Hooglied 4:1-5:1 – In die tuin van liefde
Indeling
- Vers 1-7 is ‘n loflied (wasf) van die man op die skoonheid van sy lieflingbruid.
- Vers 8 verwoord sy uitnodiging tot saamwees aan sy bruid, maar wat net op haar uitnodiging kan gebeur.
- Vers 9-11 besing die bruid se impak op die man: “Jy het my hart gesteel”.
- Vers 12 tot hoofstuk 5 vers 1 is die sogenaamde tuin-gedig wat op intieme wyse hulle seksuele eenwording beskryf.
4:1-7 – Jy is onweerstaanbaar mooi, my liefling
Die eerste sewe verse van Hooglied 4 vorm ‘n wasf. Dit is ‘n tipe Arabiese lofgedig waarin die fisiese eienskappe van ‘n geliefde beskryf word (soos Thousand and One Nights byvoorbeeld). Wasf in Arabies beteken dan ook beskrywing.
Daar is 5 van hierdie tipe gedigte in Hooglied, 4 oor die vrou en 1 oor die man:
- Hierdie wasf – 4:1-7 – beskryf die vrou van haar kop af ondertoe. Elke liggaamsdeel word met iets moois vergelyk.
- In 5:10-16 is ‘n wasf oor die man waar sy eienskappe ook van die kop af ondertoe, amper soos dié van ‘n god, beskryf word.
- In 6:4-9 is nog ‘n wasf oor die vrou, wat baie ooreenkomste met hoofstuk 4 s’n vertoon.
- In 7:1-5 is weereens ‘n wasf oor die vrou, wat haar van onder na bo beskryf.
- In 7:6-9 is die laaste wasf oor die vrou, wat haar ook van onder na bo beskryf.
Betekenis
Let op dat die man haar skoonheid besing – haar hele lyf van bo na onder – om sy liefde vir haar te bevestig, asook om haar gerus te laat oor haarself: “aan jou is niks verkeerd nie” (:7). Telkens word ‘n liggaamsdeel van haar met iets moois of indrukwekkends vergelyk:
- Haar oë is soos duiwe agter haar sluier, wat kan dui op die opregtheid van die liefde wat uit haar straal.
- Haar hare is soos ‘n trop bokke wat waarskynlik dui op die golwende karakter daarvan. Die Gileadberge is oos van die Jordaan waar die stamme Ruben en Gad groot veetroppe aangehou het (Num 32:1).
- Haar tande is so wit soos ‘n dubbele ry skoongewaste pasgeskeerde skape. Sy het nie net mooi tande nie, maar almal is nog daar!
- Haar lippe is soos skarlakenrooi lint (vgl Ragab se bloedrooi tou in Jos 2:18), wat waarskynlik dui op grimering.
- Haar voorkop (of wange) en nek word geaksentueer deur juwele (vergelyk met granaatpitte en skilde). Die Dawidstoring was blykbaar baie bekend in daardie tyd, hoewel ons nie vandag weet waarna dit verwys nie.
- Haar borste is soos lammers wat tussen die lelies wei.
Haar aantreklikheid is vir hom soos ‘n bedwelmende geur, soos dié van ‘n mirreberg of ‘n wierookheuwel (wat ook metafore vir haar borste kan wees), wat hom onweerstaanbaar na haar toe trek.
4:8 – Kom ons wees saam
Hier word sy die eerste keer bruid genoem. Die hoë berge wat hier genoem word (Libanon, Amana, Senir, Hermon – almal in die noorde van Israel), is simbole van onbereikbaarheid, plekke wat leeus en luiperds uitkies waar hulle nie deur ander bereik kan word nie. Deur haar uit te nooi om saam met hom te kom, nooi hy haar uit tot die vervulling van hulle huwelik. Let op dat hy uitnodigende oorredende taal gebruik, en haar nie probeer dwing vanweë hulle verbintenis nie. Sy moet hom uit vrye keuse innooi.
4:9-11 – Jy het my hart gesteel
In hierdie gedeelte praat die man letterlik van haar as “my suster bruid” wat in die NAV met “my beminde bruid” vertaal is. Daarmee bedoel hy dat hulle liefde hulle nou familie maak, nie met bloedbande nie, maar met liefdesbande.
Sy het sy hart gesteel, wat aandui dat sy hom seksueel geroer het, met net een kyk van haar oë. Hy wil hom oorgee aan haar liefkosings, want dit is beter as wyn; haar lippe proe soos heuningstroop, haar tong soos heuning en dikmelk (vir baie ‘n lekkerny, hoewel dit nie presies in my smaak val nie!)
Die woord wat met parfuum vertaal is, dui eintlik op parfuum van die balsembos, ‘n plant uit Suid-Arabië, waarvan die duurste soort parfuum gemaak is. Dit het ‘n speseryagtige geur. Dat haar klere ruik na die Libanon is waarskynlik ‘n verwysing na die geur van sederhout, bome waarvoor die Libanon bekend was.
4:12-5:1 – Kom ons word dronk van die liefde
4:12-5:1 is ‘n “tuingedig” wat hulle seksuele eenwording vier. Dit word in drie dele verdeel: 1) sy bewondering van haar – 4:12-15; 2) haar uitnodiging tot die liefde – 4:16; 3) sy aanvaarding daarvan – 5:1. Hoewel dié gedig die eerste seksuele ervaring tussen dié man en vrou beskryf, bly dit van betekenis vir hoe die liefde tussen ‘n man en vrou werk: bewondering, uitnodiging, genot.
Bewondering – 4:12-15
Die man vergelyk die vrou, sy suster-bruid, hier met ‘n tuin (toegemaak) en ‘n waterbron (afgekamp). Dit dui op haar begeerlike kosbaarheid vir hom sowel as haar eksklusiewe afsondering vir haar man. Sy is sy private tuin, wat ommuur is, ‘n fontein wat afgekamp is teen onbeheerde toegang. Sy is dus net bedoel vir haar man, en hy vir haar. En hy verseker haar daarvan, laat haar veilig, gekoesterd, en waardevol voel.
Haar liggaam is vir hom ‘n lushof. Die struike wat hier genoem word, was almal bekend vir hulle geure, hoewel meesal uitheems: nardus (Indië), saffraan (Griekeland), kalmoes (Indië – die wortels van dié plant is gebruik in geregte, en het ‘n bedwelmende uitwerking, met ‘n effe bitter smaak – vgl ook Jer 6:20; Eks 30:23 wat ‘n kultiese gebruik daarvan aandui), en kaneel (Sri Lanka). Dit word saam met die lekkerruik-kruie, mirre en aalwyn (soos mirre, ook gebruik vir sy genesende eienskappe), gebruik om die aantrekkingskrag van haar liggaam vir die man te beskryf.
Let op dat die vrou nou nie net ruik soos en na parfuum nie. Sy ís nou die parfuum vir hom (Landman). Die verwysing na die borrelende fontein dui waarskynlik op haar gereedheid vir seksuele verkeer.
Uitnodiging – 4:16
Die woord vir “wakker word” is dieselfde woord waarmee sy die vroue van Jerusalem gewaarsku het om nie die liefde aan te wakker voordat albei partye daarvoor gereed is nie. Sy is egter nou gereed daarvoor. “Die man kan sy vrugte kom geniet” (Landman). Die wind van die noorde en suide wek die liefde op en maak hulle gereed vir mekaar. Die skrywer gebruik doelbewus nie die ander woord vir wind, ruach, wat ook vir die Gees van God gebruik kan word nie. Daarmee word gekommunikeer dat seks nie ‘n goddelike of sakramentele daad is nie, maar die vervulling van die huweliksverbintenis.
Genot – 5:1
Die afwagting vir en begeerte na die vervulling van hulle liefde bereik nou ‘n hoogtepunt. Die man pluk die kosbare kruie, eet sy lekker vars heuning, en drink sy wyn en melk – pragtige metafore vir die seksuele eenwording tussen die man en sy vrou. Dit is vir die man so lekker dat hy sy vriende aanraai om dit self te probeer: “word dronk van die liefde”.
Wat verkeerd gegaan het in die tuin van Eden, loop nou reg in die tuin van die liefde. Waar Adam en Eva van die verbode vrugte geëet het, kan hulle die vrugte van die liefde sonder skaamte en in oorvloed geniet.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Prediker en Hooglied - April 3, 2012
- Inleiding op Hooglied - May 2, 2012
- Hooglied 1:1-11 – Passievolle plesier in saamwees - May 3, 2012
- Hooglied 1:12-2:7 – Wedersydse geborgenheid, tuiswees, bevestiging en opwinding - May 4, 2012
- Hooglied 2:8-17 – Bedwelming en beskerming in die liefde - May 7, 2012
- Hooglied 3:1-5 – Liefde kom tot sy reg binne families - May 8, 2012
- Hooglied 3:6-11 – Die huwelik is ryk aan betekenis - May 9, 2012
- Hooglied 4:1-5:1 – In die tuin van liefde - May 10, 2012
- Hooglied 5:2-8 – Verskillende behoeftes bring maklik verwydering - May 11, 2012
- Hooglied 5:9-6:3 – Die vreugde van vrywillige versoening - May 14, 2012
- Hooglied 6:4-8:4 – Verwonderde verrukking en verbeeldingryke verwagting - May 15, 2012
- Hooglied 8:5-14 – Die liefde is wederkerig en interafhanklik - May 16, 2012
- MENINGSOPNAME 2012
- Hooglied – Lees, luister, leef – ePub - November 5, 2012
Hooglied, huwelik, liefde, saamwees, seks, tuin