Skip to main content

Hooglied 6:4-8:4 – Verwonderde verrukking en verbeeldingryke verwagting

Vandag se leeswerk beslaan ‘n hele paar gedigte.

  • Die eerste deel fokus op die man se verwonderde verrukking oor haar skoonheid en unieke betowering vir hom: 6:4-7:9.
  • Die tweede deel fokus op die vrou se verbeeldingryke verwagting wat haar die inisiatief in hulle verhouding laat neem: 7:10-8:4.

Die wonder van die liefde lê in die verwondering sowel as die verbeelding, in die verrukking sowel as die verwagting.

Verwonderde Verrukking – 6:4-7:9

6:4-7 – Jy is mooi my liefling

Die man vergelyk sy liefling met twee pragtige stede, Tirsa en Jerusalem, wat ook net na Salomo se tyd (laat 10de eeu vC) die hoofstede in onderskeidelik die Noord- en die Suid-ryk van Israel was.  Tirsa was koning Jerobeam se eerste hoofstad in die noordelike koninkryk ná die skeuring van die ryk (1 Kon 14:17), voordat Samaria later die hoofstad geword het.  Tirsa se naam beteken “plesier” of “skoonheid” en was so 56 kilometer noordoos van Jerusalem.  Sy is werklik vir hom so indrukwekkend soos ‘n afdeling vaandeldraers (wat herhaal word in 6:10, hoewel dit daar moontlik vir die sterre kan staan).

Die res van hierdie wasf (beskrywende liefdesgedig)  toon baie ooreenkomste met die gedig in 4:1-7, wat die betekenis dra dat haar skoonheid vir hom steed verruklik mooi is.

  • Haar maak hom dié keer onrustig – vgl 6:12 waar hy uitbrei op die betowerende krag wat sy op hom het.
  • Haar hare is weereens soos ‘n trop bokke (golwend) wat teen die Gileadberge (oos-Jordaan) afkom.
  • Haar tande is weereens so wit soos ‘n dubbele ry skoongewaste pasgeskeerde skape.
  • Hy praat nie hier weer van haar lippe of borste nie, wel weer van die versiersels op haar voorkop wat soos granaatpitte agter haar sluier is.

6:8-10 – Jy is uniek

In ‘n besondere beskrywing onderskei hy haar van die vorstelike harem, 60 koninginne, en 80 byvroue, selfs van die res van die jong vroue in die koninkryk.  Sy is vir hom uniek, sy duif, sy volmaakte.  Sy is enig (‘n woord wat ook gebruik word vir God se uniekheid – Deur 6:4 – “Hy is die enigste Here”), haar ma se enigste dogter en haar oogappel (nou natuurlik syne!).  Die ander vroue praat met bewondering van haar, en besing haar lof.  Sy is so pragtig en so helder soos die unieke hemelliggame, die maan en die son.  Sy is so indrukwekkend soos koninklike vaandeldraers (moontlik ‘n verwysing na die sterre).

6:11-13 – Jy betower my

Hy ervaar dat sy hom nie net betower nie: “Ek ken myself nie”, maar dat sy hom self in die ervaring van uniekheid laat deel: “”dit is of sy my laat ry op die strydwa van die keur van my volk”.  Sy oë gaan oop vir die nuwe lewe waaraan hulle liefde hom blootstel (jong boompies, wingerde bot, granaatbome bloei).  Neute (okkerneute) was ook beskou as ‘n liefdesvoedsel.

Vers 13 kan op verskillende maniere geïnterpreteer word.  Dit kan ‘n gedig in die mond van die vriende of vriendinne wees wat haar terugroep van die verbintenis aan die man.  Daarop antwoord die man (nie die vrou soos in die NAV) wat haar uniekheid wil beskerm en haar verbintenis aan hom wil vasmaak: “Wat wil julle sien …?”

Die verwysing na haar as Sulammitiese vrou was waarskynlik ‘n verwysing na Sulam, ‘n boerderygemeenskap 96 km noord van Jerusalem.

7:1-5 – Jy bekoor my met jou skoonheid

In nog ‘n wasf (beskrywende liefdesgedig) word haar skoonheid in omgekeerde volgorde van die vorige wasfs beskryf, van onder na bo, waarmee hy haar bekoorlike skoonheid vir hom as haar koning besing.

  • Haar voete is nie net mooi in haar skoene (sandale) nie, maar laat haar vir hom soos ‘n edel dogter, iemand van die adelstand, lyk.
  • Die rondings van haar heupe is so kunstig rond en glad soos kunstenaarsjuwele.
  • Haar ronde naeltjie (kan ook ‘n eufemisme wees vir haar geslagsdele) is soos ‘n kom met kruiewyn, waarin hy hom kan verlustig.
  • Haar maag is soos ‘n hoop koring wat met lelies omring is.  Dit kan op die kleur van haar maag dui (goudkleurig) of op die ronding daarvan soos ‘n hoop koring wat vasgebind is.  ‘n Mens moet egter natuurlik nie te veel vasval in die letterlike assosiasies nie, maar eerder die beskrywing van sy bekoring deur haar skoonheid raaksien.
  • Haar borste word weereens vergelyk met lammers van die takbok en die ribbok (vgl ook 4:5).
  • Haar nek is soos ‘n toring van ivoor, ‘n simbool van duursaamheid en waardevolheid (vgl ook 4:4).
  • Haar is soos die damme by die poorte van die stad Gesbon.  Hy kan homself verloor daarin.
  • Haar neus is soos ‘n Libanese toring wat na Damaskus kyk, ‘n simbool van waardigheid en krag.
  • Haar kop is soos die Karmel berg, ‘n simbool van vorstelikheid, wat natuurlik ook godsdienstige betekenis vir Israel gehad het (vgl Elia en Agab in 1 Kon 18).
  • Haar hare is soos rooi wol wat die koning bekoor.  Die dieprooi kleursel waarna hier waarskynlik verwys word, was baie duur en voltooi die prentjie van die vrou as uitnemend mooi en uitsonderlik kosbaar vir die man.

7:6-9 – Jou begeerlikheid gee my vreugde

Met die laaste wasf in Hooglied beskryf die man die genot wat haar skoonheid en begeerlikheid hom besorg.  Let op dat vers 6 korrespondeer met vers 1, maar dat dit in hierdie wasf haar hele gestalte is wat hom bekoor nie, net nie die onderskeie dele daarvan nie. Sy is vir hom die verpersoonliking, die inkarnasie van die liefde, liefde in aardse vroulike vorm.

  • Sy herinner hom aan ‘n hoë slanke palmboom, die dadelpalm (Tamar in Hebreeus – die naam van 2 vroue in die OT: Juda se dogter [Gen 38:6] sowel as een van Dawid s’n [2 Sam 13:1]).  Dit is een van die oudste aangeplante vrugtebome waarvan ons kennis dra, waarvan nie net die vrugte nie, maar ook die res van die boom vir meubels en vlegwerk gebruik is.  Dit is waarskynlik ook daarom beter om haar borste met dadeltrosse, eerder as wingerdtrosse te vergelyk, soos die Hebreeus inderdaad gelees kan word.
  • Hy het ‘n intense verlange om met haar gemeenskap te hê (teen die palmboom opklim, sy trosse blomme gryp) en haar liefde te ervaar in sy sintuiglike totaliteit (reuk, smaak, aanraak).  Let op hoe die verwysing na wyn een van die temas van 1:4 weer optel.

Verbeeldingryke verwagting – 7:10-8:4

7:10-13 – Ek smag na jou, man wat ek liefhet

Die vrou reageer op dié bewondering en verlange en nooi hom op verbeeldingryke wyse uit om hulle liefdesgemeenskap op verskeie tye (slaaptyd, vroeg smôrens) en plekke (veld, dorpies [die woord kan ook as Hennablomme vertaal word – 1:14], wingerde – metafore wat privaatheid uitbeeld, gegewe die relatiewe onprivaatheid van huishoudings van daardie tyd) te geniet.  Hy is die een wat sy liefhet, en waarna sy smag – sy gebruik dieselfde woord as wat Gen 3:16 gebruik om die hunkering van die vrou na die man te beskryf, hoewel dit egter hier positief gebruik word.  Sy behoort aan hom, net soseer as wat hy aan haar behoort, want sý kies hóm uit (vgl 2:16; 6:3).

Sy nooi hom dus uit om die oorvloed van hulle liefde te geniet – daar is allerlei keurige vrugte by ons deur – terwyl die liefdesappels (alruin, mandragora [mandrakes in Engels]) hulle geur versprei, ‘n vrug waarom daar baie bygelowigheid verweef was.  ‘n Mens hoor hierin ook die vorige verhale van Ragel en Lea wat met liefdesappels Jakob se guns probeer wen het (Gen 30-14 vv – Ruben het daar vir Lea liefdesappels gebring.  Ragel wou dit graag hê en ruil dit by Lea sodat dié ‘n nag by Jakob kan deurbring.  Dit gee haar drie kinders [Issaskar, Sebulon, Dina – natuurlik nie terselfdertyd nie!] voordat Ragel uiteindelik self geseën word met Josef, die wyse voorsiening van die Here).

Let op hoe sy respondeer op sy keuse vir haar: “Ek het hulle vir jou gebêre, man wat ek liefhet”.  Haar liefde is net vir hom, soos sy liefde net vir haar is!

 8:1-4 – Ek wil die kuns van die liefde by jou leer

Die verwagting wat haar verbeelding in haar geskep het, word nou in ‘n intense verlange na hom uitgedruk.  Sy wens hy was haar tweelingbroer, sodat sy, sonder om skaam te wees vir ander mense, hom in die openbaar kan soen.  Soene in die openbaar was as onsedelik beskou, behalwe waar familie ter sprake was – Spr 7:13.

Soos in 3:4 wil sy die kuns van die liefde leer en beoefen in ‘n veilige omgewing, een wat binne die konteks van familiebande hanteer word (ma se huis).  Daar wil sy aan hom haar liefde gee (kruiewyn en granaatsap).  Let op hoe hulle wedersyds die inisiatief neem.

Vandaar die laaste appèl op die vroue van Jerusalem om nie die liefde wakker te maak en aan te vuur voordat die tyd daarvoor ryp is nie.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hooglied, huwelik, liefde, saamwees, verbeelding, verwagting


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders