Hooglied 3:6-11 – Die huwelik is ryk aan betekenis
Indeling
Die gedig se indeling is voor die handliggend die vrou se gedagtes, behalwe dat ‘n mens nie maklik uit die vertaling agterkom dat sy in vers 6 die subjek is nie, en die man in vers 7. Die woordjie Wie in vers 6 dui op die vrou in die oorspronklike.
Betekenis
Die Sulammitiese vrou droom nou van haar troudag en die vervulling van hul liefde met die huweliksluiting.
Die metafore wat sy gebruik om die dag te beskryf, is ryk aan betekenis:
- Met die verwysing na mirre, wierook en lekkerruik-kruie stel die vrou haar die huwelik voor as ‘n godsdienstige seremonie soos by dié van die tempel. Dit is almal “goddelike” geure. Dit beskryf die wyse waarop die bruid haarself wil aanbied vir haar bruidegom. Die woord wat vir rookwolk gebruik word, kan ook met die wolkkolom in die woestyntyd verbind word (Eks 13:22), wat eweneens ‘n goddelike betekenis aan die huwelikseremonie verleen – 3:6;
- Die verwysing na die optog begelei deur soldate, laat ‘n mens dink aan die huwelik as ‘n koninklike seremonie soos by ‘n huwelik van Salomo. Hierdie huwelik het egter ‘n groter waarde, wat afgelei kan word uit die getal sestig, twee keer meer as Dawid se dertigtal helde (2 Sam 23:18-19). Die beskrywing verleen dus ‘n koninklike betekenis aan die huwelik en die bruidspaar se verbintenis – 3:7-8;
- Die noukeurige beskrywing van die drastoel dui op die weelderige beplanning van en vir die huwelik. Die drastoel was waarskynlik ook bedoel as die huweliksbed, vandaar die funksie van die soldate om dit te beskerm van die “nag se gevare” (wat moontlik kan dui op ‘n simboliese of seremoniële verdrywing van die demone wat die huwelik kon bedreig). Die beskrywing verleen dus ‘n beskermde betekenis aan die huwelik. Alles moet in die stryd gewerp word om die vreugde van die huwelik te beskerm en bewaar van gevare van buite – 3:9-10;
- Dat die vroue van Sion na die bruidegom moet kom kyk op sy huweliksdag, beteken waarskynlik dat hulle daarmee die boodskap kry dat hy afgesonder is vir sy bruid en nie meer vir hulle of ander beskikbaar sou wees nie. Dit verleen ‘n eksklusiewe betekenis aan die huwelik – 3:11;
- Dit alles vind plaas onder die moeder van die bruidegom se wakende, maar darem ook goedkeurende oog. Dit versterk die uitgebreide familie betekenis van die huwelik. Die uitgebreide familie het ‘n beduidende impak op die huwelik (dit is natuurlik wedersyds) en ‘n mens moet daarmee rekening hou – 3:11.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Prediker en Hooglied - Apr 3, 2012
- Inleiding op Hooglied - May 2, 2012
- Hooglied 1:1-11 – Passievolle plesier in saamwees - May 3, 2012
- Hooglied 1:12-2:7 – Wedersydse geborgenheid, tuiswees, bevestiging en opwinding - May 4, 2012
- Hooglied 2:8-17 – Bedwelming en beskerming in die liefde - May 7, 2012
- Hooglied 3:1-5 – Liefde kom tot sy reg binne families - May 8, 2012
- Hooglied 3:6-11 – Die huwelik is ryk aan betekenis - May 9, 2012
- Hooglied 4:1-5:1 – In die tuin van liefde - May 10, 2012
- Hooglied 5:2-8 – Verskillende behoeftes bring maklik verwydering - May 11, 2012
- Hooglied 5:9-6:3 – Die vreugde van vrywillige versoening - May 14, 2012
- Hooglied 6:4-8:4 – Verwonderde verrukking en verbeeldingryke verwagting - May 15, 2012
- Hooglied 8:5-14 – Die liefde is wederkerig en interafhanklik - May 16, 2012
- MENINGSOPNAME 2012
- Hooglied – Lees, luister, leef – ePub - Nov 5, 2012
Hooglied, huwelik, liefde, saamwees