2 Timoteus 4:9-18 – Die Here sal jou van elke bose daad red met die oog op sy hemelse koninkryk
2 Timoteus 4:9-18 – Die Here sal jou van elke bose daad red met die oog op sy hemelse koninkryk
9Doen jou bes om gou na my toe te kom, 10want Demas het my verlaat: Hy het die huidige wêreld liefgekry, en na Thessalonika vertrek, Kressens na Galasië, en Titus na Dalmasië. 11Net Lukas is nog by my. Gaan haal vir Markus, en bring hom saam met jou, want hy is vir my baie nuttig in die bediening. 12Tigikus het ek na Efese gestuur. 13Wanneer jy kom, bring die mantel saam wat ek in Troas by Karpus agtergelaat het, en ook die boekrolle, veral die perkamente. 14Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Die Here sal hom volgens sy dade vergeld. 15Wees ook jy op jou hoede vir hom, want hy het ons woorde heftig teengestaan. 16Tydens my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie; inteendeel, almal het my in die steek gelaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! 17Die Here het my egter ondersteun en my versterk, sodat ek die verkondiging kon voltooi, en al die heidene dit kon hoor; en ek is uit die bek van die leeu gered. 18Die Here sal my van elke bose daad red, en Hy sal my verlos, met die oog op sy hemelse koninkryk. Aan Hom die heerlikheid vir ewig en ewig! Amen.
Die tweede (en laaste) brief van Paulus aan Timoteus sluit af met ‘n paar persoonlike versoek. Hy moedig Timoteus aan om voor die winter by Paulus besoek af te lê en sekere persoonlike items vir hom te bring, die reismantel vir die naderende koue, en die boeke (moontlik afskrifte van sy briewe) en perkamente wat boeke van die OT bevat het. Hy waarsku Timoteus teen Aleksander van Troas, aangesien dié vir Paulus baie leed veroorsaak het. Let op hoeveel medewerkers Paulus hier noem, altesame 16! En hoewel ons net van ‘n paar van hulle ietsie meer weet, gee dit ons ‘n goeie prentjie van die mense met wie Paulus saamgewerk het om die evangelie aan die hele bekende wêreld van sy tyd te neem:
- Demas het nog saam met Paulus gewerk toe hy die brief aan Kolosse geskryf het (Kol 4:14, Filemon 24), maar hom nou ongelukkig verlaat omdat die lewe saam met Paulus net te swaar was, en hy ‘n makliker lewe wou hê.
- Kressens is na Galasië toe, en het waarskynlik die biskop van Gallië geword.
- Titus ken ons uit die brief aan hom op Kreta. Hy het weer by Paulus in Rome kom besoek aflê, en is toe na Dalmasië gestuur (Kroasië).
- Lukas is die bekende skrywer van die evangelie van Lukas en die Handelinge van die apostels.
- Markus is die jongman met wie Paulus stry gekry het oor sy volharding en toewyding, maar wat deur die mentorswerk van Barnabas weer met Paulus versoen is, deur hom in Kolosse ingespan is (Kol 4:10), en uiteindelik dus nie net vir Paulus tot diens was nie, maar vir die oudste evangelie, die evangelie van Markus verantwoordelik was.
- Tigikus was saam met Paulus op sy derde sendingreis na Jerusalem toe (Hand 20:4) en het onder andere Paulus se gevangenskap briewe afgelewer (Kol 4:7; Ef 6:21) en hom tot diens gewees in ‘n hele paar gemeentes (Tit 3:12). Paulus het hom op hierdie stadium na Efese gestuur.
- Priscilla en Akwila was vermoënde Christen leiers wat in Rome, Korinte en Efese groot werk gedoen het, en onder andere die groot prediker Apollos onderrig het.
- Onesiforus het baie vir Paulus in Rome beteken en diens in Efese gedoen (1:18).
- Esrastus was die stadstesourier van Korinte (Rom 16:23) en word deur Paulus in die bediening ingespan (Hand 19:22).
- Trofimus was van Efese en die persoon wat deur die Jode misbruik is om Paulus by te kom (Hand 21:29). Hy het Paulus op sy verdere reis Rome toe vergesel, maar moet weens siekte in Milete agter gelaat word.
- Ons weet ongelukkig niks verder van Karpus, Eubulus, Pudens, Linos en Claudia nie.
Let egter op dat Paulus in die laaste instansie nie op mense nie, maar op God staatgemaak het. Want, dit is op God se belofte van ondersteuning, versterking, en verlossing wat hy regdeur sy bediening staat gemaak het. Daarsonder sou hy nooit die verkondiging van die evangelie kon voltooi, sodat al die heidene dit kon hoor nie. Nie net het die Here hom uit “die bek van die leeu gered” nie – moontlik ‘n aanduiding van sy redding van die komplot teen hom in Jerusalem (Hand 23) – maar, het die Here sy belofte gestand gedoen dat hy van elke bose daad gered sal word – ook dié van Alexander – en ongeskonde sal aankom in God se “hemelse koninkryk”. Daarom loof hy dié God vir sy heerlikheid, vir ewig en ewig!
Lees meer: https://bybelskool.com/2-timoteus-41-22-getrou-aan-jou-roeping/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar