Skip to main content

Hooglied 8:5-14 – Die liefde is wederkerig en interafhanklik

Indeling

Dit maak vir my sin om die gedeelte as vier gedigte te hanteer.  Die eerste drie werk telkens met ‘n inleidende vraag of beskrywing waarop die vrou en man onderskeidelik reageer.  Die laaste gedig is ‘n gesprek tussen die man en die vrou:
  • Die vroue vra na haar identiteit – die vrou antwoord met ‘n verklaring van haar liefde vir die man – 8:5-7.
  • Haar broers wonder oor haar volwassenheid[1] – die vrou gee hulle die versekering dat sy haar man kan gelukkig maak – 8:8-10.
  • Die man wonder oor die harem van Salomo – die man verbly hom egter in sy keuse vir een vrou wat syne alleen kan wees – 8:11-12.
  • Die man verlang na haar stem – die vrou verlang na sy teenwoordigheid – 8:13-14.

Betekenis

In hierdie perikoop kan ‘n mens die volgende interafhanklike en wederkerige aspekte van die liefde raaksien soos dit in die huwelik na vore kom:

  • Ondersteuning: Waar die vrou as bruid in 3:6 alleen uit die woestyn kom na die bruidegom toe, kom sy hier in die geselskap van haar man daarvandaan, en sy leun op die man wat sy liefhet (8:5a).  Dit is ‘n pragtige beeld van die ondersteuning wat ‘n liefdesverbintenis onderling aan lewensmaats bied.
  • Hartstog: Die liefdesverbintenis maak hartstog vir mekaar “wakker” (8:5b) en word in seksualiteit uitgeleef (2:7; 3:5; 4:16; 8:4).  Sulke liefde kan dus nie gekoop word nie.  Mense wat dit dink, sal met reg uitgelag word.  Sulke hartstogtelike liefde kom net tot sy reg in die geborge ruimte van ‘n familie (8:5b – verwysing na die [skoon]ma!).
  • Geborgenheid: Die vrou gee haarself om soos ‘n seëlring  op sy bors of arm vasgehou en gedra te word (8:6a).  Die seëlring was ‘n bewys van identiteit, ‘n kosbare besitting, wat ook in die sluit van kontrakte gebruik is (Gen 38:18; 41:42; Est 3:10).  Haar oorgawe aan hom skep dus vir hulle ‘n nuwe identiteit.  Sy word sy kosbare besitting.  Sy vertroeteling van haar as ‘n seëlring op sy bors en aan sy arm sê eweneens dat sy vir hom kosbaar is.  Sulke wedersydse liefde gee ‘n diep gevoel van geborgenheid in die lewe.  Dit gee aan hulle albei ‘n vaste plek in die lewe, ‘n fondament vanwaar hulle regtig met oorgawe kan lewe.
  • Sekuriteit: Die liefde is “sterker as die dood”; die hartstog daarvan is “magtiger as die doderyk”; dit “brand en vlam soos vuur”, en kan nie deur strome water of riviere geblus of afgekoel word nie (8:6b-7).  Die liefde gee ‘n sekuriteit en beskerming wat selfs – by wyse van spreke – die dood kan trotseer!  Die liefde trotseer die bedreiging van negatiewe magte in die werklikheid van die lewe.
  • Selfstandigheid: Die liefde kan nie gekoop word nie (8:7b), en kan nie afgedwing word nie (8:12).  Daarom is dit so belangrik dat die vrou (en man) self besluit aan wie sy (hy) wil behoort (nie haar broers of vriende nie – 8:8-9), en wie sy (hy) gelukkig wil maak (8:10).  Die liefde is daarom altyd ‘n selfstandige keuse wat kom uit eie oortuiging, iets waaraan jy jouself getrou en lojaal verbind hou.  “Die liefde is om om te gee vir ‘n ander terwyl jy ook sorg dra vir jouself” (Landman).
  • Uniekheid: Die liefde beteken ook om uniek vir iemand ander wees, om net aan een ander te behoort.  Een interpretasie van die wingerd van Salomo in Baäl-Hamon, is dat dit ‘n simbool was vir sy harem, waaruit hy ‘n opbrengs van kinders verwag het , en daarom wagte aangestel het om dit te beskerm (8:11).  Die man kies egter teen die versameling van vroue in die harem (8:12) en vir persoonlike wedersydse liefde (8:13).  Terloops, indien ‘n mens dít as die woorde van die vrou lees, geld dieselfde interpretasie natuurlik.
  • Interafhanklikheid: Die liefde het sy uitdagings en teleurstellings vanweë misverstande en behoeftes wat verskil,  soos ons in 5:1-6:3 kon sien.  Die enigste manier om dit die hoof te bied, is om doelbewus te kies om interafhanklik te wees (8:13-14 met vers 13 as die stem van die man, en vers 14 as die stem van die vrou).

 


[1] Vers 8-9 word interessant genoeg deur Peterson as ‘n terugblik van die vrou hanteer met die opskrif: “My brothers used to worry about me: …” en dan die teks soos ons dit in Bybel het.  Dan maak haar opmerking in vers 10 baie sin, deurdat sy eintlik vir hulle sê, julle was bekommerd oor my, het eintlik gedink ek is nog klein en moet beskerm word, maar ek is nou groot en in die liefdevolle beskerming van die man wat ek liefhet.  Bogenoemde indeling dra dieselfde gedagte oor.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hooglied, huwelik, interafhanklik, liefde, saamwees


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms