Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 133 – Waar broers saam woon, beveel die Here sy seën, lewe vir altyd

10 September

Psalm 133 – Waar broers saam woon, beveel die Here sy seën, lewe vir altyd

1‘n Pelgrimslied. Van Dawid. Kyk hoe goed, hoe mooi is dit as broers ook saam woon. 2Dit is soos kosbare olie op die kop wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop oor die kraag van sy klere. 3Dit is asof die dou van Hermon afkom op die Sionsberge; want daar beveel die Here sy seën, lewe vir altyd.

Die ideaal van broers uit dieselfde uitgebreide familie wat eensgesind saamwoon op hulle gesamentlike erfporsie word hier gebruik as metafoor om die viering van die eenheid van die pelgrims van die verbondsgemeenskap in Jerusalem te beskryf: “Kyk hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon.” (1983-vertaling). Waar hulle uit alle rigtings bymekaar kom in Jerusalem en saam die Here in die verskillende feestelike liturgieë dien, illustreer hulle die onlosmaaklike band wat hulle in die Here met mekaar deel.  Dit is die gom wat hulle dan ook weer saambind as hulle elkeen in sy eie rigting teruggaan na hulle eie stukkie van die grondgebied van Israel.

Dié eenheid is aan die een kant ‘n geestelike een wat beskryf word met die kosbare reukolie wat van die kop af in die baard van Aäron, die hoëpriester, tot op sy klere afloop.  Dit verwys na die bevele van die Here in dié verband wat Aäron en sy seuns in hulle diens aan die Here gesalf het  (Eks 29:7; 30:23–25, 30; Lev 8:12).  Dieselfde het natuurlik ook by die salwing van die konings gebeur wat hulle roeping geestelik bevestig het. Oral waar gelowiges dit dus regkry om hulle eenheid te bevestig het dit ‘n geestelike impak, nie net vir hulleself nie, maar ook vir hulle geloofsgemeenskap.

Dié eenheid is aan die ander kant ook iets wat ‘n impak op die gewone lewe het, soos uitgedruk met die metafoor van die spreekwoordelike oorvloedige dou van die Hermonberg – ‘n berg in Sirië noord van Israel – wat ook op die berge by Sion sal val. Dit beteken dat die seën van eenheid het ook ‘n impak op die wyer gemeenskap.  ‘n Mens kan selfs hieruit ekologiese en ekonomiese seën aflei. Die punt is, waar mense dit regkry om eensgesind te leef met mekaar is daar ‘n ongelooflike seën, geestelik en andersins.  Trouens, dit is iets wat jou eintlik ‘n voorsmakie van die ewige lewe gee, die lewe wat God aan ons skenk.

Dié Psalm gee dus ‘n ongelooflike beeldryke ondersteuning vir die NT ideaal van eensgesindheid soos Paulus bv. aan die Filippense skryf: “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” (Fil. 2:1-4).

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-133-kyk-hoe-goed-hoe-mooi-is-eensgesindheid-onder-gelowiges/

Spreuke 15:8-10, 29 – Die gebed van opregtes geniet God se goedkeuring

9 September

Ons kom in Spreuke 15-16 by ‘n teologiese dieptepunt in die boek Spreuke. Nie net word die naam van die Here hier meer kere gebruik nie (20 keer uit die 111 keer wat Jahwe, God se persoonsnaam, in Spreuke gebruik word), maar die temas het ook spesifiek met God se teenwoordigheid en betrokkenheid in ons lewens te make. Daar is in hierdie gedeelte 2 goue drade wat die onderskeie tekste op ‘n manier aan mekaar verbind:  1) Woorde maak saak, en 2) God maak saak. Dit is dan ook twee van die dinge waarop ‘n mens in jou lewe moet fokus: wat en hoe jy dinge sê, en met Wie jy rekening hou.

Ek kies vier verse wat ‘n wonderlike belofte onderstreep, maar jy is welkom om die hele hoofstuk te lees om nog ander daarin op te spoor.

Spreuke 15:8-10, 29 – Die gebed van opregtes geniet God se goedkeuring

8Die offer van goddeloses is afstootlik vir die Here, maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring. 9Afstootlik vir die Here is die pad van ‘n goddelose, maar wie geregtigheid nastreef, vir hom is Hy lief. 10‘n Ernstige vermaning is gepas vir hom wat die pad verlaat; wie teregwysing haat, sal sterf… 29Die Here is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges hoor Hy.

Opregtheid is die geheim van ‘n lewe voor God (vers 8). Selfs die offers van die goddelose daarenteen is afskuwelik vir God. Dit is vir Hom ’n gruwel (abomination). Die gebed van die opregte, die “regverdige”, geniet egter sy goedkeuring (vgl Jak 5:16-18 waar Elia as voorbeeld hiervan genoem word). Hy hoor hulle gebede.

Die lewenswyse van die goddelose is eweneens afskuwelik vir God. God het egter die een lief wat reg en geregtigheid najaag (vers 9). Daarom is ‘n streng straf gepas vir dié wat die regte pad verlaat (vers 10). In die hoop dat hulle sal terugkeer na die Here. Dié wat egter teregwysing haat, sal sterwe. Die Here laat hulle oor aan hulle eie keuse.

Vers 29 sluit weer aan by die boodskap van vers 8 en onderstreep die belofte dat God die gebede van die regverdiges (opregtes) hoor, maar ver is van die goddelose. Soos Jesaja ons ook waarsku: “maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” (Jes 59:2) Maar, Jeremia ons verseker: “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord; Ek wil aan jou groot en onbegryplike dinge bekend maak wat jy nie geweet het nie.” (Jer 33:3)

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-151-33-woorde-maak-saak-god-maak-saak/

2 Petrus 2:1-10a – Die Here weet baie goed hoe om toegewydes uit versoeking te red

8 September

2 Petrus 2:1-10a – Die Here weet baie goed hoe om toegewydes uit versoeking te red

1Daar was egter ook vals profete onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees, wat vernietigende ketterye sal insmokkel, en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën. So bewerk hulle ‘n skielike ondergang vir hulleself. 2Baie sal die losbandighede navolg van daardie mense deur wie se toedoen die pad van die waarheid belaster word. 3Deur hebsug gedrewe, sal hulle julle met versinde argumente uitbuit. Hulle vonnis staan reeds lankal gereed; ja, hulle ondergang talm nie. 4Trouens, as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle oorgelewer het, deur hulle met boeie in die digte duisternis van Tartarus te werp, en hulle so tot met die oordeel gevange te hou; 5en as Hy die antieke wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die boodskapper van geregtigheid, saam met sewe ander bewaar het, toe Hy die vloed oor die goddelose wêreld gebring het; 6en as Hy die stede van Sodom en Gomorra tot as verbrand het, toe Hy hulle tot vernietiging veroordeel, en van hulle ‘n voorbeeld gemaak het van die dinge wat die goddeloses gaan tref; 7en as Hy die regverdige Lot, diep gekwel deur die onsedelike leefwyse van beginsellose mense, gered het 8– die regverdige man het, terwyl hy onder hulle gewoon het, op grond van wat hy gesien en gehoor het, sy regverdige siel dag in en dag uit oor hulle wettelose optrede gepynig; 9dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat godvresend leef, uit versoeking te red, maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou, sodat hulle gestraf kan word – 10veral dié wat agter die besoedelende begeerte van die natuurlike liggaam aanloop, en wat gesag verag.

Petrus is baie bewus van die feit dat die evangelie bedreig word deur dwaalleraars en hulle “vernietigende ketterye”. Die gelowiges sal net: “met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef“ (2 Pet 2:18). Petrus waarsku hulle reeds in die eerste drie verse om op die uitkyk te wees vir vier kenmerke van die dwaalleraars se leer en lewe – verloëning van die Here Jesus se verlossing, allerlei losbandighede, hebsug, en ‘n gebrek aan Skrifgesag deur van: “versinde argumente” gebruik te maak. As die geloofsgemeenskap dié vier kenmerke gebruik om dwaalleraars te beoordeel, sal dit hulle help om weerstand te bied teen hulle dwalinge.

Petrus gebruik dan bekende temas van verlossing uit die Joodse geskiedenis om hulle te bemoedig. 1) God wat Noag red uit die vloed wat Hy bring weens die mensdom se boosheid (Gen 6-9). 2) God wat Lot red van die vuur waarmee Hy die goddeloosheid en losbandigheid van Sodom en Gomorra uitwis (Gen 19). 3) God wat Israel red van beide Bileam se vervloeking en latere poging om hulle deur die losbandigheid van die Midianiete te verlei (Num 22-24; Num 31:8). Petrus se punt is dat God in staat is om sy mense te verlos van enige boosheid, goddeloosheid en losbandigheid.

Die belangrikste boodskap wat Petrus aan hulle in die proses gee, is dat die Here Jesus self vir hulle intree: “dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat ‘n toegewyde lewe lei, uit versoeking te red.” Dit is ‘n belofte om op staat te maak, wat jou moet aanmoedig om weerstand te bied teen versoekings, terwyl ‘n mens ook die ander kant van die Here se teenwoordigheid in gedagte moet hou: “maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou sodat hulle gestraf kan word.” Jesus is Verlosser en Here. Hy red en Hy bestraf. Daarmee moet ‘n mens rekening hou.

Lees meer: https://bybelskool.com/2-petrus-2-wees-versigtig-vir-vals-profete-en-leraars/

Lukas 15:1-10 – God is bly oor elke sondaar wat hom of haar tot Hom bekeer

7 September

Lukas 15:1-10 – God is bly oor elke sondaar wat hom of haar tot Hom bekeer

1Al die tollenaars en die sondaars het dikwels nader gekom om na Hom te luister. 2Die Fariseërs en die skrifkenners het onder mekaar gemor: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.” 3Toe het Hy vir hulle hierdie gelykenis vertel: 4“Wie van julle wat honderd skape het en hy verloor een van hulle, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn agter, en gaan agter die verlore een aan totdat hy hom kry nie? 5En as hy hom gekry het, tel hy hom met blydskap op sy skouers, 6en gaan huis toe en roep sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle, ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat verlore was, weer gekry.’ 7Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.” 8“Of watter vrou wat tien dragmes het, en een dragme verloor, steek nie ‘n lamp op, vee die huis uit en soek deeglik totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit gekry het, roep sy haar vriendinne en bure bymekaar en sê, ‘Wees saam met my bly, omdat ek die dragme wat ek verloor het, weer gekry het.’ 10So, sê Ek vir julle, is daar blydskap onder God se engele oor een sondaar wat hom bekeer.”

Jesus vertel hier in Lukas 15 vir ons drie gelykenisse: die verlore skaap (Luk 15:1-7 – ook in Matt 18:10-14), muntstuk (Luk 5:8-10), en seun (Luk 15:11-32 – ons het dit reeds vroeër al gelees – jy kan dit hier lees: https://bybelskool.com/lukas-1511-32-god-se-vaderhart-is-vol-barmhartigheid/). Dit is van die helderste sketse van God se hart vir verlorenes in die Bybel. God is bly oor elke sondaar wat hom of haar tot Hom bekeer. Let op dat Jesus dié gelykenisse vir die Fariseërs en skrifkenners vertel in reaksie op hulle beswaar dat Jesus eet saam met die tollenaars en sondaars wat na Hom kom luister het.

Jesus maak die eerste gelykenis van die verlore skaap persoonlik deur vir die Fariseërs in te trek met die aanvang van die gelykenis: “Wie van julle …” Hy maak dus aanspraak op die feit dat selfs die Fariseërs en skrifkenners nie eers een verlore skaap uit hulle trop aan sy lot sal oorlaat nie. As een van hulle so gelukkig is om 100 skape te hê, en een raak verloor, sal hy die 99 in die veld agterlaat en agter die een aangaan wat verlore is totdat hy opgespoor is. As hy die verlore skaap gekry het, sal hy dit op sy skouers sit in blydskap en sy vriende en bure bymekaar maak om fees te vier oor die verlore skaap wat gevind is. Die punt van die gelykenis, sê Jesus, is dat daar op ‘n soortgelyke wyse blydskap in die hemel is oor een sondaar wat tot bekering kom, eerder as oor 99 regverdiges wat nie bekering nodig het nie. Nie asof sondaars belangriker is as regverdiges nie. God is lief vir en bly oor regverdiges. Maar, bekering is ‘n saak van groot blydskap in die hemel, omdat dit lewe uit die dood beteken, soos die gelykenis van die verlore seun gaan illustreer. Sien ook die inisiatief van God raak in die soek na verlorenes. Dat ons tot bekering gekom het, is te danke aan sy liefdevolle aanraking van ons harte om Hom te glo en gehoorsaam.

Waar die gelykenis van die verlore skaap die skaap se nood beklemtoon het, beklemtoon Jesus in die tweede gelykenis van die verlore muntstuk (dragmes) die vrou se nood. Dit is haar verlies wat haar laat soek na die verlore silwer muntstuk. Dit was gelyk aan ‘n denarius, ‘n normale dagloon in daardie tyd. Die feit dat sy net tien dragmes gehad het, beteken dat sy arm was en regtig nie ‘n tiende van haar spaargeld kon verloor nie. Sy steek ‘n lamp op, vee die huis uit en soek deeglik tot sy die verlore muntstuk kry. Die vrou soek dus vir die verlore muntstuk ter wille van haarself en vier fees saam met haar vriendinne en bure nadat sy dit gevind het. Jesus beklemtoon daarmee die ander kant van wie God is en hoe Hy werk in hierdie wêreld. Hy soek nie net verlorenes ter wille van hulleself nie (verlore skaap), maar ook ter wille van Homself (verlore dragme). Daarom is daar blydskap onder die engele oor self net een sondaar wat tot bekering kom. Dit is ‘n kant van God wat ‘n mens verras. Hy soek verlorenes omdat dit vir Homself saak maak. Dit lig ook die gordyn op die engele wat saam met Hom bly is as ‘n sondaar tot bekering kom. Iets wat ons moet motiveer om self saam met God te soek na dié mense wat op sy hart is.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-141-1532-god-het-n-hart-vir-verlorenes/

1 Timoteus 1:3-17 – Christus Jesus het na die wêreld gekom om sondaars te verlos

6 September

1 Timoteus 1:3-17 – Christus Jesus het na die wêreld gekom om sondaars te verlos

3Soos ek by jou aangedring het toe ek na Macedonië vertrek het, moet jy in Efese bly, sodat jy sekere mense opdrag kan gee om nie vreemde leringe te versprei, 4en om hulle nie met mites en eindelose geslagsregisters op te hou nie. Hierdie dinge bevorder eerder sinlose argumente as God se plan, wat Hy deur die geloof ten uitvoer wil bring. 5Die doel van die opdrag is liefde uit ‘n rein hart, ‘n skoon gewete en ‘n ongeveinsde geloof. 6Sommige het hiervan afgedwaal en in ‘n niksseggende gepraat verval. 7Hulle wil leermeesters van die wet wees, maar hulle verstaan nie wat hulle sê, of dit waarop hulle aandring nie. 8Maar ons weet dat die wet goed is wanneer iemand dit op die regte manier gebruik, 9omdat hy besef dat die wet nie bedoel is vir die regverdige nie, maar juis vir die wetteloses en ongehoorsames, vir die goddeloses en sondaars, vir die onheiliges en wêreldlinge, vir diegene wat hulle vaders en moeders doodmaak en mense vermoor, 10-11vir hoereerders, vir mans wat met mans intiem verkeer, vir diegene wat mense ontvoer, leuens vertel, meineed pleeg of enigiets anders doen wat, volgens die evangelie van die heerlikheid van die lofwaardige God wat aan my toevertrou is, indruis teen die gesonde leer. 12Ek dank Hom wat my versterk het, Christus Jesus, ons Here, omdat Hy my betroubaar geag het toe Hy my in sy diens aangestel het 13– vir my wat voorheen ‘n lasteraar, ‘n vervolger en ‘n geweldenaar was. Nogtans is ek begenadig, omdat ek uit ongeloof onkundig opgetree het. 14Ons Here se genade oor my was oorvloedig, en daarmee saam ook nog die geloof en liefde wat daar in Christus Jesus is. 15Dié uitspraak is betroubaar, en werd om ten volle aanvaar te word, dat Christus Jesus na die wêreld gekom het om sondaars te verlos, van wie ek die heel grootste is. 16Ek is juis om hierdie rede begenadig, sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy geduld kon betoon, as voorbeeld vir hulle wat in Hom sou glo met die oog op die ewige lewe. 17Aan die Koning van die eeue, die onsterflike, onsienlike, enigste God kom toe eer en heerlikheid vir ewig en ewig. Amen.

Paulus bespreek hier die uitdaging van die mense in Efese wat valse leerstellings versprei wat indruis teen die gesonde leer. Hy gee vir Timoteus twee sterk teologiese argumente as skietgoed – die regte gebruik van die wet (vers 8) en die regte begrip van die evangelie (vers 11). Die wet en die evangelie is immers in ooreenstemming met mekaar. In albei word ons geleer dat die geloofslewe moet pas by die geloofsleer.

Paulus verwys eers na die wet – veral die tweede tafel van die Tien Gebooie  – en wys hoe mense wat leef as goddeloses en sondaars, onheiliges en wêreldlinge, moordenaars, hoereerders (mense wat seks het buite die huwelik), mans wat met mans intiem verkeer, ontvoerders, leuenaars, en meineed pleeg (of enigiets anders wat die wet afwys) nie net dinge doen wat indruis teen die wet van die ou bedeling nie, maar ook indruis teen die evangelie, die “gesonde leer” van die nuwe bedeling. Dit is uiters belangrik om raak te sien dat hierdie oortredings van die wet ook oortredings van die  gesonde leer van die evangelie is! Die fokus van die evangelie is immers om vir hierdie sondes te kan nee sê, soos die Tien Gebooie dit ook geleer het:

  • “Diegene wat hulle vaders en moeders doodmaak” kan uitgelê word as in ooreenstemming met die vyfde gebod: “Eer jou vader en jou moeder”;
  • Die wat “mense vermoor” kan verbind word met die sesde gebod: “Jy mag nie moord pleeg nie”;
  • Die “mans wat met mans intiem verkeer” kan verbind word met die sewende gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”;
  • Die “ontvoerders” kan verbind word met die agtste gebod: “Jy mag nie steel nie”;
  • Die wat “leuens vertel” en die wat “meineed pleeg” kan verbind word met die negende gebod: “Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie”.

Maar, let op dat Paulus ook sê dat waar ‘n mens die oorvloedige genade van die Here aanvaar, en in die geloof en liefde wat daar in Christus Jesus is, lewe, die belofte van verlossing vir ons in vervulling gaan. Dit is ‘n “betroubare uitspraak”, en werd om ten volle aanvaar te word, selfs as jy ervaar dat jy soos Paulus “die grootste sondaar” is. Soos Christus Jesus sy geduld teenoor Paulus ten toon gestel het – deur hom ‘n kans tot bekering te gee op die pad na Damaskus – só doen hy dit ook vir elkeen van ons wat in Hom glo “met die oog op die ewige lewe.” Daarom kan ons vandag, soos Paulus, die Here aanbid met die woorde: “Aan die Koning van die eeue, die onsterflike, onsienlike, enigste God kom toe eer en heerlikheid vir ewig en ewig. Amen.”

Lees meer: https://bybelskool.com/1-timoteus-11-20-n-lewe-in-geloof-wat-pas-by-die-gesonde-leer/

Onlangse kommentaar