Skip to main content

Hooglied 4:1-5:1 – In die tuin van liefde

Indeling

Vandag lees ons ‘n aantal gedigte – veral van die man oor sy bruid, behalwe vers 16 wat die vrou se uitnodiging aan die man verwoord – wat uitmond in hulle seksuele eenwording.
  • Vers 1-7 is ‘n loflied (wasf) van die man op die skoonheid van sy lieflingbruid.
  • Vers 8 verwoord sy uitnodiging tot saamwees aan sy bruid, maar wat net op haar uitnodiging kan gebeur.
  • Vers 9-11 besing die bruid se impak op die man: “Jy het my hart gesteel”.
  • Vers 12 tot hoofstuk 5 vers 1 is die sogenaamde tuin-gedig wat op intieme wyse hulle seksuele eenwording beskryf.

4:1-7 – Jy is onweerstaanbaar mooi, my liefling

Die eerste sewe verse van Hooglied 4 vorm ‘n wasf.  Dit is ‘n tipe Arabiese lofgedig waarin die fisiese eienskappe van ‘n geliefde beskryf word (soos Thousand and One Nights byvoorbeeld).  Wasf in Arabies beteken dan ook beskrywing.

Daar is 5 van hierdie tipe gedigte in Hooglied, 4 oor die vrou en 1 oor die man:

  • Hierdie wasf – 4:1-7 – beskryf die vrou van haar kop af ondertoe.  Elke liggaamsdeel word met iets moois vergelyk.
  • In 5:10-16 is ‘n wasf oor die man waar sy eienskappe ook van die kop af ondertoe, amper soos dié van ‘n god, beskryf word.
  • In 6:4-9 is nog ‘n wasf oor die vrou, wat baie ooreenkomste met hoofstuk 4 s’n vertoon.
  • In 7:1-5 is weereens ‘n wasf oor die vrou, wat haar van onder na bo beskryf.
  • In 7:6-9 is die laaste wasf oor die vrou, wat haar ook van onder na bo beskryf.

Betekenis

Let op dat die man haar skoonheid besing – haar hele lyf van bo na onder – om sy liefde vir haar te bevestig, asook om haar gerus te laat oor haarself: “aan jou is niks verkeerd nie” (:7).  Telkens word ‘n liggaamsdeel van haar met iets moois of indrukwekkends vergelyk:

  • Haar is soos duiwe agter haar sluier, wat kan dui op die opregtheid van die liefde wat uit haar straal.
  • Haar hare is soos ‘n trop bokke wat waarskynlik dui op die golwende karakter daarvan.  Die Gileadberge is oos van die Jordaan waar die stamme Ruben en Gad groot veetroppe aangehou het (Num 32:1).
  • Haar tande is so wit soos ‘n dubbele ry skoongewaste pasgeskeerde skape.  Sy het nie net mooi tande nie, maar almal is nog daar!
  • Haar lippe is soos skarlakenrooi lint (vgl Ragab se bloedrooi tou in Jos 2:18), wat waarskynlik dui op grimering.
  • Haar voorkop (of wange) en nek word geaksentueer deur juwele (vergelyk met granaatpitte en skilde).  Die Dawidstoring was blykbaar baie bekend in daardie tyd, hoewel ons nie vandag weet waarna dit verwys nie.
  • Haar borste is soos lammers wat tussen die lelies wei.

Haar aantreklikheid is vir hom soos ‘n bedwelmende geur, soos dié van ‘n mirreberg of ‘n wierookheuwel (wat ook metafore vir haar borste kan wees), wat hom onweerstaanbaar na haar toe trek.

4:8 – Kom ons wees saam

Hier word sy die eerste keer bruid genoem.  Die hoë berge wat hier genoem word (Libanon, Amana, Senir, Hermon – almal in die noorde van Israel), is simbole van onbereikbaarheid, plekke wat leeus en luiperds uitkies waar hulle nie deur ander bereik kan word nie.  Deur haar uit te nooi om saam met hom te kom, nooi hy haar uit tot die vervulling van hulle huwelik.  Let op dat hy uitnodigende oorredende taal gebruik, en haar nie probeer dwing vanweë hulle verbintenis nie.  Sy moet hom uit vrye keuse innooi.

4:9-11 – Jy het my hart gesteel

In hierdie gedeelte praat die man letterlik van haar as “my suster bruid” wat in die NAV met “my beminde bruid” vertaal is.  Daarmee bedoel hy dat hulle liefde hulle nou familie maak, nie met bloedbande nie, maar met liefdesbande.

Sy het sy hart gesteel, wat aandui dat sy hom seksueel geroer het, met net een kyk van haar oë.  Hy wil hom oorgee aan haar liefkosings, want dit is beter as wyn; haar lippe proe soos heuningstroop, haar tong soos heuning en dikmelk (vir baie ‘n lekkerny, hoewel dit nie presies in my smaak val nie!)

Die woord wat met parfuum vertaal is, dui eintlik op parfuum van die balsembos, ‘n plant uit Suid-Arabië, waarvan die duurste soort parfuum gemaak is.  Dit het ‘n speseryagtige geur.  Dat haar klere ruik na die Libanon is waarskynlik ‘n verwysing na die geur van sederhout, bome waarvoor die Libanon bekend was.

4:12-5:1 – Kom ons word dronk van die liefde

4:12-5:1 is ‘n “tuingedig” wat hulle seksuele eenwording vier.  Dit word in drie dele verdeel: 1) sy bewondering van haar – 4:12-15; 2) haar uitnodiging tot die liefde – 4:16; 3) sy aanvaarding daarvan – 5:1.  Hoewel dié gedig die eerste seksuele ervaring tussen dié man en vrou beskryf, bly dit van betekenis vir hoe die liefde tussen ‘n man en vrou werk: bewondering, uitnodiging, genot.

Bewondering – 4:12-15

Die man vergelyk die vrou, sy suster-bruid, hier met ‘n tuin (toegemaak) en ‘n waterbron (afgekamp).  Dit dui op haar begeerlike kosbaarheid vir hom sowel as haar eksklusiewe afsondering vir haar man.  Sy is sy private tuin, wat ommuur is, ‘n fontein wat afgekamp is teen onbeheerde toegang.  Sy is dus net bedoel vir haar man, en hy vir haar.  En hy verseker haar daarvan, laat haar veilig, gekoesterd, en waardevol voel.

Haar liggaam is vir hom ‘n lushof.  Die struike wat hier genoem word, was almal bekend vir hulle geure, hoewel meesal uitheems: nardus (Indië), saffraan (Griekeland), kalmoes (Indië – die wortels van dié plant is gebruik in geregte, en het ‘n bedwelmende uitwerking, met ‘n effe bitter smaak – vgl ook Jer 6:20; Eks 30:23 wat ‘n kultiese gebruik daarvan aandui), en kaneel (Sri Lanka).  Dit word saam met die lekkerruik-kruie, mirre en aalwyn (soos mirre, ook gebruik vir sy genesende eienskappe), gebruik om die aantrekkingskrag van haar liggaam vir die man te beskryf.

Let op dat die vrou nou nie net ruik soos en na parfuum nie.  Sy ís nou die parfuum vir hom (Landman).  Die verwysing na die borrelende fontein dui waarskynlik op haar gereedheid vir seksuele verkeer.

Uitnodiging – 4:16

Die woord vir “wakker word” is dieselfde woord waarmee sy die vroue van Jerusalem gewaarsku het om nie die liefde aan te wakker voordat albei partye daarvoor gereed is nie.  Sy is egter nou gereed daarvoor.  “Die man kan sy vrugte kom geniet” (Landman).  Die wind van die noorde en suide wek die liefde op en maak hulle gereed vir mekaar.  Die skrywer gebruik doelbewus nie die ander woord vir wind, ruach, wat ook vir die Gees van God gebruik kan word nie. Daarmee word gekommunikeer dat seks nie ‘n goddelike of sakramentele daad is nie, maar die vervulling van die huweliksverbintenis.

Genot – 5:1

Die afwagting vir en begeerte na die vervulling van hulle liefde bereik nou ‘n hoogtepunt.  Die man pluk die kosbare kruie, eet sy lekker vars heuning, en drink sy wyn en melk – pragtige metafore vir die seksuele eenwording tussen die man en sy vrou.  Dit is vir die man so lekker dat hy sy vriende aanraai om dit self te probeer: “word dronk van die liefde”.

Wat verkeerd gegaan het in die tuin van Eden, loop nou reg in die tuin van die liefde.  Waar Adam en Eva van die verbode vrugte geëet het, kan hulle die vrugte van die liefde sonder skaamte en in oorvloed geniet.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hooglied, huwelik, liefde, saamwees, seks, tuin


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm