Skip to main content

Tag: Beloftes

1 Timoteus 4:1-16 – Godvresenheid is nuttig in alle opsigte, vir dié lewe en die toekomstige

20 September

1 Timoteus 4:1-16 – Godvresenheid is nuttig in alle opsigte, vir dié lewe en die toekomstige

1Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste dae sommige mense van die geloof afvallig sal word, omdat hulle hulle ophou met dwaalgeeste en die leringe van demone. 2Hulle word beïnvloed deur die skynheiligheid van leuenaars, wie se gewete toegeskroei is. 3Hulle verhinder mense om te trou, en laat hulle sekere kossoorte vermy, terwyl God dit geskep het vir gelowiges, diegene wat die waarheid insien, om dit met dankbaarheid te geniet. 4Want alles wat God geskep het, is goed, en niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, 5omdat dit deur die woord van God en gebed geheilig word. 6Wanneer jy hierdie dinge aan die broers uitwys, sal jy ‘n goeie dienskneg van Christus Jesus wees, gevoed met die woorde van die geloof, en die goeie leer wat jy noukeurig navolg. 7Vermy goddelose en dwase mites. Oefen jouself om godvresend te leef; 8want liggaamlike oefening is wel in ‘n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe. 9Dié uitspraak is betroubaar en werd om ten volle aanvaar te word. 10Want hiervoor werk ons hard en stry ons, omdat ons ons hoop geplaas het op die lewende God, wat die Verlosser van alle mense is, veral van die gelowiges. 11Beveel en onderrig hierdie dinge. 12Laat niemand op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in gedrag, in liefde, in betroubaarheid, in reinheid. 13Totdat ek kom, moet jy jou toelê op voorlesing, bemoediging en onderrig. 14Moenie die genadegawe in jou verwaarloos wat deur profesie aan jou geskenk is toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het nie. 15Lê jou toe op hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vordering vir almal duidelik kan wees. 16Wees noulettend op jouself en die leer; volhard daarin; want sodoende sal jy jouself red en ook hulle wat na jou luister.

Die rede waarom standvastigheid in leer en lewe nodig is vir die gemeente word hier uitgespel. Dit is sodat hulle in die waarheid kan groei, en die gevaar van afvalligheid kan vermy. Soos Paulus vroeër in hoofstuk 6 van sy brief aan die Efesiërs vir hulle lering oor geestelike oorlogvoering gegee het – onthou dat Timoteus op hierdie stadium ‘n leraar in Efese is – herinner Paulus hom nou aan die feit dat dié leringe ‘n bonatuurlike bron het. Dis dwaalgeeste en demone wat verkeerde leringe via die dwaalleraars in hulle midde loslaat. Wat as ‘n oënskynlike diep waarheid verkondig word – om jou van die huwelik en sekere kossoorte te weerhou – blyk skynheilige misleidings te wees, verdraaiings van die waarheid. Dit bring die instelling van die huwelik en selfs die gawe van kos in gedrang, albei dinge wat God se seën wegdra. Hy is immers die Skepper van beide die huwelik as van voedsel.

Die gemeente moet daarom hierdie bonatuurlike invloed deur die dwaalleraars met “goeie teologie” teenstaan – “vermy goddelose en dwase mites” – sowel as met ‘n “oefening in godvresenheid” en hulle nie daardeur laat meesleur nie. Hy vergelyk hierdie oefening in godvresenheid met dié van ‘n gimnasium waar jy jou liggaam fiks maak om bv aan ‘n sport deel te neem. Met dié verskil. Fisiese oefening het waarde vir hierdie lewe. Geestelike oefening het waarde vir hierdie lewe sowel as die toekomstige. En die waarde is nie net vir jouself nie. Dit is ook vir diegene wat na jou luister en wat in jou ‘n voorbeeld raaksien om na te volg.

Hierdie oefening sluit onder andere in dat jy let op wat jy sê en doen; dat jy sorg dat jy in liefde leef, maar ook betroubaarheid en reinheid najaag. Die een kan nie sonder die ander nie. Wat jy sê, moet bevestig word deur wat jy doen, en omgekeerd. Hoe jy leef, moet gemeet word aan die waarheid. Die liefde beteken niks sonder die waarheid nie. Hierin het Timoteus ‘n leidende rol ten spyte van sy jonkheid, want Hy is daarvoor geroep en gesalf om God se Woord voor te lees, mense te bemoedig daardeur, maar ook te onderrig daarin. Maar, prediking en vermaning kan jou ook net só ver bring. Hy moet godvresenheid “voorleef” sodat sy “vordering vir almal duidelik kan wees”. Deur sy voorbeeld sal hy werklik vrug kan dra tot redding van ander se lewens.

Lees meer: https://bybelskool.com/1-timoteus-314-416-die-gemeente-as-draer-en-beskermer-van-die-waarheid/

Psalm 91 – Hy wat die Allerhoogste sy woning maak, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige

19 September

Psalm 91 – Hy wat die Allerhoogste sy woning maak, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige

1Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige. 2Ek sê vir die Here: “My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!” 3Ja, Hy is die Een wat jou red uit die net van die voëlvanger, van die dodelike pessiekte. 4Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind. ‘n Skild en ‘n skans is sy trou. 5Jy sal nie bang wees vir die verskrikking van die nag, vir ‘n pyl wat oordag vlieg nie, 6vir ‘n pessiekte wat in die donker rondloop, vir die epidemie wat helder oordag verwoes nie. 7Daar kan duisend langs jou val, en tienduisend aan jou regterkant, naby jou sal dit nie kom nie. 8Jy sal maar net toekyk – die vergelding van goddeloses sal jy sien. 9Ja, U, Here, is my skuilplek. Die Allerhoogste het jy jou woning gemaak: 10Onheil sal jou nie oorval nie en ‘n plaag sal nie naby jou tent kom nie, 11want Hy sal sy engele oor jou opdrag gee om jou te beskerm op al jou paaie. 12Op die hande sal hulle jou dra, sodat jou voet nie teen ‘n klip stamp nie. 13Op leeus en horingslange sal jy trap, jong leeus en slange sal jy vertrap.

14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom bevry; Ek sal hom beskerm omdat hy my Naam ken. 15Hy sal My aanroep, en Ek sal hom antwoord. Ek sal by hom wees in nood; Ek sal hom red en aan hom eer gee. 16Met ‘n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.”

Dit is merkwaardig dat dit lyk asof dié Psalm aan ’n individu gerig word om die Here direk aan te spreek as die Een wat beskut en beskerm, moontlik in ’n tyd van gevaar of beproewing. Die raad wat die Psalm gee, is om God se beskutting en beskerming as lewensmotto te bely, daaraan vas te gryp en op God te vertrou, maar nie saak wat die uitkoms van die lewe is nie. Die belydenis dat God dáár is vir dié wat Hom vertrou, is ’n fundamentele vertrekpunt vir die lewe van geloof. Dit is in die “skaduwee van die Almagtige” waar ’n mens veilig kan oornag, soos vers 1b letterlik sê (1983 vertaling: “beskerming van die Almagtige”), iets wat baie keer metafories van die konings van daardie tyd gesê is, dat ’n mens in hulle “skaduwee” veilig is.

God se hulp is egter nie net vir wanneer ’n mens fisies naby Hom is nie, maar ook in die oopte waar die voëlvanger se wip – enigiets wat jou kan verstrik – en dodelike siekte – enigiets wat skade kan aanrig – jou kan tref, want sy vleuels strek ook tot daar. Só beskerm Hy ons van alle kante. Daarom hoef ’n mens nie te vrees vir verskrikking in die nag of vir ’n pyl in die dag (vyande), ’n pessiekte in die nag of ’n epidemie in die dag (siekte) nie – vers 5–6. Selfs in die oorlog sal daar vir jou oorwinning wees (vers 7). Dieselfde geld vers 9–13 waar die Here belowe, dat as Hy jou skuilplek is, beskut Hy jou van onheil en plae, gee Hy sy engele opdrag tot beskerming. Hy beskerm jou selfs in doodsgevaar in die natuur (leeus en slange). Sterk metaforiese taal wat die beskutting en beskerming van die Here belowe met alles wat Hy tot sy beskikking het – natuurlik en bo–natuurlik – aan dié wat Hom vertrou – waar hulle hul ook al mag bevind en in alle omstandighede.

Dit is ’n Psalm wat van besondere betekenis vir Corrie ten Boom en haar familie was. In hulle huis in Haarlem, Nederland, wat intussen in ’n museum verander is, lê haar pa, Casper, se Bybel oop by Psalm 91. Met hulle inhegtenisneming deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog, omdat hulle Jode in hulle huis weggesteek het, het hy vers 1 en 2 uit dié Psalm vir sy familie aangehaal, en sonder vrees die beproewing van die aanhouding aanvaar: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Allerhoogste geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’”  Sy weerstand teen die Nazi’s het tot op daardie stadium reeds vir ongeveer 800 Jode ’n skuiling en bevryding gebied, maar hy is egter tien dae later in aanhouding dood, ’n ander soort “bevryding”, soos Corrie dit later in terme van dié Psalm beskryf, omdat hy in God se wêreld inbeweeg het.

Een van die tekste in Psalm 91 wat vir Corrie self van besondere betekenis was, was die belofte in vers 16: “Met ’n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.” Dié vers het vir haar betekenis gekry toe sy in solitêre aanhouding opgesluit was op haar 52ste verjaarsdag in die Nazi konsentrasiekamp in Ravensbruck. Sy het daarin die belofte van die Here gehoor dat dié gevangenis nie die einde vir haar was nie, soos dit inderdaad uiteindelik die geval was. Daar is ook ’n rolprent gemaak oor haar lewe The Hiding Place. Sy het die rype ouderdom van 91 jaar bereik – net so oud soos die Psalm se getal – en ’n invloed regoor die wêreld gehad met optredes in meer as 60 lande waar sy veral oor vergifnis en versoening gepraat het. ’n Geseënde lewe!

Wat my tref, is dat die boodskap van Psalm 91 nie as’t ware ’n argument vir God se beskerming is nie. Dit is nie asof die Psalmis iemand probeer oortuig dat God vir beskerming vertrou kan word nie. God se beskerming word eenvoudig as ’n realiteit geskets waarmee gelowiges tot vertroue in God aangemoedig word. Niemand hoef daaroor te twyfel nie. God kan vertrou word. Dié vertroue kan ook vasgehou word, selfs al het ons verskillende ervarings van God se beskerming. Dit is waarmee die verskillende ervarings van Corrie en Casper ten Boom in hulle vertroue op die belofte van hierdie Psalm my help. Corrie het ‘n lang lewe gehad in haar vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Casper het ‘n korter lewe gehad, maar steeds ook in sy eie vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Twee teenoorgestelde ervarings – een boodskap: die Here is vir hulle ‘n skuilplek. En ek gebruik doelbewus die teenswoordige tyd …

Hulle gesamentlike ervaring leer my dat die ervaring dat God ’n skuilplek is, nie in die eerste plek lê in die fisiese beskerming of beskutting in hierdie lewe nie, maar ook en miskien selfs veral in die ewige dimensie daarvan. Só het Casper dit ervaar. Hy het gelewe, al het hy fisies gesterwe. Só het Corrie dit ook ervaar. Sy het wel aanvanklik die fisiese dood in die strafkamp vrygespring en so God se beskerming ervaar. Maar, sy het met haar uiteindelike dood egter steeds God se beskerming geniet, toe sy soos haar pa die ewigheid betree het. Dit is ook wat Jesus vir ons oor dié teks geleer het. Dit is nie ’n magiese belofte van fisiese beskutting, beskerming en bevryding in alle omstandighede nie. Toe die duiwel met die versoeking in die woestyn voorgestel het dat Jesus van die tempel afspring, omdat die Here in Psalm 91:11 belowe dat die engele Hom op hulle hande sal dra en sal sorg dat Hy nie sy voet teen ’n klip sal stamp nie, het Jesus dit getroef met ’n aanhaling uit Deut. 6:16: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Matt. 4:5–7). Tog bly God se bewaring ‘n werklikheid! Ook fisies! Dit is wat Jesus ervaar het. Aan die een kant het Hy aan die kruis gesterwe, maar God het Hom nie in die steek gelaat nie. Aan die ander kant het Hy ook weer uit die dood uit opgestaan, want God het Hom nie in die steek gelaat nie. Daarin lê die evangelie van Psalm 91 opgesluit, ook vir ons.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-91-ja-u-here-is-my-skuilplek/

Jeremia 17:1-8 – Geseënd is hy wat op die Here vertrou – hy hou nie op om vrugte te dra nie

18 September

Die RCL teks vir vandag is Jeremia 8:18-9:1. Jy kan my bydrae daaroor hier lees: https://bybelskool.com/jeremia-84-92-niemand-het-berou-oor-hul-sonde-nie/. Ek gaan egter eerder die belofte in Jeremia 17:1-8 hanteer.

Jeremia 17:1-8 – Geseënd is hy wat op die Here vertrou – hy hou nie op om vrugte te dra nie

1“Die sonde van Juda is opgeteken met ‘n ysterpen, met ‘n diamantpunt; dit is ingegraveer op die tafels van hulle harte en op die horings van hulle altare. 2Net soos hulle aan hulle kinders dink, dink hulle aan hulle altare en asjeras by skaduryke bome op die hoë heuwels. 3My berg in die oop veld, jou rykdom, al jou skatte, sal Ek as buit gee – jou offerhoogtes in ruil vir die sonde in jou hele grondgebied. 4Jy sal deur jou eie toedoen moet afstand doen van jou erfenis wat Ek vir jou gegee het. Ek sal jou die slaaf van jou vyande maak in ‘n land wat jy nie ken nie; want ‘n vuur is aangesteek in my toorn – vir altyd sal dit brand.”

5So sê die Here: “Vervloek is die man wat op mense vertrou, wat in mense sy krag vind, maar sy hart draai van die Here weg. 6Hy sal wees soos ‘n jenewerstruik in die Araba; hy sal dit nie opmerk wanneer die goeie kom nie. Hy sal tuis wees op dor plekke in die woestyn, op brak grond waar niemand woon nie.

7Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is. 8Hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen. In ‘n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.”

Dit is ironies dat in plaas van God se wet op hulle harte, die sonde van Juda ingegraveer is daarop. Netso is die horings van hulle altare nie meer die plek waar versoening vir hulle sondes gedoen word nie, maar waarop juis hulle sonde ingegrif is. En in die geheue van hulle kinders is die afgodsdiens afgeëts, en nie die stories van verlossing, bewaring en toewyding uit die verlede nie. Daarom laat die Here hulle in sy toorn verdryf uit hulle land en gee dit aan ander. “Jy sal deur jou eie toedoen moet afstand doen van jou erfenis.” Die geestelike bankrotskap van Juda maak hulle ook polities en ekonomies bankrot. Geen wonder dat die nuwe verbond van Jeremia 31:31-34 juis dié toedrag van sake sal omkeer, en dat God se wet, sy woorde, op hulle harte en in hulle gedagtes geskrywe sal word. Dit sou hulle verhouding met die land ook herstel (Jer 32).

Die Here vervolg in vers 5 om ’n vloek te plaas op mense wat nie net ‘n gebrek aan ‘n  hartsverbintenis aan Hom het nie – hulle harte is van Hom af weggedraai – maar aktief alliansies met mense soek eerder as met God. Hulle lewe sal so onherbergsaam raak soos die Araba, die woestynstrook aan die suide van die Dooie See.

Daarteenoor sê die Here in ’n saligspreking: “Geseënd is die man wat op die Here vertrou…” Hulle is soos bome wat by water geplant is en voorspoedig en vrugbaar is reg deur die jaar, ’n duidelike verwysing na die beskrywing van die regverdiges en die goddeloses van Psalm 1. Die verbintenis van ons hart aan God het deur sy deurgronding en toetsing daarvan ’n louterende en suiwerende krag. Daarom moet ’n mens nie te gou ontsteld raak oor dinge wat verkeerd loop en jou geduld en onderskeiding toets nie. Daardeur is God besig met jou hart!

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-17-ek-die-here-deurgrond-en-toets-hart-en-verstand/

Psalm 134 – Mag God jou seën uit sy heiligdom

17 September

Psalm 134 – Mag God jou seën uit sy heiligdom

1‘n Pelgrimslied. Kom! Prys die Here, julle almal, diensknegte van die Here, wat snags diens verrig in die huis van die Here. 2Hef julle hande op na die heiligdom en prys die Here. 3Mag die Here jou seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het.

Hierdie Psalm is nie om dowe neute aan die einde van die reeks van 15 Pelgrimspsalms geplaas nie. Dit is ‘n wisselspraak tussen die pelgrims – vers 1-2 – en die tempelpersoneel – vers 3. Dit simboliseer die afskeid wat onvermydelik kom met die einde van ‘n dag se feesviering en uiteindelik met die terugreis na die eise van die normale lewe. Die hele gemeenskap van pelgrims roep dus aan die einde van die dag/week/besoek die verantwoordelike tempelpersoneel op om die Here te seën of te wel prys (bârak) in die heiligdom terwyl hulle voortgaan om hulle diens deur die nag daar te verrig (letterlik staan). Dit verwys waarskynlik onder andere na die Levitiese hoofwagte en poortwagte en ander funksionarisse wat vir die gladde verloop van die tempeldiens sowel as vir die beveiliging verantwoordelik was (vgl 1 Kron 9:10-34).

Die tempelpersoneel reageer daarop deur op wederkerige wyse die seën (dieselfde woord bârak word gebruik as in vers 1) van die Here uit Sion op elkeen van die pelgrims (vgl die enkelvoud jou) uit te spreek. Een só ‘n voorbeeld vind ons in die seënbede van Num. 6:24-26: ”24Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” Dié seën word hier ook spesifiek aan die Here wat hemel en aarde gemaak het, verbind. Dws, God sal hulle seën waar ook al hulle in sy skepping beweeg.

Die boodskap is dus duidelik. Die gereelde aanbidding by die tempel het die pelgrims in kontak gebring nie net met die lewensveranderende teenwoordigheid van die Here, maar sy omvattende seën vir die lewe ontsluit. Tye het verander, maar God se seën waar die geloofsgemeenskap bymekaar kom, is steeds ‘n werklikheid. Soos Jesus self sê: “19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”(Matt 18:19-20).

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-134-mag-die-here-jou-seen-uit-sion/

Spreuke 16:1-9 – Vertrou wat jy doen aan die Here toe, dan sal jou planne standhou

16 September

Spreuke 16:1-9 – Vertrou wat jy doen aan die Here toe, dan sal jou planne standhou

1‘n Mens kry sy gedagtes agtermekaar, maar die antwoord van die tong kom van die Here. 2Al die weë van ‘n mens is onbesproke in sy eie oë, maar die een wat die geeste toets, is die Here. 3Vertrou wat jy doen aan die Here toe, dan sal jou planne standhou. 4Die Here het sy doel met alles; selfs ‘n goddelose bestaan vir die dag van onheil. 5Afstootlik vir die Here is elkeen met ‘n hoogmoedige hart; dit staan vas: So iemand sal nie ongestraf bly nie. 6Deur troue liefde en waarheid word sondeskuld bedek, en deur ontsag vir die Here vermy ‘n mens die kwaad. 7Wanneer die Here tevrede is met ‘n mens se lewenspaaie, laat Hy selfs sy vyande met hom vrede maak. 8‘n Bietjie, saam met geregtigheid, is beter as ‘n groot inkomste verkry deur onreg. 9Die hart van ‘n mens beplan sy pad, maar die Here bepaal sy voetstappe.

Die vorm van die spreuke van Salomo verander in hoofstuk 16 na sinteses eerder as antitese soos dit die geval was in hoofstuk 10-15. Dit sal die geval wees tot aan die einde van hierdie eerste bundel van sy spreuke in hoofstuk 22. ‘n Mens kan die hoofstuk in drie deel, waarvan die eerste en tweede deel ‘n duidelike tematiese samehang het, en die derde deel meer losstaande spreuke oor die wysheid bevat: 1) Die mens wik, maar God beskik – Spreuke 16:1-9; 2) Die ideale koning – Spreuke 16:10-15; 3) Wysheid is beter as welvaart – Spreuke 16:16-33. Ons kyk net na die eerste nege verse.

Vers 1. Dit lees letterlik in Hebreeus: “Van die mens is die planne/voorbereiding van die hart (gedagtes), maar van die Here is die antwoord van die tong.” Die tweede deel van die vers kan die beste verstaan word as God se reaksie op wat die mens beplan, dws dit is die antwoord van Sy tong, by wyse van spreke. Peterson vertaal daarom: “Mortals make elaborate plans, but God has the last word,” soos inderdaad die 1983-vertaling dit ook het. Met al die uitsprake in Salomo se eerste bundel oor mense se woorde en die impak daarvan op die gemeenskap en die lewe, is hierdie sintese van hom miskien die belangrikste spreuk. Ons woorde maak saak. God se woorde maak nog meer saak. Want, God se woorde is lotsbepalend. Hy doen wat Hy sê. Omdat God die laaste woord oor alles het, beteken dit vir my ook dat Hy die eerste woord oor alles moet hê, presies wat in Spreuke 1:1-7, en Spreuke 3:1-12 aangevoer is. Anders kan dit ‘n mens suur bekom. Dit is waarom ontsag vir Hom die begin van die wysheid is, trouens die begin selfs van kennis is, ten minste van dié kennis wat die moeite werd is, soos Spreuke nou al ‘n paar keer onderstreep het.

Vers 2. God kyk na gesindhede. Peterson vertaal interessant genoeg: “God probes for what is good” wat insiggewend is.

Vers 3. Daarom, beplan en voer uit wat God wil hê, dan sal jou planne uitwerk. Dit is sy belofte. Die NET Bible vertaal: “Commit your works to the LORD, and your plans will be established.” Dit beteken dat ‘n mens jou laste op die Here sal “afrol” (dit is wat die Hebreeuse woord beteken wat met “commit” vertaal word), sodat Hy die bevestiging daarvan sal “afteken”, dws goedkeur (vgl Ps 37:5; 55:22).

Vers 4-5. Die spreuk werk met die belofte dat God in beheer is van die eindbestemming en doel van alles. Onthou ook dat God nie van arrogansie en verwaandheid hou nie, mense wat voorgee dat hulle alles weet, terwyl hulle daarmee op God se terrein oortree. Uit daardie hoek maak die twee opmerkings oor straf vir die goddelose en die verwaande sin, omdat hulle hulself aanmatig om die god van hulle eie lewe te word, en dit hulle buite die ruimte van God se sorg en seën plaas. Hartseer en hard, maar onvermydelik.

Vers 6. Let op die aanbod van versoening – klink heel Nuwe-Testamenties! – as ‘n keuse vir ontsag vir die Here en ‘n lewe van liefde en trou in die gemeenskap gemaak word.

Vers 7. Dit ontsluit God se seën in jou lewe wat selfs jou vyande in vrede met jou laat lewe.

Vers 8. Salomo se gevolgtrekking in hierdie perikoop is dat só ‘n lewe – ’n regte lewe – beter is as baie inkomste en die verkeerde verhouding met God en die gemeenskap.

Vers 9. En dan sluit Salomo af met die herhaling van vers 1 dat ons planne moet inpas in wat God wil. Dan kan ons verwag om sukses daarmee te behaal. Vergelyk ook vers 33 wat die hoofstuk met ‘n soortgelyke gedagte afsluit: “Die lot word gewerp in die vou van die kleed, maar elke beslissing daarvan kom van die Here.”

Geen wonder dat hierdie 9 verse aan die grondslag lê van vele idiome wat deur die eeue hieroor geformuleer is. Uit Eritrea kom dié een: “Man begins; God completes” (“Proverbs”, in Africa Bible Commentary). ‘n Engelse idioom sê: “Man proposes; God disposes.” soos in vele kommentare nagevolg. In Afrikaans is daar: “Die mens wik, maar God beskik.”

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-161-33-die-mens-wik-maar-god-beskik/

Onlangse kommentaar