Sagaria 14:1-9 – Die Here sal koning word oor die hele aarde
Die RCL skryf Jeremia 2:4-13 voor vir vandag. Jy kan hier lees wat ek daaroor geskryf het: https://bybelskool.com/jeremia-2-my-volk-het-my-vergeet/. Ek kies ‘n teks uit Sagaria 14 wat verband hou met Jeremia se boodskap oor God as die fontein van lewende water (vgl ook Jer 17:13).
Sagaria 14:1-9 – Die Here sal koning word oor die hele aarde
1“Kyk, daar kom ‘n dag van die Here! Jou buit, Jerusalem, sal in jou midde verdeel word. 2Ek sal al die nasies vir die oorlog teen Jerusalem byeenbring. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue verkrag word. Die helfte van die stad sal in ballingskap weggaan, maar die res van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie.” 3Daarna sal die Here optrek en teen daardie nasies oorlog voer soos wanneer Hy veg op die dag van stryd. 4Op daardie dag sal sy voete staan op die Olyfberg, wat voor Jerusalem aan die oostekant lê. Die Olyfberg sal middeldeur skeur van oos na wes, ‘n baie groot vallei sal ontstaan. Die een helfte van die berg sal verskuif na die noorde en die ander helfte na die suide. 5Julle sal vlug na die vallei tussen my berge, want die vallei tussen die berge sal tot by Asal strek. Julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom en al die heiliges sal saam met Hom wees. 6Op daardie dag sal daar nie lig wees nie, ook nie koue of ryp nie. 7Dit sal ‘n uitsonderlike tyd wees wat net aan die Here bekend is, sonder dag of nag. Teen die aand sal dit lig word. 8In daardie tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei, die een helfte na die oostelike see en die ander helfte na die westelike see. In die somer en in die winter sal dit so wees. 9Die Here sal koning word oor die hele aarde. In daardie tyd sal die Here die enigste wees, en sy Naam die enigste.
Sagaria word afgesluit met profesieë wat die boodskap herhaal dat God sy finale koninkryk vestig deur die Lydende Messiaanse Koning – Sagaria 12-14. God sal sy koninkryk op aarde vestig op só ‘n wyse dat sy teenwoordigheid die sentrum van alles raak, ook die sentrum van die nasies. Sagaria 14 fokus op die koninkryk van God wat in Jerusalem gevestig sal word sodat sy teenwoordigheid die hele aarde kan transformeer. Dit word in die konteks van ‘n eskatologiese oorlog van die nasies teen Jerusalem geplaas, waarin dit aanvanklik lyk asof die nasies die oorhand kry. Die Here self sal egter beskerming bring vir sy mense en die oorwinning namens die volk oor die nasies behaal.
Hy sal op die Olyfberg – die plek waar Jesus die aande van die Heilige Week deurgebring het en die worsteling in Getsemane gehad het – uitkoms gee vir die mense van die stad, om die vyand te kan trotseer. Onthou dit is metaforiese taal wat nie in elke detail met iets konkreets verbind kan word nie. ‘n Mens wonder wel in watter mate dié beskerming wat die Here Jesus aan sy mense op die Olyfberg gebied het – Hy het namens hulle daar doodsmarte gely en op Golgota daar naby die vyand aan die kruis oorwin – nie met dié gedeelte verbind kan word nie. Terloops: die plek Asal is onbekend. Die res van die beskrywing fokus egter op die eindtyd met God wat met sy hemelwesens sal opdaag. Op dié besondere dag – waarvan niemand weet presies wanneer dit sal wees nie (onthou Jesus self gesê het dat Hy nie weet wanneer die Wederkoms sal wees nie) – sal alles verander. God sal die lig wees en die bron van alles wat lewe gee, ‘n soortgelyke prentjie as wat Openbaring teken.
Een besondere kenmerk van dié tyd sal wees die totale reiniging wat God sal bewerk. Die beeld van die fontein word uitgebrei en as ‘n vars rivier geteken wat die hele wêreld sal reinig – voorgestel deur ontsouting van die see in die weste en die Dooie See in die ooste – en onder God se heerskappy sal bring. Ten spyte van verdere grusame skermutselings sal die Here sy mag en gesag handhaaf. Jerusalem sal uittroon bó alles en almal, presies die tipe prentjie wat met die nuwe Jerusalem in Openbaring geteken word. Alle nasies sal God moet aanbid in Jerusalem, omdat hulle volledig afhanklik van Hom sal lewe. Hemel het op aarde aangebreek.
Wat my besonderlik tref, is aan die een kant die wyse waarop dié dinge deur groot stryd en ontwrigting tot stand gebring word. Daar is nie kortpaaie na die vestiging van God se koninkryk nie. Aan die ander kant tref dit my hoe volledig God sy koninkryk in alles en vir almal wil bring. Hy wil alles reinig, voorgestel met die ontsouting van die Mediterreense- en die Dooie See. Hy wil die sonde uitwis, sodat almal Hom sal aanbid en in afhanklikheid van Hom sal lewe. Mag jou lewe weer opnuut vlam vat met dié boodskap, en mag ons die boodskap van die evangelie regoor die wêreld verkondig totdat die Here Jesus inderdaad weer kom. Sela.
Lees meer: https://bybelskool.com/sagaria-121-1421-die-messiaanse-koning-vestig-god-se-finale-koninkryk/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Marinda Hattingh
Goeiedag, en weereens báie dankie vir die wonderlike werk. Op watter praktiese wyse kan die boodskap in alledaagse omgang verkondig word aan bv. karoppassers, asb?
Chris van Wyk
Hi Marinda, dit is dieselfde boodskap as aan ons, die Here kom alles regstel en bring oorvloed. Hy maak dié dinge reg wat verkeerd gegaan het, en gee aan ons ‘n nuwe toekoms bó verdienste. En omdat ons dit met sekerheid kan verwag, help dit ons volhard met watter onreg of leed ons in hierdie lewe ook al moes deurstaan. En uitsien na die dag wanneer alles wat ons onderneem suksesvol sal wees. Dit geen ons die moed om nou al die Here te vertrou vir goeie uitkomste in hierdie lewe.
Nakkie Bruwer
Goeiemôre ds. Baie dankie vir elke dag se Bybelskool . Ek leer so baie. Nadat ek vandag s’n gelees het onthou ek weer en maak dit my bekommerd dat so baie van ons N G Kerk lidmate deesdae aan die wegraping glo. Wat sê ‘n mens vir hulle want hulle glo vas. Groete
Chris van Wyk
Hi Nakkie, dit is baie menslik om dit te glo, want dan dink jy dat jy leed gespaar sal word. ‘n Mens moet maar net volhard om die boodskap van die Bybel daaroor te bring. Soos jy weet, hier is wat ek daaroor geskrywe het: https://bybelskool.com/die-wederkoms-en-die-wegraping/