Hooglied 1:1-11 – Passievolle plesier in saamwees
Indeling
Ek het dit op voetspoor van Christina Landman as volg ingedeel, met die laaste deel van vers 4 wat die stem van ander vroue verteenwoordig, en vers 8 dié van ander mans (Landman noem hulle vriendinne en vriende). Dit gee ‘n interessante dinamiek van wisselende stemme. Ek plaas die inhoud van die onderskeie eenhede vas aan mekaar, ter wille van spasie, en noem telkens die veronderstelde subjek van die gedig sowel as die een aan wie dit waarskynlik gerig is:
Die vrou aan die man: 2 “Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn, 3 jou parfuum ruik so lekker, jou naam is suiwer parfuum: daarom het die meisies jou so lief. 4 Vat my saam met jou, kom ons hardloop!” Die koning vat my toe na sy kamer toe.
Ander vroue aan die man: “Kom ons juig, kom ons wees vrolik oor jou! Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn!”
Die vrou aan die man: “Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou. 5 Ek is bruin gebrand maar ek is mooi, vroue van Jerusalem. Ek is so bruin soos die tente van Kedar, soos die tentdoeke van Salomo. 6 Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die son my gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my die wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie.
7 Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?”
Ander mans aan die vrou: 8 “As jy dit nie weet nie, mooiste van al die vroue, loop maar net op die kleinvee se spore en laat jou bokkies wei by die veewagters se tente.”
Die man aan die vrou: 9 “Soos ’n spogperd in die farao se strydwa, so is jy vir my, my liefling, 10 met jou lieflike wange tussen jou oorbelle, jou nek met sy kettinkies om. 11 Ons sal vir jou oorbelle van goud maak, met silwerknoppies daarin.”
Die indeling is baie tentatief, hoewel dit ‘n interessante patroon verskaf met die belangrikste deel van die (verbeelde) gesprek tussen die man en die vrou aan die begin en die einde.
Betekenis
Die betekenis van die gedigte, veral in die beskrywings van die liefde tussen man en vrou, is egter vir my baie meer belangrik. Daarom gaan my opmerkings meer oor die inhoud van die 11 verse gaan, as oor die presiese afbakening van die onderskeie eenhede.
- Reg van die begin van hierdie liefdesgedigte af word die sensualiteit en passie beskryf wat hierdie vrou en haar geliefde vir mekaar voel. Let op die liggaamlike (soene, liefkosings), aromatiese (parfuum) en visuele (lieflike wange, oorbelle, kettinkies) plesier wat hulle in mekaar vind. Dit is beter as wyn (1:2,4), ‘n mens kan dronk word daarvan!
- Dit is die dryfvere agter hulle intense verlange en begeerte na mekaar en saamwees (1:4 – “Vat my saam met jou” ). Let op hoe hulle in die oortreffende trap van mekaar praat.
- Selfs sy naam is vir haar soos suiwer parfuum (1:4). Dit blaas haar passie en liefde vir hom aan.
- En sy is vir hom soos ‘n spogperd (1:9 – hy praat van ‘n merrie, wat soms in oorloë gebruik is om die aandag van die hingste af te lei …!). Sy het dus sy aandag gevang, en hy wil net meer daarvan beleef. Daarby wil hy (ons is hier die koninklike meervoud) haar skoonheid vier met ‘n geskenk van selfs nog mooier oorbelle van goud met silwerknoppies daarin (1:11).
- Sy is egter ook deeglik bewus van die kompetisie wat sy in ander vroue het. Dit is aan die een kant as gevolg van die man se begeerlikheid: “daarom het die meisies jou so lief” (1:3) en “Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou” (1:4). Maar dit is ook as gevolg van haar anderste skoonheid, dat sy “bruingebrand” is (1:5) en “donker” (1:6).
- Sy troef egter die moontlike negatiewe vergelyking met en deur die ander vroue (van Jerusalem – waarskynlik die harem) deur haar skoonheid met die “tente van Kedar” (Arabië) en die “tentdoeke van Salomo” te vergelyk – wat waarskynlik ook bruin van kleur was – en wyt haar kleur aan die werk wat sy in die buitelug moes doen in opdrag van haar broers (1:6).
- Daardeur sê sy nie net iets oor haar laer posisie binne die familie nie, asook in die samelewing nie, maar ook van haar durf, lojaliteit en ondernemingsgees, al het dit beteken dat sy haar “eie wingerd” (metafoor vir haar voorkoms) nie so goed kon versorg as wat nodig is nie.
- Dit is vir my opmerklik hoe hierdie tekening van hulle liefde te make het met van die 5 liefdestale wat Gary Chapman gemunt het: Physical Touch (1:2), Gifts (1:11), Quality Time (1:4), Words of Affirmation (1:9), Acts of service (moeiliker om te vind, kyk bv 4:16; 5:1). Lees meer by www.5lovelanguages.com.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Prediker en Hooglied - April 3, 2012
- Inleiding op Hooglied - May 2, 2012
- Hooglied 1:1-11 – Passievolle plesier in saamwees - May 3, 2012
- Hooglied 1:12-2:7 – Wedersydse geborgenheid, tuiswees, bevestiging en opwinding - May 4, 2012
- Hooglied 2:8-17 – Bedwelming en beskerming in die liefde - May 7, 2012
- Hooglied 3:1-5 – Liefde kom tot sy reg binne families - May 8, 2012
- Hooglied 3:6-11 – Die huwelik is ryk aan betekenis - May 9, 2012
- Hooglied 4:1-5:1 – In die tuin van liefde - May 10, 2012
- Hooglied 5:2-8 – Verskillende behoeftes bring maklik verwydering - May 11, 2012
- Hooglied 5:9-6:3 – Die vreugde van vrywillige versoening - May 14, 2012
- Hooglied 6:4-8:4 – Verwonderde verrukking en verbeeldingryke verwagting - May 15, 2012
- Hooglied 8:5-14 – Die liefde is wederkerig en interafhanklik - May 16, 2012
- MENINGSOPNAME 2012
- Hooglied – Lees, luister, leef – ePub - November 5, 2012
Hooglied, liefde, plesier, saamwees
Toentjies
Wil die met julle deel: my interpretasie van Hooglied 1:1-4
Here Jesus Christus, bind my vas aan elke asemteug wat U gee, aan elke Woord wat oor U lippe kom, U gebooie, want U liefde is beter as die tydelike bedwelming van die wêreld. U teenwoordigheid getuig van U rykdom. U Naam word uitgegiet soos olie, en deurdrenk my dorre wese, net om weer te honger na U. In my hart het U gesaai, en wanneer ek U volg, wys U my U hart, en steek my daar weg. Dan kan ek juig en bly wees, en dit vir altyd onthou…