Skip to main content

Hooglied 1:12-2:7 – Wedersydse geborgenheid, tuiswees, bevestiging en opwinding

Indeling

Die indeling van die onderskeie gedigte is redelik voor die hand liggend, behalwe dat vers 17 ook goed sou pas in die man se mond.  Dit is gegiet in die vorm van ‘n gesprek tussen die man en vrou.

Betekenis

Die klem op die sintuiglike kant van hulle liefde vir mekaar word in hierdie gedigte voortgesit.  Al 5 sintuie is betrokke:

  • voel (linkerarm onder my kop, regterarm omhels – 2:6),
  • sien (jy is mooi, jou oë is duiwe – 1:15),
  • hoor (soos ‘n lelie tussen dorings; soos ‘n appelbooom tussen wilde bome – 2:2-3),
  • proe (sy vrugte is soet in my mond – 2:3),
  • ruik ( my nardusparfuum se geur versprei;  die man … is vir my ‘n sakkie mirre; is vir my ‘n bos hennablomme – 1:12-14).

Die vergelykings met sintuiglike items het egter ook ‘n dieper betekenis.  Dit wys ook wat hulle beteken vir mekaar:

  • Hulle seksualiteit omvou mekaar en bring ‘n geborgenheid (die man is ‘n sakkie mirre tussen haar borste – 1:13; sy sit in die man se skaduwee – 2:3);
  • Hulle saamwees skep ‘n unieke ruimte wat soos ‘n huis word waarin hulle tuis is (ons bed is die groen blare, ons huis se balke is die seders, sy daklatte is die sipresse – 1:17).
  • Hulle kom tot hulle reg in mekaar se teenwoordigheid.  En hulle onderstreep dit aan mekaar met waarderende en bevestigende vergelykings (lelie tussen die dorings; appelboom tussen die wilde bome – 2:2-3).
  • Hulle saamwees bring ‘n bruisende opwinding in hulle lewe soos by ‘n feesplek, waarin hulle ‘n kwaliteit van menswees kan ervaar wat nie op enige ander plek moontlik is nie (2:3).  Hy straal van liefde vir haar (2:4) en die liefde verteer haar, soveel só, dat sy versterking nodig het van rosyntjies en appels (2:5)!

Let op hoe hulle liefde as ‘n wedersydse geborgenheid, tuiswees, bevestiging en opwinding beskryf word.  Vandaar die waarskuwing, gerig aan die vroue van Jerusalem, dat die liefde nie oorhaastig sonder dié wederkerigheid ryp gedruk moet word nie (2:7).  Die tyd moet ryp word vir hierdie tipe liefde.

Verduidelikings

Hier is ook ‘n paar verduidelikende opmerkings oor van die dinge waarna verwys word in die gedigte:

  • Die nardusplant is van Indiese oorsprong waarvan ‘n duur parfuum gemaak is.   Ons ken dit uit die verhaal van die vrou wat Jesus se voete daarmee gesalf het (Mark 14:5; Joh 12:5).
  • Mirre kom van Arabië en was ook baie duur.  Ons ken dit uit die geskenke waarmee die magi by Jesus se geboorte hulde aan Hom gebring het (Matt 2:11 – goud, wierook, mirre).  Dit is onder andere as medisyne gebruik, en soms vir parfuum.
  • Henna was ‘n blou blom wat onder andere in En-Gedi gegroei het, ‘n oase naby die Dooie See.  Die blare is gepars en as parfuum gebruik.
  • Die affodil en lelie is blomme wat ons nie presies kan identifiseer nie.
  • Saron is die vrugbare kusvlakte by Seserea (Tel Aviv) aan die Middellandse See, suid van die Karmel berge.
  • Rosyntjies was gebruik as seksuele stimulant.

bevestiging, geborgenheid, Hooglied, liefde, opwinding, saamwees, tuiswees


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar