Hooglied 3:1-5 – Liefde kom tot sy reg binne families

So pas het die vrou die hoop uitgespreek dat die man haar veilig sal laat voel in hulle liefde, dat hy haar vrees sal help besweer van die afskeid van haar ouerhuis.  Nou worstel sy in haar droom/nagmerrie met haar eie behoeftes.

Hoewel sy hom beskryf as die een wat sy liefhet, letterlik: “die een wat my siel liefhet” – dws die een aan wie haar binneste verkleef geraak het – wil sy nie, selfs nie in haar droom nie, onbehoorlik optree nie.  Sy wil hom eers gaan haal na die geborgenheid van haar ma se huis, háár veilige ruimte.

Dat sy hom na haar ma se huis bring, dra die betekenis van haar soeke na veiligheid, vastigheid, en aanvaarding, iets soortgelyks as wat ons lees van Isak wat sy vrou Rebekka by sy ma Sara se huis laat bly het (Gen 24:67), hoewel die rolle hier omgekeer is.  Die vrou van Hooglied beskryf daarmee haar begeerte aan ouerlike goedkeuring van haar liefde.  Sy het ‘n sterk behoefte aan die liefde van die man, maar sy het net so ‘n sterk behoefte dat dit nie onbehoorlik of onvanpas sal wees binne die konteks van haar familielewe nie.

Die wagte wat die stad patrolleer is al op baie maniere metafories geïnterpreteer.  Sommige dink daaraan as die samelewing se reëls, ander weer aan die beskerming van maagdelikheid (Garrett).  In die lig van die geweldige prioriteit wat op maagdelikheid in Israel geplaas is, maak laasgenoemde vir my sin.

Met die herhaling van die frase rondom die vroue van Jerusalem (ook in 2:7; 5:8; 8:4) lewer sy waarskynlik verder kommentaar op haar eie droom-behoeftes, dat die liefde nie ryp gedruk moet word voor die tyd daarvoor aanbreek nie.  Dit dui aan die een kant op haar keuse teen die insluiting in die harem van Salomo, en aan die ander kant op haar keuse om die liefde net binne die veilige ruimte van familie-wees te geniet, soos dit met die huweliksluiting in die volgende perikoop moontlik word.

Daar is ‘n hele paar ooreenkomste tussen dié gedig en die een wat ons in hoofstuk 5:2-8 lees – die verlange na die man, die soeke in die stad, en die verwysing na die vroue van Jerusalem. In hoofstuk 5 is die konteks egter haar aanvanklike weiering van die man se toenadering, en stel dit haar bloot aan  verguising deur die wagte.  Die ander gedigte wat daarop volg, sluit dan by dié soektog aan, maar daaroor later.

families, Hooglied, liefde, saamwees


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: