Psalm 119:57-64 – God se troue liefde vul die aarde
Psalm 119:57-64 – God se troue liefde vul die aarde
ח GET 57U, Here, is my deel, ek het onderneem om u woorde na te kom. 58Ek het met my hele hart u guns gesoek: Wees my genadig volgens u belofte. 59Ek het my paaie bedink en my voete teruggebring na u bepalings. 60Ek het my gehaas en nie getalm om u bevele na te kom nie. 61Die toue van goddeloses het my omstrengel, maar u wet het ek nie vergeet nie. 62In die middel van die nag staan ek op om U te prys oor u regverdige beslissings. 63Ek is ‘n vriend van almal wat vir U ontsag het, en u opdragte nakom. 64Here, u troue liefde vul die aarde; leer my u voorskrifte.
Die agtste deel van Psalm 119 fokus soos die vorige deel steeds op die krag van God se belofte om hom genadig te wees in die aanvegting wat hy ervaar van goddelose mense. Hulle impak op hom is soos vangtoue of strikke wat hom omstrengel, sodat hy die gevaar loop om in sy gehoorsaamheid aan God se wet ontkrag te word. Hy bid dus dat niks hom sal keer of verhinder in sy voorneme om God se openbaring in alle opsigte na te kom. Let op hoe hy sewe van die agt woorde vir God se openbaring gebruik: woorde, bepalings, bevele, wet, regverdige beslissings, opdragte, voorskrifte na te kom. Dit illustreer sy vaste voorneme om in alle opsigte aan God gehoorsaam te wees. Hy wil hê dat die Here hom self sy voorskrifte sal leer.
Hoekom fokus hy só sterk op gehoorsaamheid, selfs al kos dit hom so baie? Omdat, soos die 1983-vertaling dit dinamies vertaal: “Dit is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.” Letterlik staan daar: “U, Here, is my deel.” (2020-vertaling). Daarmee verwys die Psalmis na die uitsprake in die wet dat die priesters nie ‘n stuk grond ontvang het met die Intog nie, maar dat die Here self hulle deel is: “Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” (Num 18:20 – OAV). En dié deel kan net in ontvangs geneem word, en in stand gehou word, as die Here aan die een kant sy belofte waarmaak – waarvoor die Psalmis hier bid – en ons aan die ander kant ons heelhartig op gehoorsaamheid toelê – waaraan die Psalmis hom hier toewy. Die idee dat God ons deel is, is ‘n tema wat in die Psalms van toepassing gemaak word nie net op priesters nie, maar op alle mense wat die Here die totale fokus van hulle lewe maak. Vergelyk Dawid in Psalm 16:5: “Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”. Hy kan dit selfs sê in die grootste gevaar toe hy in die grot vir Saul geskuil het: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.” (Ps 142:6). Een van die Asaf Psalms uit die derde Psalmboek het dit ook van toepassing gemaak op mense – soos in Psalm 119:57-64 – waar hulle geloof in God in ‘n krisis kom weens die effek van goddeloses, in daardie geval weens die impak van hulle voorspoed. Asaf bely dan: “My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd. Want kyk, dié wat ver van U af is, gaan te gronde.” (Ps 73:26).
Daarom lees ons dat die Psalmis bid en worstel met die Here: “Ek het met my hele hart u guns gesoek … Wees my tog genadig volgens u belofte.” Hy het sy paaie (koers) oordink en dit teruggebring na God se bepalings. Hy het hom gehaas: “en nie getalm nie” om God se bevele te gehoorsaam. Hy het God se wet nie vergeet nie, selfs in die middel van die nag die Here geloof. Hy sorg ook dat hy hom omring met mense wat soos hy ontsag het vir die Here, en sy opdragte nakom. Want, hy weet, dit is dán wat hy die belydenis dat die Here sy deel is, sal kan volhou, en die ervaring kan hê dat sy troue liefde die aarde vul.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11957-64-get-u-here-is-my-deel-u-troue-liefde-vul-die-aarde/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar