Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 3 – Die Here hou my kop hoog

16 Augustus

Psalm 3 – Die Here hou my kop hoog

1‘n Psalm. Van Dawid. Toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. 2Here, hoe het my teenstanders vermeerder! Baie staan teen my op. 3Baie sê van my: “Daar is geen redding vir hom by God nie.” 4Maar U, Here, is vir my ‘n skild aan alle kante; U is my eer, en die Een wat my kop hoog hou. 5Wanneer ek hard roep na die Here, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela 6Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word, want die Here onderskraag my. 7Ek is nie bang vir tienduisende manskappe wat reg rondom my teen my stelling inneem nie. 8Staan op, Here, verlos my, my God, want U het al my vyande op die wang geslaan; die tande van die goddeloses het U gebreek. 9By die Here is daar redding; op u volk rus u seën. Sela

Ek dink ’n belangrike perspektief vir hierdie Psalm, is dat ’n mens dié Psalm kan bid, selfs al is jy medeverantwoordelik vir die negatiewe dinge wat in jou lewe gebeur. Die Here luister na dié wat in Hom glo en sy teenwoordigheid opsoek, ongeag met watter geskiedenis hulle by Hom opdaag! Jy kan meer oor die hele ongelukkige geskiedenis tussen Dawid en Absalom in 2 Samuel 13 lees.

Let op hoe Dawid vasgryp aan God nie net ten spyte van die verlede nie – sy gebrek aan optrede as ouer nie net teenoor Absalom nie, maar ook teenoor Tamar, wat onder andere Absalom op die verkeerde pad geplaas het – maar ook ten spyte van die opstand van sy ander teëstanders wat sê dat God nie na hom sal luister nie. Dit verg moed en geloofsvertroue!

Hierdie tipe gebed bring God in beweging, wat nie net vir hom gemoedsrus gee sodat hy kan slaap nie, maar ook uiteindelik sy omstandighede verander, hoewel dit steeds nie ’n maklike pad was vir hom nie. Let op hoe sy gebed en die verhoring daarvan uitmond in getuienis wat ook ander mense – dit is nou jy en ek – inspireer om hulp by die Here te soek. Die Here is regtig die Een wat ons koppe hoog hou as ons resloos ons toevlug tot Hom neem.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-3-4-god-bring-rus-en-vrede-as-ons-hom-vra/

Psalm 4 – Die Here behandel sy getroue volgelinge uitsonderlik

15 Augustus

Die RCL gee Psalm 71:1-8 weer aan vir vandag. Ek het dit egter al gebruik. Jy kan dit hier lees: https://bybelskool.com/psalm-711-8-god-se-betroubaarheid-bring-sekerheid-en-vertroue/

Ek kies daarom Psalm 4 vir vandag in die plek daarvan. Ek gaan daarby Psalm 3 kies vir môre, want sommige geleerdes dink dat die omstandighede van hierdie twee Psalms dieselfde is. Albei is geskryf /  gebid teen die agtergrond van die tragiese verhaal van Dawid se vlug voor sy geliefde seun Absalom: “Van Dawid. Toe hy vir sy seun Absalom gevlug het…” (Ps 3:1). Dawid sou dan moontlik met Psalm 4 kon terugdink aan die aand na sy vlug uit Jerusalem (vgl Ps 4:9 – “in vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak…”) en met Psalm 3 toe hy die volgende oggend wakker geword het (vgl 3:6 – “Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word…”). Ons lees dit dan in omgekeerde volgorde soos Dawid dit moontlik geskryf het.

Psalm 4 – Die Here behandel sy getroue volgelinge uitsonderlik

1Vir die musiekleier. Met snarespel. ‘n Psalm. Van Dawid. 2God wat my reg handhaaf, antwoord my wanneer ek roep. Toe ek in die noute was, het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed. 3Mense, hoe lank nog gaan julle my eer skend? Julle het nietigheid lief, julle jaag leuens na. Sela 4Julle moet weet dat die Here sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel. Die Here hoor wanneer ek na Hom roep. 5Sidder, moenie sondig nie; dink na op julle beddens en wees stil. Sela 6Bring offers van geregtigheid en vertrou op die Here. 7Baie mense sê: “Wie sal ons weer die goeie laat beleef?” Laat die lig van u teenwoordigheid oor ons skyn, Here! 8U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer mense se koring en nuwe wyn volop is. 9In vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want net U, Here, laat my veilig woon.

Dit is fassinerend om ‘n kykie in hierdie Godsman se gebedslewe te kry. Spesifiek in ‘n tyd waarin hy nie net in gevaar is nie, maar die trauma van die opstand van sy seun moet hanteer. Dawid stel in hierdie uitdagende tyd steeds sy geloof en vertroue in God alleen. Selfs al is daar baie teenstand van mense naby aan hom, boonop ook ander mense wat sy geloof en vertroue in God bespotlik wil maak. Dawid is oortuig dat die Here steeds wonders doen vir dié wat Hom daarvoor vertrou. Hy is oortuig dat die belofte waar is, dat God sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel.

Vers 5 is ’n wonderlike lewenswysheid wat Dawid neerpen – midde in sy gebed – wat ons leer dat ’n mens nie self negatief op ongelowige perspektiewe moet reageer nie, en op die Here alleen moet vertrou: “Sidder (dws raak maar ontsteld, maar), moenie sondig nie; dink na op julle beddens en wees stil.“ Dat hy hierdie gebed kon bid terwyl hy self ontsteld moes wees… laat ‘n mens besef dat hy regtig die beloftes van die Here vir homself toegeëien het.

Daarby moet ons steeds die regte dinge doen, die normale dinge wat God van ons vra, terwyl ons Hom bly vertrou. Ons kan nie afwyk van sy pad net omdat ander sy wil vertrap onder hulle voete nie. Dan kan ons met oorgawe fokus op wat God gee en bring dit ook rus in ons gemoed – soos Dawid sê – wat ons rustig laat slaap en veilig laat woon. En dink net – as Dawid inderdaad dié gebed bid terwyl hy besig is om te vlug van Absalom –  met hoeveel meer oortuiging jy in jou eie krisisse op hierdie beloftegewende God kan staatmaak.

Leer meer: https://bybelskool.com/psalm-3-4-god-bring-rus-en-vrede-as-ons-hom-vra/

1 Petrus 5 – Die God van alle genade sal julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig

14 Augustus

Die RCL teks vir vandag is Lukas 12:49-56. Ek gee ‘n uittreksel uit Prontuit die Waarheid as jy ‘n bydrae daaroor wil lees: https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/06/Lukas12_49-56.docx. Die belofte vir vandag kom egter uit 1 Petrus 5.

1 Petrus 5 – Die God van alle genade sal julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig

1Ek doen dan nou ‘n ernstige beroep op die ouderlinge onder julle, ek, julle mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus, en julle deelgenoot in die heerlikheid wat geopenbaar sal word: 2Versorg soos herders die kudde van God in julle midde; hou toesig – nie uit plig nie, maar vrywillig, in ooreenstemming met die wil van God; nie uit skandelike winsbejag nie, maar geesdriftig; 3nie baasspelerig oor hulle wat aan julle toevertrou is nie, maar as voorbeeld vir die kudde. 4En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie. 5Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan ouer mense. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” 6Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, 7deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle. 8Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos ‘n brullende leeu”, op soek na wie hy kan verslind. 9Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof, in die wete dat julle medegelowiges oor die hele wêreld dieselfde soort lyding verduur. 10Maar al moes julle vir ‘n kort tydjie ly, sal die God van alle genade, wat julle tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus geroep het, julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig. 11Aan Hom die krag tot in ewigheid. Amen. 12Ek het deur Silvanus, na my oordeel ‘n getroue broer, kortliks aan julle geskryf om julle te bemoedig, en julle nadruklik te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan vas daarin! 13Julle mede-uitverkorene in Babilon, en Markus, my seun, groet julle. 14Groet mekaar met ‘n soen van liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is!

Petrus rond sy brief af deur te fokus op twee aspekte van hulle gemeentelike lewe wat hulle standvastigheid in die geloofstryd in die wêreld sal gee. Die eerste het te make met die leierskap in die gemeente en die absolute belang van vrywillige, geesdriftige versorging wat gewortel is in die voorbeeld wat hulle stel. Die tweede het te make met die navolging van die leiers se toesig en voorbeeld, terwyl almal saam op die kragtige hand van God sal vertrou. Hoekom? “Want Hy gee vir julle om.” Dit is sy belofte!

Petrus doen ‘n ernstige beroep op die ouderlinge as leiers van die gemeente om toesig te hou oor hulle, en as voorbeeld vir hulle te leef. En hulle moet dit doen op vrywillige en geesdriftige wyse, nie op ‘n baasspelerige manier óf deur wins daaruit te maak nie. Woorde wek, maar voorbeelde trek. Hy motiveer hulle op twee maniere vir hierdie belangrike taak. Aan die een kant verwys hy na homself as ‘n voorbeeld vir hulle – as mede-ouderling, getuie, en deelgenoot. Aan die ander kant verwys hy na die beloning wat die Here, die “Groot Herder”, vir elke getroue ouderling sal gee, die erekrans van heerlikheid wat nooit sal verwelk nie.

Die keersy van hierdie versorging is natuurlik dat die leierskap se toesig en voorbeeld aanvaar en nagevolg sal word, veral deur die jongeres in die geloofsgemeenskap. Nederigheid moet die onderlinge gemeenskap kenmerk. Petrus roep hulle almal op om al hulle bekommernis op God te werp en die vertroue dat sy kragtige hand aan die werk sal kom in hulle lewens. Hoekom? “Want Hy gee vir julle om!” Wat ‘n voorreg. Dit is des te meer noodsaaklik, omdat die uitdagings van hierdie lewe ‘n geestelike basis het: “Julle teenstander, die duiwel, loop rond ‘soos ‘n brullende leeu’ op soek na wie hy kan verslind.” Daarom moet die gelowiges waaksaam en nugter wees om hom te kan teenstaan en standvastig in die geloof te bly. Dit is trouens die lot van alle gelowiges regdeur die wêreld.

Hulle kan egter staatmaak op God se werk, self al sluit dit lyding in, om hulle te herstel, bemagtig, versterk en stewig te vestig. Hy het die krag om dit te doen en sal die roeping van Jesus Christus in hulle lewens waarmaak. Petrus gebruik hier vier woorde om Christus se werk in jou uit te druk.

  1. Jesus sal jou “herstel” (katartizō). Hy sal jou bekwaam maak, oprig, afrond, bemagtig om standvastig te wees in die geloof. Dit is ‘n woord wat vakmanne gebruik het. Dit beteken om ‘n breuk te herstel. In Markus 1:19 word die Griekse woord bv gebruik vir die “herstel” van visnette. Om jou “op te rig”, om jou “te herstel”, beteken dus, om te voorsien in dit wat jy kortkom, om heel te maak wat by jou gebreek is. Dit is hoe God jou sal oprig as jy jou verneder voor Hom.
  2. Jesus sal jou “bemagtig” (sterizo). Dit is om jou “stewig te maak”, “so vas of solied soos graniet te maak.” Ons weet mos dat lyding twee dinge aan ‘n mens kan doen. Dit kan jou inmekaar laat stort. Óf dit kan versterk soos niks anders dit kan doen nie – soos staal wat deur vuur gelouter is. Laasgenoemde is wat die Here deur die lyding in jou sal regkry. Hy sal jou so sterk soos staal maak. So solied soos graniet.
  3. Jesus sal jou ook “versterk” (sthenoo). Dit beteken letterlik “om vol krag te maak”. Hier is die gedagte dat ‘n lewe sonder die Gees jou kragteloos sal maak. God werk van binne af om jou weerbaar en paraat te maak om met moed en durf op te tree in die stryd vir die geloof in hierdie wêreld.
  4. Jesus sal jou “stewig vestig” (themeliosei). Hy sal jou standvastig maak, jou “’n vaste fondament gee”. Pyn en lyding kan ‘n mens stukkend slaan. Petrus belowe dat die Here Jesus sal sorg dat jy nie stukkend geslaan word nie, maar soos ‘n huis op die rots sal volhard.

Petrus sluit sy brief af met ‘n verwysing na Silvanus wat hom met die skryf van die brief gehelp het, sowel as na Markus wat saam met hom sy groete aan die vreemdelinge in die noorde en weste van Turkye stuur. Hy spel ook die doel van sy brief uit, dat hy hulle wou bemoedig en hulle nadruklik wou verseker: “dat hierdie dinge die ware genade van God is.” Groot woorde. “Staan dan vas daarin!”

Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/staan-sterk-in-die-geloof-1-petrus-55-11/

Psalm 129 – Die Here is regverdig; Hy laat goddeloses nie oor jou die oorhand kry nie

13 Augustus

Psalm 129 – Die Here is regverdig; Hy laat goddeloses nie oor jou die oorhand kry nie

1‘n Pelgrimslied. Van my jeug af het hulle my dikwels aangeval – laat Israel dit sê – 2van my jeug af het hulle my dikwels aangeval, tog kon hulle nie oor my die oorhand kry nie. 3Ploeërs het oor my rug geploeg, hulle ploegvore lank getrek; 4maar die Here is regverdig – Hy het die goddeloses se toue stukkend gesny. 5Mag almal wat Sion haat, beskaamd staan en terugdeins. 6Mag hulle wees soos gras op dakke, wat verdroog voordat dit uitgetrek word, 7wat nooit die handpalm vul van een wat oes, of die vou van die kleed van een wat gerwe bind nie. 8En mag verbygangers nie sê nie: “Die seën van die Here vir julle; ons seën julle in die Naam van die Here.”

Hierdie pelgrimslied fokus op die teenstand wat gelowiges van goddelose moet verduur en prys die Here vir die verlossing wat Hy telkens bring. Hy gebruik op innemende wyse ploeg – en oes metafore om aan die een kant ‘n prentjie van verlossing uit verdrukking en aan die ander kant verguising vir verdrukkers te skets. Die Psalmis dink waarskynlik aan die verdrukking van die ballingskap, of dit talle oorloë waarin Israel gewikkel was, maar die Psalm kan op enige ander situasie van toepassing gemaak word (vers 1-4). Die een ding wat uitstaan in die ervaring van verdrukking is dat die Here regverdig was, en gekeer het dat die goddeloses volledig die oorhand kry nie. Al het die aanvallers metafories soos ploeërs lang ploegvore oor hulle rug getrek, die Here het telkens die harnas van die goddelose mense se toue waarmee hulle vasgebind was, losgesny. Hier het hulle waarskynlik gedink aan al die verskillende oorloë wat teen Israel deur die geskiedenis gevoer is, waaruit die Here hulle telkens verlos het. Maar, enigeen sou ook sy eie verdrukking hierin kon inlees en die Here vir verlossing kon prys.

Die Psalmis begelei tegelykertyd die pelgrims om die verguising wat God belowe vir verdrukkers te verwoord (vers 5-8). Vir almal wat Sion haat – en hulle daarmee as God se teenstanders identifiseer – word beskaming en verydeling toegebid. Pelgrims kon dus hulle lewensreis voortsit met die wete dat God nie net hulle pyn en swaarkry raak sien nie, maar dat Hy ook regverdig is om die verdrukkers hulle verdiende loon te laat kry. Dit is sy belofte.

Paulus gaan in Romeine 12 nóg verder, en laat selfs die gebed vir verguising van Psalm 129 agter – Jesus het immers die moontlikheid van vergifnis selfs vir vyande gebring –  maar sê steeds dat God se regverdigheid uiteindelik oor alles sal triomfeer: “17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.” Daarop kan ons staatmaak en goed bly doen, selfs vir ons verdrukkers: “20’As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.’ 21Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-129-verlossing-uit-verdrukking-verguising-vir-verdrukkers/

Spreuke 11:27-31 – Die vrug van ‘n regverdige is ‘n boom van lewe

12 Augustus

Spreuke 11:27-31 – Die vrug van ‘n regverdige is ‘n boom van lewe

27Wie die goeie voor oë het, soek aanvaarding, maar wie kwaad nastreef – dit haal hom in. 28Wie op sy rykdom vertrou, val self, maar soos groen blare spruit regverdiges uit. 29Wie rampspoed oor sy huis bring, erf wind, en ‘n sot word die slaaf van ‘n verstandige mens. 30Die vrug van ‘n regverdige is ‘n boom van lewe, maar geweld neem lewens weg. 31As ‘n regverdige op aarde vergeld word, hoeveel te meer ‘n goddelose en ‘n sondaar!

Vers 27 verwoord die waarheid dat wat jy soek, jou vind. Jy verander in die rigting wat jy jou lewe rig. Dié wat die goeie met hulle volle aandag soek, vind die guns van mense en God. Dié wat die kwade soek, sal vind dat die kwade maar alte gewillig is om gevind te word. Trouens, die kwaad sal die kwaadwilliges inhaal. Soos Kidner sê: “What you seek for others, you will get yourself.”

Vers 28 kontrasteer vertroue op rykdom met vertroue op God. Dié wat op rykdom vertrou, kom tot ’n val. Dié wat op God vertrou – die regverdiges – floreer soos groen blare aan ’n boom.

Vers 29-31 waarsku jou om nie jou familie te verwaarloos of die lewe vir hulle moeilik te maak nie. Dit sal hulle van jou vervreem en jou verhouding met hulle verbreek. Trouens, sulke dwaasheid kan jou alles laat verloor, selfs jou vryheid. Die vrug van ‘n regverdige se lewe is egter soos ‘n boom wat lewe gee. Dit laat ander ook wysheid begeer. ‘n Gewelddadige lewe daarteenoor vernietig mense (soos die tweede deel van vers 30 ook vertaal kan word). Maar, moenie wanhoop dat goddeloosheid en sonde nie gestraf sal word nie. Selfs die regverdige kry hier op aarde wat hom toekom. “If good people barely make it, what’s in store for the bad!” (The Message)

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-111-31-die-gemeenskap-floreer-met-die-regte-waardes-en-lewenstyl/

Onlangse kommentaar