Hooglied 8:5-14 – Die liefde is wederkerig en interafhanklik
Indeling
- Die vroue vra na haar identiteit – die vrou antwoord met ‘n verklaring van haar liefde vir die man – 8:5-7.
- Haar broers wonder oor haar volwassenheid[1] – die vrou gee hulle die versekering dat sy haar man kan gelukkig maak – 8:8-10.
- Die man wonder oor die harem van Salomo – die man verbly hom egter in sy keuse vir een vrou wat syne alleen kan wees – 8:11-12.
- Die man verlang na haar stem – die vrou verlang na sy teenwoordigheid – 8:13-14.
Betekenis
In hierdie perikoop kan ‘n mens die volgende interafhanklike en wederkerige aspekte van die liefde raaksien soos dit in die huwelik na vore kom:
- Ondersteuning: Waar die vrou as bruid in 3:6 alleen uit die woestyn kom na die bruidegom toe, kom sy hier in die geselskap van haar man daarvandaan, en sy leun op die man wat sy liefhet (8:5a). Dit is ‘n pragtige beeld van die ondersteuning wat ‘n liefdesverbintenis onderling aan lewensmaats bied.
- Hartstog: Die liefdesverbintenis maak hartstog vir mekaar “wakker” (8:5b) en word in seksualiteit uitgeleef (2:7; 3:5; 4:16; 8:4). Sulke liefde kan dus nie gekoop word nie. Mense wat dit dink, sal met reg uitgelag word. Sulke hartstogtelike liefde kom net tot sy reg in die geborge ruimte van ‘n familie (8:5b – verwysing na die [skoon]ma!).
- Geborgenheid: Die vrou gee haarself om soos ‘n seëlring op sy bors of arm vasgehou en gedra te word (8:6a). Die seëlring was ‘n bewys van identiteit, ‘n kosbare besitting, wat ook in die sluit van kontrakte gebruik is (Gen 38:18; 41:42; Est 3:10). Haar oorgawe aan hom skep dus vir hulle ‘n nuwe identiteit. Sy word sy kosbare besitting. Sy vertroeteling van haar as ‘n seëlring op sy bors en aan sy arm sê eweneens dat sy vir hom kosbaar is. Sulke wedersydse liefde gee ‘n diep gevoel van geborgenheid in die lewe. Dit gee aan hulle albei ‘n vaste plek in die lewe, ‘n fondament vanwaar hulle regtig met oorgawe kan lewe.
- Sekuriteit: Die liefde is “sterker as die dood”; die hartstog daarvan is “magtiger as die doderyk”; dit “brand en vlam soos vuur”, en kan nie deur strome water of riviere geblus of afgekoel word nie (8:6b-7). Die liefde gee ‘n sekuriteit en beskerming wat selfs – by wyse van spreke – die dood kan trotseer! Die liefde trotseer die bedreiging van negatiewe magte in die werklikheid van die lewe.
- Selfstandigheid: Die liefde kan nie gekoop word nie (8:7b), en kan nie afgedwing word nie (8:12). Daarom is dit so belangrik dat die vrou (en man) self besluit aan wie sy (hy) wil behoort (nie haar broers of vriende nie – 8:8-9), en wie sy (hy) gelukkig wil maak (8:10). Die liefde is daarom altyd ‘n selfstandige keuse wat kom uit eie oortuiging, iets waaraan jy jouself getrou en lojaal verbind hou. “Die liefde is om om te gee vir ‘n ander terwyl jy ook sorg dra vir jouself” (Landman).
- Uniekheid: Die liefde beteken ook om uniek vir iemand ander wees, om net aan een ander te behoort. Een interpretasie van die wingerd van Salomo in Baäl-Hamon, is dat dit ‘n simbool was vir sy harem, waaruit hy ‘n opbrengs van kinders verwag het , en daarom wagte aangestel het om dit te beskerm (8:11). Die man kies egter teen die versameling van vroue in die harem (8:12) en vir persoonlike wedersydse liefde (8:13). Terloops, indien ‘n mens dít as die woorde van die vrou lees, geld dieselfde interpretasie natuurlik.
- Interafhanklikheid: Die liefde het sy uitdagings en teleurstellings vanweë misverstande en behoeftes wat verskil, soos ons in 5:1-6:3 kon sien. Die enigste manier om dit die hoof te bied, is om doelbewus te kies om interafhanklik te wees (8:13-14 met vers 13 as die stem van die man, en vers 14 as die stem van die vrou).
[1] Vers 8-9 word interessant genoeg deur Peterson as ‘n terugblik van die vrou hanteer met die opskrif: “My brothers used to worry about me: …” en dan die teks soos ons dit in Bybel het. Dan maak haar opmerking in vers 10 baie sin, deurdat sy eintlik vir hulle sê, julle was bekommerd oor my, het eintlik gedink ek is nog klein en moet beskerm word, maar ek is nou groot en in die liefdevolle beskerming van die man wat ek liefhet. Bogenoemde indeling dra dieselfde gedagte oor.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Prediker en Hooglied - Apr 3, 2012
- Inleiding op Hooglied - May 2, 2012
- Hooglied 1:1-11 – Passievolle plesier in saamwees - May 3, 2012
- Hooglied 1:12-2:7 – Wedersydse geborgenheid, tuiswees, bevestiging en opwinding - May 4, 2012
- Hooglied 2:8-17 – Bedwelming en beskerming in die liefde - May 7, 2012
- Hooglied 3:1-5 – Liefde kom tot sy reg binne families - May 8, 2012
- Hooglied 3:6-11 – Die huwelik is ryk aan betekenis - May 9, 2012
- Hooglied 4:1-5:1 – In die tuin van liefde - May 10, 2012
- Hooglied 5:2-8 – Verskillende behoeftes bring maklik verwydering - May 11, 2012
- Hooglied 5:9-6:3 – Die vreugde van vrywillige versoening - May 14, 2012
- Hooglied 6:4-8:4 – Verwonderde verrukking en verbeeldingryke verwagting - May 15, 2012
- Hooglied 8:5-14 – Die liefde is wederkerig en interafhanklik - May 16, 2012
- MENINGSOPNAME 2012
- Hooglied – Lees, luister, leef – ePub - Nov 5, 2012
Hooglied, huwelik, interafhanklik, liefde, saamwees