2 Timoteus 1:1-14 – God het ons ‘n gees van krag, liefde en selfbeheersing gegee
2 Timoteus 1:1-14 – God het ons ‘n gees van krag, liefde en selfbeheersing gegee
1Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus, deur die wil van God, in ooreenstemming met die belofte van die lewe in Christus Jesus, 2aan Timoteus, my geliefde kind: Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en Christus Jesus, ons Here. 3Ek is dankbaar teenoor God, wat ek, soos my voorouers, met ‘n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik, bedags en snags, in my gebede aan jou dink. 4As ek aan jou trane terugdink, verlang ek daarna om jou te sien, sodat ek met blydskap vervul kan word. 5Ek dink steeds aan jou opregte geloof, daardie geloof wat eers in jou ouma Loïs, en in jou moeder Eunice was – en ek is oortuig dat dit ook in jou is. 6Om hierdie rede herinner ek jou om die genadegawe van God, wat in jou is, deurdat ek jou die hande opgelê het, opnuut aan te vuur. 7God het ons tog nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. 8Moet jou dus nie skaam vir die getuienis van ons Here nie, ook nie vir my, sy gevangene, nie. Maar dra jou deel van die lyding vir die evangelie deur middel van die krag van God. 9Hy het ons verlos en geroep met ‘n heilige roeping – nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en genade. Reeds van ewigheid af is dit in Christus Jesus aan ons geskenk, 10en nou is dit geopenbaar deur die verskyning van ons Verlosser, Christus Jesus, wat die dood vernietig het, en die lewe en die onverganklikheid deur die evangelie aan die lig gebring het. 11Hiervoor is ek as prediker, apostel en leraar aangestel. 12Daarom ly ek ook hierdie dinge, maar ek skaam my nie; want ek weet in wie ek nog altyd my vertroue stel, en ek is oortuig dat Hy magtig is om die pand wat aan my toevertrou is, tot op daardie dag te bewaar. 13Hou, as voorbeeld van die suiwer leer, vas aan dit wat jy van my gehoor het; doen dit in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is. 14Bewaar die kosbare pand wat aan jou toevertrou is deur die Heilige Gees wat in ons woon.
Paulus begin sy tweede brief aan Timoteus deur sy eie roeping as apostel as in ooreenstemming met die belofte van lewe in Christus Jesus uit te lê. Hy is dankbaar dat Timoteus vasstaan in dieselfde geloof wat in sy ouma en moeder was, want dit laat hom in dieselfde lewe deel wat ook in hulle was. Die geheim van ‘n oorvloedige geestelike lewe lê immers in die genadegawe van die Heilige Gees wat ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar ‘n gees van krag en liefde en selfbeheersing. Dit is die wonder van die Gees wat ook in Timoteus werksaam is.
Daarom, sê Paulus, moet Timoteus die genadegawe van die Gees aanblaas soos jy ‘n vuur se kole blaas sodat die vlamme van krag en liefde en selfbeheersing in sy lewe die oorhand kan kry. Dit is veral belangrik, omdat daar lyding op die pad van die evangelie is. Dit beteken aan die een kant – sê vers 7 – dat hy weer bewus moet raak van die Gees wat in hom woon. Dit is die Gees wat werk in Timoteus. Die Gees wil hom aktiveer om staande te bly in die versoekings en vervolgings. Dit beteken aan die ander kant – sê vers 6 – dat Timoteus ‘n eie verantwoordelikheid het om die genadegawe van God wat in hom is, aan te vuur, soos jy ‘n vuurtjie aan die gang kry, sodat die hitte die krag, liefde en selfbeheersing wat die Gees gee, tot sy volle werking kan kom.
Een van die dinge wat Timoteus kan doen om die genadegawe van die Gees in hom aan te vuur, sê Paulus, is deur ‘n keuse te maak om hom nie te skaam vir die evangelie nie – vers 8 – maar sy deel van die lyding vir die evangelie deur middel van die krag van God, te dra. Dit beteken dat jy sy verbintenis aan die boodskap van die evangelie vas moet maak. Hy moet hom nie daarvoor skaam nie – dit is dus sy keuse – nie vir ‘n enkele deel daarvan nie, selfs al bring dit hom in botsing met die kulturele en samelewingswaardes van sy gemeenskap. Kortom, hy moet nie terugdeins vir die lyding wat saam gaan met gehoorsaamheid nie. Dan sal hy die krag van die evangelie in hom ervaar, sal hy die krag en die liefde en die selfbeheersing kry wat die Gees in hom sal aktiveer om aan God getrou en gehoorsaam te lewe.
Lees meer (‘n preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/2-timoteus-16-14-resilience-veerkragtige-geloof/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar