Jeremia 31:23-40 – Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf
Jeremia 31:23-40 – Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf
23“So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Hulle sal weer hierdie woorde sê in die land Juda en in sy dorpe wanneer Ek hulle lot verander: “Mag die Here jou seën, woonplek van geregtigheid, heilige berg!” 24Juda en al sy dorpe sal saam daar woon, landbouers en hulle wat met kuddes kleinvee rondtrek. 25“ ‘Want Ek verkwik ‘n dors mens, en aan elkeen wat versmag, gee Ek genoeg.’ ” 26Hierop het ek wakker geword en gekyk, en my slaap was vir my soet. 27“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek in die huis van Israel en in die huis van Juda die saad van mense en diere sal saai. 28En soos Ek daarop bedag was om hulle uit te ruk en af te breek, plat te slaan, ten gronde te laat gaan en skade aan te rig, so sal Ek daarop bedag wees om hulle op te bou en te plant,” is die uitspraak van die Here. 29“In daardie tyd sal hulle nie meer sê, “ ‘Die ouers het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword’ nie. 30“Maar elkeen sal vir sy eie sondeskuld sterf. Elke mens wat groen druiwe eet, se tande sal stomp word. 31“ ‘Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die Here. 33“Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. 34Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die Here. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.” 35So sê die Here, wat die son bedags as ‘n lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die Here, Heerser oor alle magte is sy naam: 36“As hierdie vaste voorskrifte voor My verdwyn,” is die uitspraak van die Here, “sal ook die nageslag van Israel ophou om vir altyd ‘n nasie te wees voor My.” 37So sê die Here, “As die hemelruim daar bo gemeet kan word, en die fondamente van die aarde daar onder vasgestel kan word, sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp oor alles wat hulle gedoen het,” is die uitspraak van die Here. 38“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer die stad vir die Here herbou sal word, van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort. 39Die maatlyn moet dan verder reguit aangelê word tot op die Garebheuwel; dan moet daar gedraai word na Goa. 40Die hele vallei waar die lyke en die as is, en al die terrasse tot by die spruit Kidron en die hoek van die Perdepoort aan die oostekant, sal vir die Here ‘n heilige gebied wees. Dit sal nooit weer uitgeruk of platgeslaan word nie.”
Hierdie sewende perikoop vat die voorafgaande beloftes van die Here in hoofstuk 30-31 saam en beskryf die omvattende lotsverandering wat die Here vir Israel en Juda beplan. Dit sluit die volgende vyf aspekte in:
- Jeremia 31:23-26 – Die herstel van hulle grondgebied – die Here wil hê dat mense weer gedy in hulle eie woonplek: “Want Ek verkwik ‘n dors mens, en aan elkeen wat versmag, gee Ek genoeg.” Geen wonder Jeremia word verkwik wakker ná hierdie woord nie!
- Jeremia 31:27-30 – Die herstel van die gemeenskapslewe – die Here wil hê dat mens en dier vrugbaar sal wees in die land, soos dit met die skepping bedoel is, en besluit om hulle te bou en te plant, die metafore van Jeremia se roepingsopdrag. Hy sal spesifiek individuele verantwoordelikheid instel, sodat die “groen druiwe” nie die hele oes sal benadeel nie (vgl ook Eseg 18)!
- Jeremia 31:31-34 – Die sluit van ’n Nuwe Verbond – die Here wil die gebreke van die Ou Verbond herstel waarin die volk dit kon verbreek, al was God getrou aan hulle. Hy skrywe nou die wet (woorde) van die verbond as ’n interne werklikheid in hulle harte en binneste (gedagtes) wat hulle op ’n onverbreekbare manier aan Hom sal verbind. God gee dus die innerlike motivering en krag wat nodig sal wees vir die nakoming van die wet in die nuwe verbond. Nie dat dit nie nog altyd die droom van God vir sy mense was nie (Deut. 6:6 – “hierdie woorde moet in jou hart wees”), maar God maak self die droom nou ’n werklikheid. “Their memories, desires, and decisions will be brought into conformity with God’s self-revelation to Israel,” sê Keown (Word kommentaar). Elkeen sal deel in dié werklikheid, sowel as in die vergifnis van die sondes van die verlede. Dieselfde tipe gedagtes sal herhaal word in hoofstukke 32-33, asook in Esegiël 34-37. En in die NT word die vervulling hiervan natuurlik met Jesus Christus verbind, soos veral die Hebreërskrywer dit vir ons duidelik interpreteer (Hebr 8:8-12; 10:16-17).
- Jeremia 31:35-37 – Die bevestiging van die onverbreekbare band tussen die Here en die nasie Israel – die Here is aan die nasie van Israel só verbonde soos Hy aan die skepping verbonde is. Hy sal nooit die hele nageslag van Israel in totaliteit verwerp “oor alles wat hulle gedoen het” nie. Maar onthou die herstel van die individuele verantwoordelik in die tweede belofte wat saam met hierdie vierde belofte gelees moet word. Die geestelike verbintenis met God is noodsaaklik om die werklikheid hiervan te kan geniet.
- Jeremia 31:38-40 – Die herbou van die stad Jerusalem (vgl. Neh. 3) – die Here sal Jerusalem herbou sodat dit weer sy heilige plek sal wees. En onthou, selfs in die nuwe hemel en aarde, bly Jerusalem die fokus van die belewenis van God se teenwoordigheid, soos die Openbaring aan Johannes dit veel later steeds sal bevestig.
Let op dat die belofte van die Nuwe Verbond die hart van hierdie vyf beloftes uitmaak. Die eerste en vyfde belofte is geografies van aard en het met die grondgebied en die stad te make. Die tweede en vierde belofte is sosiaal van aard en het met die gemeenskapslewe en God se verbintenis aan hulle as nasie te make. Die derde belofte vorm dus die kern van die belofte van ’n omvattende lotsverandering, dit is die geestelike belofte van ’n nuwe verbond van vergifnis en vernuwing. ’n Mens sou daarom kon sê dat die Nuwe Verbond die geografiese en sosiale dimensies van God se transformasie van die volk beslissend bepaal. Sonder die deelname aan dié verbond, kom die geestelike en godsdienstige betekenis van die ander beloftes in gedrang.
Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-312-40-ek-sluit-n-nuwe-verbond-met-julle/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar