Skip to main content

Tag: Beloftes

Filippense 2:12-18 – God bewerk die gewilligheid en die optrede in julle soos Hy dit goedvind

7 Julie

Filippense 2:12-18 – God bewerk die gewilligheid en die optrede in julle soos Hy dit goedvind

12Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. 13Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. 14Doen alles sonder kla en teenpraat, 15sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ‘n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, 16deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie. 17Maar al word ek ook as drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, en verbly ek my saam met julle almal. 18Verbly julle ook so, ja, verbly julle saam met my.

Paulus volg sy oproep tot onderskeidende liefde (Fil 1:9-10), en eensgesindheid na buite en binne (Fil 1:27-2:2) – deur veral aan ander se belange te dink (Fil 2:3-4) – op in Filippense 2:12-18 deur hulle hier aan te moedig om in alles gehoorsaam te wees aan die kruis-evangelie – soos Christus inderdaad vir hulle die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel het (Fil 2:6-11). En die metafoor wat hy daarvoor gebruik, is dat hulle soos ligdraers in die wêreld sal wees (letterlik: “skyn soos ligte in die wêreld” – vgl Jesus in die Bergrede: “Julle is die lig vir die wêreld” – Matt 5:14). Paulus beskou dit as sy priesterlike taak om hulle hiertoe aan te moedig en sy lewe in diens van hulle gehoorsaamheid te gee. Daarom gebruik hy die verdere metafore uit die offerkultus dat hulle geloof ’n offer is wat hy in diens van God bring, en sy bloed ’n drankoffer wat daaroor uitgegiet word, waaroor hulle saam met hom moet bly wees (vers 17-18 – vgl ook Rom 15:16 waar hy op soortgelyke wyse skrywe oor sy priesterlike taak om die evangelie van God te bedien).

Die hart van sy oproep hier is dat hulle “met vrees en bewing aan hulle verlossing sal werk.” Paulus bedoel kennelik nie hier dat hulle verantwoordelik is vir hulle ewige saligheid nie. Dit sou op ’n onvanpaste werkheiligheid neerkom wat in stryd met die res van die NT boodskap sou wees. Hy roep hulle eerder op om vrugte te dra wat by hulle verlossing pas. Let ook op dat hierdie oproep van Paulus afhanklik gemaak word van God se werk (vers 13) wat juis vir hulle in staat wil stel om gehoorsaam te kan wees: “Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.”

Hulle gehoorsaamheid is dus nie die aanvulling of voltooiing van God se werk in hulle lewens nie, maar die resultaat van wat Hy in hulle begin het (vgl veral Fil 1:6!) – “creating both the desire and the drive” (Hawthorne). Die fokus is dus op God se werk in hulle, en om dit prakties deel van hulle lewens te maak. Dit sluit in dat hulle nie moet kla en murmureer nie (eerder bid – Fil 4:6-7), moet sorg dat hulle opreg en onberispelik optree, sodat niemand hulle van iets slegs sal verdink nie, en bo alles aan die woord van die lewe moet vashou om dit uit te dra (vgl Petrus in Joh 6:68: “U het die woorde wat ewige lewe gee”, waarmee hy ook eksplisiet sy eie vashou aan die Here verklaar het). Dan kom God se werk in hulle tot sy volle werking.

Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-25-30-jesus-se-selfontlediging-inspireer-ons-as-ligdraers-in-die-wereld/

Kolossense 1:1-14 – God gee al die krag om geduldig in alles te volhard

6 Julie

Kolossense 1:1-14 – God gee al die krag om geduldig in alles te volhard

1Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus, 2aan die heiliges in Kolosse, gelowige broers in Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader! 3Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus. 4Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die heiliges het, 5op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, 6julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. 7Dit het julle geleer by Epafras, ons geliefde medewerker, wat ter wille van julle ‘n getroue dienskneg van Christus is. 8Dit was ook hy wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. 9Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, 10om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, 11en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap 12moet julle die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig. 13God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun – 14deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het.

Die gemeente van Kolosse is waarskynlik nie deur Paulus gestig nie (Kol 2:1), hoewel hy op ‘n keer deur die landstreek van Frigië, waar hulle geleë was, gereis het (Hand 16:6). Hulle was egter duidelik sterk onder sy invloed. Epafras wat van Kolosse af was – en ook Paulus se medewerker – was moontlik die skakel tussen hulle, en ‘n moontlike stigter van die gemeente (Kol 1:7; 4:12). Die brief is uit die gevangenis geskryf – soos ook Filippense, Efesiërs en Filemon – en soos met die ander drie briewe word die brief met Paulus se Romeinse gevangenisskap verbind (Kol 4:3,10,18). Die brief was dus waarskynlik in die vroeë sestigerjare nC geskrywe, net voor ‘n aardbewing die stad getref het in 61 nC en volgens historici waarskynlik die plek verwoes het. Vandag is daar net ruïnes oor.

Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk. Hy staan aan die een kant die okkultiese en astrologiese beginsels teë (“kosmiese elemente” wat dui op: “die magte van die heelal” – O’Brien – Kol 2:8,20). Daar was selfs ook sprake van ‘n aanbidding van engele (Kol 2:18), en asketiese gebruike (“liggaamlike kastyding” – Kol 2:23). Hy staan aan die ander kant ook die Joodse voorskrifte teë rondom dieet (Kol 2:21), feeste  (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees – Kol 2:16) en die hou van die sabbatdag (Kol 2:16). Dit het gedreig om die boodskap van Christus in hulle gemeente te verdring en hulle in bygeloof te laat verval. In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (Kol 2:20). En hierdie tipe leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (Kol 2:23). Selfs die besnydenis is nie meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (Kol 3:10). Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met ander leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word.

Let op wat Paulus vir hulle hier bid. Hy wil hê dat God se krag in hulle aan die werk sal kom sodat hulle die krag sal hê om geduldig in die Christelike lewe te volhard. Dit sluit beide die “volle kennis” van God se wil (epignosis) in – dws intellektuele kennis – sowel as “al die wysheid (sophia) en insig (sunesis) wat die Gees gee” – dws die praktiese kennis. Dit is al manier waarop hulle ‘n lewe sal kan lei wat die Here waardig is; deur net te doen wat Hy verlang; deur te leef met die een doel voor oë, en dit is om God tevrede te stel. Maar die interessante is dat as hulle groei in die kennis van God in die praktyk deur onder andere die vrugte van goeie werke, lei dit nie net tot die geduld om te volhard in alles nie, maar tot ’n verdere groei in die kennis van God self. NT Wright sê: “The argument is not circular (as might at first appear), but spiral. Paul prays that they may increase in knowledge of God’s will, with the result that the Colossians will live as God wants them to and so increase in the knowledge of God! Understanding will fuel holiness; holiness will deepen understanding.” (Colossians and Philemon)

Lees meer: https://bybelskool.com/kolossense-11-14-om-god-te-ken-en-vir-hom-te-lewe/

Psalm 82 – God het besitreg oor al die nasies

5 Julie

Psalm 82 – God het besitreg oor al die nasies

1‘n Psalm. Van Asaf. God gaan staan in die vergadering van die gode; in die teenwoordigheid van die gode lewer Hy uitspraak: 2“Hoe lank gaan julle nog onregverdig oordeel en vir goddeloses partydig wees? Sela 3Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses; laat reg geskied aan magteloses en armes. 4Bevry hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddeloses. 5“Hulle weet niks nie en hulle verstaan nie, hulle verkeer in die duister. Al die fondamente van die aarde wankel. 6“Ek self het gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste, julle almal. 7Maar, soos mense sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.” 8Staan op, o God, oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.

Dit is ‘n kort Psalm, maar een wat soos geen ander Psalm is nie. Wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat: “God gaan staan in die vergadering van die gode …” (vers 1-7) as aanleiding en motivering tot ’n gebed wat die Psalm afrond: “Staan op, o God! oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.” (vers 8). Soortgelyke verwysings na hierdie tipe “hemelse vergadering” kom voor in: 1) die verhalende gedeeltes van die OT (bv 1 Kon 22:19–23 – met die raaiselagtige optrede van die “gees” wat in die gedaante van ’n “leuengees” Agab in ’n ramp inlei); 2) die wysheidsliteratuur van die OT (bv Job 1:6–12; 2:1–6 – die bekende toneel waar die Satan voor God verskyn); 3) die profete van die OT (bv Jes 6:1–13 – Jesaja se troonvisie waar die serafs optree – vgl ook Jes 40:1–8 en Sag 1:7–17; 3:1–5); en natuurlik ook in die apokaliptiese literatuur van die NT (bv Openb 4 en verder).

Maar, dié vergadering in die Psalm is tog anders. Dit lyk asof God die vergadering as’t ware “gatecrash”, want Hy sit nie soos dit normaalweg in die ander hemelse visioene die geval is nie. Hy staan en vat die “gode” ernstig aan oor hulle vergrype en agterlosigheid en beëindig hulle status en invloed (vers 2-7). Dit verskaf die basis vir die Psalmis se gebed dat die Here ook op aarde sal opstaan en die nasies onder sy beheer sal bring (vers 8). Dit is immers wat sy oordeel altyd beteken, om die kaf van die koring te skei, die gelowiges en die goddeloses, maak nie saak van watter nasie hulle is nie. Die Psalmis bid basies dat God die oorgee van die nasies aan ander gode by Babel sal ophef, en sy oorhoofse besitreg sal uitoefen (vgl Deut 32:8). Die Here God het immers deurentyd betrokke gebly bv deur sy gawe aan die nasies van hulle onderskeie grondgebiede (Deut 2:9, 19). Die Psalmis vra dat God nou sy besitreg oor hulle sal opneem en orde en vrede sal bring.

Sommige geleerdes interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn. Ander interpreteer die “gode” in die Psalm as hemelse wesens in die lig van God se optrede om dié vergadering te “gatecrash”. Hulle kan dus as afgode geïnterpreteer word. Dié interpretasie maak vir my meer sin, maar dit is ook baie duidelik uit die konteks van die Psalm dat hierdie “gode” se (gebrek aan) optrede ’n bepalende effek op menslike lewens gehad het. In ’n oordragtelike sin dui die “gode” dus ook op mense wat in magsposisies is – soos in die regspraak en die regering. In ’n seker sin dui die “gode” dus op afgode en mense wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf (vgl kommentaar van Tate).

Of dié Psalm nou oor mense praat in magsposisies, of afgode, of van beide mense en afgode, die boodskap is duidelik: God tree op namens hulpeloses, vaderloses, magteloses, verarmdes, hulpeloses en behoeftiges. Hoekom? Want Hy het besitreg oor die aarde en al die nasies. Hy is nie onregverdig en partydig nie. Hy handhaaf die reg en Hy laat reg geskied. Hy wil hê dat hulpeloses en behoeftiges bevry word en uit die mag van goddelose mense gered word. En almal wat aan Hom verbind is, moet met Hom daarin saamwerk. Anders wankel die fondamente van die aarde – ’n metafoor vir die gemeenskap wat in anargie en wetteloosheid verval en van die wêreld ’n onveilige onbarmhartige plek maak. Dít moet dus ons gebed word – dat God sy besitreg inderdaad sal uitoefen tot bevryding en redding van hulpeloses en behoeftiges. “Staan op, o God …” Stel dinge reg. En as kerk moet ons self opstaan en ons daarvoor beywer in gehoorsaamheid aan God.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-82-staan-op-o-god-oordeel-die-aarde/

Amos 7:1-17 – God se beloftes van genade en voorsiening sluit nie sy oordeel uit nie

4 Julie

Amos 7:1-17 – God se beloftes van genade en voorsiening sluit nie sy oordeel uit nie

1Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, Hy was besig om sprinkaanswerms te vorm net toe die saad in die lente begin opkom. En onthou, dit kom net ná die koning se hooi gemaak is. 2Toe hulle die groenigheid van die land afgevreet het, sê ek: “My Heer, Here – vergeef tog! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” 3Die Here het berou daaroor gehad. “Dit sal nie gebeur nie,” het die Here gesê. 4Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, my Heer, die Here, was gereed om ‘n regstryd deur vuur aan te kondig. Dit het die groot oerwater laat opdroog, en sou die bewerkbare grond verteer. 5Ek sê toe: “My Heer, Here – hou tog op! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” 6Die Here het berou daaroor gehad. “Ook dit sal nie gebeur nie,” het my Heer, die Here, gesê. 7Dit het Hy my laat sien: Kyk, my Heer het gestaan by ‘n loodregte muur. In sy hand was daar ‘n skietlood. 8Toe sê die Here vir my: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Skietlood.” My Heer sê toe vir my: “Kyk, Ek gaan die skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie. 9“Die offerhoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees. Ek gaan teen die huis van Jerobeam optree met die swaard.” 10Amasia, die priester van Bet-El, het toe vir Jerobeam, die koning van Israel, laat weet: “Amos het teen u ‘n komplot gesmee binne die huis van Israel. Die land sal dit nie kan uithou onder al sy woorde nie; 11want dit is wat Amos sê, ‘Deur die swaard sal Jerobeam sterf, en Israel sal beslis in ballingskap gaan, weg van sy grondgebied af.’ ” 12Amasia sê toe vir Amos: “Siener, trap! Vlug vir jou eie beswil na die land van Juda; gaan verdien daar jou brood en profeteer daar. 13In Bet-El mag jy nie meer verder profeteer nie, want dit is die koning se heiligdom; dit is ‘n tempel van die koninkryk.” 14Amos het geantwoord en vir Amasia gesê: “Ek is nie ‘n beroepsprofeet nie en ook nie lid van ‘n profetegroep nie; maar ek is ‘n veewagter en ek prik wildevye. 15Die Here het my agter die kleinvee weggevat en die Here het vir my gesê, ‘Gaan profeteer vir my volk Israel!’ 16Hoor dan nou die woord van die Here: “Jy sê, “ ‘Jy mag nie teen Israel profeteer nie, en jy mag nie teen die huis van Isak driftig preek nie.’ 17“Daarom, so sê die Here, “ ‘Jou vrou sal in die stad hoereer, en deur die swaard sal jou seuns en dogters val. Jou grond sal met ‘n maatlyn opgedeel word, en jy self sal op onrein grond sterf. En Israel sal beslis in ballingskap gaan, weg van sy grondgebied af.’ ”

Amos was die eerste van die Skrifprofete en tree op in die tyd van koning Ussia van Juda, en Jerobeam II van Israel, twee jaar voor die aardbewing van 760 vC (Amos 1:1). Ons weet min van Amos as persoon af, maar weet dat hy, volgens eie getuienis, nie ‘n profeet van beroep of deel van ‘n profeteskool was nie (Amos 7:14). Hy was ‘n veewagter uit Tekoa, suid van Jerusalem (Amos 1:1-2), en het ook omgesien na vyebome, ‘n seisoenswerk waarin vye geprik is om vinniger ryp te word (Amos 7:14). Dáár het die Here hierdie veewagter geroep om as profeet op te tree en veral die noordelike ryk aan te spreek (Amos 7:15), hoewel dit ook die nasies en Juda ingesluit het. Sy boek begin met ‘n tekening van God as ‘n Leeu wat brul uit Sion: “Die HERE brul uit Sion, uit Jerusalem laat Hy sy stem hoor. Die weivelde van die herders verdroog, die top van Karmel verdor.” (Amos 1:2). Elkeen wat al ‘n leeu hoor brul het, sal weet hoe ver dit gehoor kan word, en hoe ‘n impak dit op die omgewing het. Alles raak stil as ‘n leeu brul. ‘n Leeu brul om sy heerskappy oor ‘n gebied aan te kondig en niemand is onder enige illusies dat ‘n leeu dit kan afdwing nie! Dié metafoor is dus baie gepas vir Wie God is en dra die boodskap dat ‘n mens met Hom moet rekening hou. Die Here brul uit Sion en laat sy gramskap hoor oor dié wat Hom in hulle aanbidding versaak en daarby nie hulle naaste liefhet nie, maar onregverdiglik op allerhande maniere uitbuit. Amos 3:1-9:10 bevat profesieë veral gemik teen die noordelike tienstammeryk van Israel, met hulle hoofstad Samaria en die heiligdomme by Bet-El, Gilgal en Berseba, afgerond met vyf visioene in Amos 7-9:10. Die boek sluit in Amos 9:11-15 af met ‘n heilsprofesie rondom die belofte van ‘n verenigde Dawidiese ryk wat Israel weer sal insluit in die herstelde Godsvolk.

Amos 7:1-17 gee vir ons insig in die wyse waarop die oordeel van God inpas binne die groter skema van God se beloftes van genade en voorsienigheid. Dit is juis deur God se oordeel wat sy belofte van ‘n oorblyfsel gestalte kry. Ons lees hier van drie gesigte van oordeel: ‘n sprinkaanswerm, ‘n groot vuur, en ‘n skietlood (tou waaraan ’n stukkie lood hang wat gebruik word om die loodregte rigting aan te dui). Die plaag van sprinkane is God se oordeel oor die sondige koning, Jerobeam II, want dit is sy landerye wat afgevreet word. Amos se gebed laat God sy oordeel oor die hele volk egter terugtrek. Die groot vuur dui waarskynlik op ‘n versengende droogte wat God teen die ongehoorsame volk stuur. Weereens luister die Here egter na Amos se dringende gebed en wend die droogte af. Met die eerste twee gesigte is daar dus nog die hoop op herstel – die Here trek sy oordeel terug.

Maar, dit is nie die geval met die laaste visioen nie. Die laaste oordeel is gemik op die priester Amasia, as die verteenwoordiger van die geestelike elite, wat Amos probeer keer om sy roeping uit te voer. Die Here trek hierdie oordeel nie terug nie, as straf vir die wyse waarop Amasia, die amptelike verteenwoordiger van die staatsgodsdiens, God se profete en hulle boodskap dwarsboom. In plaas daarvan om tot inkeer te kom, om te sorg dat hulle godsdiens met geregtigheid gepaard gaan, probeer hierdie leier die res van die koninklike en geestelike gesag vernedering spaar deur die boodskap sowel as die boodskapper te ignoreer. Om iemand stil te maak omdat die boodskap ongemaklik is, óf omdat die boodskapper nie aan die amptelike kriteria beantwoord nie, help natuurlik niks, as God inderdaad die bron van dié boodskap en die opdraggewer van die boodskapper is nie. Iets wat alle institusionele gesagsdraers in gedagte moet hou. Amasia ontbeer deur sy aktiewe teenstand God se genade wat hier nog sigbaar is in die tydelie terugtrekking van die oordeel oor Jerobeam en die volk.

Lees meer: https://bybelskool.com/amos-71-17-drie-gesigte-van-oordeel-sprinkane-vuur-en-n-swaard/

2 Konings 5:1-14 – God doen wonders deur gewone goed

3 Julie

2 Konings 5:1-14 – God doen wonders deur gewone goed

1Naäman, die bevelvoerder van die koning van Aram se leër, was ‘n invloedryke man by sy heer, en hoog in aansien, want deur hom het die Here aan Aram ‘n oorwinning gegee. Maar die man, ‘n dapper kryger, het ‘n velsiekte gehad. 2Die Arameërs het in roofbendes uitgetrek en ‘n klein dogtertjie uit die land Israel weggevoer. Sy was in diens van Naäman se vrou. 3Sy het vir haar eienares gesê: “As my heer maar net voor die profeet kon verskyn wat in Samaria is, dan sou hy hom van sy velsiekte verlos.” 4Naäman gaan toe en vertel vir sy heer: “Dit is wat die dogtertjie uit die land Israel gesê het.” 5Toe sê die koning van Aram: “Gaan dan! Ek is gewillig om ‘n brief aan die koning van Israel te stuur.” Hy het toe gegaan en tien kikkar silwer, sesduisend sikkel goud en tien stelle klere saamgeneem. 6Hy het die brief vir die koning van Israel geneem, wat gelui het: “Wanneer hierdie brief nou by u aankom – kyk, ek stuur na u Naäman, my dienaar, sodat u hom van sy velsiekte kan verlos.” 7Toe die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: “Is ek dan God, om dood of lewend te maak, dat hierdie man ‘n brief na my stuur om iemand van sy velsiekte te verlos? Ja, weet vir seker en sien in dat hy ‘n rede teen my soek.” 8Toe Elisa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, het hy die koning laat weet: “Waarom het jy jou klere geskeur? Laat hom tog na my toe kom, dan sal hy besef dat daar ‘n profeet in Israel is.” 9Naäman het toe met sy perde en strydwa gekom en voor die ingang na Elisa se huis stilgehou. 10 Elisa het ‘n boodskapper na hom gestuur met die woorde: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaan, sodat jou liggaam kan herstel, en word so rein.” 11Maar Naäman het hom vererg en weggegaan. Hy het gesê: “Kyk, ek het gedink hy sal beslis na my toe uitkom, en gaan staan en die Naam van die Here sy God aanroep, en sy hand oor die plek beweeg en die velsiekte wegneem. 12Is Abana en Parpar, die riviere van Damaskus, dan nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was en rein word nie?” Hy het toe omgedraai en woedend weggegaan. 13Maar sy dienaars het nadergegaan en met hom gepraat. “My vader,” het hulle gesê, “as dit ‘n moeilike opdrag was wat die profeet u gegee het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer wanneer hy vir u gesê het, ‘Was en word rein!’ ” 14Hy het toe afgegaan en sy liggaam sewe keer in die Jordaan gedompel, volgens die woord van die man van God. Sy liggaam het herstel en geword soos die liggaam van ‘n klein seuntjie, en hy was rein.

Die heldin in hierdie verhaal is ‘n klein dogtertjie. Ons weet van haar net ‘n paar goed. Ons weet sy kom van Israel af en is in een van die oorloë tussen Israel en die Arameërs weggevoer deur die soldate. Sy was nog ‘n baie jong dogtertjie en het ‘n slaaf geword vir Naäman, die bevelvoerder van die Aramese leër. So sy was Joods, jonk en ‘n slaaf. Maar daar is iets anders wat ons van haar agterkom. Sy word nie die heldin in dié verhaal omdat sy Joods is of jonk of ‘n slaaf nie. Sy word die held in die verhaal omdat sy weet wat niemand anders weet nie. Sy weet wie haar baas kan help toe hy siek raak van melaatsheid. Maar wat vir my veral interessant is, is dat sy hoegenaamd iets sê! Sy kon stilgebly het. Sy het nie nodig gehad om enigiets te sê. Die Arameërs het haar leed aangedoen. Sy is weggeneem by haar mense, en onthou sy was nog baie jonk. Sy het nie meer vryheid gehad nie. Sy moes vir haar nuwe base help in die huis. En tog – toe sy hoor van haar baas se melaatsheid, en sy weet sy het inligting wat vir hom iets kan beteken, toe sê sy dit vir hom. Sy help haar vyande – en word so vir ons almal ‘n voorbeeld van wat dit beteken om God te ken en die goeie nuus te vertel wat ander mense se lewens kan verander. Ons sien dus hier dat kinders – maak nie saak hoe klein hulle is nie, maar nie saak hoe min hulle eintlik in tel is in die groter wêreld waar ander baie keer bo-oor hulle en hulle belange loop nie – hulle het ‘n rol te speel. En daarmee is sy ‘n voorbeeld vir almal van ons.

En dit leer ons dat God se wonderwerke baie keer, ek wonder of dit nie meesal is nie, deur gewone goed gebeur. Ons leer dat God net so aan die werk is in en deur gewone goed as in en deur die buitengewones. God se buitengewone goed gebeur deur die gewone goed. Dit is wat Naäman geleer het. Hy het eers teëgestribbel teen die idee om in die water van die Jordaan hom te gaan was, want hy het gedink, dit is darem net te eenvoudig. Gelukkig luister hy na die amptenare, net soos hy aanvanklik na die dogtertjie geluister het. En deur die gewone te doen, word hy gesond.

Die verhaal spoor ons dus aan om nie net vir wonders te kyk in die groot goed nie. God is aan die werk in die normale goed wat elke dag gebeur. Hy is besig in die ontmoetings wat ons met mense het, selfs as ons soms dink mense is onderbrekings. Maar die verhaal spoor ons ook aan om net so gewillig te wees om die gewone goed te doen, as wat ons graag die buitengewone sou wou doen. Dit is nie net ter wille van onsself nie, maar ook en juis vir ander. Dink net wat beteken dit vir iemand as jy geduldig is of ‘n klip uit iemand se pad rol. Ons wil baie keer die groot goed doen, ‘n boek skryf wat 10 miljoen kopieë verkoop en baie mense se lewens verander. Of ons raak baie keer juis moedeloos omdat ons met een oplossing alle probleme uit die weg wil ruim – terwyl dit soms net iets kleins is wat ons moet doen, wat saam met ‘n paar ander mense se klein liefdesdiensies ‘n groot verskil maak. Ons moet deur hierdie verhaal leer dat God deur die klein goed wat ons doen werk om groot goed reg te kry. Want, die klein dogtertjie het net vertel wat sy geweet het: Elisa die profeet in Samaria kan wonderlike goed doen. Dit is al wat sy gedoen het. Ons weet nie eers haar naam nie. Maar daardeur het sy nie net gesorg dat Naäman van sy melaatsheid genees is nie, maar sy het hom aan die Here bekendgestel, soveel so dat hy die Here begin aanbid het. Daar is niks wat ons doen, hoe klein ook al, wat nie deur God gebruik word om groot dinge te doen nie. Ons kan met verwagting lewe – dat God nog wonders doen, deur die klein dade van gehoorsaamheid wat ons doen.

Lees meer: https://ngkerksomerstrand.co.za/2-konings-5-erediens-om-met-verwagting-te-lewe-in-n-wereld-waar-god-nog-wonders-doen-son-22-augustus-2010

Onlangse kommentaar