Skip to main content

Joël 2:28-32 – Ek sal my Gees uitstort op alle mense

17 Oktober

Joël 2:28-32 – Ek sal my Gees uitstort op alle mense

28“Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer. Julle ou mense sal drome droom, en julle jong mense sal visioene sien. 29Selfs op die slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. 30Ek sal tekens gee in die hemel en op aarde: bloed en vuur en kolomme rook. 31Die son sal verander word in donkerte, en die maan in bloed, voordat die groot en verskriklike dag van die Here kom. 32Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, ontkom; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontvlugting wees, soos die Here gesê het. Net hulle wat deur die Here geroep word, sal vry wees.”

Hierdie hoofstuk is in twee dele opgedeel, telkens ingelei deur die frase: “Blaas die ramshoring in Sion” (2:1 en 2:15). Dit fokus op die “dag van die Here” wat onafwendbaar kom en oordeel en redding sal inhou. Die kosmiese tekens wat dit begelei (2:10, 20, 30-31; vgl. ook 3:15), dui op ‘n vervulling wat nie net vir hulle tyd betekenis het nie. In albei rondtes word die volk uitgenooi in die hoop dat daar tog miskien ‘n herroeping van die straf van die oordeel vir die volk kan wees. In die eerste rondte – 2:1-14 – volstaan die profeet met die oproep tot bekering en eindig met ‘n vraag of dit die gewenste uitwerking sal hê.  In die tweede rondte – 2:15-32 – bars die visioen deur dat die verootmoediging van die volk (Joël 2:15-17) die gewenste uitwerking sal kan hê. Die redding van die Here sal in drie transformasies gesien kan word: 1) die vyand sal verdryf word (Joël 2:18-20), 2) die volk sal volledig herstel word (Joël 2:21-27), en 3) God se Gees sal op alle mense uitgestort word (Joël 2:28-32). Ons lees net die laaste deel.

Dit is die toppunt van die belofte aan Israel, en let op dat dit geestelik is: “Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense…” Die Here herstel hulle geestelike gemeenskap met Hom.

Daar word ‘n hele paar plekke in die OT gepraat oor die Gees wat op individue gekom het. Vgl. die volgende:

  • Kunstenaars – Eksodus 31:3: Besaleël;
  • Leiers – Numeri 11:16-29: Moses as profeet en leier van die volk, sowel as ‘n deel daarvan op die sewentig leiers van die volk waaronder Eldad en Medad wat as profete opgetree het, wat Moses laat opmerk het: “Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” – dit gebeur later ook met Josua (Num 27:18);
  • Rigters – Otniël (Rigt 3:10); Gideon (Rigt 6:34); Jefta (Rigt 29); Simson (Rigt 13:25; 14:6, 19; 15:14);
  • Konings – Saul (1 Sam 10:10; 19:23- die Gees het ook gewyk van Saul – 1 Sam 16:14); Dawid (1 Sam 16:13; 2 Sam. 23:2 – Hy bid dat die “Heilige Gees” nié van hom sal wyk nie – Ps 51:13)
  • Boodskappers – Saul s’n (1 Sam 19:20)
  • Leiersoldaat – 1 Kron 12:18: Amasai as aanvoerder van Dawid se voorkeur soldate.
  • Profete – bv Asarja (2 Kron 15:1) – Nehemia dink terug aan die verlede en sê: “U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete …” (Neh 9:30)
  • Priesters – bv. die Leviet Jagasiël (2 Kron 20:14) en die priester-profeet Sagaria (2 Kron 24:20);
  • Messias – bv Jes 11:2.

Hier is egter die eerste aanduiding dat die Gees op alle mense uitgestort gaan word, ‘n antwoord op die wens van Moses! Joël brei dus die prentjie van die werk van die Gees op beduidende radikale en nuwe wyse uit, iets wat met Pinksterdag in vervulling gegaan het (Hand 2). Let op dat die Gees op jonk en oud – dws multigenerasioneel – manlik en vroulik – dws multigender – op alle sosiale klasse van die samelewing – “Selfs op die slawe en slavinne”– en op alle mense – “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (1983-vertaling) – uitgestort word. Die Gees se werking sluit inderdaad niemand uit nie, wat ook beteken dat ons niemand mag uitsluit wat die Here se Naam aanroep nie. Later sou Esegiël ook soortgelyke dinge sê oor die uitstorting van die Gees oor die volk (Eseg 37), maar Joël se belofte troon uit as ‘n unieke skets van wat in die toekoms sou wag. Die kosmiese tekens, soos vroeër genoem, bevestig dat dié belofte eers in ‘n latere tydsgewrig vervul sal word, soos inderdaad gebeur het.

Die gevaar is altyd groot dat ons deur die bril van die ballingskap na God kyk en net ‘n God sien wat oordeel, wat agter die skerms werk en verlies en vernietiging bewerk weens mense se ongehoorsaamheid en afvalligheid. Joël help ons verstaan met dié twee gedeeltes dat God se bedoeling altyd op inkeer en omkeer gemik is. Hy wil herstel bring, omvattend en vir almal. Hy red egter nie sondermeer nie, want redding sonder ‘n herstel van die verhouding met die land, met ander nasies, met mekaar en veral met Hom is ‘n redding wat nêrens gaan nie. Daarom dat die profeet hulle so innig smeek om tot inkeer te kom, want: “Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie?” Dieper nog, Joël weet uit die verlede: “Hy is bereid om straf te herroep!” Maar dan moet hulle van binne-af tot inkeer kom: “Skeur julle harte, nie julle klere nie.” Dít is wie God is, reeds in die OT, eintlik veral in die OT! Dit ontroer ‘n mens as jy die oorgawe van God om omvattend te seën in die tweede gedeelte raak lees. Dit is nie net die land wat herstel nie; dit is ook die verhouding met die nasies (waaroor hfst. 3 verder gaan uitbrei); dit is ook die omgewing waar hulle bly, en hulle ekonomie: “Ek stuur vir julle koring en wyn en olie. Julle sal oorgenoeg hê.” Die diepste seën lê egter in die uitstorting van sy Gees op almal. Dit omsluit generasies, gender, klasse, en alle mense wat die Here aanroep. Dit sluit ook die mense in wat die Here sal roep uit die nasies uit om deel van sy herstelde wêreld te wees, iets waarop die NT natuurlik omvattend uitbrei.

Lees meer: https://bybelskool.com/joel-21-32-die-here-belowe-medelye-en-voorspoed-vir-die-wat-na-hom-terugkeer/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar