Spreuke 18:10-12 – Die Naam van die Here is ‘n onbereikbare sterk toring
Spreuke 18:10-12 – Die Naam van die Here is ‘n onbereikbare sterk toring
10‘n Sterk toring is die Naam van die Here; die regverdige hardloop dit binne, en is onbereikbaar. 11Die besittings van ‘n ryke is sy sterk stad; soos ‘n ontoeganklike stadsmuur is dit in sy verbeelding. 12Voor ineenstorting is ‘n mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan eer vooraf.
Vers 10 is ‘n baie bekende teks met die boodskap dat God die regverdige beskerm wat by Hom skuil. Die “Naam van die Here” dui hier op sy vermoë om te beskerm (In Eks 34:5-7 bv word sy “Naam” ook aan die kenmerke van liefde en trou verbind). Sy beskerming word met ‘n “sterk toring” vergelyk wat ‘n veilige skuilplek (refuge) verskaf aan elke “regverdige” wat “dit binne hardloop” en daarmee ‘n heelhartige en onwankelbare vertroue in God se beskerming illustreer (vgl Jes 40:31 – dié wat op die Here vertrou raak nie moeg nie!). God maak hulle onbereikbaar (“inaccessible”)! Dit is hierdie boodskap wat jy verkondig met die lied Blessed be the Name of the Lord van Clinton Utterbach: “The Name of the Lord is a strong tower, the righteous run into it, and they are saved.”
Vers 11 is duidelik in kontras met vers 10. Ryk mense dink hulle welvaart beskerm hulle soos ’n sterk stad of ’n ontoeganklike stadsmuur, maar dit is ’n lugkasteel. Daardie bestaan net in hulle verbeelding. Die enigste ware beskerming is van die Here.
Vers 12 sluit ook hierby aan deur die diep waarheid te onderstreep dat hoogmoed voor die val kom. Nederigheid kom egter voor die eer (vgl Spr 11:12; 15:33; 16:18). In die konteks van vers 10 is nederigheid hier die keuse om eerder die beskerming van die Here te geniet as dié wat jyself deur jou besittings kan verskaf.
Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-181-24-kommunikasie-maak-saak/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar