Skip to main content

Efesiërs 6:10-20 – Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly

26 September

Efesiërs 6:10-20 – Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly

10Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag. 11Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. 12Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. 13Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly. 14Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van geregtigheid, 15en deur die bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene aan julle voete aan te trek, 16en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus. 17Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God. 18By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die heiliges. 19Bid ook vir my sodat, wanneer ek my mond oopmaak, die gepaste woord vir my gegee mag word, om met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie bekend te maak – 20hiervoor is ek ‘n gesant in kettings – sodat ek vrymoedig daaroor kan praat soos ek moet.

Paulus sluit sy brief aan die Efesiërs af met ‘n fokus op wat ‘n mens krag gee in die publieke stryd om standvastig te bly in en vir die evangelie van Jesus Christus. Hy verduidelik dit met die beeld van die wapenrusting van God wat ons moet aantrek om staande te kan bly in die stryd. Elke deel daarvan is belangrik. Dit is immers net deur God se krag wat ons in staat sal wees om op ons pos te kan bly en mee te werk aan die vestiging en uitbreiding van die evangelie!  Ons voer gelukkig die stryd nie alleen nie! Die stryd word gevoer met:

  1. Waarheid – in ons toewyding aan die waarheid, ervaar ons God se krag wat ons vol maak van Homself.  Die waarheid is soos ‘n gordel waarmee ‘n soldaat sy jurk opgebind het, sodat hy makliker kon beweeg.  Dit maak ons vry in ons binneste van verslawing en weerbaar teen versoeking in die publiek.
  2. Vryspraak (geregtigheid) – dit het te make met die feit dat in Christus ons in die regte verhouding met God gekom het, en dat ons nou vrye toegang tot die Vader het.  In ons blydskap oor God wat ons aangeneem het, volledig uit genade, ervaar ons die krag om standvastig te bly in die wêreld.
  3. Getuienis – die bereidheid om die evangelie na mense te neem, is ‘n kragtige bevestiging van God se werk in jou eie lewe.  Dit is soos die skoene aan die voete van die soldaat wat sorg dat hy oor ruwe terrein kan beweeg, met die getuienis van die goeie nuus van die evangelie vir alle mense.
  4. Geloof – die vertroue op God en die afhanklikheid van wat Hy doen, is die enigste manier om die aanslag van die bose af te weer.  Dit is soos ‘n skild wat jou beskerm teen die brandpyle van die vyand.  Let op dat daar nie ‘n pyl en boog in die hand van die gelowige is nie, net ‘n skild om weerbaar te wees.
  5. Verlossing (redding) – as vryspraak die objektiewe werk van Christus in ons lewe is om ons in die regte verhouding met God te bring, is verlossing die subjektiewe diep oortuiging in ons binneste dat God dit inderdaad goed bedoel met ons en ons vir Homself as kinders aangeneem het.  Dié oortuiging funksioneer soos ‘n helm op ons kop wat die sentrum van ons lewe, ons brein, beskerm.
  6. God se Woord – die enigste aanvalswapen is die Woord van die Gees, soos Paulus dit stel.  En let op dat die Heilige Gees en die Woord direk aan mekaar gekoppel word.  Die een kan nie sonder die ander nie – albei is nodig om regtig in God se wil vir jou lewe te kan wandel.
  7. Gebed – dit is die aspek waarop die meeste uitgebrei word.  Let op dat gebed allesomvattend is – by elke geleentheid, gedurig, vir alle gelowiges, vir die evangelie.

Lees meer: https://bybelskool.com/efesiers-610-24-soek-julle-krag-in-die-here-en-in-sy-groot-mag/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar