Skip to main content

Tag: Beloftes

Jeremia 32:1-15 – Geloof in aksie bring hoop

25 September

Jeremia 32:1-15 – Geloof in aksie bring hoop

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van Sedekia, koning van Juda. Dit was die agttiende regeringsjaar van koning Nebukadresar. 2Die leër van die koning van Babilonië was toe besig om Jerusalem te beleër. Die profeet Jeremia was ingeperk in die binnehof van die wagte se kwartiere, wat in die koninklike paleis van Juda was; 3want koning Sedekia van Juda het hom daar ingeperk deur te sê: “Waarom hou jy aan profeteer en sê, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek gaan hierdie stad oorgee in die hand van die koning van Babilonië; hy sal dit inneem, 4en Sedekia, koning van Juda, sal nie vrykom uit die hand van die Galdeërs nie, maar sal beslis oorgegee word in die hand van die koning van Babilonië, en hy sal van aangesig tot aangesig met hom praat en hom in die oë moet kyk; 5en hy sal Sedekia na Babel neem, en hy sal daar bly totdat Ek, die Here, aan hom aandag gee,” is die uitspraak van die Here, “As julle teen die Galdeërs veg, sal julle nie sukses behaal nie.” ’ ”

6Jeremia het gesê: “Die woord van die Here het tot my gekom, 7‘Kyk, Ganamel, seun van jou oom Sallum, is op pad na jou toe om te sê: “Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot is, want jy het die reg om dit te koop volgens die loskoopreg.” ’ 8“Ganamel, seun van my oom, het toe, ooreenkomstig die woord van die Here, na my toe gekom, in die binnehof van die wagte se kwartiere, en vir my gesê, ‘Koop asseblief my stuk grond wat in Anatot in die grondgebied van Benjamin is, want die besitreg en die loskoopreg behoort aan jou. Koop dit vir jou!’ “Ek het toe geweet dat dit die woord van die Here was, 9en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by Ganamel, seun van my oom, gekoop. Ek het die silwer vir hom afgeweeg – sewentien sikkel silwer. 10Ek het die koopbrief uitgeskryf, dit verseël, en deur getuies laat bevestig, en die silwer op ‘n weegskaal afgeweeg. 11Toe het ek die koopkontrak geneem, die verseëlde een volgens voorskrif en wetlike bepalings, en ook ‘n oop afskrif, 12en die koopkontrak vir Barug, seun van Nerija, seun van Magseja, gegee in die teenwoordigheid van Ganamel, seun van my oom, en van die getuies wat die koopkontrak onderteken het, en van al die Judeërs wat daar in die binnehof van die wagte se kwartiere gesit het. 13Ek het Barug in hulle teenwoordigheid opdrag gegee, 14‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Neem hierdie briewe, hierdie koopkontrak, die verseëlde een en die oop afskrif, en plaas dit in ‘n erdekruik, sodat dit vir ‘n lang tyd behoue bly.” 15Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Daar sal weer huise, landerye en wingerde in hierdie land gekoop word.” ’

Hierdie verhaal help ons verstaan dat dit nie genoeg was dat Jeremia net vir die mense van God se beloftes vertel het nie. Hy moes self iets doen wat vir sy hoorders sou wys dat hy glo in die beloftes van God. Dit was egter nie maklik vir Jeremia nie! God sê vir Jeremia om ’n stuk grond te koop, op ’n tydstip dat dit eintlik tyd was om grond te verkoop! Dit was ’n donker tyd in Juda se geskiedenis. Dit is die jaar 587 vC, koning Sedekia se tiende regeringsjaar. Dit is dieselfde jaar waarin die stad Jerusalem ingeneem sou word deur koning Nebukadnesar van Babel. Hy het reeds die stad beleër. Die beleëring het die normale lewe in die stad onmoontlik gemaak, met die donker wolk van die dreigende oorname oor die stad. Jeremia is onder huisarres, omdat hy van dislojaliteit verdink word. Hy het die nederlaag van Jerusalem en die gevangeneming van Sedekia voorspel.

Koning Sedekia wil weet by Jeremia waarom hy so dislojaal is deur te voorspel dat Jerusalem verower en Sedekia na Babel weggeneem sal word. Jeremia antwoord hom deur te vertel van sy neef Ganamel wat hom sou besoek. Die Here het aan hom openbaar dat sy neef Ganamel na hom toe sou kom met die versoek om sy stuk grond in Anatot te koop. Volgens die Mosaïese wet was die naaste manlik bloedverwant verplig om as “losser” (Jeremia het die lossingsreg gehad) op te tree waar ’n Israeliet vanweë verarming sy grond verloor het. Dit het skynbaar gebruik geword dat die verarmde grondbesitter sy grond direk aan die familielid te koop aanbied voordat ’n vreemdeling dit oorneem.

Hierdie koop het op die oog af geen doel nie, niemand sal dit kan geniet nie, want Jeremia is in gevangenskap en die Galdeërs is besig om alles te vernietig. Trouens, die dorpie Anatot was reeds beset deur die Galdeërs. Die koop van grond lyk dus na dwaasheid. Maar, toe Ganamel opdaag, soos wat die Here vir Jeremia gesê het, het Jeremia geweet dat die grondkooptransaksie God se bevel aan hom was. Hy het daarom op die gebruiklike wyse die kontrak opgestel en die geldsom afgeweeg. Die korrek opgestelde koopkontrak oorhandig hy aan sy vriend en helper, Baruk. Baruk kry opdrag om die kontrak in ’n kleipot te sit sodat dit lank sal hou. Sulke kontrakte is in duplikaat opgestel, waarvan een afskrif met die seël verseël en toegesluit is en die ander afskrif meer toeganklik gemaak is. Dit moes verseker dat die oorspronklike kontrak nie vervals kan word nie. Die onverseëlde kopie bly oop sodat dit nagegaan kan word. Die verseëlde en onverseëlde koopkontrak moet goed weggebêre word, in ’n kleipot, om later as waarborg vir die waarheid van die profetewoord te kan dien.

Die feit dat daar selfs op so ’n late uur in die geskiedenis van Jerusalem so ’n wettige kontrak gesluit word – terwyl ’n mens sou redeneer dat sulke kontrakte tog nie veel sin het as die land voor ’n militêre nederlaag staan nie – word die waarborg dat die ballingskap nie vir ewig sal duur nie. Dit was ’n geweldige gerusstelling vir die volk wat so totaal ontwortel is deur die ballingskap. Hulle sal weer die beloofde land kan besit. So het Jeremia se geloof tot aksie oorgegaan. Geloof sonder werke is dood. Jeremia wys sy geloof deur sy werke. Hy wys sy geloof ook deur die deeglike manier waarop hy die transaksie deurvoer. Die boodskap is dat dit wat noodwendig moet gebeur nie gekeer kan word nie. Dit is egter nie die einde van God se pad met sy volk nie. Dit is eerder die begin van ’n nuwe pad: die lewe sal weer begin, daar sal weer grond, huise en wingerde gekoop en verkoop word in Juda.

Die Here kom sê hiermee dat vir hierdie swaar geteisterde volk beter tye sal aanbreek, waarin die normale lewe weer sal aangaan. Daarom is dit so belangrik dat die koopprys die normale gewone prys is. Dit is ook belangrik dat die handeling aan alle regsvereistes moet voldoen en die bewysstuk in ’n kleipot gebêre word sodat dit bewaar kan bly. As alles donker is in die hede is ons geneig om wanhopig te wees oor die toekoms. Maar die toekoms is in God se hande, en Hy belowe verlossing en seën vir sy mense. Geloof in God bring dus vir ’n mens hoop. Daar kom ’n einde aan lyding; dit hou nie vir altyd aan nie. Jeremia se daad spreek duideliker as woorde: God het ’n toekoms vir Juda! So het God ’n toekoms vir jou. Al het jy jou vasgeloop, al lyk omstandighede oorweldigend. En al was dit deur ander se dade of selfs weens jou eie toedoen, soos in die geval van Juda. God het ’n toekoms vir jou. Dít is geloof: om ten spyte van omstandighede wat ’n mens wil oorweldig, met die gewone lewe voort te gaan in die vertroue dat God sy goeie werk in jou lewe enduit sal voer (Fil 1:6). Verantwoordelikheid en vertroue – dít is die pad van die geloof.

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-32-daar-sal-weer-huise-grond-en-wingerde-in-hierdie-land-gekoop-word/

Psalm 119:1-8 – Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here

24 September

Psalm 119:1-8 – Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here

א ALEF 1Gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg! 2Gelukkig is hulle wat hou by sy bepalings, wat Hom met hulle hele hart soek; 3wat ook nie onreg pleeg nie, maar net sy paaie volg! 4U het self u opdragte gegee, sodat mense dit noukeurig sal nakom. 5Ag, was my lewenspaaie maar standvastig, sodat ek u voorskrifte kon nakom. 6Dan sal ek nie beskaamd staan, terwyl ek op al u bevele let nie. 7Ek prys U met ‘n opregte hart terwyl ek u regverdige beslissings bestudeer. 8U voorskrifte sal ek nakom; moet my tog nooit in die steek laat nie.

Psalm 119 is ‘n letterkundige juweel. Ses van die woorde wat as sinonieme vir die wet funksioneer, word in hierdie eerste deel van die besondere Psalm 119 aangetref: woord/wet (torâh – vers 1 – “law”), verordeninge/bepalings (‘edût – vers 2 – “rules” of “testimonies”) – ek verkies eintlik die woord getuienisse as vertaling hier, soos dit in die OAV was, bevele/opdragte (piqqûdîm – vers 4 – “precepts”), voorskrifte (huqqîm – vers 5 – “statutes”), gebooie/bevele (mizwôt – vers 6 – “commandments”), bepalings/regverdige beslissings (mishpâtîm – vers 7 – “judgments”).

Die eerste gedeelte van hierdie Psalm plaas dus onomwonde God se hele openbaring op die tafel. God gee nie net sy wet met sy bepalings, bevele, opdragte en voorskrifte nie, die begeleidende kant van sy openbaring nie. Nee, Hy gee ook getuienisse van wat werk vir dié: “wat Hom met hulle hele hart soek.” Hy gee ook regverdige beslissings wat bestudeer kan word, voorbeelde wat inspireer, sodat ‘n mens nie net gemotiveer word om Hom met ‘n opregte hart te loof nie, maar ook geïnspireer word om hulle na te kom … terwyl ‘n mens tog steeds ook bid: “moet my tog nooit in die steek laat nie”!

Watter wonderlike manier om dié Psalm te begin. Dit is inderdaad die onfeilbare roete wat lei na geluk: “Hoe gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg.” Dit is juis wanneer ‘n mens doen wat God vir ons almal wys deur sy openbaring dat ons gelukkig kan wees. Soos Jesus veel later sy “wet van die koninkryk” in die Bergrede sou aankondig: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt 5:3). Hy spreek ook die duiwel se versoeking in die eerste plek aan met die stellige vertroue op God se Woord: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Matt 4:4 – aangehaal uit Deut 8:3).

Dit beteken egter nie dat alles daarmee sonder enige probleme in die lewe gebeur nie. Die Psalmis is in die res van die Psalm maar net te bewus van die teenstand en teëspoed wat ‘n mens op dié pad kan tref. Maar, waar ‘n mens die Here met jou hele hart soek (vers 2), nie onreg doen nie (vers 3), sy opdragte noukeurig nakom (vers 4), dán is dit wat jou lewenspaaie standvastig raak, iets waarna die Psalmis verlang (vers 5). Uiteindelik sal Hy aan die einde van die Psalm bely dat sy hele lewe oop lê voor God (vers 168) en dat Hy afhanklik is van die insig wat God bring om inderdaad te kan lewe op só ‘n manier dat sy lewe die Here kan loof (vers 175). Daarin sal God se openbaring sy grootste en belangrikste ondersteuning wees. En selfs as hy sou wegdwaal, vra hy van die Here aan die einde van die Psalm: “As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie.” (vers 176). Laat ‘n mens dink aan Jesus wat dié behoefte van die Psalmis in sy gelykenisse oor die verlore penning, skaap en seun ingewerk het in Lukas 15, nie waar nie!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-1191-8-alef-god-begelei-en-inspireer-ons-deur-sy-wet-en-getuienisse/

Spreuke 17:2, 24, 27-28 – God gee wysheid vir dié wat daarna soek

23 September

Spreuke 17:2, 24, 27-28 – God gee wysheid vir dié wat daarna soek

2‘n Verstandige dienaar sal heers oor ‘n seun wat skande maak, en sal saam met die broers deel in die erfenis.

24Iemand met insig hou wysheid voor oë, maar die oë van ‘n dwaas is gerig op die eindes van die aarde.

27Wie sy woorde terughou is vertroud met kennis, en wie grootmoedig van gees is, is ‘n skerpsinnige mens. 28Selfs ‘n sot wat stilbly, word as wys beskou, as verstandig, wanneer hy sy lippe dig hou.

Vers 2 bevestig die waarheid dat vermoëns beter is as voorregte. ’n Verstandige slaaf sal gesag kry oor ’n seun en sal saam met hulle erf. ’n Spreuk wat bewaarheid is in die lewe van Salomo. Sy onderdaan, Jerobeam, het al hoe meer gesag gekry in die koninkryk weens sy vermoëns. Met Salomo se dood het hy die noordelike tien stamme laat wegbreek (geërf) van die suidelike twee stamme onder Salomo se seun, Rehabeam, wat weens sy dwaasheid ’n verleentheid vir Israel geword het (1 Kon 11). Vermoëns troef voorregte.

Vers 24 herinner ons daaraan dat wysheid nie moeilik is om te vind nie, want God gee dit vir dié wat dit soek. Moses beklemtoon die rol van die Woord: “Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.” (Deut 30:14). Jakobus beklemtoon die rol van gebed: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee.” (Jak 1:5). Die dwaas se oë is egter nie op God en sy Woord gerig nie, maar op watter wysheid die wêreld vir hom kan gee, soos dit letterlik daar staan: “die oë van ’n dwaas is gerig op die einde van die aarde.”

Vers 27 en 28 beklemtoon dat ’n mens moet dink voor jy praat. As jy regtig kennis het, kan jy kies wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Letterlik: “Hy wat sy woorde spaar, ken kennis“. ’n Kalm gees toon ware insig. Letterlik staan daar ’n “koue gees” – dws iemand se binnekant wat soos ’n poel koue water is. Dit dui op selfbeheersing, iets wat die Heilige Gees natuurlik vir ons as kinders van God gee (“God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” – 2 Tim 1:7). Selfs ’n dwaas wat stilbly, sal as wys en verstandig gereken word. Dit is natuurlik nie net ironies bedoel nie. ’n Dwaas wat sy woorde tel, is nie langer meer heeltemal dwaas nie.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-171-28-verhoudings-maak-saak/

1 Timoteus 6:1-19 – Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou

22 September

1 Timoteus 6:1-19 – Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou

2cOnderrig die mense hierin, en moedig hulle aan om dit te doen. 3As iemand ‘n ander leer verkondig, en hom nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus, en by die leer wat met die ware godvresendheid ooreenstem nie, 4is hy verwaand en sonder begrip, en het hy eerder ‘n sieklike aptyt vir meningsverskille en stryery oor woorde. Dit lei tot afguns, rusie, lastering, bose suspisies, 5aanhoudende geredekawel onder mense wie se denke ontaard het, en wat van die waarheid beroof is, en dink dat godvresendheid winsgewend is. 6Wat wel ‘n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. 7Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie; 8maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. 9Wie ryk wil wees, val in versoeking en ‘n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. 10Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor. 11Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid. 12Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. 13Ek beveel jou voor God, wat aan alles lewe gee, en Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus gelewer het, 14dat jy die opdrag suiwer en onberispelik sal uitvoer, tot die verskyning van ons Here Jesus Christus, 15wat God op sy eie tyd sal openbaar – Hy, die lofwaardige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die heersers, 16Hy wat alleen onsterflikheid besit, ontoeganklike lig bewoon, en vir wie geen mens ken of kan sien nie – aan Hom kom die eer en ewige krag toe. Amen. 17Beveel die rykes in die huidige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie, en nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te vestig nie, maar op God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet. 18Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees, 19om sodoende vir hulleself ‘n skat op te bou as goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe kan verkry.

Lojaliteit aan mekaar en aan die evangelie is nie onderhandelbaar nie. Die bande tussen gelowiges is deur God gesmee, soos trouens ook hulle bande met Hom. En dit moet bo alles gehandhaaf word. Selfs ons onderlinge vermaning, bemoediging en onderskraging moet uit hierdie diep bewussyn van eenheid met mekaar en God gedoen word. Beide in sowel as buite die gemeente. Dit raak ook die wyse waarop ’n mens dink oor jou doel op aarde. Gierigheid is altyd ’n groot versoeking, wat selfs wanneer jy met die dinge van die Here besig is, jou kan verlei om daaruit geld te probeer maak. Die einde daarvan is dat jy van die geloof sal afdwaal en in allerlei ellende beland. Daarom is Paulus se raad aan Timoteus en sy gemeente om tevrede te wees met wat hulle het.

Dan keer Paulus terug na Timoteus se eie lewe en roeping, en moedig hy Timoteus aan om met alles in hom die goeie stryd van die geloof te stry. En dit tref my hoe Paulus hom motiveer met 2 goed.

  1. Aan die een kant vestig hy sy aandag op dit wat agter hom lê, God wat aan alles die lewe geskenk het, en Jesus Christus wat met sy lewe en bediening die wêreld verander het. Dit is die stukrag in sy lewe, waaruit hy krag kan put om sy roeping na te kom en enduit te voltooi.
  2. Aan die ander kant skets hy vir hom ’n gloeiende prentjie van die toekoms wat op die bestemde tyd sal aanbreek. Let op met hoeveel passie Paulus vir God teken: “die lofwaardige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die heersers”. Maar dié God is nie net die eerste in die Skepping nie, Hy is ook weergaloos in sy wese: “Hy wat alleen onsterflikheid besit, ontoeganklike lig bewoon… aan Hom kom die eer en ewige krag toe.”

Paulus keer terug na ’n laaste gedagte oor rykdom, en spreek hom sterk uit oor die onsekerheid van rykdom (vgl die vorige verhaal van Lasarus en die ryk man van vroeër die week). Die enigste lewenstyl wat sin maak vir die gemeente, is om hulle hoop op God te vestig wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Woorde wat herinner aan Jesus in die Bergrede, dat God dié wat die koninkryk najaag, ook sal gee wat hulle nodig het (Matt 6:33). Die rykdom wat tel, is die rykdom in God, en dit kom deur goeie dade, vrygewigheid en mededeelsaamheid, nie gierigheid en inhaligheid nie. In ekonomiese taal sluit Paulus af deur te sê, rykdom in God is die enigste belegging wat die toets van die tyd sal deurstaan.

Lees meer: https://bybelskool.com/1-timoteus-61-21-rykdom-in-god-is-die-enigste-belegging-wat-sal-hou/

Lukas 16:19-31 – God ontferm Hom oor dié wat hulle hulp van Hom verwag

21 September

Lukas 16:19-31 – God ontferm Hom oor dié wat hulle hulp van Hom verwag

19“Daar was ‘n ryk man wat klere van purperstof en fyn linne gedra en elke dag swierig feesgevier het. 20Voor die ingang van sy huis het ‘n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere, 21en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek. 22Toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. 23En toe hy, van waar hy in Hades gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham in die verte, met Lasarus teen sy bors. 24Hy het geroep, ‘Vader Abraham! Wees my genadig, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly in hierdie vlam.’ 25Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. 26En buitendien is daar ‘n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons kan oorkom nie.’ 27Toe sê die ryk man, ‘Dan smeek ek u, Vader, stuur hom na my pa se huis, 28want ek het nog vyf broers. Hy kan hulle dan waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ 29Maar Abraham sê, ‘Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.’ 30‘Nee, vader Abraham,’ antwoord hy, ‘maar hulle sal hulle bekeer as iemand uit die dood na hulle gaan.’ 31Hy het egter vir hom gesê, ‘As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.’”

Hierdie is een van die baie gedeeltes wat oor die invloed van rykdom en armoede in die lewe handel. Jesus maak ons met hierdie gelykenis bewus van die mag wat geld en besittings in ons lewens kan hê, soveel só, dat ons die arm mense wat in ons poorte lê, by wyse van spreke, nie meer kan of wil raaksien nie. Daarmee oortree ons die liefdesgebod wat ons oproep om ons naaste lief te hê soos onsself. Hierdie verhaal is daarom ‘n waarskuwing teen ‘n lewe wat net vir jou eie verryking en bevrediging gelewe word, selfs al verdoesel jy die bedoeling daarvan deur te dink aan wat jy wel vir jou eie mense of eie kring doen. Welvaart het die neiging om die siel van God af weg te trek soos ‘n magneet yster trek. Rykdom in God en vrygewigheid teenoor jou naaste is die enigste teenmiddel daarvoor. God is die Hulp van die hulpeloses. Ook deur jou aardse rykdom. Want, God ontferm Hom oor dié wat hulle hulp van Hom verwag. En Hy doen dit baie keer deur jou besittings.

Onthou dat Lasarus se naam “God help” beteken. Dit is dus ‘n aanduiding dat die hoop van hierdie verhaal in God lê, soos Hy Lasarus inderdaad uiteindelik ‘n beter posisie gee in die hiernamaals as wat die ryk man verkry. Trouens, dit is een van die beloftes wat arm mense kan aangryp dat armoede nie ‘n diskwalifikasie vir die hiernamaals is nie, maar eintlik ‘n voordeel, want armoede rig jou oë op die hoop wat net God kan gee as jou beker nie so vol is in hierdie lewe soos ander s’n nie.

Dit gaan egter in die verhaal nie oor die meriete van die twee persone nie, maar ten diepste daaroor dat Lasarus geleef het in die hoop dat God Hom sal ontferm oor sy lot, en dat die ryk man geleef het deur vir homself te sorg, en van God en sy gebod tot liefde vir die naaste vergeet het. Dit is die groot verskil tussen die twee. En God neem Lasarus in sy heerlikheid op… en laat die ryk man in sy toestand van goddeloosheid, dws in die keuse wat hy met sy lewe uitgeoefen het om ver van God te leef. Dit is in die hiernamaals dus ook sy lot. In plaas daarvan om God in hierdie lewe te soek – waar Hy toeganklik was – het hy gekies om sonder God te lewe en beland in die plek waar God nie meer toeganklik is nie weens die kloof tussen hemel en hel.

Lees meer in ‘n preek van my oor die vyf hoeke waaruit ‘n mens dié verhaal kan beskou (nood, gierigheid, genade, gevolge van ons keuses, en die Bybel): https://ngkerksomerstrand.co.za/luister-na-lasarus-en-die-ryk-man-lukas-1619-31/

Onlangse kommentaar