2 Petrus 1:5-9 – Geloofsgroei bring groot vrug voort
Die RCL teks vir vandag is Lukas 14:25-33. Dit is ‘n baie belangrike aanmoediging tot dissipelskap van Jesus. Jy kan ‘n bydrae uit Prontuit die Waarheid hier lees: https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/06/LUKAS14_25-33.docx. Ek hanteer egter 2 Petrus 1:5-9 vandag wat óók op dissipelskap fokus, maar ‘n spesifieke belofte daaraan koppel.
2 Petrus 1:5-9 – Geloofsgroei bring groot vrug voort
5Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, 6by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, 7by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense. 8Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik, en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is, wat julle kennis van ons Here Jesus Christus betref nie. 9Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig, en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is.
Omdat God nie net deur sy goddelike krag vir ons alles gegee het wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe nie, maar daarby deel gegee het aan die goddelike natuur, moet ons ons toelê daarop om óns geloof – dws ons subjektiewe vasgryp aan die Here – te verryk met ‘n sewetal geestelike aspekte – Petrus se weergawe van Paulus se vrug van die Gees (Gal 5:22) – sodat daardie geloofsgroei vrug kan dra in ons lewe. Anders is nie net die geloof nutteloos nie, maar ook ons kennis. Iets om regtig ter harte te neem.
Dié sewe aspekte waarop ons dus moet fokus dra veral ‘n etiese karakter. Dit is: deug (uitnemendheid of verantwoordelikheid), insig (kennis in die sin van begrip, soos ook in Fil 1:10), selfbeheersing, volharding, godvresendheid (‘n toegewyde lewe), broederliefde (in Grieks filadelphia – liefde onder mekaar) en liefde vir alle mense (in Grieks agape – onselfsugtige ten-spyte-van liefde).
Die belofte is dat dié geloofsgroei ons in staat sal stel om nuttig te wees in die koninkryk deur die vrug wat ons dra. As dié dinge egter ontbreek in ons geestelike lewe, is ons blind en kortsigtig oor God se doel met ons lewe en het ons vergeet dat die Here ons juis skoongemaak het om vir Hom te lewe. Hy het ons gekies en geroep om saam met Hom die ewigheid binne te gaan. Geestelike groei sal verseker dat ons dié doel nie mis nie.
Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/bou-jou-geloof-2-petrus-11-11/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar