Skip to main content

Lukas 17:5-10 – Vir dié wat in God glo, raak die onmoontlike moontlik

29 September

Lukas 17:5-10 – Vir dié wat in God glo, raak die onmoontlike moontlik

1Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar struikelblokke kom, maar wee die een deur wie dit kom. 2Dit is beter vir hom dat ‘n maalklip om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie geringes laat struikel. 3Wees dus op julle hoede. As jou broer sondig, wys hom tereg, en as hy berou het, vergewe hom. 4En as hy sewe maal op een dag teen jou sondig, en sewe maal na jou terugkom en sê, ‘Ek het berou’, moet jy hom vergewe.” 5Toe sê die apostels vir die Here: “Gee ons meer geloof!” 6En die Here antwoord: “As julle geloof soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het. 7“Wie van julle sal, as hy ‘n slaaf het wat besig is om te ploeg of skape op te pas, vir hom sê, wanneer hy van die veld af kom, ‘Kom leun dadelik aan om te eet.’ 8Sal hy nie eerder vir hom sê, ‘Maak vir my iets gereed om te eet, omgord jou heupe en bedien my, totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink!’ nie? 9Hy bedank tog nie die slaaf net omdat hy sy opdragte uitgevoer het nie! 10Dieselfde geld vir julle: Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’ ”

Jesus moedig die dissipels aan tot ’n onberispelike lewe wat nie vir ander tot struikeling aanleiding sal gee nie – vers 1-3a. Hy wil hê dat ons niks sal doen wat ander mense sal laat struikel nie. Maar, ons weet ook dat dit ‘n tall order is. Dit is iets wat net so moeilik is om reg te kry. Want ons belange bots so maklik. Ons kom so maklik in mekaar se pad. Ons doen so maklik dinge wat ander seermaak. Of ons dit nou doelbewus doen, of ons dit onbewus doen, ons pootjie mekaar so maklik en so gereeld. Daarom moedig Jesus ons dus ook aan tot ’n genadige lewenstyl wat telkens bereid is om berouvolles te vergewe – vers 3b-4. Dit is die logiese pasmaat van die vorige opdrag.

Nou dít kry ons nog moeiliker reg. Ons vertroue in mekaar word so maklik geskaad. Ons sukkel spesifiek hiermee. En as ons nie vergewe nie, dan raak dit deel van die bagasie wat ons met ons ronddra. Dan hou ons dinge teen mekaar, nie net vir ‘n dag lank nie, soms weke, maande lank, soms jare lank. Daar is vetes wat eintlik eeue teruggaan tussen families en mensegroepe. Ons sukkel hiermee! Dit is waarom die apostels só reageer in die gedeelte. Hulle besef dat hulle sukkel om in hulle verhoudinge met ander mense, onberispelik te wees. Hulle sukkel om nie ander te laat struikel nie. Hulle sukkel om self nie te struikel nie. En dit is ‘n groot probleem om mekaar te vergewe, want jou sin vir reg en regverdigheid, jou gevoel vir wat billik is, staan só in die pad van ‘n lewe waar jy ander en soms jouself ook kan vergewe. Daarom vra hulle: Méér geloof, Here.

Hoe antwoord Jesus? Hy wys hulle in sy derde uitspraak op twee goed: 1) dit is net nodig om ‘n bietjie geloof te hê – net so groot soos ‘n mosterdsaadjie. Jy moet dit eintlik darem net kan sien. Dit moet net daar wees. Want, 2) vir dié wat in God glo, raak die onmoontlike moontlik. Die vraag is nie hoe hoog die volume van jou geloof gestel is nie. Die afmetings en omvang is nie belangrik nie, die inhoud wel. Jesus is die inhoud van ons geloof. Die vraag is dus op Wie jou geloof gerig is. Wanneer die uitdagings om struikeling te vermy, en die risiko van vergifnis te loop, ondraaglik blyk te wees, is dit die Here op wie jou geloof gerig is, wat jou bystaan en jou dra. Jesus antwoord hulle dus dat dit nie soveel saak maak hoe groot jou geloof is nie, maar eerder wat jy daarmee doen. Waar jy aan God vasgryp, al is dit net met geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie, kan die onmoontlike gebeur. ‘n Moerbeiboom met sy ingewikkelde komplekse wortelstelsel sal in die see kan groei, as jy maar net geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie het. Die onmoontlike word moontlik vir dié wat in God glo.

Jesus sluit af met ‘n vierde en laaste opmerking oor geloof en moedig ons aan tot ’n nederige lewenstyl waarin ons nie arrogant sal raak oor wat ons bereik in die koninkryk nie, want uiteindelik behoort die lof aan God self – vers 7-10. Waar mens die oorsaak van verleiding en struikeling word vir ander, en wanneer jy teen ander oortree, word dit gewoonlik gebore uit ‘n oormatige fokus op jouself. Dit gaan oor jou belange, jou vooruitsigte, wat jy uit die lewe wil haal, hoe jy ander wil gebruik om jouself te bevoordeel. Dit laat jou ander se belange geringskat. Dit laat jou op korttermyn en kortsigtige voordeel fokus, sonder om die belange van ander in ag te neem. Daarom sê Jesus: As julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen. Ons is onverdienstelike diensknegte. Ons geloof gee aan God alleen al die eer. Mag dit so wees, vandag en altyd.

Lees meer (‘n preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/meer-geloof-here-lukas-171-10/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.