Psalm 82 – God het besitreg oor al die nasies
Psalm 82 – God het besitreg oor al die nasies
1‘n Psalm. Van Asaf. God gaan staan in die vergadering van die gode; in die teenwoordigheid van die gode lewer Hy uitspraak: 2“Hoe lank gaan julle nog onregverdig oordeel en vir goddeloses partydig wees? Sela 3Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses; laat reg geskied aan magteloses en armes. 4Bevry hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddeloses. 5“Hulle weet niks nie en hulle verstaan nie, hulle verkeer in die duister. Al die fondamente van die aarde wankel. 6“Ek self het gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste, julle almal. 7Maar, soos mense sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.” 8Staan op, o God, oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.
Dit is ‘n kort Psalm, maar een wat soos geen ander Psalm is nie. Wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat: “God gaan staan in die vergadering van die gode …” (vers 1-7) as aanleiding en motivering tot ’n gebed wat die Psalm afrond: “Staan op, o God! oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.” (vers 8). Soortgelyke verwysings na hierdie tipe “hemelse vergadering” kom voor in: 1) die verhalende gedeeltes van die OT (bv 1 Kon 22:19–23 – met die raaiselagtige optrede van die “gees” wat in die gedaante van ’n “leuengees” Agab in ’n ramp inlei); 2) die wysheidsliteratuur van die OT (bv Job 1:6–12; 2:1–6 – die bekende toneel waar die Satan voor God verskyn); 3) die profete van die OT (bv Jes 6:1–13 – Jesaja se troonvisie waar die serafs optree – vgl ook Jes 40:1–8 en Sag 1:7–17; 3:1–5); en natuurlik ook in die apokaliptiese literatuur van die NT (bv Openb 4 en verder).
Maar, dié vergadering in die Psalm is tog anders. Dit lyk asof God die vergadering as’t ware “gatecrash”, want Hy sit nie soos dit normaalweg in die ander hemelse visioene die geval is nie. Hy staan en vat die “gode” ernstig aan oor hulle vergrype en agterlosigheid en beëindig hulle status en invloed (vers 2-7). Dit verskaf die basis vir die Psalmis se gebed dat die Here ook op aarde sal opstaan en die nasies onder sy beheer sal bring (vers 8). Dit is immers wat sy oordeel altyd beteken, om die kaf van die koring te skei, die gelowiges en die goddeloses, maak nie saak van watter nasie hulle is nie. Die Psalmis bid basies dat God die oorgee van die nasies aan ander gode by Babel sal ophef, en sy oorhoofse besitreg sal uitoefen (vgl Deut 32:8). Die Here God het immers deurentyd betrokke gebly bv deur sy gawe aan die nasies van hulle onderskeie grondgebiede (Deut 2:9, 19). Die Psalmis vra dat God nou sy besitreg oor hulle sal opneem en orde en vrede sal bring.
Sommige geleerdes interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn. Ander interpreteer die “gode” in die Psalm as hemelse wesens in die lig van God se optrede om dié vergadering te “gatecrash”. Hulle kan dus as afgode geïnterpreteer word. Dié interpretasie maak vir my meer sin, maar dit is ook baie duidelik uit die konteks van die Psalm dat hierdie “gode” se (gebrek aan) optrede ’n bepalende effek op menslike lewens gehad het. In ’n oordragtelike sin dui die “gode” dus ook op mense wat in magsposisies is – soos in die regspraak en die regering. In ’n seker sin dui die “gode” dus op afgode en mense wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf (vgl kommentaar van Tate).
Of dié Psalm nou oor mense praat in magsposisies, of afgode, of van beide mense en afgode, die boodskap is duidelik: God tree op namens hulpeloses, vaderloses, magteloses, verarmdes, hulpeloses en behoeftiges. Hoekom? Want Hy het besitreg oor die aarde en al die nasies. Hy is nie onregverdig en partydig nie. Hy handhaaf die reg en Hy laat reg geskied. Hy wil hê dat hulpeloses en behoeftiges bevry word en uit die mag van goddelose mense gered word. En almal wat aan Hom verbind is, moet met Hom daarin saamwerk. Anders wankel die fondamente van die aarde – ’n metafoor vir die gemeenskap wat in anargie en wetteloosheid verval en van die wêreld ’n onveilige onbarmhartige plek maak. Dít moet dus ons gebed word – dat God sy besitreg inderdaad sal uitoefen tot bevryding en redding van hulpeloses en behoeftiges. “Staan op, o God …” Stel dinge reg. En as kerk moet ons self opstaan en ons daarvoor beywer in gehoorsaamheid aan God.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-82-staan-op-o-god-oordeel-die-aarde/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar