Psalm 137 – God sal nooit vergeet om reg en geregtigheid te laat geskied nie
Psalm 137 – God sal nooit vergeet om reg en geregtigheid te laat geskied nie
1Aan die riviere van Babel, daar het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink. 2Aan die rivierwilgers in daardie land het ons ons liere opgehang; 3want daar het dié wat ons gevange geneem het vir ons die woorde van ‘n lied gevra; hulle wat ons weggevoer het, het van ons vreugde verwag: “Sing vir ons een van die Sionsliedere!” 4Hoe kan ons ‘n lied van die Here sing op vreemde grond? 5As ek jou vergeet, Jerusalem, mag my regterhand dan vergeet hoe om te speel. 6Mag my tong aan my verhemelte kleef, as ek jou nie onthou nie, as ek Jerusalem nie my heel grootste vreugde maak nie. 7Here, onthou die Edomiete oor die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: “Stroop, stroop haar tot op die fondamente!” 8Dogter van Babel, gedoem tot verwoesting, gelukkig die een wat jou jou dade vergeld wat jy ons aangedoen het! 9Gelukkig die een wat jou kinders gryp en verpletter teen ‘n rotswand!
Hierdie Psalm is ‘n roerende herinnering aan die pyn en ontworteling van die ballingskap. Die Psalmis is waarskynlik in Jerusalem ná die terugkeer uit ballingskap en skryf die Psalm om die geloofsgemeenskap te help om die verlede te verwerk, sowel as om die nuwe situasie in Jerusalem te omarm en skouer aan die wiel te sit om die geloofsgemeenskap te herbou. Die Psalm is daarom meer as ‘n klag oor die verlede. Dit gebruik die herinnering aan die pyn as die basis vir ‘n nuwe verbintenis in die hede en sluit twee bedes aan God in om reg en geregtigheid te laat geskied ten opsigte van beide Edom, wat hulle in die steek gelaat het, en Babel, wat hulle weggevoer het in ballingskap. Want, die belofte van die hele Skrif is dat God nooit sal vergeet om reg en geregtigheid te laat geskied nie (vgl bv Rom 12).
Dit leer ons dat die verlede, selfs in die grusame pyn wat dit vir ‘n mens kan inhou, hetsy weens persoonlike skuld of weens omstandighede buite jou beheer, steeds die basis kan bly om in die hede jouself aan God te verbind en van Hom ‘n herstelde toekoms af te bid. Aan God se liefde is daar immers geen einde nie, soos Psalm 136 so oorvloedig beklemtoon het. Hulle het dus vrymoedigheid om God om reg en geregtigheid te vra. Die smart wat Edom (Jakob, die stamvader van Israel, en Esau, die stamvader van Edom, was broers) hulle aangedoen het met die wegvoering in ballingskap roep by hulle die gebed om vergelding op (vgl veral die profeet Obadja vir meer detail hieroor). Die Edomiete se houding van “breek af, breek af” moet die Here se optrede teenoor hulle bepaal. Op dieselfde wyse vra die Psalmis dat die Here sal optree teenoor die Babiloniërs wat fisies die stad afgebreek en hulle in ballingskap weggevoer het. Op grusame wyse word die vergelding wat gevra word, uitgespel, selfs teenoor die kinders wat teen ‘n rotswand verpletter moet word. Let op dat die Psalmis nie vra dat hulle dit persoonlik moet uitvoer nie, maar dat die Here daarvoor sal sorg. Wat ons hier in gedagte moet hou, is dat dié gebede om vergelding ‘n belangrike manier was (en is) om die emosies wat steeds lewendig was vir die teruggekeerde ballinge te hanteer. Wat vir ons as kinders van die Here egter belangrik is, is om te weet dat vergelding in die NT aan die Here behoort. Van ons word gevra om nie te vervloek nie, maar te seën (Luk. 9:54) en selfs ons vyande lief te hê (Matt. 5:44). Die Here wil van vyande vriende maak, ook deur ons optrede en opoffering. Maar, die helder belofte is steeds dat God uiteindelik reg en geregtigheid sal laat geskied. Dit is ook sy belofte aan ons.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-137-jerusalem-bly-my-grootste-vreugde/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar