Jeremia 2 – My volk het My vergeet
Hoofstuk 2-6 vorm ’n eenheid in terme van styl — amper alle gedeeltes is in poëtiese vorm — en inhoud — oordeelsprofesieë waarin die skraal hoop van ’n moontlike omkeer tog nog lewend is (hfst. 4:14: “Reinig jou hart van die kwaad, dat jy behoue kan bly”). Dit word ingelui met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom” wat eers weer in hfst. 7 herhaal word om ’n nuwe afdeling in Jeremia se boek in te lui. Ons vind dit regdeur die boek as die begin van onderafdelings van sy boodskap (1:2-3; 1:4; 1:11; 1:13; 2:1; 7:1; 11:1; 13:3; 13:8; 14:1; 16:1; 18:1; 21:1; 24:4; 26:1; 27:1; 28:12; 29:30; 30:1; 32:1; 32:26; 33:1; 33:19; 33:23; 34:1; 34:8; 34:12; 35:1; 35:12; 36:1; 36:27; 37:6; 39:15; 40:1; 42:7; 42:15; 43:8; 44:1; 46:1; 47:1; 49:34).
Omdat Josia pertinent in hfst. 3:6 genoem word, plaas geleerdes gewoonlik die ander gedeeltes van hfst. 2-6 in die eerste periode van Jeremia se bediening (627-609 v.C.), d.w.s. in die tyd van Josia (640-609 v.C.), onder andere omdat hoofstuk 7 op sy beurt in die tyd van die volgende koning Jojakim geplaas word (609-598 v.C.), weens die ooreenkomste met dieselfde tipe opdrag en boodskap wat in hoofstuk 26 gegee word, en waar dit duidelik in die tyd van Jojakim geplaas is (26:1). Hoewel dit moeilik is om altyd die perikope/gedigte van mekaar te onderskei, is daar min of meer ’n progressie van gedagtes in terme van die breë lyne van die hoofstukke sigbaar, as ’n tipe “regsgeding” teen die volk:
- Hoofstuk 2 – My volk het My vergeet.
- Hoofstuk 3 – Kom terug na My toe!
- Hoofstuk 4 – Bekeer jou tot My
- Hoofstuk 5 – Hulle het hulle nie laat leer nie
- Hoofstuk 6 – Jerusalem is veroordeel
Die vyf hoofstukke vorm natuurlik ook ’n onderafdeling van die eerste hoofdeel van Jeremia se boodskap aan Juda en Jerusalem — hfst. 2-33, soos ek in die inleiding aangedui het. Dit handel oor:
- die oordeel oor die volk wat God vergeet het (hfst. 2-20) waarby Jeremia se sewe “Konfessies” opgeneem is;
- die oordeel oor die leiers (konings, profete, en priesters: hfst. 21-23, waarin daar darem ook ’n belofte van ’n regverdige koning ingesluit is);
- die ballingskap wat onafwendbaar aanbreek – hfst. 24-29; en laastens
- die belofte van ’n toekomstige herstel – hfst. 30-33.
Indeling ’n Mens kan die individuele uitsprake/gedigte van Jeremia raaksien veral in die wisselende naamwoorde wat gebruik word: bv. “jy” in vers 1-3 wat in die vroulike tweede persoon enkelvoud geskryf is, “julle” in vers 4-9 wat in die manlike tweede persoon meervoud geskryf is, ensomeer. Maar dit help ook net so ver vir die afbakening, want in vers 6 word ook die derde persoon manlike meervoud gebruik, “hulle”. Die beste is om die indeling daarom op ’n kombinasie van drie maniere te doen, eerstens in terme van frases wat ’n nuwe aankondiging inlui, soos bv. “So sê die Here” in vers 2, en “Hoor die woord van die Here” in vers 4, tweedens om moontlike logiese gedagte eenhede te identifiseer, bv. vers 14-19 wat ’n eenheid vorm rondom die sentrale gedagte in vers 17: “Jy het jou dit self aangedoen omdat jy My, die Here jou God, verlaat het” en derdens volgens bogenoemde naamwoorde, jy, hulle, julle ensomeer. Dit gee die volgende indeling:
- “Die woord van die Here het tot my gekom” – vers 1-2a (inleiding)
- “Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was” – vers 2b-3
- “Waarin het Ek gefaal?” – vers 4-8
- “Daarom kla Ek jou weer aan” – vers 9-13
- “Jy het jou dit self aangedoen omdat jy My, die Here jou God, verlaat het”- vers 14-19
- “Jy het my gesag lankal verwerp” – vers 20-22
- “Besef tog wat jy gedoen het” – vers 23-25
- “Soos ’n dief in die skande kom, wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom”- vers 26-30
- “Slaan tog ag op die woord van die Here, my volk!” – vers 31-35
- “Hoe laag het jy gedaal deur jou wispelturigheid!” – vers 36-37
“Die woord van die Here het tot my gekom” – vers 1-2a (inleiding) Soos reeds genoem, word die hoofstuk ingelui met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom” wat eers weer in hfst. 7 herhaal sal word vir ’n nuwe afdeling in Jeremia se boek. Dit vorm dus nie net ’n inleiding tot die hoofstuk se profesieë nie, maar ook vir die versameling hfst. 2-6.
“Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was” – vers 2b-3
Let op hoe die Here die volk as ’n integrale eenheid van hulle ontstaan af tot in die hede aanspreek. Die huidige inwoners van Jerusalem word aangespreek met: “Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug” asof hulle fisies daar was by die begin in die woestyntyd. Uit God se ewigheid is die volk van Israel een ondeelbare geheel. Die verlede het dus ’n onontwykbare impak op die hede, beide positief en negatief, soos ook reaksies in die hede natuurlik medebepalend is vir die toekoms van dié een volk van God.
Die intieme gemeenskap tussen God en sy volk word hier in herinnering geroep as getuienis vir God se saak met sy volk, soos in die res van die gedigte gaan ontvou, dat hulle sonder ’n goeie rede van Hom af weggedraai het, al het Hy hulle van alle rampe beskerm. Die doel daarmee is egter nie net om hulle te beskaam nie, maar juis te motiveer om hulle oop te stel om dié verhouding met God te soek en te hervat.
“Waarin het Ek gefaal?” – vers 4-8
Vers 4-13 is duidelik ’n eenheid, maar ek hanteer dit as twee kante van die “regsgeding” – by wyse van spreke – wat die Here met die volk aanhangig wil maak. In die eerste deel vra die Here die vraag: “Waarin het Ek gefaal?” Hy wil weet hoekom die vaders van die volk van Hom af weggedraai het om nikswerd afgode te dien. Hy wil weet hoekom hulle Hom nie opgesoek het nie, dié Een wat Hom as hulle God bewys het met die Uittog uit Egipte, die begeleiding deur die woestyn en die Intog en vestiging in Kanaän.
Die volk het egter die land – wat steeds God se eiendom was en is (vgl. Lev. 25:23) – besoedel (deur die wet te oortree), die priesters het Hom nie aan die volk bekend gemaak nie, die regeerders het hulle teen Sy koningskap verset, en die profete het afgode begin dien. Die ongehoorsaamheid was dus wydverspreid onder die leiers en die volk.
“Daarom kla Ek jou weer aan” – vers 9-13
In die tweede deel versterk die Here sy klag met die woorde: “Daarom kla Ek jou weer aan” en sluit ook die “nakomelinge” in. Dit is immers onverstaanbaar dat ’n nasie sy gode verruil. Selfs al kom hulle agter dat dié gode nikswerd is nie, doen hulle dit nie! Die Here verwys hier na die Kittiëreilande — die eiland Siprus — en Kedar — Bedoeïene afstammelinge van Ismael in die Siries-Arabiese woestyn. Jeremia sal later ’n spesifieke oordeel oor Kedar uitspreek (Jer. 49).
Dit is die hart van God se aanklag teen die volk, dat hulle van god verander het. Hulle twee sondes is 1) dat hulle Hom verlaat het, en 2) dat hulle ander gode, “waterbakke wat gebars is en nie water hou nie”, gekies het. “Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here.” Die hemel word hier as getuie aangeroep wat waarskynlik ’n terugverwysing is na die Here se waarskuwing in Deut. 4:26 dat Hy die hemel en aarde getuies maak van die verbond sodat hulle ingetrek kan word wanneer dinge tussen Hom en die volk skipbreuk ly.
“Jy het jou dit self aangedoen omdat jy My, die Here jou God, verlaat het”- vers 14-19
Die Here se verbasing en selfs afgryse oor die volk se afvalligheid word helder hier uitgedruk. Hulle tree op op maniere wat by slawe pas, nie by kinders van die land, d.w.s. kinders van God nie. Hy is immers die eienaar van die land, en sy verbond met hulle gee aan hulle die voorreg om sy gawes en beskerming te geniet. Hulle gaan soek egter beskerming by die groot wêreldmagte van die tyd, Egipte en Assirië. Terloops, Memfis (In Hebreeus word dié stede met die wisselvorme Mof en Nof aangedui) en Tagpanges is twee stede in Egipte. Jeremia word juis na Tagpanges ontvoer soos ons later in Jeremia 44 sal lees.
Let op hoe die Here die gevolge hiervan uitspel: “Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word.” D.w.s. die alliansie wat hulle met die wêreldmagte soek, sal hulle ondergang beteken – hulle gaan soek verkwikking (Jeremia gebruik die metafoor van die water) by die riviere van dié twee nasies, maar dit sal hulle suur bekom. Die Here sal hulle oorgee aan hulle eie planne wat téén sy wil en raad gesmee is. “Omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly. Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is, jy sal proe hoe bitter dit is om My, die Here jou God, te verlaat, om geen eerbied meer vir My te hê nie, sê die Here God, die Almagtige.” Angswekkende woorde!
Dat ’n mens jouself en jou volk só in die voet kan skiet deur jou heil op verkeerde plekke te gaan soek. Dit laat ’n mens ook besef dat die oordeel van die Here nie ’n bose daad van God is nie. Hy boelie nie vir Israel nie. Hy laat hulle ná eeue se waarskuwings oor aan hulle eie dwaasheid om te kyk of hulle nie só tot inkeer kan kom nie.
“Jy het my gesag lankal verwerp” – vers 20-22
Die kern van die probleem van Israel is dat hulle die gesag van die Here oor hulle lewe, in wet en wandel, verwerp het. Hulle het van ’n goeie wingerdstok verander in onkruid, in ’n wilde wingerdstok, deur mee te doen aan die afgodediens van die land Kanaän. Geen wonder dat Jesus eeue later gekom het as die ware wingerdstok, sodat ons almal by Hom ingeënt kan word sodat die verhouding met God herstel kan word – Joh. 15. Lees meer hier daaroor: Johannes 15:1–26 – Om Jesus te aanvaar en sy pad vir jou te omhels, is die lewe.
“Besef tog wat jy gedoen het” – vers 23-25
Met uitdagende metafore word die afvalligheid van die Here se bruid, die volk, geskets. Hulle tree soos ’n bronstige kameelkoei of ’n wildedonkie op in hulle ongeoorloofde politieke verbintenisse sowel as in die afgodediens waaraan hulle hulself blootstel. Die Hinnomdal is net suid van Jerusalem (vgl. ook Jos. 18:16; Neh. 11:30). Die Here wil hê dat hulle moet besef wat hulle doen, maar hulle weier: “Ek sal nie daarmee ophou nie.”
“Soos ’n dief in die skande kom, wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom”- vers 26-30
Dit beteken dat soos ’n dief in die skande kom, wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom, die volk en hulle leiers. In plaas daarvan om God as Skepper en Vader te eer, verleen hulle godsdienstige status aan dooie voorwerpe, hout- en klipbeelde. Dit is eintlik net wanneer ’n ramp hulle tref, dat daar ’n verposing in hulle afgodediens kom en hulle hul na die Here wend. In die oë van die Here is dit egter net nie goed genoeg nie.
“Slaan tog ag op die woord van die Here, my volk!” – vers 31-35
Daarom spreek die Here die volk ernstig aan om op sy woord ag te slaan. Al kan Hy nie regtig begryp hoe hulle Hom en hulle verhouding met Hom kan vergeet nie, is dit die feite waarmee die Here rekening moet hou. Die volk het Hom verlaat, al was Hy goed vir hulle, al was hulle aan mekaar verbind soos ’n bruid aan haar man. Een van die ysingwekkende redes vir hulle afvalligheid is dat hulle gewoond geraak het aan die kwaad. Dit het hulle vermoë om te kan onderskei, afgestomp. Dit het hulle ook afgestomp ten opsigte van arm en verontregte mense en laat hulle toe dat booswigte vry kom. Maar hulle onsensitiwiteit vir hulle eie sondigheid, is uiteindelik nie ’n verskoning nie. Die volk sal die gevolge van hulle afvalligheid dra.
“Hoe laag het jy gedaal deur jou wispelturigheid!” – vers 36-37
Die wispelturigheid van die volk in hulle verhouding met God en hulle onheilige verbintenis met die twee groot wêreldmagte, Egipte en Assirië, sal hulle egter niks in die sak bring nie. Soos hulle die Here in die steek gelaat het, só sal die wêreldmagte vir Israel in die steek laat. Daar sal geen volhoubare hulp van dié magte af kom nie.
Boodskap
Boosheid is in sy diepste wese vergeetagtigheid, die groeiende gebrek aan ’n Goddelike geheue, die onwilligheid om God se goedheid voortdurend te erken en in herinnering te roep. Waar God in ’n mens se bewussyn vervaag, en Hy nie voortdurend in herinnering geroep word, daar lê die kiem van die Boosheid. Dit manifesteer dan in dwase verbintenisse, alliansies wat nie goed deurdink word nie, en dit manifesteer in sosiale onreg, waar deernis met armes verdwyn, en met dié wat onreg ly. Dít skep die klimaat waarin ’n samelewing uiteindelik verval in anargie en wetteloosheid waar elkeen sy eie idees van hoe dinge moet werk op ander af forseer.
Ek skryf dié gedeelte terwyl ek baie bewus is van die afgryslike konflik in die Midde-Ooste (Israel-Palestina, Irak-Sirië) sowel as die ongebreidelde legitimering van korrupsie in ons eie land. Ek wil nie daaroor juis uitbrei nie, maar liewer self die skoen aantrek, en ons almal oproep om self te sorg dat ons die Here elke oomblik van elke dag voor oë sal hou. Skep vir jouself ritmes en rituele om jouself aan die Here te herinner, en oor sy goedheid en nabyheid na te dink. Daniël het drie keer ’n dag gebid as ’n vaste patroon. Jesus het telkens weer Homself onttrek om te gaan bid. Die Here het ook die Sabbat ingestel om ons aan Hom te herinner, om Hom en sy gawes te geniet, en hoewel ons dit nie meer as ’n wet nakom nie, en ook nie op ’n Saterdag nie, het ons tye van “herinnering” nodig. ’n Mens se stiltetyd is een só ’n tyd van herinnering, maar ons het ook gereelde tye van afskakeling en gefokusde aandag nodig, ’n rusdag, soms ’n “rusweek” (retraite) en soms selfs langer (sabbatsjaar), as dit moontlik is.
Ek oordink vandag die woorde: “Waarin het Ek gefaal?” En ek loof die Here dat my ervaring regdeur my lewe nog altyd was dat Hy my nog nooit gefaal het nie. Daarom is my gebed vandag: “Ek aanbid U vir u goedheid en getrouheid.”
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.