wat niks van God begryp nie, en die wat wel iets van God begryp. En let op dat hierdie kontras nie tussen intellektuele dwases en wyses is nie, maar tussen geestelike dwases en wyses. Intellek en verstandelike vermoëns is nie in die Psalmis se visier nie, wel hulle verhouding met God en begrip vir wat Hy doen, al dan nie.

Om dwaas te wees, is ook nie ‘n beskrywing uit ‘n menslike perspektief nie, maar uit God se perspektief. Dit is Hy wat hulle as dwaas beskou. Uit ons hoek kan iemand ryk en suksesvol en magtig voorkom. Uit God se hoek kan so iemand arm, ‘n mislukking en swak voorkom. ‘n Dwaas is dus iemand wat lewe sonder om na God te luister om van Hom leiding te ontvang om sy of haar lewe te kan rig en laat begelei. ‘n Wyse is iemand wie se lewe juis draai om die luister na God en die vertroue op die pad waarop Hy sy of haar lewe begelei. Dwases se lewens word daarom gekenmerk deur liefdeloosheid – pleeg onreg, eet ander op asof hulle brood is! Dwases kan die wyses ook nie uitstaan nie, en vat hulle op allerhande maniere aan. Wyses boet dus onder die aanslag van dwases, net omdat die dwases nie die geloof en vertroue in God, wat wyses se lewens kenmerk, kan vat nie!

Wyses se lewens word daarenteen gekenmerk deur ‘n toevlug neem tot God en ‘n vertroue op sy redding en lotsverandering. Hulle sal juig en bly wees – en in God se teenwoordigheid tot hulle reg kom (dit loop Psalm 15 en 24 vooruit wat hieroor verder nadink).

Ons moet egter nie te gou die dwase in ons omgewing soek nie. Die Psalm is duidelik daaroor dat dwaasheid eintlik ‘n algemene kenmerk van die mensdom is, en dat dit ook vir ons insluit. Dit is waarom Paulus uit hierdie verse aanhaal in Romeine 3 en die evangelie van Jesus Christus as ‘n weg uit die dwaasheid verkondig en spesifiek sê dat God deur sy Gees sy liefde in ons harte uitgestort het (Rom 5), om ons dwaasheid in liefde te verander. Kragtig! Die Psalmis se nadenke oor die mens het hom aanvanklik dus na ‘n klaaglied gelei, maar dit mond uiteindelik uit in ‘n bede tot God om verlos te word (van dwase en om self nie dwaas te wees nie), en die verwagting om God se aktiewe teenwoordigheid in sy of haar gemeenskap – “die regverdige geslag of generasie” – te ervaar. Dws God is teenwoordig in die gemeenskap van die wat Hom dien, as ‘n beskerming teen die wat teen hulle planne beraam. Dit is waarom Craigie voorstel dat ons die Psalm moet lees as ons geestelike pelgrimstog, waar onsself van dwaasheid tot begrip en liefde beweeg word. Gebruik daarom vandag die Psalm om te reflekteer oor jou eie geestelike pelgrimstog met God.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-14-net-n-dwaas-se-daar-is-geen-god-nie/

Jeremia 18:1-11 – God, die Pottebakker, is volkome in beheer van ons, die klei

4 September

Jeremia 18:1-11 – God, die Pottebakker, is volkome in beheer van ons, die klei

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2“Maak gereed en gaan af na die pottebakker se huis; daar sal Ek jou my woorde laat hoor.” 3Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak. 4Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe ‘n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak. 5Toe het die woord van die Here tot my gekom: 6“Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die Here. “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel. 7Een keer dreig Ek om ‘n nasie en ‘n koninkryk uit te ruk, af te breek en ten gronde te laat gaan. 8Maar as daardie nasie teen wie Ek die bedreiging uitgespreek het, hom bekeer van sy boosheid, sal Ek jammer wees oor die onheil wat Ek beplan het om hom aan te doen. 9‘n Ander keer sê Ek oor ‘n nasie en ‘n koninkryk dat Ek dit sal bou en plant. 10Maar as hy doen wat verkeerd is in my oë deur nie te luister na my stem nie, sal Ek jammer wees oor die goeie wat Ek gedink het om aan hom te doen. 11Sê dan nou tog vir die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek maak onheil gereed vir julle, en beraam planne teen julle. Draai tog terug, elkeen van sy verkeerde pad, en laat julle doen en late goed wees.” ’ 12Maar hulle sal sê, ‘Tevergeefs! Want ons eie planne wil ons volg, en elkeen van ons wil volgens die verstoktheid van sy eie bose hart optree.’ ”

Die Here beveel Jeremia om te gaan kyk hoe ‘n pottebakker werk met klei, want die Here gaan sy boodskap aan Jeremia en die volk deur hierdie “visuele les” bring. Pottebakkery was ‘n bekende aktiwiteit in die Ou Nabye Ooste, maar die boodskap hiervan was egter nie net gemik op Jeremia se gehoor nie, maar op alle mense van alle tye, want die werkwoord waarvan die woord “pottebakker” (yôṣēr) afgelei word, is ook die werkwoord wat vir God se “vorming” van die mens op verskillende plekke in die OT gebruik word (vgl Gen 2:7; Ps 139:16; Jer 1:5).

In die grondteks word die “pottebakkerswiel” as “die twee klippe” beskryf. Hierdie twee sirkelvormige klippe is met ‘n vertikale as aan mekaar verbind waarvan die onderste plat klip dan deur die voete van die pottebakker gespin is, en die klei op die boonste plat klip deur sy hande gevorm is. Wat Jeremia toe waarneem, is dat die pottebakker volkome in beheer is van die klei. In die proses sou daar gereeld een of ander gebrek in ontwerp, grootte of struktuur ontstaan. Al wat die pottebakker dan doen is om die keli in ‘n ander geskikte vorm te druk. Wat Jeremia veral beïndruk het was die beheer wat die pottebakker oor die klei uitgeoefen het. Hy het die materiaal geneem en daarmee gewerk totdat dit aan sy spesifikasies voldoen het. Net so, kom die woord van die Here daarom na Jeremia, het Hy absolute beheer oor sy volk, en sal Hy hulle lot volgens sy voornemens bepaal (vgl Rom 9 waar Paulus by hierdie beeldspraak aansluit).

Jeremia onderstreep daarmee aan ons almal die soewereiniteit van God oor die ganse mensdom. Nie dat Hy wispelturig soos die ander gode is nie, want die beginsels waarvolgens Hy werk, is algemeen bekend. Waar sy geopenbaarde wil gedwarsboom word – soos wanneer die klei nie meegee in die rigting wat die pottebakker dit vorm nie – laat Hy die strawwe van die verbond in werking kom (Deut 27-28). Wanneer sy geopenbaarde wil gehoorsaam word, of ongehoorsames tot bekering kom en Hom gehoorsaam – soos wanneer die klei meegee in die rigting wat die pottebakker dit vorm – laat Hy die seën van die verbond in werking kom (Deut 28).

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-18-maak-julle-lewe-en-julle-dade-reg/

Psalm 132 – Die Here belowe omvattende seën vir dié wat sy verbond en bepalings nakom

3 September

Psalm 132 – Die Here belowe omvattende seën vir dié wat sy verbond en bepalings nakom

1‘n Pelgrimslied. Dink tog, Here, aan Dawid, aan al sy opofferings, 2hy wat teenoor die Here ‘n eed gesweer het, ‘n gelofte afgelê het aan die Magtige van Jakob: 3“Ek sal nie ingaan in die tent waar ek woon; ek sal nie op my slaapbank gaan lê nie, 4ek sal my oë nie toelaat om te slaap, my ooglede om in te sluimer nie, 5totdat ek vir die Here ‘n plek gevind het, ‘n woning vir die Magtige van Jakob.” 6Kyk, ons het daarvan gehoor in Efrata, dit gevind in die velde van Jaär. 7Laat ons sy woning binnegaan en in aanbidding buig voor die voetbank vir sy voete. 8Staan op, Here, gaan na u rusplek, U en u magtige ark. 9U priesters moet geklee wees in geregtigheid, u troue volgelinge moet jubel. 10Ter wille van u dienskneg Dawid, moet U tog nie u gesalfde wegwys nie. 11Die Here het vir Dawid ‘n betroubare eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Van jou nasate sal Ek op jou troon plaas. 12As jou seuns my verbond nakom en my bepalings wat Ek hulle leer, sal ook húlle seuns vir altyd op jou troon sit.” 13Ja, die Here het Sion uitgekies; Hy begeer dit as sy woonplek: 14“Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, want Ek begeer dit. 15Sion se voedselvoorraad sal Ek ryklik seën; haar behoeftiges sal Ek met brood versadig; 16haar priesters sal Ek met verlossing beklee en haar troue volgelinge sal uitbundig juig. 17Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitgroei; Ek het ‘n lamp gereedgemaak vir my gesalfde. 18Sy vyande sal Ek met skande beklee, maar sy kroon sal op hom skitter.”

Met hierdie Psalm roep die pelgrims die geskiedenis van Dawid en die koningshuis in herinnering.  Hulle dink terug aan die passie van Dawid om ‘n tempel vir die Here te bou waarin die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, ‘n vaste rusplek kan kry (vers 1-9). Dawid wil eintlik op geen manier rus nie, totdat hy vir die Here ‘n plek gevind het, ‘n woning vir die Magtige van Jakob. In dieselfde gees buig die pelgrims dan in aanbidding voor die Here neer, terwyl die priesters hulle in ‘n feestelike liturgie begelei.  As getroue volgelinge van die Here juig hulle saam voor Hom in eerbied vir die plek wat Hy by hulle inneem. Daarmee vereenselwig hulle hulle natuurlik ook met dié passie van Dawid vir God se teenwoordigheid op aarde.  En soos hulle kan ons dié gebed bid vir ons eie belewenis van God se teenwoordigheid in ons geloofsgemeenskappe waar dit ook al mag wees.

Die twee name wat in vers 6 genoem word, Efrata en Jaär, help ‘n mens om die geskiedenis van die ark in herinnering te roep sowel as die tradisie van die Messias wat aan God se teenwoordigheid gekoppel is. Efrata verwys na Betlehem, die plek waar Ragel oorlede is met die geboorte van Benjamin (Gen 35:19).  Dit is ook die plek waar die verhaal van Naomi en Rut afspeel.  Ook Samuel se pa, Elkana, se voorsate het van Efrata af gekom (1 Sam 1:1).  Miga voorspel dat die Messias van Betlehem-Efrata afkomstig sal wees (Mig 5:1), die teks wat die Skrifgeleerdes in die NT oortuig het dat die sterrekenners die Christus in Betlehem moes gaan soek (Matt 2:6). Die plek Jaär (Jaärsveld) verwys waarskynlik na die plek waar die ark vir ‘n tyd lank gehou is, Kirjat-Jearim.  Dit was in die huis van Abinadab, waar sy seun Eleasar gewy is om na die ark om te sien (1 Sam 6:21; 1 Sam 7:1).  Ná Dawid Jerusalem ingeneem en as hoofstad gevestig het, was die eerste ding wat hy gedoen het om die ark terug te bring na die tabernakel in Jerusalem (2 Sam 6:1 vv; 1 Kron 13:6 vv).

Hulle tree opnuut ook in vir die Dawidshuis dat die Here sy belofte van trou aan hom en sy nageslag sal nakom (vers 10-18). Dit wil lyk asof die ark ook deel van ‘n feesliturgie was waarin God se voortdurende teenwoordigheid in die stad wat Hy uitgekies het, gevier is (vgl ook Ps 24). Salomo gebruik bv dié deel van die Psalm amper woordeliks in sy gebed met die inwyding van die tempel (2 Kron 6:41-42). Hulle fokus is egter nie net op die verlede en die herinnering aan wat God in die verlede gedoen het nie.  Hulle bid dat God se trou ook hierna sal manifesteer in die voortgang en bevestiging van God se gesalfde, dit is Messias. Die gebed het in die eerste plek ‘n toepassing op die wyse waarop die Godsvolk regeer word. Hulle tree veral in vir die koningshuis se gehoorsaamheid aan die verbond en sy bepalings en die seëninge wat daaraan verbind is.  Dié seëninge sluit vier beloftes in:

  • God se voortgaande verkiesing van Sion as woonplek – dws sy teenwoordigheid;
  • God se voortgaande voorsiening van voedsel, ook vir behoeftiges;
  • God se verlossende geskenk van oorwinning vir die priesters – onthou die ark is ook met oorloë gebruik;
  • God se voortgaande voorsiening van nasate om op Dawid se troon te sit, wat die Messiaanse verwagting lewend gehou het: “sy kroon sal op hom skitter”.

Dié Psalm nooi ons dus ook uit om met onvermoeide ywer vir die koms van die koninkryk te bid, in die kerk, sowel as regdeur die wêreld. En God se beloftes van sy teenwoordigheid, sy voorsiening, sy oorwinning en leiers vir onsself toe te eien.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-132-here-laat-u-gesalfde-se-kroon-skitter/

Spreuke 14:26-27 – Ontsag vir die Here is ‘n bron van lewe en gee sterk vertroue

2 September

Dit bly heerlik om die wyshede van Spreuke te oordink, en in jou eie konteks van toepassing te maak. Onthou egter dat ‘n mens nie alles kan inneem nie, en daarom ‘n seleksie móét maak waarop jy regtig fokus in jou leeswerk en veral waaroor jy dieper nadink. Dit is goed om “vas te val” by ‘n teks en dit diep te oordink. Vandag gee ek net twee verse uit Spreuke 14, maar jy kan gerus die ander verse in die vertaling van jou eie keuse deurlees, vir in geval daar ander is wat jou aandag gaan vang.

Spreuke 14 – Ontsag vir die Here is ‘n bron van lewe en gee sterk vertroue

26In ontsag vir die Here lê daar sterk vertroue, en vir iemand se kinders bied dit ‘n skuilplek. 27Ontsag vir die Here is ‘n bron van lewe, sodat die vangstrikke van die dood vermy kan word.

Spreuke fokus regdeur sterk op die “ontsag / vrees van die Here.” Die frase word 22 keer in Spreuke gebruik. Dit is die mees fundamentele basis van die wysheid. Wysheid begin nie in ons denke nie. Wysheid lê nie in die filosofie, godsdiens of wetenskap nie. Dit lê selfs nie in wat ons doen nie. Wysheid begin by die “vrees” vir God. Wanneer jy ontsag vir Hom het, begryp jy die sin en betekenis van die lewe; weet jy wat reg is, en wat verkeerd; weet jy wat om te dink en doen. Hier is ‘n lys van al die verse in Spreuke wat handel oor die “ontsag vir die Here” as jy dit almal wil nagaan: Spreuke 1:7; 1:29; 2:5; 3:7; 8:13; 9:10; 10:27; 13:13; 14:2; 14:16; 14:26; 14:27; 15:16; 15:33; 16:6; 19:23; 22:4; 23:17; 24:21; 28:14; 29:25; 31:30.

Vers 26 wys hier op die sterk sekerheid en vertroue wat die vrees vir die Here in jou laat ontstaan. Die ontsag vir die Here is ’n toevlug (‘n skuilplek soos ’n fort) vir jouself en jou kinders. Want, die vrees vir die Here beteken dat jy eintlik niks of niemand anders vrees nie, en die lewe tegemoet kan gaan in die sekerheid wat God se grootheid en voorsienigheid jou bied.  Vers 27 wys op die vrug wat die vrees van die Here in jou lewe bring. Die ontsag vir die Here is ’n bron (fontein) van lewe wat jou help om die strikke van die dood (‘n mens kan dit ook verstaan as “dodelike strikke” wat mense vir jou stel) te ontwyk.

Derik Kidner sê oor die betekenis van dié twee verse: “Godliness protects the soul by its solidity (26) and its vitality (27). Both aspects are necessary, since evil not only attacks but attracts us; therefore, the man of God must know (and show his family, 26b) something both stronger and better.”

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-141-35-soos-god-vir-ons-n-toevlug-is-skep-integriteit-veilige-ruimtes/

2 Petrus 1:10-15 – Geloofsgroei verseker dat jy nie sal struikel nie

1 September

2 Petrus 1:10-15 – Geloofsgroei verseker dat jy nie sal struikel nie

10Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. 11Ja, so sal toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word. 12Daarom sal ek julle altyd aan hierdie dinge bly herinner, al weet julle dit reeds, en al is julle reeds stewig in die bestaande waarheid gevestig. 13Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp, so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; 14want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het. 15Daarom sal ek my ook daarvoor beywer dat julle hierdie dinge ná my heengaan steeds in herinnering sal kan roep.

Petrus het nou al twee belangrike sake in sy brief beklemtoon wat die grondslag lê vir sy appèl in hierdie perikoop. Die eerste is dat hulle: “dieselfde kosbare geloof as ons verkry het… deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here.” Dit het hulle: “alles gegee wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe.” (2 Pet 1:2-3) God het hulle dus alles gegee wat hulle nodig het vir hierdie lewe. Die tweede is dat dié groot gawes van God hulle daarom moet aanspoor en inspireer om hulle geloof te verryk met ‘n sewetal geestelike en etiese aspekte: deug, insig, selfbeheersing, volharding, godvresendheid, broederliefde en liefde vir alle mense. Hulle moet dus alles gee om God se werk in hulle tot sy volle werking te laat kom (2 Pet 1:5-9).

In hierdie perikoop sien ons dat Petrus oortuig is dat hulle eintlik reeds dié dinge nie net begryp nie, maar uitlewe. Maar, hy wil hulle herinner daaraan sodat hy kan seker wees dat hulle regtig vas kan bly staan in die lig van die uitdagings wat deur die dwaalleraars op hulle wag. Hy weet dat hy nie meer lank oor het om te lewe nie, soos die Here Jesus aan hom bekend gemaak het. Daarom sy oproep en ook ander inisiatiewe wat hy onderneem om seker te maak dat hulle nie dié dinge sal vergeet as hy nie meer daar is nie – onder andere die feit dat hy met Markus Johannes sy lewe saam met Jesus gedeel het wat tot die skryf van die Evangelie van Markus aanleiding gegee het.

Dit is waarom Petrus die belofte aan hulle onderstreep dat as hulle hierdie sewetal dinge deel van hulle lewe maak – as hulle geloof op dié manier verryk word – hulle vir seker nooit sal struikel nie. Dit is immers die manier waarop hulle toegang tot die ewige koninkryk van die Here sal kry. Dié belofte het die krag om hulle stewig in “die bestaande waarheid” gevestig te hou. En let op, dit is nie ‘n nuwe waarheid nie, maar die waarheid wat reeds aan hulle oorgedra is, die waarheid wat die apostels van die Here Jesus aan hulle verkondig het. Dit is die vashou aan daardie waarheid wat die deure van die hemelse koninkryk vir hulle sal laat oopswaai in heerlikheid.

Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/faithmustrise-2-petrus-11-15/

Onlangse kommentaar